Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 20 FEBRUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

DIE STEM VAN DIE OSEAAN WORD STIL

Vir die afgelope ses-en-twintig jaar het sy stem die mans en vrouens op seiljagte geselskap gehou terwyl hulle die oseane deurkruis het, deur hulle van gereelde weerverslae te voorsien en diegene wat in die moeilikheid gekom het, by te staan. Alister Campbell,ZS5MU, se sleutel het op 14 Februarie stil geword.

Alistair se belangstelling in die maritieme het baie jare terug begin toe hy ʼn vriend gehelp het om ʼn seiljag te bou. Toe dit voltooi en te water gelaat is het hulle deur middel van amateurradio kontak gehou. Dit was lank voor ander jagte begin het om by Alistair aan te sluit en sodoende is die Suid-Afrikaanse Maritieme Mobiele Net in 1979 gebore.

Met Davina, ZS5GC, aan sy sy het hulle hulself aan die opbou van die Suid-Afrikaanse Maritieme Mobiele Net gewy sodat dit nou ’n internasionaal erkende entiteit is en hoog deur die seiljaggemeenskap gehou word.

Alistair het so baie in die belangrikheid van die net geglo dat hy vir Graham Griggs, ZS2ABK, en andere opgelei het om die tradisie voort te sit en toe sy gesondheid begin agteruit gaan het, het hy die leisels aan Graham oorhandig.

In 2000 is die ICOM Toekenning vir Voortreflikheid deur die SARL aan Alistair en Davina toegeken. Hierdie toekenning word gemaak aan ʼn amateur wat deur sy/haar aktiwiteit in die amateurdiens internasionale erkenning aan Suid-Afrika besorg het.

In 2005 is die Nokia Siemens Gemeenskapstoekenning deur die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust aan Alistair toegeken en op die 25ste herdenking van die Net het die SARL ʼn spesiale sertifikaat toegeken.

Ons innigste meegevoel gaan aan Davina en gesin. Die egpaar het aan Suid-Afrika en die wêreld gewys wat die gees van amateurradio beteken. Alistair se stem is stil maar sal in ons gedagtes bly lewe en in die geheues van die wie se lewes hy gered het deur sy aksies op die daaglikse net.

ʼn Spesiale huldeblyk met verskeie historiese klankgrepe sal vanoggend op Amateurradio Vandag uitgesaai word.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SA AMSAT BESLUIT OOR KLETSKOUS SE LOONVRAG

SARL STRATEGIE-INDABA

LEER HOE OM MET WINDOWS TE PROGRAMMEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SA AMSAT BESLUIT OOR KLETSKOUS SE LOONVRAG

SA AMSAT het hierdie week bekend gemaak dat die loonvrag van KLETSkous CubeSat ʼn liniêre UV-transponeerder met ʼn bandwydte van 20 kHz sal wees. Die UV-modus met ʼn 70 cm opskakel en ʼn 2 meter afskakel is gekies in ooreenstemming met die internasionaal aanbevole praktyk omdat dit steuring tot ʼn minimum sal beperk. Die doel is om dit oor Afrika sal werk sonder om ʼn toon nodig te hê om die transponeerder te open.

ʼn Multistedelike span is besig om aan die ontwerp te werk en sal binnekort die finale spesifikasies bekendstel. Fondsinsameling vir die projek het in alle erns begin en radioamateurs word uitgenooi om bydraes tot die fonds te maak. Besoek www.amsatsa.org.za vir bankbesonderhede en meer inligting oor die KLETSkous-projek.

SARL STRATEGIE-INDABA

Die Raad van die SARL vergader jaarliks vir ʼn tweedaagse strategiesessie voor die Nasionale Konvensie, om te beplan vir die jaar vorentoe. Hierdie planne word voorgelê aan die Algemene Jaarvergadering wat vanjaar op 15 en 16 April by die Vaal Universiteit vir Tegnologie gehou gaan word. Dit is die enigste keer dat raadslede van aangesig tot aangesig kom aangesien alle ander raadsvergaderings per telekonferensie gehou word.

Lede word uitgenooi om insette te lewer aan die strategie-indaba deur voorstelle in te dien oor aangeleenthede wat hulle wil sien wat die SARL die volgende jaar aandag aan moet gee of doen. Stuur jou voorstelle aan www.armi@sarl.org.za voor 28 Februarie 2011.

LEER HOE OM MET WINDOWS TE PROGRAMMEER

Leer hoe om met Windows te programmeer, is ʼn nuwe SARL-kursus wat deur John Willescroft, ZS6EF, aangebied word. Leer hoe om jou eie toepassings in Windows-randtoepassings vanaf USB-poorte te loop. Die kursus sluit ʼn USB-tussenvlak in wat relês se stande sowel as spanningswaarxdes sal vasstel. Ontwerp jou eie hokkontroleprogram vir alleenstaande toepassings; jou eie EXE-lêers.

Die eerste kursus sal in Kaapstad op Saterdag 19 Maart 2011 gehou word. Daar sal ʼn beduidende afslag vir SARL-lede wees. Volle besonderhede is op www.sarl.org.za, klik daar op RTA.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Die 2011 SA AMSAT-ruimtesimposium sal in die Talk100 ouditorium by Vodaworld in Midrand op 2 April aangebied word. Die datum is met een week verander om bouwerk by Vodaworld te vermy. Bespreek nou en slaan munt uit die vroeëbesprekingsafslag. Nadere besonderhede is beskikbaar by www.amsatsa.org.za. Dit is nie ʼn simposium wat jy wil misloop nie.

DIGITALE WERKING IN DIE 40 m GG-SEGMENT

Tydens WRC-03 het die ITU die frekwensiesegment 7 100 tot 7 200 aan die amateurdiens in Streek 1 toegeken. Hierdie uitbreiding van die 40 m-band het IARU Streek 1 toegelaat om die Streek 1 se bandplan te verander. Hierdie veranderings het op 29 Maart 2009 in werking getree. Van hierdie veranderings behels dat die eksklusiewe GG-segment met 5 kHz verbreed is en nou van 7 000 tot 7 040 kHz strek; die noubandmodusse (Digitaal) met 'n maksimum bandwydte van 500 Hz, is met 5 kHz (verdubbel) verbreed en geskuif na 7 040 tot 7 050 kHz en die segment vir Alle Modusse (Digitaal) met 'n bandwydte van 2 700 Hz is met 7 kHz verbreed en geskuif na 7 050 tot 7 060 kHz.

Alhoewel die segmente duidelik per frekwensie geskei is, wat maklik is om te onthou (7 040, 7 050, 7 060 kHz), is daar nog steeds baie PSK31-werking om 7 037 kHz. Radioamateurs word gevra om die riglyne soos vervat in die IARU Streek 1 se bandplan na te kom.

ARISSAT-ONTWIKKELING VERTRAAG TOT JULIE

Die van lansering ARISSAT-1 vanaf die Internasionale Ruimtestasie is uitgestel tot Julie.

Op Donderdag 10 Februarie het Energia besluit dat die span ʼn toets moet uitvoer om seker te maak dat ARISSAT-1 die reis aan boord van die aanvullingstuig na die tydelike tuiste in die IRS oorleef het. Die toets was nie vooraf beplan nie en geen publieke aankondiging is gemaak nie. In plek daarvan is ʼn boodskap aan die IRS-span gestuur dat ARISSAT-1 aan een van die amateurradioantennas buite gekoppel moet word, dit aangeskakel moet word en op die Kenwood dubbelband send/ontvanger, wat gewoonlik vir skoolkontakte gebruik word, geluister moet word. Gedurende die toets het Energia besluit om die ARISSAR-sender aangeskakel te hou tot die volgende dag toe die span verslag gedoen het dat die satelliet foutloos werk en gereed is om in die ruimte losgelaat te word.

Op Vrydag 11 Februarie het Energia-bestuur aangekondig dat die ontwikkeling van ARISSAT-1 van die skedule van E.V.A. 28 se bedrywighede verwyder is. Hierdie besluit is volgens Energie te wyte aan veranderings in take wat gedurende die ruimtewandeling aan die geskeduleerde take aangebring is. Gevolglik het Energia vir NASA verwittig dat die ontplooiing van ARISSAT-1 by E.V.A.29 gevoeg sal word. Dit is tans vir êrens in Julie geskeduleer.

Die goeie nuus is dat ARISSAT-1 heelwaarskynlik sal werk soos dit beplan is wanneer dit in ʼn wentelbaan geplaas word. Amateurs op die grond wat ARISSAT-1 gedurende die toetsperiode gehoor het sê dat die sein beslis hard en duidelik was.

KOMPETISIENUUS

Die SARL se eerste Digitale kompetisie sal volgende Sondag 27 Februarie 2001 tussen 13:00 en 16:00 UTC op die lug wees. Die SARL Hamnet se 40 Meter Gesimuleerde Noodkompetisie sal op Sondag 6 Maart vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op die lug wees.

Die reëls vir beide die kompetisies is beskikbaar in die 2011 SARL-Kompetisiehandboek, die reëls sal ook in die volgende uitgawe van die HF Happenings se nuusbrief wees.

Logstate vir die SARL se Nasionale Velddag moet teen middernag op Maandag 21 Februarie 2011 ingedien word. Stuur dit aan zs4bfn@netactive.co.za of per gewone pos aan Posbus 12104, Brandhof, 9324

KLUBNUUS

Die Overberg Amateurradioklub het hul AJV by die veldstasie op 12/02 te Stanford gehou. Die volgende lede is tot hulle komitee verkies:-

Voorsitter - Andre Meintjes - ZS1AZ
Visievoorsitter - Sam McLeary - ZS1OR
Sekretaris - Judy Gardener - ZS1JEG
Tesourier - John Martin - ZS1DI
Tegnies - Len van Riell - ZS1LEN

ZS6PTA SE SNUFFELMARK EN KATTEBAKVERKOPING IN PRETORIA

Die Pretoria Amateurradioklub hou ’n snuffelmark op Saterdag 5 Maart. Die snuffelmark sal by die Pretoria Oumoterklub, in Keunigstraat in Silverton gehou word en die aanvangstyd is 08:00.

Almal is welkom. Kom besoek gerus die Mega-vlooimark in Pretoria. Skakel Almero, ZS6LDP, op 083 938 8955, indien u 'n tafel wil bespreek of meer besonderhede benodig.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, kan uiteindelik rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak van laag na middelmatig verbeter het. Sonvlek 1 158 het die grootste sonfakkel sedert Desember 2006 opgelewer. Sonvlek 1 158 bly reusagtig terwyl hy na die Weste beweeg. Verder vorm daar 'n nuwe sonvlek Noord van Sonvlek 1 161. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting ongeveer 50 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is na sonsondergang op 20 m moontlik.

Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die aand moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees. Met die verhoogde sonaktiwiteit kan 10 m ook met tye opwinding veroorsaak.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

21 Februarie - Logstate vir die SARL se Nasionale Velddagkompetisie moet in wees na zs4bfn@netactive.co.za of Posbus 12104, Brandhof, 9324..
25 Februarie - Logstate vir die Antieke radiovereniging se GG-aktiwiteitsdag ingestuur te wees aan Andy ZS6ADY.
27 Februarie - Die eerste Digitale kompetisie vir 2011 sal vanaf 13:00 tot 16:00 UTC op die lug wees met werking op 80, 40 en 20 meter.
28 Februarie – Laaste dag vir indiening van voorstelle aangaande Strategie-indaba na www.armi@sarl.org.za
28 Februarie - Laaste dag om aanbiedings om 'n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf, in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.
5 Maart – ZS6PTA se vlooimark by die POMC-klubhuis te Keunigstr,.Silverton beginnende om 08:00.
6 Maart - SARL Hamnet 40 Meter Gesimuleerde Noodkompetisie sal vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op die lug wees.
19 Maart – RTA, Kursus oor programmering in Windows in Kaapstad, besoek www.sarl.org.za om te bespreek.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.
2 April – SA AMSAT se Ruimtesimposium by Vodaworld, bespreek nou by www.amsatsa.org.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003