Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 27 MAART 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutels van twee radioamateurs stil geraak het. Hulle is:

John Du Plessis, ZS6AGQ, in November verlede jaar. Hy laat sy vrou, Maureen agter.

Die tweede is Tony Marron, ZR2AI, van Graaff-Reinet op 19 Maart 2011 wat sy eggenote Marie agterlaat.

Ons innige meegevoel aan hul familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

TYDVERDEELDE VEELVULDIGE TOEGANG (TVVT) DIE VOLGENDE IN AMATEURRADIO?

PROGRAMMERING IN WINDOWS, KURSUS IN GAUTENG

RTA BESOEK KAAPSTAD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

TYDVERDEELDE VEELVULDIGE TOEGANG (TVVT) DIE VOLGENDE IN AMATEURRADIO?

Tydverdeelde Veelvuldige Toegang is 'n kanaaltoegangsmetode vir deelmediumnetwerke. Dit laat verskeie verbruikers toe om dieselfde frekwensiekanaal te gebruik deur die sein in verskillende tydgleuwe te verdeel. Die gebruikers sein beurtelings kort op mekaar en elkeen gebruik sy eie tydgleuf. Dit laat verskeie stasies toe om dieselfde frekwensie te deel.

Op Vrydag 15 Maart, het die ARRL 'n Petisie vir Reëlmaking en 'n Versoek vir Tydelike Kwytskelding ingedien om die gebruik van uitsendings in 'n enkeltydgleuf, Tydverdeelde Veelvuldige Toegang te magtig in die amateurbande in en bo 50 MHz, waar ookal veelvuldige tydgleuftoegang gemagtig is. Die ARRL - wat sy petisie "Baie nou in trefwydte" noem - wil die gebruik van en eksperimentering deur radioamateurs met bestaande, doeltreffende smalbandspektrum, digitale stem- en datategnologie moontlik maak. "Sulke tegnologie is nou in gereelde en toenemende gebruik in die private landmobiele radiodienste, maar sy gebruik in die amateurradiodiens is nou blykbaar onbedoeld deur twee spesifieke reëls van die Kommissie uitgesluit."

Radioamateurs gebruik tans 'n Motorola smalband (12,5 kHz) digitale land-mobiele stelsel- kommersieel bemark as MotoTRBO en hulle wil dit wettig maak.

Die gebruik van TVVT digitale uitsendings in sekere frekwensiebande in die amateurdiens is aan die toeneem, het die ARRL aangedui. Daar is verskeie smalband UHF-herhalerfasiliteite wat tans werk met veelvuldige gleuf TVVT-senders en 'n enkelgleuf TVVT-handdraag, digitale sendontvangers hoofsaaklik in die 70 cm band. Hierdie stelsels is veral in die westelike deel van die Verenigde State van Amerika geïnstalleer en in New York se stadsgebied en ook in verskeie mid-westerse state.

Die SARL is tans besig om die ARRL-inisiatief met betrekking tot die Suid-Afrikaanse radioregulasies te bestudeer.

Ons nooi u uit om u kommentaar en insette te stuur aan: artoday@sarl.org.za.

AMATEURRADIO VANDAG: VERANDERINGS IN FREKWENSIE EN TYDGLEUF

Van vandag af verander die frekwensie van Amateurradio Vandag se uitsending in die 16 meter-band na 17 750 kHz. Maandae se heruitsending verander na 'n vroeër tydgleuf van 22:00 na 18:30 (SAT) op 'n frekwensie van 3 230 kHz op 'n ongerigte antenna.

Ons nooi u om ontvangsverslae te stuur aan: artoday@sarl.org.za. Vir ’n volledige lys van uitsendingstye en herleidings, besoek www.sarl.org.za en kies Amateur Radio Today op die spyskaart aan die linkerkant.

PROGRAMMERING IN WINDOWS, KURSUS OP 18 JUNIE IN GAUTENG AANGEBIED

Die "Leer om in Windows te Programmeer"-kursus word op Saterdag 18 Junie by die Nasionale Amateurradiosentrum aangebied. Besprekings kan nou gemaak word. Besonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za en kies dan RTA.

Die kursus is verlede naweek suksesvol in Kaapstad aangebied. Luister na wat die afgevaardigdes te sê het op die RTA-bladsye op die SARL-webtuiste.

RTA BESOEK KAAPSTAD EERSTE

Die eerste aanbieding in die programreeks Radiotegnologie-in-Aksie vir 2011 sal op 7 Mei in die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie aangebied word. Programbesonderhede sal later in die week op die webtuiste beskikbaar wees.

SA AMSAT STEL DIE RUIMTESIMPOSIUM UIT

SA AMSAT het die Ruimtesimposium wat oorspronklik vir 2 April beplan was tot 'n later datum uitgestel. Skoolvakansies in Gauteng en te veel ander amateurverwante aktiwiteite gedurende dieselfde tyd blyk van die redes te wees vir die lae registrasiesyfers. 'n Nuwe datum sal binnekort aangekondig word.

SARL-LEDETAL NOU 1 519

Die ledetal van die SARL het verlede week tot 1 519 toegeneem. Ons verwelkom die volgende nuwe lede en wens hulle ’n lang en wederkerige voordelige verbintenis met die SARL toe.

Abel Van Den Heever, ZR6EBL
Hendrik Swanepoel, ZR6HSW
Gideon de Swardt, ZSL1008
Chris du Plessis, ZS2M
Adrian Lamond, ZR6ADR
Ben van der Merwe, ZR1AHB

KOMPETISIENUUS

Die tweede 80 m klubkompetisie van die SARL sal op Woensdagaand 30 Maart 2011 vanaf 17:30 tot 18:30 UTC plaasvind. Hierdie kompetisie is vir digitale werking met PSK en RTD.

Wil u uitgaan en ’n veldstasie oprig? Wel, op Saterdag 2 April kan u deelneem aan die eerste skof van die kompetisie “Rapid Deployment Amateur Radio of RaDAR”. Die kompetisie duur van 12:00 tot 18:00 UTC met aktiwiteit op alle amateurbande insluitende kruisbandkontakte via amateursatelliete. Kontakte via aardgebonde herhalers is ontoelaatbaar. Alle amateurmodusse mag gebruik word.

Die reëls vir beide kompetisies is in die SARL se kompetisiehandboek beskikbaar.

Uitslae.

SARL se Maart JD-pretwedloop.
Nege logs en een kontrolelog is vir hierdie kompetisie, wat op Saterdag 12 Maart gehou is, ontvang. Vier van die logs is van JDs ontvang en die res van nie-JDs.

1ste Pam Momberg, ZS6PAM, 87 punte
2de Melinda Mynhardt, ZU6MM, 61 punte
3de Dawn Snyders, ZS5ME, 58 punte
4de Colette Rundle, ZS2CR, 39 punte
5de Wessie Wessels, ZS2A, 35 punte
6de Gideon Jannasch, ZS6GJA, 27 punte
7de Bloemfontein RAC, ZS4BFN, 26 punte
8ste Shane Daniel, ZS4TW, 24 punte
9de Nigel Burgess, ZR6NGB, 19 punte
10de Denis Wheeler, ZR6DNS, 12 punte

Kontrolelog, Derek Stuart, ZS2J, 14 punte en die wenner van die gelukkige trekking is Dawn Snyders, ZS6ME.

Korreksie in die SARL Hamnetkompetisie.
In verlede Sondag se bulletin is een van die roepseine in die kategorie van Enkeloperateur, Basisstasie, verkeerd aangegee. In die 8ste plek met 780 punte is Judy Pretorius, ZS6JDY, nie ZS6JDV nie.

Die uitslag van die SARL se digitale kompetisie wat verlede Sondag aangekondig is, het verander weens ’n logstaat wat verlore geraak het. Die regte uitslag is as volg:
1ste ZS6A, Pierre van Deventer 494 punte
2nde ZS6JR, Daniel Hubbard 450 punte
3de ZS6GRL, Geoff Levey 443 punte

SARL Nasionale Velddag, aangename verrassing.
Die wenner van die gelukkige trekking in hierdie kompetisie is Centurion ARK, ZS6CEN.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak middelmatig is. Groot sonvlek 1 176 wat in die Suidelike halfrond geleë is, het 'n lae vlak M-klas fakkel gedurende die week opgelewer en daar is steeds 'n kans vir verdere fakkels gedurende die week. Laasweek is nuwe sonvlekke 1 177 en 1 179 in die Noordelike halfrond genommer en 1 178 in die Suidelike halfrond. Sonvlekke 1 178 en 1 179 besit tans nie die vermoë om sonfakkels te genereer nie. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting ongeveer 60 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Met die verhoogde sonaktiwiteit sal 10 m eerste oopmaak met die laer bande wat later gedurende die dag sal volg. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië is na sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is gedurende die aand moontlik. 15 en 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

30 Maart – Tweede SARL 80 m klubkompetisie, PSK en RTD, 17:30-18:30 UTC.
2 April – RaDAR-kompetisie 12:0 – 18:0 UTC.
15-16 April – SARL Nasionale Konvensie te Vaal Universiteit vir Tegnologie.
7 Mei – RTA in Kaapstad.
18 Junie – Programmeringskursus in Windows in Gauteng, bespreek by www.sarl.org.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003