Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL–NUUS – SONDAG 10 APRIL 2011
U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
In die nuus vandag:
SARL-AJV OP LUG
NUWE REGULASIES
KRY EERS DIE FEITE
KAAPSTADSE RTA-PROGRAM NOU BESKIKBAAR
KRAGLYNKOMMUNIKASIE WEER IN KOLLIG
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.
SARL-AJV OP LUG
As u nie volgende Saterdag die SARL-AJV kan bywoon nie, kan u nogtans die verrigtinge op die lug en via Echolink volg. Uitsending begin net voor 09:00 op 7 082 kHz en 14 250 kHz. In Gauteng kan u ook inluister op 145,750 MHz. Die herleiding word deur die Magalies-Amateurradioklub moontlik gemaak.
NUWE REGULASIES
Die SARL behou steeds kontak met verskillende persone in OKOSA oor regstellings aan die gepubliseerde regulasies. Die konferensie van OKOSA oor die digitale dividend het egter verskeie rolspelers uit die kantoor gehou, sodat dit moeilik was om enige skriftelike bevestiging te verkry. Die beampte wat lisensiehernuwings hanteer, het telefonies bevestig dat soos sake nou staan, kan huidige klas B-lisensiehouers oor 25 jaar oud hulle ZU-lisensies soos voorheen hernu vir die volgende twee jaar. Hy raai hulle egter aan om in hierdie tweejaartydperk ’n klas A-lisensie te verkry.
KRY EERS DIE FEITE
Besprekingsforums op die web bied gewoonlik interessante inligting en besprekings, maar forumbydraes is egter oor die algemeen die mening of persepsie van die skrywer en nie noodwendig die feite nie.
Dit geld ook vir die SARL-forums. Onthou dat mense wat tot die forums bydra, nie noodwendig ten volle ingelig is of van die jongste verwikkelings weet nie. Hulle dra dus hulle eie menings oor.
Wat die SARL betref, word amptelike inligting versprei via Sarl-Nuus en op die tuisblad van die SARL-webwerf. Inligting wat spesifiek vir lede bedoel is, word ook oorgedra in ’n nuwe gleuf op SARL VANDAG op die webblaaie slegs vir lede. Tans is die nuwe radioregulasies wat verskyn het, beskikbaar vir aflaai, en ook ’n opname van verlede naweek se Presidentsnet. Ander nuttige inligting verduidelik hoe ’n klub self Klas B-eksamens kan aanbied, hoe die SI metrieke stelsel werk en die korrekte afkortinge vir metrieke eenhede.
SARL-lede klik op die boonste regterhoek van die tuisblad op ‘Members Only’ en druk Enter.
KAAPSTADSE RTA-PROGRAM NOU BESKIKBAAR
Die Radiotegnologie in Aksie-simposium vind Saterdag 7 Mei in Kaapstad plaas. Die lokaal is die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie, Bellville-kampus. Besoek www.sarl.org.za en klik op RTA. Op die program is ’n bespreking oor hoe ouer amateurs meer plesier uit amateurradio kan put. Kom hoor hoe werk FPGA – die veldprogrammeerbare deurlaat-antennenet. Die aanbieding behels ’n eenvoudige verduideliking van FPGA, sy voordele, waar mens dit kan gebruik in amateurtoerusting en hoe om weg te val met FPGA. As u in die Wes-Kaap woon, moet u nie hierdie jaarlikse SARL-gebeurtenis misloop nie.

ARISSAT-1 VIER 50E HERDENKING VAN EERSTE RUIMTEVLUG
Die ARISSat-1-satelliet, tans nog in die Internasionale Ruimtestasie, gaan aangeskakel word en met ’n buite-antenna die 50e herdenking van Joeri Gagarin se eerste bemande ruimtevlug vier. Uitsendings begin Maandag 11 April 2011 om 14:30 UTC en gaan voort tot 10:30 UTC op 13 April 2011.
Die sonpanele is tans toe en die satelliet word net deur die aanboordbattery in laekragmodus bedryf. Uitsendings sal dus ’n kringloop wees, AAN vir 40-60 sekondes en AF vir 2 minute.
FM-uitsendings op 145,950 MHz volg ’n kringloop tussen stem-ID, gekose telemetriewaardes, 24 internasionale groetboodskappe in 15 tale en SSTV-beelde ofte wel stadigeskandering-TV-beelde. Een van die boodskappe sal ’n gesprek wees tussen Joeri Gagarin en grondbeheer.
Die GG-uitsending op 145,919 MHz is roepsein-ID, gekose telemetrie en die roepseine van persone wat aktief by die ARISS-program betrokke is. AMSAT reik herdenkingsertifikate uit aan diegene wat die uitsendings opvang en ’n e-pos stuur aan gagarin@arissat1.org of yuri@arissat1.org met u naam of groep, beskrywing van wat u gehoor het en die UTC wanneer u dit gehoor het. Dit sal besonder nuttig wees as u die batteryspanning en die UTC aanteken.
Stuur ’n verslag aan SA AMSAT by saamsat@intekom.co.za en u kan die gelukkige wenner wees van die SumbandilaSat-eerstedagkoevert wat die Poskantoor op 1 April uitgereik het. Meer besonderhede op www.amsatsa.org.za. Sluit ’n klankopname in indien moontlik.
Die BPSK-uitsendings op 145,920 MHz gebruik ’n nuwe 1kBPSK-protokol ontwikkel deur Phil Karn, KA9Q, en kan in laeseintoestande gelees word. Die BPSK-data versend satelliettelemetrie. ’n Gratis klankkaart-demodulator vir grondstasies en vertoonsagteware sal beskikbaar wees. Hou www.amsatsa.org.za dop vir besonderhede oor wanneer dit beskikbaar word. Die lineêre sendontvanger sal nie tydens hierdie gebeurtenis aktief wees nie.
Roscosmos het aangekondig dat die satelliet tydens die volgende “ruimtewandeling” in Julie vanjaar in ’n wentelbaan geplaas word.
KRAGLYNKOMMUNIKASIE WEER IN KOLLIG
In die afgelope week het SARL-raadslid Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, die SARL verteenwoordig by ’n gesamentlike vergadering van drie tegniese komitees van die SABS vir die bespreking van ’n voorgestelde nuwe standaard vir die gebruik van kraglynkommunikasie (PLC) vir die beheer van die kragnet, meting en die sogenaamde slimnetwerktoepassings. Eskom en sommige verskaffers staan die bekragtiging van Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard SANS 50065-1 teen omdat hulle van mening is dat die Standaard nie voldoen aan al Eskom en moontlik ook metrorade se vereistes vir die bestuur van die kragnet nie. Eskom wil frekwensies tot by 500 kHz gebruik, maar die standaard dek slegs toepassings tussen 3 kHz en 148,5 kHz. Spesifikasies tussen 148 kHz en 500 kHz moet nog wêreldwyd gekoördineer word.
Die onderskeie rolspelers in die bedryf het geen eenstemmigheid nie. Een van die argumente is dat die band tussen 3 kHz en 2 MHz oorweeg moet word vir kraglynkommunikasie vir elektrisiteitsnutsondernemings, omdat nuwe ontwikkelings in slimnetwerktoepassings hierop dui. Daar behoort geen teenspraak te wees nie omdat alle toerusting moet voldoen aan CISPR 22, wat gebruikers van die radiospektrum sal beskerm.
Amateurradio het twee toewysings in dié spektrum, naamlik die nuwe 135,7-137,8 kHz en 1810 tot 1850 kHz.
Dit word tans oorweeg om die 50065-1-standaard in Europa te hersien. Daar is besluit om verskillende studies te onderneem, wat die frekwensiespektrumbeheergroep van OKOSA sal insluit. Die gesamentlike komitee vergader middel Junie weer.
Hoewel breëband-kraglynkommunikasie steeds in die verte wink, was daar nog geen verdere vordering nie. Die SARL hou sake fyn dop.
NUWE LEDE
Ons verwelkom vandeesweek vir Dennis van Blerk, ZS1TC, en Anthony van Tonder, ZS1AB, by die SARL. Ons vertrou dat julle verbintenis met ons wedersyds voordelig sal wees. Dit bring ons ledetal op 1 529 te staan.
VOORTPLANTINGSVERSLAG: BEPROEF 10 METER DIÉ WEEK
Hannes Coetzee is nie vandeesweek beskikbaar nie. Hans, ZS6AKV, berig dat geomagnetiese toestande stil is. Die plaaslike HF-frekwensies is onstabiel in die omgewing van die maandelikse gemiddelde voorspelde waardes. Daar is vooruitsigte op redelike voortplantingstoestande oor die volgende paar dae; bedryfsfrekwensies kan afwyk van die voorspelde maandelikse gemiddelde vir HF. ’n Aantal aktiewe areas is sigbaar op die sonneskyf. Die meeste van hulle is magneties stil, maar een het die potensiaal om C-klas X-straal-vlamme te ontwikkel. Straling is onwaarskynlik. ’n Koronagaatjie op die sonneskyf behoort hierdie naweek geo-effektief te word. Die verwagte sonvlektelling vir die week is 97.
Openinge na die VSA-ooskus op 10 meter word voorspel vir die laatmiddag en vroegaand, terwyl 15 meter waarskynlik beter sal werk vir kontakte met die VSA se weskus. Vir Europa word die beste resultate in die laatmiddag verwag met die beste openinge op 10, 15 en 20 meter rondom 18:00. Die 20-meterband sal na verwagting tot lank na 22:00 goeie resultate oplewer. Om stasies in Australasië op te vang, sal mens vroeg moet opstaan. Die beste toestande op 15 m sal waarskynlik by ons plaaslike sonsopkoms voorkom.
Plaaslik sal 40 m goeie kommunikasie oor mediumafstande moontlik maak, terwyl 20 m bedags die voorkeurfrekwensie is tussen Kaapstad en Johannesburg. 80 m is steeds die beste frekwensie na sononder. 30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
11 April – ARISSat-1-satellite vier 50e herdenking van Joeri Gagarin se eerste bemande ruimtevlug.
15-16 April – SARL Se Nasionale Konvensie by die Vaal Universiteit vir Tegnologie.
7 Mei – RTD in Kaapstad
18 Junie – kursus in programmering in Windows in Gauteng. Bespreek by www.sarl.org.za.
SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit – indien moontlik – in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na ’n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Hester van der Walt.
Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003