Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS – SONDAG 01 MEI 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Jan, ZS6DDK, op 7 April stil geraak het. Ons innige meegevoel aan sy eggenote Dot, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE-SIMPOSIUM VIR KAAPSTAD VOLGENDE SATERDAG

SUID-AFRIKAANSE RADIOAMATEURS MAG NOU IN RUSLAND BEDRYWIG WEES

MOET NIE DIE SARL SE WEB MET DIE FORUM VERWAR NIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE-SIMPOSIUM VIR KAAPSTAD VOLGENDE SATERDAG

Die Suid-Afrikaanse Radioliga bied die eerste simposium vir vanjaar in die reeks Radiotegnologie-in-Aksie op Saterdag 7 Mei 201 in Kaapstad aan. Dit sal in die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie plaasvind.

Die program sluit aanbiedinge in vir persone wat belangstel in radio- en satelliettegnologie asook vir hulle wat net nuuskierig is aangaande tegnologie. Die simposium begin om 09:00 met ’n aanbieding wat amateurradio as ’n belangrike beginpunt vir ’n loopbaan in kommunikasie en elektronika. Dit bied aan ouer mense die geleentheid vir verdere opleiding ten einde amateurradio, wat algemeen as die mees bevredigende van wetenskaplike stokperdjies aanvaar word, meer te geniet. Vir tegnici in die industrie is dit ’n waardevolle bron vir eksperimentele studie. Die aanbieding sal gevolg word deur ’n paneelbespreking oor hoe amateurradio ouer mense kan bevoordeel nadat hulle uit voltydse werk uittree.

Die eerste tegnologiese aanbieding sal op Veldprogrammeerbare Deulaatopstellings fokus wat ’n eenvoudige verduideliking van hulle werking sal insluit, hulle voordele, waar dit gebruik word en hoe radioamateurs en elektronikaknutselaars hierdie toestelletjies in hulle projekte kan gebruik.

’n Studenteaanbieding sal fokus op die ontwikkeling van twee satelliete deur studente van die Universiteit, met insluiting van ’n besoek aan die laboratoriums waar die satelliete gebou word. Die satelliete is twee “Cubesats”, een waarvan die afmetings 10x10x10 cm is en die ander een ’n drie-eenheid “Cubesat” is.

“Rapid Deployment of Amateur Radio”, ook RaDAR genoem, sal fokus op die opstelling van amateurradio in veldtoestande en hoe amateurradio gebruik kan word wanneer noodtoestande ontstaan.

Die inligting oor KletsKous en SAiSAT, die twee satellietprojekte wat deur die, Suid-Afrikaanse Sattelietvereniging (SA AMSAT), onderneem word, op datum gebring word.

Gaan na www.sarl.org.za en klik op RTA vir die volledige program. Kyk na die video-inset


Get the full programme on www.sarl.org.za and select RTA. Watch the promotional video clip from the same page of the home page at sarl.org.za.

SUID-AFRIKAANSE RADIOAMATEURS MAG NOU IN RUSLAND BEDRYWIG WEES

Rusland het die mees onlangse land geword wat pan-Europese CEPT-lisensie-ooreenkoms onderteken het. Volgens die webwerf van Streek 1 van die IARU, het die Russiese Staatskommissie vir Radiofrekwensies op 10 Maart besluit dat die Russiese Federasie beide die CEPT- en ECC-aanbevelings sal aanvaar. Dit maak dit dus moontlik vir elke CEPT-lisensiehouer, wat ZS-en ZR-lisensies insluit, om binne die gebied van die Russiese Federasie bedrywig te wees.

Daar is egter ’n aantal waarskuwings, waarvan een is dat Rusland so ’n CEPT-bedrywigheid deur ’n vreemde stasie vir drie maande sal toelaat sonder dat addisionele verlof nodig sal wees. Verder, die roepsein wat gebruik moet word sal wees RA gevolg deur die buitelandse amateur se persoonlike roepsein.

MOET NIE DIE SARL SE WEB MET DIE FORUM VERWAR NIE

Die SARL se web het twee afdelings, ’n ope afdeling wat deur enigeen wêreldwyd gesien kan word en waarin die die meeste nuusitems en artikels verskyn. Hierdie gedeelte het ’n baie groot nasionale en internasionale gevolg. Die afdeling vir lede alleen is slegs vir lede beskikbaar en daarin verskyn items gekoppel aan lede-voordele soos byv. Radio ZS. Hierdie afdeling is in die proses om uitgebrei te word.

Die forums is presies wat die woord beteken, ’n besprekingsplek waar persone tegniese inligting uitruil en kommentaar lewer oor die bedryfsaspek van amateurradio. Dit is hierdie gedeelte, die forum, wat vanaf 1 Julie vir lede alleen toeganklik sal wees. Niks anders het of sal verander nie.

Interessante artikels, tegnies of oor amateurradiobedryf word gevra vir publikasie in Radio ZS of op die SARL se webwerf. Stuur asb. artikels en nuusitems vir Radio ZS aan radiozs@sarl.org.za, of, indien meer geskik vir publikasie op die webwerf aan artoday@sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

Maart 201 BHF-KOMPETISIEUITSLAE

Veels geluk aan die volgende stasies:

Afdelingswenners, digitaal.
ZS1LS
ZS2ACP
ZS3SVD
ZS5Y
ZS6A

Afdelingswenners, analoog.
ZS3SVD
ZS5Y
ZS6A

Algehele uitslae, digitaal.

1) ZS5Y 143 223 punte
2) ZS2ACP 138 856 punte
3) ZS6A 113 758 punte
4) ZS1LS 101 352 punte
5) ZS3SVD 82 328 punte

Algehele uitslae, analog.

1) ZS5Y 6 471 punte
2) ZS6A 1 979 punte
3) ZS3SVD 470 punte
4) ZS6HS 248 punte

Langste afstand bereik.
2 m ZS1LS 1 301 km
4 m ZS1ACP 1 183 km
6 m ZS1LS 1 537 km

AMA gedurende die kompetisie.
(LW. AMA word nie vir die kompetisie in berekening gebring nie).
ZS1LS het op 2 m 788 923 punte behaal met die verste QSO oor 13 976 km
ZS5Y het op 23 cm 2 910 222 punte behaal met die verste QSO oor 10 428 km

Die wenner van die gelukkige trekking is Pierre, ZS6A.

SARL QRP-KOMPETISIE GEHOU OP 16 APRIL 2011

5 logs is ontvang. Die volgende statistiek is uit die logstate afgelei:
Aantal deelnemende stasies - 56
Aantal QSO’s gemaak - 85
Aantal voorvoegsels gewerk - 12
Aantal foonkontakte gemaak - 74
Aantal GG-kontakte gemaak - 11
Aantal tuisstasies - 3
Aantal veldstasies - 2

’n Spesiale woord van dank aan Eddie, ZS6BNE, wat sy huiswaartse rit van die AJV onderbreek het en ’n veldstasie langs die pad opgerig en ’n aantal kontakte gemaak het

Die uitslae is as volg:
1ste ZS6XT - Pieter Jacobs 924 punte
2de ZS6A - Pierre van Deventer 300 punte
3de ZS2EC - Theunis Potgieter 210 punte
4de ZS3AOR - Pieter Bosman 160 punte
5de ZS6BNE - Eddie Leighton 36 punte

Die wenner van die gelukstrekking is ZS3AOR, Pieter Bosman.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit steeds op matige vlakke is. Nuwe sonvlekke 1 202 en 1 203 is Donderdag genommer en dit lyk of 1 202 alreeds besig is om weg te kwyn. NASA se "Solar Dynamics Observatory" is besig om 'n gat in die son se atmosfeer te monitor; 'n koronagat. Koronagate is waar die son se magneetveld ontsluit is en die sonwind dus kan ontsnap. Die sonwind wat uit hierdie koronagat ontsnap sal na verwagting die aarde tussen 31 April en 1 Mei tref. NOAA se voorspellers meen dat daar 'n 35% kans is dat die sonwind geomagnetiese aktiwiteit kan veroorsaak. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week sowat 50.

Namate die sonvloed toeneem, verbeter die GG-toestande ook merkbaar. GG-openinge kom nou weer daagliks voor en selfs 6 m toon tekens van lewe.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

1 Mei - ZS3 Naelloop van 14:0 tot 15:0 UTC op 40 m op die lug.
7 Mei – RTD in Kaapstad.
18-22 Mei – Volg Dayton Hamvention op W5KUB.com.
25 Mei – Sluitingsdatumvir nominasies vir NSN-toekennings, besoek www.amateurradio.org.za.
18 Junie – kursus in programmering in Windows in Gauteng. Bespreek by www.sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003