Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 12 JUNIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van van twee radioamateurs onlangs stil geraak het; hulle is:

John van Hoogstraten, ZS1CR, op Maandag 6 Junie en

Pieter Smith, ZS6BGX, van Tzaneen en lid van die Wolkberg Radioamateurklub op Woensdag 8 Junie.

Ons innigste meegevoel gaan aan die oorledenes se families en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

TWEE GROOT GELEENTHEDE HIERDIE WEEK

VIER RADIOAMATEURS ERKEN VIR HUL PRESTASIES

119 NUWE AMATEURS KRY HULLE ROEPSEINE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.


TWEE GROOT AKTIWITEITE HIERDIE WEEK

Die SARL bied hierdie week twee groot aktiwiteite aan, Jeugdag op 16 Junie en die kursus oor programmering met Windows op Saterdag die 18de by die NARS in Gauteng. Bespreek voor Woensdag vir die kursus "Leer hoe om met Windows te programmeer" om seker te maak jy kry nog plek. Die kursus sal slegs eenmaal by elke vergaderplek aangebied word. Volle besonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za. Leer hoe om jou eie toepassings in Windows te maak en hoe om aanhangsels vanaf USB-poorte te bedryf. ’n Opsionele USB-tussenvlak vir die skakeling van relês en lees van drukknopposisies en volts is beskikbaar. Ontwerp jou eie program om die dinge in jou hok te beheer met alleenstaande toepassings. Jy kan dit doen!

Vier Jeugdag op 16 Junie met ’n reeks aktiwiteite wat begin met die monitering van Sumbandilasat, S069, net voor 08:00 die oggend, ’n reeks onderhoude met jong mense aangaande amateurradio om 09:30 op 7 082 kHz, 14 250 kHz en op 145,750 MHz in die Gauteng gebied. Jy kan ook luister na ’n potgooiuitsending en op die web of jy kan jou eie herleiding doen deur ’n plaaslike herhaler. Kry die jongmense aan die praat! Nooi hulle om in jou hok te kom kuier of stel jou toerusting in ’n openbare plek op. Daar is baie pryse om te wen vir beide die jongmense en die amateurs wat hulle gashere is.

OKOSA het toegestaan dat alle radioamateurs wat jongmense betrek en logstate instuur outomaties " status van opvoedkundige stasie " sal hê, wat beteken dat jy ongelisensieerde jongmense kan toelaat om jou stasie onder jou toesig te bedryf. Maak hierdie die grootste en beste Jeugdagviering ooit.

Vanaf 10:00 - 12:00 SAT is die Jeugdagnaelloop. Kry die besonderhede van die SARL Kompetisiehandboek op www.sarl.org.za.

ZS50RSA TYDENS JEUGDAG OP DIE LUG

Die Boland Amateurradioklub gaan die spesiale roepsein ZS50RSA komende Donderdag tydens Jeugdag op die lug sit vanaf 09:00 die oggend tot laat middag. Die stasie sal hoofsaaklik op 40 m bedrywig wees maar kan ook na gelang van omstandighede skuif na ander bande. Maak kontak met die stasie en stuur u QSL via die buro of maak gebruik van SA-QSL.

VIER RADIOAMATEURS ERKEN VIR HUL PRESTASIES

Hierdie week het die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust aan vier radioamateurs erkenning verleen vir hul prestasies op verskeie sektore van die amateurradiodiens.

Hannes Coetzee, ZS6BZP, het die 2011 Toekenning vir Tegniese Innovasie ontvang nl. ’n hedendaagse Icom IC7000 send/ontvanger vir sy inskrywing in die kompetisie onderskryf deur Multisource. Hy het sagteware ontwerp en ontwikkel vir die ontvangs van satellietseine vanaf lae wentelbaan amateursatelliete bedrywig in die 2 m en 70 cm-bande. Die eenheid wat hy ontwikkel het is nie net innoverend nie maar het praktiese toepassings in amateurradio. Die artikel wat die ontvanger beskryf is beskikbaar op www.amateurradio.org.za en sal eersdaags in Radio ZS gepubliseer word.

Nokia Siemens Netwerke is die jaarlikse onderskrywers van drie toekennings asook borge van die toekenningsgeleentheid. Die Garth Milne Radioamateur van die Jaar Toekenning vir Tegnologie is aan Hal Lund, ZS6WB, toegeken vir sy onvermoeide ondersteuning vir amateurradio satellietbedrywigheid en sy aanmoediging van die amateurgemeenskap om in ruimtekommunikasie te eksperimenteer. Ongelukkig kon Hal weens swak gesondheid nie die geleentheid bywoon nie en is die toekenning namens hom deur Pierre van Deventer ontvang.

Die NSN Radioamateur van die Jaar Toekenning - Operasioneel is aan Johann du Plessis, ZS6PSS, oorhandig vir sy ondersteuning van die John Vorster Tegniese Hoërskool se Amateurradioklub en jong amateurs oor die algemeen. Onder sy leiding is die klub die grootste en mees suksesvolle skoolgebaseerde radioklub in Suid-Afrika. ’n Model wat gevolg moet word.

Die NSN Radioamateur van die Jaar Toekenning - Gemeenskapsdiens is aan Paul van Spronsen, ZS1PVS, toegeken vir sy ondersteuning van SARL HAMNET en rampkommunikasie en ondersteuning by sportgeleenthede in die Wes-Kaap. Alhoewel nuut by amateurradio het hy alreeds sy merk gemaak en word vir sy uitstekende werk erken.

Gelukwense gaan aan al die wenners en ons dank aan die borge Nokia Siemens Netwerke en Multisource.

HET JY AL JOU AMATEURLISENSIE BETAAL?

Gaan bietjie na of jy jou lisensie betaal het en of jy ’n geldige gedrukte lisensie of ’n amptelike kwitansie het. Indien nie bel OKOSA tussen 08:30 en 16:00 Maandag tot Vrydag. HOU JOU LISENSIENOMMER BYDERHAND!! Indien jy NIE betaal het nie, doen dit nou deur gebruik te maak van die inligting en rekeningnommer op jou ou lisensie. Die bedrag is R7,50 vir Januarie tot Maart 2011 en R27,00 vir April 2011 tot Maart 2012, ’n totaal van R34,50.

VERANDER VAN ZR NA ZS

Jy hoef nie te verander nie aangesien albei nou klas A lisensies is met volle toegang tot HF. Om die waarheid te sê is ZR raarder as ZS as dit by DX kom. Indien jy nogtans wil verander, gaan na www.sarl.org.za vir nadere besonderhede oor wat jou te doen staan.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom die volgende nuwe lede in sy gemeenskap:
Erik Seather ZSL1015
Amanda Green ZSL1022
Wynand Steenberg ZSL1023
Ockert Strydom ZSL1024
Marnus Meyer ZSL1025
Thinus Joubert ZSL1026 en
Conrad Human ZSL1027.
Mag julle verbinding met die SARL vir albei tot voordeel wees.

119 NUWE AMATEURS KRY HULLE ROEPSEINE

Die uitslae van die radioamateureksamen is verlede naweek op die web gepubliseer maar was te laat om in die bulletins ingesluit te word.

Die jongste kandidaat wat die Klas B-eksamen afgelê het, is 9 jaar oud en die jongste wat die Klas A-eksamen afgelê het, is 11 jaar oud. Die oudste persoon wat geskryf het, is 71 jaar oud. Die slaagsyfers vir Klas A is 79% en vir Klas B 50%

Die eksaminator, Mark Zank, ZS6YES, het gesê dat hy bekommerd is oor die lae slaagsyfer vir Klas B aangesien dit blyk dat die kandidate nie genoeg tyd met die studiegids, wat kosteloos op die web beskikbaar is, gebruik het nie. “Alhoewel dit ’n eksamen op toegangsvlak is, moet die studiemateriaal sorgvuldig gebruik word en kennis moet geneem word van die inhoud daarvan”, het hy gesê.

JG Woodburne, ZS3JW, het met 97% die meeste punte in die Klas A-eksamen behaal en J Flemming, ZU3JW ook 97% in die Klas B-eksamen. Hulle is albei inwoners van Kathu in die Noord-Kaap. Veels geluk aan hulle en ook aan hulle instruktukteurs.

Die standaardooreenkoms met OKOSA is dat nuwe amateurs onmiddellik hulle roepseine mag gebruik en hulle hoef nie vir die papierwerk te wag nie. Briewe en sertifikate word voorberei en sal binnekort gepos word.

Die volledige lys van suksesvolle kandidate, sowel as ’n interessante streeksontleding is beskikbaar op www.sarl.org.za.


2011/2012 LEDEGELDE NOU BETAALBAAR

Betaal asseblief jou SARL-ledegeld vir die 2011/2012 finansiële jaar voor die einde Junie. Rekenings is aan alle huidige lede gepos. Wanneer betaling gemaak word maak seker dat jou roepsein as verwysing aangegee word.

KOMPETISIENUUS

Die kompetisiekomitee het die resultate van die SARL-digitale kompetisie wat op 29 Mei 2011 gehou en waarvoor 14 logstate ontvang is, bekend gemaak. ’n Ontleding t.o.v. frekwensies en modusse toon:
40 m - 30 PSK kontakte en 16 RTD kontakte
20 m - 7 PSK kontakte en 5 RTD kontakte
80 m - 6 PSK kontakte en 1 RTD kontakt

Deelnemers per afdeling was:
Afd 1 - 7
Afd 2 - 6
Afd 3 - 2
Afd 4 - 3
Afd 5 - 1
Afd 6 - 12
Afd 7 & 8 - 1 elk

Die uitslae is:
1ste ZS6GRL, 705 punte
2de ZS2CR, 633 Punte
3de ZS6AKU, 606 punte

Die wenner van die gelukkige trekking is Derek, ZS2J en baie dankie aan al die stasies wat logstate ingedien het.

KLUBNUUS

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 SAT op Saterdag 25 Junie 2011 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835.

HULPROEP VAN KLAUS ZS1QO

Iemand uit Afd. 6 het met Klaus, ZS1QO, van Kaapstad kontak gehad i.v.m. glasveselmaste maar ongelukkig is Klaus in die hospitaal opgeneem en het die persoon se besonderhede verlore geraak. Hier is ’n oproep dat die betrokke persoon Klaus se LV Shireen op selfoonnommer 083 628 3437 kontak sodat die probleem opgelos kan word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit op lae vlakke was met 'n paar C-klas fakkels wat plaasgevind het na Donderdag se groot M2,5 fakkel wat tot 'n helder korona uitbarsting gelei het. Sonvlek 1226 het in die tussentyd uit die aarde se gesigsveld roteer. Die oorblywende sonvlekke 1227, 1228 en 1232 bly klein en onaktief. Daar is 'n kans vir ten minste 'n C-klas fakkel vanaf sonvlek 1227 voordat hy ook uit die aarde se gesigsveld roteer. Nuwe sonvlek 1234 is besig om in die Suid-Ooste te groei maar tot op hede is daar nie die moontlikheid van sonfakkels vanaf hom nie. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week sowat 30.

Met die verandering van die seisoen en die laer sonaktiwiteit is 20 m die beste keuse vir DX gevolg deur 30 m en ook sporadiese 15 m openinge.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Junie - Uitsending van Jeug in Amateurradio om 09:30, maar ontvangs van bakensein op 435,345 MHz reeds om 07:56 en 09:33.
16 Junie - Jeugdagnaelloop vanaf 10:00 tot 12:00 SAT.
18 Junie - Kursus in programmering in Windows in Gauteng. Bespreek by www.sarl.org.za.
25 Junie – Wes-Rand snuffelmark beginnende om 12:00 in Krotonstraat, Weltevredenpark.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.
members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003