Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 17 JULIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SAARDT STEL RAE-BEURSE BESKIKBAAR

VERDERE VERTRAGING VIR ARISSAT-1 LANSERING

PRESIDENTSNET VIR BESPREKING VAN IARU-MOSIES

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SAARDT STEL RAE-BEURSE BESKIKBAAR

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust stel beurse beskikbaar vir studente onder 25 jaar wat die Oktober 2011 Klas A radioamateureksamen wil aflê. Deur die goedhartige bydraes van die familie van Tony Reumerman, ZS6AOG, is dit vir die trust moontlik om vyf beurse beskikbaar te stel. ’n Beurs sluit die eksamengeld, SARL-studentelidmaatskap vir een jaar en studieonkoste van R640 in. Die beurs beloop in geheel R1 000.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Julie 2011. Vir meer besonderhede en ’n aansoekvorm, gaan na www.amateurradio.org.za/bursaries.htm.

VERDERE VERTRAGING VIR ARISSAT-1 LANSERING

Die plasing van ARISSAT-1 in ’n wentelbaan is met ’n aantal weke uitgestel. Volgens ARISSAT-1 se projekbestuurder, Gould Smith, WA4SXM, sal die vorige Suit-Sat nie voor iewers in Augustus sy verskyning maak nie.

In ’n mediaverklaring het Smith gesê dat hy en ARISS se hardeware-ingenieur Lou McFadin, W5DID, aan ’n telekonferensie met NASA deelgeneem het om die ‘Roscosmos’-ruimtewandelingprosedures vir die vrylating van ARISSAT-1 tydens E-V-A 29 te hersien. Vir diegene wat hierdie term nog nooit vantevore gehoor het nie, E-V-A is die akroniem vir “Extra Vehicular Activity” en is NASA-taal vir ’n ruimtewandeling.

Smith sê nou die bespreking het gegaan oor die voorbereidingsprosedures wat die laai van die battery insluit asook die inbou daarvan in die satelliet. Die prosedures om die beskermende komberse van die sonselle te verwyder en om die veiligheidskakelaars voor die vrylating aan te skakel.

Tydens ’n latere telekonferensie het Sergey Samburov, RV3DR, aangekondig dat ARISSAT-1 se battery laat in Junie gelaai sal word en dat die stelsel om 19:15 op 30 Julie tot ongeveer 12:00 of 14:0 UTC op 31 Julie uit die IRS getoets sal word. Van ARISSAT-1 behoort die standaard 2 meter afwaartse skakel sowel as die FM-sein op 437,55 MHz getoets te word.

PRESIDENTSNET VIR BESPREKING VAN IARU-MOSIES

Op Sondag 24 Julie sal ’n Presidentsnet vanaf 19:30 op die lug wees om die die SARL se afgevaardigdes na die IARU Streek 1 se konferensie duidelikheid te laat verkry aangaande die mosies op die konferensie se agenda. Die mosies kan afgelaai word van www.iaru2011.org.za. Die mosies dek ’n wye reeks van sake wat amateurradio affekteer. Die SARL wil graag u insette verkry. Sluit volgende Sondag by ons aan vir die bespreking.

NUWE AFRIKA-LAND

Op Donderdag 14 Junie het die algemene vergadering van die VN die Republiek van Suid-Soedan as sy 193ste lidstaat toegelaat. Volgende onmiddellik na die vergadering het die vlag van die Republiek van Suid-Soedan vir die eerste keer voor die gebou van die VN gewapper.

Noudat die Republiek van Suid-Soedan ’n lid van die Verenigde Nasies is, is die nuwe land ’n DXCC-entiteit. Die ITU het egter nognie die nuwe land se roepseinvoorvoegsel bevestig nie.

SONDAG BARK SE WINTERVERWARMER

Die Boland Amateurradioklub hou op Sondag 24 Julie van 15:0 tot 18:0 SAT sy 40 meter naelloopkompetisie. Dit is ’n pretaktiwiteit om kontakte tussen radioamateurs in Suider Afrikalande aan te moedig. Dit is ook ’n gulde geleentheid vir mobiele stasies, veldstasies en RaDAR-stasies om deel te neem. Vir verdere inligting gaan na Bls. 60 van die ‘Blou Boek’ wat op die SARL se webwerf beskikbaar is. Die volledige weergawe van die URL verskyn in die teksuitgawe van SARLNUUS.

(Hier volg die URL, maar nuuslesers moet dit nie uitlees nie, dit is vir die teksuitgawe).
http://www.sarl.org.za/public/contests/SARL_2011_Contest%20Manual_issue_9.pdf

SARL-WEB BLY ’n UITDAGING

Die SARL se web is steeds ’n uitdaging. Terwyl die nuwe gasheermaatskappy party van die kode- en skryfprobleme uitsorteer sal Imaginet die webwerf Maandag na ’n ander bediener verskuif. Vir die afgelope aantal weke moes die web ’n aantal kere per dag herset word. Verwag onderbrekings gedurende Maandagoggend.

Op hierdie stadium lyk dit asof ons ook ’n tydelike web sal hê waar alle funksies getoets sal word. Die web is ’n prioriteit vir die SARL, maar voordat die finale skuif gemaak sal word wil ons seker maak dat alles glad werk. Verskeie van die ongevraagde kommentaar op die forum sal nie die proses verander wat ons moet volg ten einde te verseker dat die probleme van die verlede nie herhaal word nie.

KLUBNUUS

Die Centurion Radioamateurklub het ’n baie suksesvolle Algemene Jaarvergadering op Saterdag 9 Julie in die Padvindersaal in Wierda Park gehou. Die volgende lede is tot die nuwe komitee vir die klub verkies:
Voorsitter: Pam Momberg, ZS6APT;
Visevoorsitter: James du Toit, ZS6JDT;
Sekretaris: Billy Strumpher, ZS6WPS;
Tesourier: Pam Momberg, ZS6APT;
Gewone komiteelede:
Herhaler - Pieter du Toit, ZS6PZ;
Tegniese opleiding - Rian Venter, ZS6RXY;
Tegniese Forums - Pine Pienaar, ZS6GST;
RAE-opleiding/Gebeurtenisse - John Longland, ZS6AA;
Addisionele lid - Ben Booysen, ZS6BTB.

Baie dankie aan die uittredende komitee en die voorsitter vir hulle goeie werk gedurende 2010/2011 en beste wense en sterkte aan die nuwe komitee.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit op baie lae tot lae vlakke sal wees. Die son se oppervlak is gepeper met klein sonvlekke maar die sonaktiwiteit bly laag. Daar is 'n kans vir 'n C-klas sonfakkel. Nie een van die sonvlekke is magneties kompleks nie. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week minder as 35.

Met winter hier en die laer sonaktiwiteit is 20 m die beste keuse vir DX gevolg deur 30 m. Daar is 'n kans vir 15 m openinge na Suid-Amerika.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting

DAGBOEK VAN GEBEURE

24 Julie - Boland Amateurradioklub 15:0 tot 18:00 SAT 40 meter
naelloopkompetisie.
24 Julie - Presidentsnet vanaf 19:30 SAT.
27 Julie – 4de been van SARL Klubkompetisie.
30 Julie – RTA in Durban.
07 Aug. - SARL HF-foonkompetisie.
09 Aug. - SARL JD-naelloop.
21 Aug. - 3de been van SARL Digitale kompetisie.
28 Aug. - SARL HF-GG-kompetisie.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.
/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.
members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003