Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 25 SEPTEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

“LOGBOOK OF THE WORLD”, KOM NEEM VANAAND AAN INTEGNET DEEL

HAM RADIO DELUXE VERWISSEL VAN EIENAARSKAP

7P8EME DXPEDISIE BENODIG U ONDERSTEUNING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

“LOGBOOK OF THE WORLD”, KOM NEEM VANAAND AAN INTEGNET DEEL

Vanaand om 19:30 word Integnet op ’n herhaler naby jou aangebied. Chris Burger sal oor die eienskappe van “Logbook of the World” praat en vrae daaroor beantwoord.

Sedert die begindae het radioamateurs QSL-kaarte uitgeruil om kontakte te bevestig. Behalwe die genot wat met kleurvolle poskaarte uit alle dele van die wêreld gepaard gaan, voorsien die kaarte in die behoefte om kontakte vir verskeie toekennings te bevestig.

Groot DXpedisies maak nou oor die 100 000 kontakte. Om hierdie kontakte te bevestig vereis baie tyd en uitgawes. ’n Elektroniese manier om kontakte te bevestig skakel baie van die tyd en onkoste uit en verminder ook die hantering van posstukke deur die wêreld se QSL-buro’s.

In 2001 het die ARRL begin met die bou van ’n betroubare databasis genoemd “Logbook of the World, of LotW”. Deur die gebruik van LotW is dit baie dikwels moontlik om bevestiging van ’n DX-kontak binne 24 uur te kry, heel anders as om vir maande of jare te wag vir ’n kaart via die QSL-buro’s.

Een van die vroeë voorstanders van ’n elektroniese QSL-metode, en die enigste nie-Amerikaanse alphatoetser van LotW, was Chris Burger, ZS6EZ. Chris het meer as ’n kwartmiljoen kontakte op LotW geplaas. Hy sluit vanaand, 25 September, by ons aan om te verduidelik waarom deelname sin maak en om die boute en moere van plasing van jou logs op LotW te verduidelik.

HAM RADIO DELUXE VERWISSEL VAN EIENAARSKAP

Simon Brown, HB9DRV, het sy regte in die populêre program Ham Radio Deluxe aan ‘n groep bestaande uit Mike Carper, W9PIE, Randy Gawtry, K0CBH, en Rick Ruhl, W4PC, verkoop. Rick Ruhl is die president van W4PC Software Inc. wie se produkte PakRatt, PKTerm, en Radio Operation Center sagtewarepakkette insluit. Randy Gawtry is die president van Timewave Technology Inc. wie se produkte die PK- en DSP-families van databeheerders en ander dataprodukte insluit. Mike Carter is ‘n tegniese persoon in ’n uitvoerende posisie by Fortune 500, ’n opvoeder en glansspreker in die gebied van radiotegnologie en en IT-diensbestuur.

“Simon het ’n fantastiese werk gemaak met hierdie programmatuur,” het Carper gesê. “Sy visie vir geïntegreerde toerustingbeheer, roteerderbeheer, loginskrywings, digitale modusse en satellietwerking in ’n enkele geïntegreerde program met veelvuldige moontlikhede het die verbeelding van die amateurgemeenskap aangegryp. Ons wil die program sien voortleef op ’n pad wat erkenning verleen aan die harde werk wat deur Simon en andere daarin gesit is, daardie visie onderhou terwyl die aanbring van tydige verbeterings en verfynings in die toekoms die nommer een prioriteit sal wees.”

“Na baie jare van skryf aan die Ham Radio Deluxe-programmatuur is dit nodig om ’n ruskans te neem en die hele projek aan ’n ander span te oorhandig,” het Simon Brown, HB9DRV, gesê. “Die ondersteuningswerk benodig het meer geword as wat ek realisties kan hanteer, met duisende gebruikers, nuwe radio’s en ander apparatuur vir die rekenaar, hardeware as alternatief vir hardeware wat gedurig te voorskyn kom en onverwagte veranderings aan die infrastruktuur wat deur Ham Radio Deluxe gebruik word, soos QRZ.com, het ek nie meer tyd vir ander projekte oor nie. Soos baie van julle reeds weet, het ek ’n maatskappy, genaamd SDR-Radio.com GmbH, gestig en ek werk nou in die sagtewaregedefineerde arena met RFspace. Dit is die tegnologie van die toekoms; ’n toekoms waarvan ek ’n deel wil wees. Ek beplan om in 2012 na Engeland terug te keer en weer op die lug te kom, iets wat ek gedurende die afgelope 25 jaar min kon regkry.”

Die nuwe eienaars is in die proses om ’n ontwikkelingsomgewing vir Ham Radio Deluxe daar te stel en hulle beplan om sommige van die goggas in die bestaande ‘te doen lys’ vir ’n 5.1 uitgawe aan te spreek. Die 5.1 uitgawe, wanneer voltooi, sal kosteloos aan geregistreerde gebruikers beskikbaar gestel word.

7P8EME DXPEDISIE BENODIG U ONDERSTEUNING

Die fondsinsamelingsveldtog van die SARL vir die 7P8EME DX-pedisie het nognie die mikpunt van R10 000 bereik nie. Ondersteun asb. herdie onderneming met u bydrae. Volle besonderhede is nou beskikbaar op www.amateurradio.org.za/7p8.htm. Hierdie DXpedisie stel rekords op vir AMA kragtens infrastruktuur, toerusting, banddekking en antennastelsels en wat ooit ’n ander land besoek het en dit alles met mobiele toerusting. Die groep dek al die BHF-UHF-bande van 50 MHz tot 1 296 MHz (uitgesluit 4 m) op AMA.

RAE-SLUITINGSDATUM

Studente woed daaraan herinner dat die sluitingsdatum vir inskrywings vir die RAE in Oktober, Maandag 26 September, dit is môre, is. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. RAE-instrukteurs word daaraan herinner dat die regulasies wat voor 1 April van krag was in die vraestel gebruik sal word aangesien die gewysigde regulasies nognie in gebruik is nie. Maak asb. seker dat die studente hiervan bewus is. Meer inligting en die benodigde vorms is beskikbaar op www.sarl.org.za, of skakel Mariska gedurende kantoorure by 022 675 2393.

SARL SE WEBWERFPROBLEME DUUR VOORT

Die SARL is pynlik daarvan bewus dat sy webwerfprobleme nog voortduur. Die span wat daaraan werk glo dat hulle spoedig die situasie sal stabiliseer. Indien u nie kan verbind nie, probeer gerus weer ’n bietjie later. Die SARL maak verskoning vir die ongerief.

VOLG DIE DRAKENSBERGSTAPPERS

Vanaand, 25 Sept., vertrek die groep stappers op die Grand Traverse, ‘n 12 dag staproete in die Drakensberge. Johan Leslie, ZR4CAA, stap saam en sal op 80 m en 40 m met John Longland, ZS6AA, by die basiskamp, in kommunikasie wees. Johan sal ook op KwaZulu-Natalse 2 m-herhalers bedrywig wees en hy vra dat amateurs op daardie herhalers die herhalers sal monitor vir moontlike noodtoestande en dan QSP’s sal deurgee aan John, ZS6AA. Indien Johan aan die einde batterykrag oor het, sal hy op Saterdag 1 Okt. vanaf 07:00 tot 08:30 op 7,070 MHz beskikbaar wees vir geselsies. Gaan vooraf na www.crossroadsadventure.co.za vir besonderhede en die kommunikasieprosedure.

CQ HOU KOERS

CQ Hou Koers, die Voortrekkers se jaarlikse radiokommunikasiedag, vind op Saterdag 15 Oktober plaas. Jongmense gaan van regoor SA en Namibië op die amateurbande aktief wees. Ondersteun hulle gerus.

Radioamateurs word versoek om by plaaslike Voortrekkergroepe hulp aan te bied. Omdat die dag saamval met JOTA, bied dit interessante geleenthede vir interaksie tussen Voortrekkers en Scouts.

Navrae kan gestuur word aan Andries, ZS6VL, met e-posadres andries.visagie@natref.com.

ZS6JVT 40 METER JEUG LENTENAELLOOP

Alhoewel baie stasies gedurende die kompetisie aktief was, was dit uiters teleurstellend dat net 5 logstate ontvang is. Die vraag kom op of dit werklik die moeite werd is om met die kompetisie voort te gaan, maar dalk gaan dit volgende keer beter.

Puntetellings op logstate wat ontvang is, is as volg:

1ste - ZS6JVT - 55
2de - ZS44RK - 52
3de - ZS6NGB - 38
4de - ZR6D - 29
5de - ZS2J - 23

Die organiseerders van ZS6JVT se jeug lentenaelloop bedank almal hartlik wat die moeite gedoen het om logstate in te stuur.

KLUBNUUS

Die Wes-Rand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 SAT op Saterdag 8 Oktober 2011 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835.

Die Oos-Rand Amateurradioklub se tweede snuffelmark vanjaar vind op 1 Oktober plaas op die sportterrein van die Selpark Primêre Skool in Pridgeonstr, Selection Park, Springs, vanaf 11:00 tot 15:00. Vir meer inligting of tafelbesprekings, kontak kontak Judy, ZS6JDY, by 079 730 2030 of stuur n e-pos aan zs6jdy@vodamail.co.za. Die klub sien daarna uit om u daar te sien.

Die Oos-Rand Amateurradioklub is trots om sy nuwe komitee, wat tydens hulle AJV Saterdag 17 September gekies is, aan te kondig nl.:

Voorsitter Francois Jacobs, ZS6COI
Visevoorsitters Glynn Chamberlain, ZS6GLN &
Leon Lessing, ZS6LMG
Tesourier Andre van Tonder, ZS6HE
Sekretaresse Judy Pretorius, ZS6JDY
Webmeester Glynn Chamberlain ZS6GLN
Herhaleronderhouer Hampie Findt, ZS6HJF

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit hoog was. 'n X-klas fakkel en ook verskeie C-klas fakkels is deur 'n nuwe sonvlek wat aan die Oostekant van die son geleë is geproduseer. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 93.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Maak nog geldelike bydraes aan die 7P8EME DXpedisie wat tot 26 September plaasvind.
25 September – Laaste dag vir inskrywing vir die RAE in Oktober.
25 September – Integnet vanaand om 19:30.
26 Sept/7 Okt – ZR4CAA en ZS6AA op die lug met die Drakensberg-stapgroep.
8 Oktober – Wes-Rand Amateurradioklub se snuffelmark om 12:00.
15/16 Oktober – “Jamboree on the air”.
Tot 31 Oktober – ZL-stasies met ZM-voorvoegsels en ZL4RUGBY en ZL6RWC op die lug.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003