Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 9 OKTOBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

KANDIDAATNOMMERS VIR DIE OKTOBER 2011 RAE VRYGESTEL

7P8EME DX-PEDISIE ‘N GROOT SUKSES

SARL-LIDMAATSKAP NOU 1 345

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

KANDIDAATNOMMERS VIR DIE OKTOBER 2011 RAE VRYGESTEL

Die SARL het die kandidaatnommers vir die Oktober 2011 Radioamateureksamen wat op 20 Oktober plaasvind, vrygestel. Die lys kan bekom word deur www.sarl.org.za te besoek en op die skakel te klik in die nuusitem op SARL TODAY.

174 kandidate het vir die eksamen ingeskryf insluitende ʼn gesiggestremde persoon vir wie daar spesiale reëlings getref is. Hierdie is die grootste aantal kandidate wat in die onlangse verlede ingeskryf het.

Briewe sal gedurende hierdie naweek aan kandidate gepos word. Indien daar navrae aangaande eksamensentrums is, skakel gerus vir Mariska in die SARL-kantoor by 011 675 2393.

7P8EME DX-PEDISIE ‘N GROOT SUKSES

die 7P8EME DX-pedisie was ʼn groot sukses. Die span het ʼn totaal van 320 QSO’s gemaak. Daarvan was 274 QSO’s op 2 meter AMA was, 23 QSO’s op 70 cm AMA, 18 QSO’s op 23 cm AMA, en 5 QSO’s op 6 meter AMA, almal met die gebruik van JT65. Op HF (GG) is ʼn paar DX-kontakte deur Wynand, ZS6ARF, tussen die AMA aktiwiteite gemaak, terwyl verskeie aangename geselsies op 40 meter met Suid-Afrikaanse Radioamateurs deur Pieter, ZS6PA, gehou is.

Die span wil graag al die borge bedank, en veral Dan, HB9CRQ, die Suid-Afrikaanse Radioliga, die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust, Multisource Telecoms en al die radioamateurs wat die ekspedisie ondersteun het. ʼn Volle verslag sal gedurende volgende week op die web en in RadioZS gepubliseer word.

SARL-LIDMAATSKAP NOU 1 345

Hierdie week het die SARL-lidmaatskap op 1 345 te staan gekom. Indien jy nog nie jou lidmaatskap hernu het nie sal jy nie langer toegang hê tot sulke fasiliteite soos die QSL-buro, RadioZS en die afdeling op die web wat slegs vir lede toeganklik is nie, wat die toegang tot die forum insluit.

Indien jy nie jou lidmaatskap hernu het nie kan jy nog nog hernu deur jou lidmaatskapsfooi so gou moontlik te betaal. Indien jy jou rekening verlê het, skakel asseblief vir Mariska op 011 675 2393 om die besonderhede te bekom.

Indien jy nog nooit ʼn lid van die SARL was nie, waarom nie nou aansluit nie? Deur aan te sluit versterk jy die stem van die SARL en die IARU in areas waar dit die meeste tel. Besonderhede van hoe om aan te sluit is beskikbaar op www.sarl.org.za.

SA AMSAT REIK DIE EERSTE OPROEP VIR VOORDRAGTE UIT

SA AMSAT het die eerste oproep vir voordragte vir die 2012 Ruimtesimposium wat op Saterdag 12 Mei 2012 in Durban by die Universiteit van Kwazulu-Natal gehou gaan word, uitgereik. Indien jy ʼn voordrag wil lewer stuur asseblief ʼn kort opsomming daarvan om SA AMSAT nie later as 31 Januarie 2012 te bereik nie. Die tema van die simposium is 50 Jaar van OSCAR, wat die lansering van die eerste amateurradiosatelliet op 12 Desember 1961 sal herdenk.

SARL-WEB, STADIGE VORDERING

Die span wat aan die SARL-web werk maak stadig maar seker vordering. Peter Hers,ZS6PHD, berig dat daar dramatiese verbetering Vrydag gemaak is deur sekere dele van die web, wat probleme veroorsaak, af te skakel. Hy het gesê dat daar nog baie werk gedoen moet word om probleme op te spoor en hulle op te los. Die SARL erken die groot poging wat Peter en sy helpers aanwend om die probleme op te los.

AMATEURRADIO IS GOED VERTEENWOORDIG BY IAK2011-10-08

Amateurradio is goed by die twee-en-sestigste Internasionale Sterrekundige kongres wat vir die eerste keer in Afrika gehou is, en wel in Kaapstad, sedert die stigting van die Internasionale Sterrekundige Federasie in 1951.

Verskeie voordragte het die betrokkenheid van Amateurradio se betrokkenheid by satelliete en SETI beklemtoon. ʼn Voordrag deur Dr Jakobus van Zyl en Johann Lochner, ZE6CBC, beide ingenieurs by SunSpace, het ʼn globale geografiese opname gemaak van seinsterktes in die BHF-band. Die data, byeen gebring deur Sumbandilasat, SO67, verskaf bruikbare inligting vir die plasing van toekomstige grondstasies vir minimum steurings. Dit gee verder inligting oor frekwensies vir gebruik in bevels- en telemetriekommunikasie by bestaande grondstasies. Meer inligting sal in toekomstige uitsendings van SARLnuus en Amateur Radio Today ingesluit word.

By die kongres het die Departement van Wetenskap en Tegnologie aangekondig dat die departement die lansering van die enkel CubeSat van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie sal ondersteun. Soos in verlede week se SARLnuus berig sal die CubeSat ʼn HF-baken insluit op 144,099 MHz wat interessante toepassings in amateurradio sal hê. Die artikel oor die HF-baken is beskikbaar by www.amsatsa.org.za.

SARL REAGEER OP KAAPSTAD STAD AANGAANDE ANTENNAS

Die SARL het gereageer op die konsep Telekommunikasie Infrastruktuurbeleid vir die Stad Kaapstad. Tydens besprekings het die Stad se Omgewingsagentskap bevestig dat amateurradioantennas en strukture uitgesluit is van die Telekommunikasie Infrastruktuurbeleid. Die SARL het gevra dat die uitsluitingsverklaring ingesluit word in die beleid.

Dit beteken nie dat amateurradioantennas en strukture nie gereguleer word nie. Hierdie strukture is egter steeds onderhewig aan die bouregulasies. Nogtans word amateurradiotorings korter as 15 meter vrygestel van omgewingsomvang soos neergelê in die Wet op Omgewingsbeskerming.

AMATEURRADIO IN AKSIE

Amateurradio in Aksie, is 'n Afrikaanse nuusprogram wat voortaan weekliks saamgestel en aangebied gaan word vir die luistergenot van Afrikaanssprekende radioamateurs. Die program kan weekliks afgelaai word vanaf die internet by www.amateurinaksie.co.za. Terwyl jy op die webtuiste is, teken sommer ook die gasteboek.

Hierdie nuwe program sal weekliks teen Maandagoggend beskikbaar wees op hierdie webtuiste en klubs sowel as individue word aangemoedig om hierdie program af te laai en te gebruik tydens klubbulletins of selfs as 'n losstaande program. Almal is welkom om insette tot die program te lewer en word aangemoedig om so te maak via die webtuiste. Ons sien uit daarna om soveel moontlik luisteraars bymekaar te kry.

CQ HOU KOERS

CQ Hou Koers, die Voortrekkers se jaarlikse radiokommunikasiedag, vind op Saterdag 15 Oktober plaas vanaf 08:30 tot 12:00 SAT. Roepfrekwensies is 3 670, 7 085 en 14 240 kHz asook plaaslike herhalers. Jongmense gaan van regoor SA en Namibië op die amateurbande aktief wees. Ondersteun hulle gerus. Die Voortrekkers vier hulle 80ste bestaansjaar en die roepseine ZS80VT en ZS6VTS sal o.a. gebruik word.

Navrae kan gestuur word aan Andries, ZS6VL, met e-posadres andries.visagie@natref.com.

KOMPETISIENUUS

PEARS HF DX-KOMPETISIE

Die doel van die PEARS HF DX-kompetisie is om Suid-Afrikaanse radioamateurs aan te moedig om DX te werk. Die kompetisie vind plaas op Sondag 13 November 2011 en dit begin om 12:00 en eindig om 16:00 UTC met ESB-werking op 20 and 15 meter. Stasies kan deelneem as enkeloperateur basis- of veldstasies of as multi-operateur basis- of veldstasies. Stasies mag die maksimum uitsetkrag toelaatbaar volgens die regulasies van die land van werking gebruik.

U roepsein en 'n seinrapport word uitgeruil en een punt word per QSO verdien. Veldstasies moet hulle telling met twee vermenigvuldig en 'n verdere vermenigvuldiger van twee is beskikbaar as die stasie 'n nie-winsantenna met verwysing na 'n dipool gebruik. Dan moet die telling vermenigvuldig word deur die aantal lande gewerk.

As drie of meer logs per kategorie ontvang word, sal 'n sertifikaat sal toegeken word aan die wenner van elke kategorie. Logstate moet teen 30 November 2011 versend word aan Posbus 10402, Linton Grange, Port Elizabeth, 6015 of per e-pos aan contest@peham.co.za.

Hierdie kompetisie vervang die PEARS HF-kompetisie wat op Sondag 4 Desember 2011 sou plaasvind.

KLUBNUUS

Centurion Radioamateurklub sal vanaand om 19:30,‘n tegniese praatjie lewer op hul 2 m-herhaler, frekwensie 145,775 MHz.

Die praatjie sal ʼn herhaling wees van verlede week se uitsending wat weens swak weerstoestande kort gesny is.

Die onderwerp vir vanaand sal wees “Voerlyne as aanpassingstransformators“ en sal die vraag beantwoord wat onlangs op die SARL-forum geplaas is naamlik “kan ʼn mens ʼn antenna aanpas deur die lengte van die voerlyn te verander?” en dan is daar natuurlik ʼn tong in die kies amateurstorie.

Pine, ZS6GST, is die aanbieder van die bespreking.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak matig tot hoog sal wees. Nuwe sonvlek 1 313 produseer heelwat C-klas fakkels. Daar is tans nege sonvlekgroepe sigbaar op die son se oppervlakte.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 70.

20 m tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Oktober – CQ-Hou Koers
15/16 Oktober - "Jamboree on the air".
20 Oktober –Radioamateureksamen.
30 Oktober – Integnet om 19:30 oor ’n gevorderde lisensie.
Tot 31 Oktober - ZL-stasies met ZM-voorvoegsels en ZL4RUGBY en ZL6RWC op die lug.
13 November – Pears HF DX-kompetisie 12:00 tot 16:00 UTC.
30 November – Laaste dag vir insending van logstate vir die Pears HF DX-kompetisie.
31 Januarie – Sluitingsdatum vir die insending van voorgestelde aanbiedings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003