Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 08 JANUARIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SARL-WEB NOU VOLLEDIG BY NUWE DIENSVERSKAFFER

ARRL DIAMANT-DXCC-UITDAGING

ARISSat-1 VAL TERUG IN AARDATMOSFEER EN RAAK STIL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-WEB NOU VOLLEDIG BY NUWE DIENSVERSKAFFER

Die finale oorskakeling van die SARL se web en sarl.org.za se adresse op 31 Desember na die nuwe diensverskaffer was nie pynloos nie. Ten spyte van vroeëre versoeke het die registrasieowerheid vir die nuwe tuiste nie die nodige veranderings aangebring voordat hulle vir die nuwejaarsnaweek gesluit het nie dus het ons die nuwe jaar sonder die web en werkende e-posadresse ingegaan. Die proses is weer op 3 Januarie in werking gestel en dit het ’n langdurige administratiewe proses vereis waardeur uiteindelik bereik is dat die tuiste op 4 Januarie na die nuwe diensverskaffer, Altech Technology Concepts, oorgedra is.

Die SARL maak verskoning vir die onderbreking. ’n Span gelei deur Peter Hers, ZS6PHD, gaan voort met werk aan die web. Besonderhede is vervat in ’n brief van die SARL wat nou ook beskikbaar is om van die webwerf afgelaai te word indien u dit nie ontvang het nie.

Groot dank aan Peter en sy span vir hulle onbaatsugtige werk.

ARRL DIAMANT-DXCC-UITDAGING

Gedurende April 2012 sal die ARRL die 75ste herdenking van die DXCC vier. Ten einde hierdie belangrike mylpaal te vier, het die ARRL teruggegaan na die begin – die 1937 DXCC-lys. Die Diamant-DXCC-Uitdaging sal DXers se vaardigheid toets om al die 231 lande op die oorspronklike DXCC-lys te kontak.

Die ARRL het gepoog om die ooreenstemmende entiteite te identifiseer wat tans die plekke in die 1937 lys verteenwoordig. Daar is ’n aantal plekke wat saamgesmelt het, soos die Franse en Engelse Nuwe Hebride en die Papua en Nu Guinea gebiede. In daardie plekke, vir 2012 indien u ’n YJ of ’n P29 (op die hoofeiland van Nu Guinea) kontak, sal jy met kontakte met twee entiteite gekrediteer word! Vele ander eienaardighede kom op verskeie plekke in die lys voor. Die Kanaalgebied (enige HP bedrywig binne 8 km vanaf die Panamakanaal), die stede Gdansk, Pole, sowel as Ifni, Marokko en Balochistan is in 2012 terug op die lug.

Vir verskeie entiteite wat nou uit meer state bestaan, mag u enige van vandag se entiteite kontak om vir die enkele land in 1937 te kwalifiseer. Byvoorbeeld, Frans Ekwatoriaal-Afrika sal gereken as gekontak te wees indien enige van TL, TN, TR., of TT gedurende 2012 gekontak word. Die Diamant DXCC tabel vir lande toon die huidige entiteitsname en voorvoegsels wat vir die lande van 1937 kwalifiseer. Vir verdere inligting besoek www.arrl.org.

ARISSat-1 VAL TERUG IN AARDATMOSFEER EN RAAK STIL

AMSAT rapporteer dat ARISSat-1 die oggend van 4 Januarie gestaak het om uit te saai. Dit word geglo dat die satelliet die aarde se atmosfeer teen ongeveer 07:00 UTC (+/- drie ure) binnegegaan het en kort daarna vernietig is. Telemetrieverslae toon dat die temperatuur aan boord ARISSat-1 toegeneem het soos atmosferiese weerstand begin het om die satelliet te affekteer. Die verwagte ligging van die vertraging is ’n oop deel van die Atlantiese oseaan vêr wes van Angola.

Die laaste telemetrieverslae is dat die interne temperatuur 75 °C bereik het en vinnig gestyg het. Konstantin Vladimirovich, RN3ZF, het ’n ontvangsrapport oor ’n verbyvlug om 08:42 uitgestuur waarin staan: “Die telemetrie was afwesig, spraakboodskappe was nie verstaanbaar nie, baie sag en onderbroke. Heel waarskynlik het ek die laaste minute van lewe van die satelliet aanskou”. Die laaste volledige telemetrie wat opgeneem is, is ontvang van grondstasies soos die satelliet op 4 Januarie om 06:02 UTC oor Japan beweeg het.

ARISSat-1 is op 3 Augustus 2011 vanaf die Internasionale Ruimtestasie gedurende EVA-29 deur ruimtevaarder/vlugingenieurs Sergei Volkov, RU3DES, en Alexander Samokutyaev ontplooi. Die satelliet het ’n eksperiment wat atmosferiese digtheid meet en ontwerp is deur studente van die Kursk Staatsuniversiteit in Rusland gedra. Studente van oor die wêreld heen het die stemme voorsien wat vir die FM-aankondigings in spraak gebruik is.

Die President van AMSAT, Barry Baines, WD4ASW, het gesê dat ARISSat-1 ’n nuwe tipe van satelliet was wat die aandag van die nasionale ruimteagentskappe wêreldwyd gevange geneem het. “Met ARISSat-1 was dit vir ons moontlik om ’n uitsonderlike opvoedingsgeleentheid te ontwerp, te lanseer en te bedryf”, het hy verduidelik. “Deur ’n opvoedkundige sending te ontwerp in lyn met NASA se wetenskaplike, tegnologiese, ingenieurs en wiskundige doelwitte, was radioamateurs wêreldwyd in staat om ’n nuwe satelliet in omwenteling te geniet”.

ARISSat-1 het verskeie ‘eerstes’ vir amateurradio in die ruimte bereik, insluitende die eerste vlugtoets van die AMSAT programmatuur gedefineerde transponeerder, met ’n FM spraak afwaartse koppeling wat tussen studenteboodskappe gekies het, spraaktelemetrie en SATV, ’n 16 kHz wye liniêre transponeerder, ’n GG-baken met telemetrie en roepseine van radioamateurs (wat hulle betekenisvolle bydraes tot amateurradio in die ruimte erken) en ’n robuuste, voorwaartse foutkorrigerende 1 kbps BPSK digitale afwaartse koppeling wat satelliettelemetrie en telemetrie vir die Kursk-eksperiment dra.

MATERIAAL VIR RADIO ZS

Die redakteur nooi lede uit om artikels en foto’s te verskaf vir die 2012 uitgawes van Radio ZS. Geskikte foto’s word benodig vir die voorblad en moet radioamateurs in aksie wys. Artikels kan van 'n tegniese aard wees, of meer vertel van 'n klubprojek of klubaktiwiteit, 'n DXpedisie of soortgelyke aktiwiteite.

Artikels kan in MS Word, OpenOffice of RTF-formaat gestuur word, prente kan as jpg-lêers gestuur word. Materiaal kan per e-pos gestuur word aan radiozs@sarl.org.za of per pos aan Posbus 12104, Brandhof, 9324.

PEARS SE BHF-KOMPETISIE OM KONTAKTE TUSSEN AFDELINGS AAN TE MOEDIG

Die nasionale BHF/UHF-kompetisie vind plaas van 20 tot 22 Januarie 2012 en ESB, GG, FM en digitale modusse mag gebruik word. Die eerste sessie strek van Vrydag om 18:00 SAT tot Saterdag 16:00 SAT. Die tweede sessie begin onmiddellik daarna en eindig Sondag 14:00 SAT.

Die hoofdoel van vanjaar se kompetisie is om kontakte d.m.v. BHF tussen afdelings in die RSA en BHF-aktiwiteit in die algemeen aan te moedig. PEARS doen ’n beroep op alle radioklubs in die RSA om stasies in hulle gebied aan te moedig om d.m.v. tuis- of veldstasies aan die kompetisie deel te neem en die kompetisie ’n sukses te maak. Dit kan ook lei tot ’n spesiale, landwye kompetisie tussen klubs.

Die hooffrekwensies vir ESB-kontakte oor lang afstande is 50,200 en 144,200 MHz. In onlangse kompetisies is waargeneem dat vêrafgeleë, swakker stasies se seine deur die van plaaslike sterk stasies en lang gesprekke verswelg is. Ten einde hierdie probleem in die toekoms te vermy word stasies versoek om plaaslike stasies binne ’n 100 km radius op die FM kompetisiekanale van 50,400 en 144,400 te kontak. Daar kan ook notas vergelyk en kort gesprekke gevoer word. Indien die ESB-frekwensie in gebruik is, QSY dan 5 of 10 kHz hoër of laer in frekwensie.

Beste wense vir die kompetisie en help om dit ’n werklike nasionale BHF-kompetisie te maak.

HAMNET: GAUTENG-SUID: VERGADERING

Hierdie is ’n uitnodiging aan alle persone wat in gemeenskapsdiens en noodkommunikasie belangstel om die eerste vergadering van Hamnet-Suid by te woon. Besonderhede is as volg:
Datum: Donderdag 12 Januarie 2012.
Tyd: 19:00 tot 21:00.
Plek: 9de Benoni Padvindersaal, Arrow Park, Benoni.

Gemeenskapsaktiwiteite en u moontlike betrokkenheid vir 2012 sal bespreek word. Daar sal op 145,675 en op 438,700 MHz FM bystand verleen word.

Neem beskuitjies saam!

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit vir die week laag is met slegs 'n geringe kans vir M-klas fakkels. Tans is al die sonvlekke wat van die aarde af sigbaar is magneties eenvoudig en stil.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 88.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

8 Januarie – ARRL se kinderdagbedrywighede. Inligting by www.arrl.org/kids-day.
12 Januarie –Hamnet-Suid vergadering om 19:00.
15 Januarie – Laaste dag vir indiening van voorgestelde aanbiedings vir Radiotegnologie-in-Aksie-Simposiums 2012 na artoday@sarl.org.za.
20 tot 22 Januarie – PEARS se BHF/UHF-kompetisie.
31 Januarie - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za.
Onthou ook om nominasies in te stuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003