Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 22 JANUARIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Met leedwese word aangekondig dat die sleutel van Jacques Bauermeister, ZS1FE, 'n komiteelid van Oakdale Radioamateurklub, gedurende die nag van 13 Januarie 2012 stil geword het.
Ons innige simpatie aan sy eggenote en kinders.

Ook het die sleutel van Kobus van Rooyen, ZS2KVR, (voorheen ZS1KVR) vroeër die week stil geword. Ons innige meegevoel aan sy vrou Ansie, ZS2AVR, en kinders.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL KONDIG BESONDERHEDE OOR 2012 RAE AAN.

JAARLIKSE LISENSIEHERNUWING

NOMINASIES VIR DIE RAAD VAN DIE SARL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL KONDIG BESONDERHEDE OOR 2012 RAE AAN.

Die SARL het besonderhede van die 2012 Radioamateureksamens aangekondig. Die Meimaandeksamen sal op 24 Mei 2012 gehou word met die sluitingsdatums vir registrasie 27 April 2012. Die Oktobereksamen sal gehou word op 18 Oktober 2012 met registrasie wat op 21 September sluit. Die registrasiefooi is nou in lyn met OKOSA se nuwe fooie vir lisensieaansoeke en die eerste jaar se lisensiefooi.

Kandidate sal met registrasie komplimentêre lidmaatskap van die SARL kry, wat elektroniese kopieë van Radio ZS en volle toegang tot die web insluit. Kandidate sal gratis lidmaatskap geniet tot 30 Junie 2013. Die hoofdoel van die komplementêre lidmaatskap is om kandidate meer in amateurradio en aktiwiteite te betrek.

Volle besonderhede kan op www.sarl.org.za gevind word en te kliki op “licensing” aan die linkerkant van die tuisblad.

JAARLIKSE LISENSIEHERNUWING

Radioamateurs word daaraan herinner dat die datum vir lisensiehernuwing 1 April 2012 is wanneer die nuwe lisensiegelde ook in werking tree. ‘n Amateurradiolisensie sal R120 kos. OKOSA het aangedui dat herinnerings binnekort gepos sal word. Indien u nie ‘n rekening kry nie, is dit nogtans u verantwoordelikheid is om die fooi teen 1 April 2012 te betaal. Betaling kan elektronies of by enige Poskantoor gemaak word. Maak seker dat u u roepsein en rekeningnommer, wat op u vorige lisensie en rekening verskyn, meld.

NOMINASIES VIR DIE RAAD VAN DIE SARL

Lede word daaraan herinner dat nominasies vir nuwe raadslede op 31 Januarie 2012 sluit. ‘n Nominasie moet deur ‘n nomineerder en sekondant, wat albei huidige lede van die SARL is, gedoen word. Die nominasie moet ook vergesel word van ‘n amateurradio verwante CV van die genomineerde asook ‘n brief wat bevestig dat hy/sy gewillig is om vir verkiesing te staan en, indien verkies, op die Raad van die SARL te dien. Nominasies moet gestuur word aan die sekretaris van die SARL. Geskandeerde dokument kan gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

DXCC-AANSOEKE AAN DIE TOENEEM

Belangstelling in DX is aan’t groei. So sê die ARRL. Die ARRL rapporteer dat dit voorkom asof meer amateurs deesdae DX werk. Dit beteken op sy beurt dat die ARRL se Lidmaatskap- en Vrywilligerprogramme-afdeling, veral die DXCC-afdeling en die ARRL Inkomende en uitgaande QSL-buro’s, hard werk om die aansoeke te prosesseer en kaarte na die verskeie QSO-buro’s uit te stuur.

In 2010 het die DX-afdeling 7 134 aansoeke vir oorspronklike toekennings en endossemente hanteer. Hierdie 2010 aansoeke het 853 462 QSO’s ingesluit. In 2011 het hulle 11 175 aansoeke hanteer wat 1 250 864 QSO’s behels het.

Sharon Taratula is die Lidmaatskap- en Vrywilligerprogramme se Administratiewe bestuurder. Sy verduidelik dat indien 2010 met 2011 vergelyk word daar ‘n 47 persent vermeerdering in QSO’s en ‘n vermeerdering van 57 persent in die aantal aansoeke was.

Dis ‘n indrukwekkende vermeerdering in enige area van amateurradio.

KLUBNUUS

PEARS BHF/UHF-KOMPETISIE IS NOU AAN DIE GANG

Die PEARS BHF/UHF-kompetisie het Vrydagaand begin en sal voortgaan tot 14:00 SAT vandag, Sondagmiddag. Toe hierdie berig geskryf is het ‘n aantal veldstasies in Afdelings 1,2 en 6 aangekondig dat hulle aan die kompetisie gaan deelneem. Ons hoop dat La Nina sal saamspeel en nie die weer omkrap nie. Daar is vanoggend nog tyd oor om punte aan deelnemers weg te gee, so probeer ‘n slag. PEARS wens al die deelnemers geluk en bedank u vir u deelname.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit besig is om toe te neem met gepaardgaande geomagnetiese versteurings. Verder kan Sonvlek 1 401 M-klas fakkels produseer.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 104.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. Met die verhoogde sonaktiwiteit kan 6 m ook opwindende openinge oplewer.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

20 tot 22 Januarie - PEARS se BHF/UHF-kompetisie.
31 Januarie - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za.

Onthou, u kan steeds nominasies instuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003