Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 8 APRIL 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL SE JAARLIKSE TOEKENNINGSDINEE MOET NIE MISGELOOP WORD NIE
3DA0FC SWAZILAND DX-PEDISIE
NUWE 50 MHz AMA DIGITALE SARL DX-REKORD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL SE JAARLIKSE TOEKENNINGSDINEE MOET NIE MISGELOOP WORD NIE

Die gasspreker by vanjaar se SARL toekenningsdinee is dr. Andrew Collier, Bestuurder, Golf- en Ruimteplasma-groep by die Hermanus Magnetiese Observatorium en ‘n senior lektor aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy sal oor Suid-Afrika se deelname aan wetenskaplike werk in Antarktika praat. Die aanbieding sal goed geïllustreer wees met verskeie asemrowende foto’s en sal vir almal van belang wees. Met sy aanvaarding van die uitnodiging om die rede te lewer het Dr. Collier opgemerk dat die aanbieding lig op die wetenskap sal wees met baie prentjies.

Elke persoon wat die dinee bywoon sal deelneem aan die uitloot van ‘n groot aantal pryse, wat ‘n dubbelband mobiele senderontvanger insluit, die Yaesu FTM-10R. Dit word deur Verstay geborg.

Die FTM-10R is kompak en het ‘n afhaalbare water- en stofdigte voorpaneel, wat besonderse steun aan buitemuurse aktiwiteite verleen. Die afhaalbare voorpaneel kan van die senderontvanger afgehaal en met die magnetiese montering aan ‘n plat metaaloppervlak vasgesit word. Die mikrofoon en DVP-knop koppel op die voorpaneel.

Die SARL toekenningsdinee is die hoogtepunt van die SARL Nasionale Konvensie. Dit vind alles van 20 tot 22 April in Pinetown plaas. Registreer vir die konvensie en dinee deur www.sarl.org.za te besoek. Volg die skakel vanaf die hoofblad of skakel Mariska by 011 675 2393.

3DA0FC SWAZILAND DX-PEDISIE

Pierre, ZS6A, sal as 3DA0FC aktief wees te Hawane in KG53MS tot Maandagaand 9 April 2012. Hy sal die ON4KST DX-groep monitor vir aktiwiteit en om skedules te reël. Luister vir Pierre op 50,200 MHz in die oggende vir meteoorstrooiing- of tropo-QSOs. In die middae sal hy konsentreer op TEP/F2-openinge na Europa en elders. Hy sal werk op ESB-, GG- en WSJT-modusse.

NUWE 50 MHz AMA DIGITALE SARL DX-REKORD

Op 4 April 2012 het Derek Gravette, ZS5Y, ‘n nuwe 50 MHz AMA rekord opgestel met Mike Staal, K6MYC, met die JT65a digitale modus.

JT65, wat in laat 2003 ontwikkel en vrygestel is, is bedoel vir uiters swak maar stadig variërende seine, soos wat voorkom op tropo-strooiing en AMA-paaie. Dit kan seine wat baie desibel onder die ruisvloer lê, dekodeer en kan amateurs dikwels in staat stel om inligting uit te ruil, selfs al is geen sein met die oor hoorbaar nie. JT65A is ‘n ‘sub-modus’ wat vir terrestriële HF kommunikasie aangepas is.

Veels geluk aan Derek en Mike.

REGISTRASIE VIR DIE SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM OPEN MAANDAG

Besonderhede van SA AMSAT se ruimtesimposium, wat op Saterdag 12 Mei by die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou sal word, is nou beskikbaar op www.amsatsa.org.za. Die tema van die simposium is 50 jaar van amateursatelliete, om die lansering van Oscar 1 vyftig jaar gelede te herdenk.

Die program het aanbiedings wat ‘n wye bereik van onderwerpe dek. Dit sluit verskeie aanbiedings in oor KLETSKous SA AMSAT se CubeSat, wat die konstruksie van die raam, transponeerder en aanboord-beheer en telemetriestelsels insluit. Ander aanbiedings sluit in, satellietsporing en antennebeheerstelsels, lesse geleer uit SambandilaSat- en die CubeSat-programme by die Kaapse Skiereiland Univeriteit van Tegnologie, waarvan die eerste satelliet wat ‘n 20 meter baken insluit, binnekort gelanseer sal word, ruimte-aktiwiteite by die Durban Universiteit van Tegnologie en ‘n aanbieding oor hoe die SKA-perseel ‘n RF-vrye sone word en nogtans radio- en TV=dienste bied aan persone wat in die gebied woon.

Registreer nou en kry voordeel as een van die vroeë registreerders. Alle besonderhede is beskikbaar op www.amsatsa.org.za.

GEEN BESLUIT OOR DIE VIERKANTE KILOMETER OPSTELLING (SKA) SE PERSEEL NIE

Suid-Afrikaners sal tot tenminste die middel van Mei moet wag voordat daar besluit word of die SKA in Suid-Afrika of in Australië geplaas gaan word.

Lede van die SKA-organisasie het op 4 April in Amsterdam bymekaar gekom vir hulle eerste algemene vergadering. Hulle het kennis geneem van die verslag van die advieskomitee vir SKA-perseelseleksie en die daarbygaande kommentaar. Hierdie dokumente is na die algemene vergadering verwys deur die SKA-organisasie se Raad, wat verlede maand in die VK vergader het.

Die lede wil graag met die seleksieproses voortgaan en besef dat daar verkieslik ‘n inklusiewe benadering tot die SKA gevolg moet word. Hulle merk op dat dit belangrik is om die waarde van die belegging gemaak deur beide kandidaatlande, te maksimaliseer. ‘n Klein wetenskaplike werkgroep is gestig om moontlike implementeringsopsies wat dit sal bereik, te ondersoek. Die werkgroep sal in Mei terug rapporteer.

By ‘n onlangse mediakonferensie het die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, gesê dat om die SKA tussen Suid-Afrika en Australië te deel, nie ‘n moontlikheid is nie. Sy het gesê Suid-Afrika is gereed om gasheer te wees vir die SKA. In kommentaar op die besluit van die algemene vergadering het die minister gesê dat sy teleurgesteld is met die vertraging en dat sy hoop dat die SKA-organisasie in die eerste helfte van 2012 ‘n besluit sal neem en dat die besluit in ooreenstemming met die beste wetenskaplike uitkoms sal wees.

AMATEURRADIOBOEKE BY DIE SARL NASIONALE KONVENSIE

‘n Aantal amateurradioboeke sal by die SARL Nasionale Konvensie te koop aangebied word. Dit sluit hardebandeksemplare van die ‘2012 ARRL Handbook’ en die ‘ARRL Antenna Book’ in. U kan nou boeke bestel, aanlyn betaal en die boeke by die nasionale konvensie ontvang. Besonderhede van beskikbare boeke is te vinde op www.amateurradio.org.za. Betaling by die nasionale konvensie sal slegs met kontant kan wees, geen ander fasiliteite is beskikbaar nie.

AFSTERWE VAN ERNEST WILKINSON

Dit is met spyt dat ons die afsterwe op 10 Maart van Ernest J. Wilkinson, aankondig. Hy is die uitvinder van die die ‘Wilkinson Combiner’, ‘n apparaat wat bestaan uit twee kwartgolf stompe (stubs) and ‘n weerstand. Dit het die vermoë om twee RF-seine te kombineer in een sein met dubbel die drywing, en ook andersom, om een sein te verdeel in twee gelyke dele.

Daar is feitlik geen ander naam wat so dikwels in die mikrogolfnywerheid gebruik word nie. In enige mikrogolftydskrif of konferensie, verloor ‘n mens gou tred met hoeveel keer Wilkinson se naam genoem word.

KLUBNUUS

Die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging (K.A.R.T.S), ZS6KTS, het hulle algemene jaarvergadering op 10 Maart 2012 te Impala Voortrekkersaal, Rooibosstraat, Allen Grove, Kempton Park, gehou. Op hierdie vergadering is die volgende ampsdraers verkies:
Voorsitter: Nico van Rensburg - ZS6QL
Ondervoorsitter: Renier Burger - ZS6HOT
Sekretaris: Corrie De Beer - ZS6CDB
Tesourier: Barry Els - ZS6OY
Bykomende gewone lede: Celeste Searle - ZS6CNS
Clive Reeks - ZS6BT
Vivian Dold - ZS6VD (Tegnies)

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is tans slegs klein, stabiele sonvlekke vanaf die aarde sigbaar.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 54.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees, met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer met 10 m net 'n kortkop agter.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
9 April - Registrasie vir die SA AMSAT se ruimte-simposium open.
6 tot 9 April - Western Cape Antique Wireless Association Ekspo naby Stanford, skakel met John, ZS1WJ, op 082 673 5337 vir meer inligting.
9 April - 3DA0FC Swaziland DX-Pedisie nog tot vanaand
20 tot 22 April - SARL Konvensie in Pinetown.
12 Mei - SA AMSAT se Ruimtesimposium, besoek www.amsatsa.org.za.vir besonderhede en registrasie.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Fritz, ZS6SF.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003