Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 29 APRIL 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL VERKIES NUWE RAAD

NUWE LEDEGELDE

AJV BESLUITE.

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL VERKIES NUWE RAAD

Op die algemene jaarvergadering wat gehou is as deel van die SARL se Nasionale Konvensie, is ‘n nuwe Raad verkies. Rassie Erasmus, ZS1YT, is die nuwe president en Geoffrey Levey, ZS6GRL, die Vise-President. Fritz Sutherland, ZS6SF, neem oor by Henry Chamberlain, ZS1AAZ, wat aftree na baie jare as sekretaris. Die ander lede van die Raad is: Dennis Green, ZS4BS, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, Fred Scheepers, ZS1FCS, Laurie Deveraux, ZS5DL, Francois Botha, ZS6BUU, Riaan Greeff, ZS4PR, Willem Weideman, ZS6WWJ, Frik Wolff, ZS6FZ, Johann Marais, ZU1JM, Ian Laubscher, ZS1LAU, en Pierre van Deventer, ZS6A. Besonderhede van die verskillende portefeuljes verskyn op www.sarl.org.za/members/council/portfolios.asp of gaan eenvoudig na die werfindeks en kies “councillor portfolios”.
Die eerste Raadsvergadering, per telekonferensie, vind plaas op die 9de Mei.

REGISTREER NOU VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Registreer nou vir die SA AMSAT Ruimtesimposium, wat op Saterdag 12 Mei by die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou sal word. Telkom is die hoofborg, wat dit moontlik maak om ‘n uitgebreide aantal sprekers en onderwerpe in ‘n volgepakte program te hê. SANSA neem nou ook deel en sal studente wat die simposium wil bywoon, borg. Studente wat vir borgskap in aanmerking geneem wil word, moet registreer by Donderdag 3 Mei.

Kry al die besonderhede op www.amsatsa.org.za of volg die skakel vanaf die SARL-webwerf.

DIE SARL REIK UIT NA SAOG-RADIOAMATEURS

Die SARL reik uit na radioamateurs wat lede van hulle onderskeie nasionale verenigings is, om op ‘n komplimentêre grondslag by die SARL aan te sluit. Dit vorm deel van die SARL se verbintenis tot ondersteuning van die IARU streek 1 “Support for the Amateur Radio Service” of te wel die ‘STARS’-program. Die doel met die STARS-program is om die amateurradiodiens te beskerm, ontwikkel en bevorder in lande waar amateurradioaktiwiteit min is of glad nie bestaan nie.

Om aansoek te doen moet amateurs in SAOG-lande die SARL-lidmaatskapaansoekvorm voltooi en bewys voorlê dat hulle ‘n lid van hulle plaaslike vereniging is. Dit kan gedoen word op admin@sarl.org.za.

NUWE LEDEGELDE

Die SARL-ledegelde vir de verskillende lidmaatskapkategorieë is marginaal aangepas. Die nuwe ledegeld vir gewone lede is R400 en vir senior lede ouer as 65 jaar is dit R230 per jaar.

SLUIT NOU BY DIE SARL AAN EN KRY LIDMAATSKAP VIR JUNIE EN JULIE GRATIS

Die SARL maak ‘n spesiale aansluitingsaanbod aan nie-lede. Sou u nou aansluit, kry u lidmaatskap vir Mei en Junie gratis. Dit kos net R400 vir lidmaatskap wat duur tot die einde van Junie 2013.

Die SARL, as die nasionale vereniging vir amateurradio, verteenwoordig u plaaslik sowel as internasionaal deur na u belange om te sien. In die nabye verlede het steun aan die Internasionale Amateurradio-unie aan amateurs twee nuwe frekwensietoekennings in die lang- en mediumgolfspektrum besorg en werk aan ‘n toekenning in die 5 MHz band gaan ook voort.

Om van hierdie spesiale aanbod gebruik te maak, voltooi die vorm op www.sarl.org.za, wat u kry deur te klik op ‘membership’; anders skakel Mariska op 011 675 2393 vir hulp.

BESLUITE VAN DIE ALGEMENE JAARVERGADERING

Mosie 1 wat gaan oor die Jack Twine toekenning, is eenparig aanvaar. Die mosie maak dit verpligtend om, waar ‘n persoon vir die toekenning aanbeveel word, ‘n volledige motivering voor te lê en nie net eenvoudig die persoon se naam met steun van ses ligalede nie.

Mosie 2: Die debatsreëls, wat al dekades lank in gebruik is, vorm nou deel van die reëls, nie net deel van die AJV-agenda nie.

Mosie 3 oor die datums en plekke van die AJV’s is eenparig aanvaar en laat dit aan die Raad oor om die datum van die AJV te bepaal.

Mosie 4 is eenparig aanvaar. Raadslede word nou vir twee jaar verkies met ses of sewe lede wat elke jaar aftree.

Mosie 5 is aanvaar. Dit gaan oor uitsetting uit die SARL. Die nuwe reël verseker dat in gevalle waar dit nodig is om ‘n lid uit die SARL te sit, hy of sy ‘n regverdige verhoor kry.
Mosie 6 verander reël 1.5.6 en vervang lidmaatskap met affiliasie, wat op klubs van toepassing is.

Mosie 7 skep die SAOG-lidmaatskapklas.

Mosie 8 maak die forum oop vir nie-lede en stel ‘n aantal vereistes daar, soos die aanstelling van drie moderators en die ontwikkeling van ‘n stel reëls en ‘n etiese kode. Die stemming op hierdie mosie was 106 stemme ten gunste, 75 teen die mosie, met 52 lede wat buite stemming gebly het.

Die nuutverkose raadslid Pierre van Deventer, ZS6A, sal die forumportefeulje bestuur. Daar is ‘n spesiale e-posadres opgestel vir forumverwante sake; dit is: forumadmin@sarl.org.za. Alle ander korrespondensie met die SARL moet aan secretary@sarl.org.za gestuur word. Adresveranderings en subskripsienavrae moet aan admin@sarl.org.za gestuur word.

Mosie 9 is onttrek aangesien dit dieselfde onderwerp as mosie 7 aanspreek.

Mosie 10 wat e-posadresse van die vorm ‘lidroepsein@sarl.org.za’ voorstel, is nie aanvaar nie. Die koste-implikasie maak die mosie op hierdie tydstip ondoenbaar.

Mosie 11, wat gaan oor veranderings aan die konstitusie wat die SARL in staat sal stel om vir belastingvrystelling aansoek te doen, is eenparig goedgekeur.

Onder algemeen is die pad vorentoe met die SARL-reguleerder bespreek. Daar was bespreking van die verval op 31 Maart 2013, van die ZU-lisensie vir persone oor 25. Daar is ooreengekom om OKOSA weer hieroor te nader. Die beplanning sal gedurende die week op die SARL-webwerf verskyn.

2012 OLIMPIESE SPELE NIE WONDERLIK VIR RADIOAMATEURS NIE.

Detail oor die frekwensiebeperkings gedurende die 2012 Olimpiese en Paralimpiese spele is vrygestel deur Ofcom, die telekommunikasiereguleerder in die Verenigde Koninkryk. Die grootse impak op amateurs blyk te wees in satellietmodus en ander werking in die 436 tot 437 MHz bereik. Bedryf op 70 cm word veral rondom Londen en Weymouth geraak.

WEDSTRYDNUUS

ZS3 Naelloop.
Die ZS3 naelloop sal plaasvind vanaf 14:00 tot 15:00 UTC op Sondag 6 Mei, met die doel om kontakte te bevorder tussen amateurs in die Noord-Kaap en amateurs van lande in Suidelike Afrika. Dit is ‘n foon- en gelykgolfkompetisie op die 40 m band en die inligting wat uitgeruil word, is RS(T) en die afkorting vir die provinsie of land.

ZS3 stasies sal 1 punt verdien vir ‘n QSO met ‘n ZS3 en 2 punte vir ‘n QSO uit ‘n ander ZS-roepseingebied of Suider-Afrika land. Ander stasies sal 2 punte verdien vir ‘n QSO met ‘n ZS3-stasie en 1 punt vir ‘n QSO met ‘n stasie buite ZS3. Kontakte met die Noord-Kaap ARK, ZS3NC, met ‘Namaqualand Aero Sport Association’, ZS3FLY, en met die Kalahari-Karoo ARk, ZS3ARK, is elk 5 punte werd. Slegs een kontak per stasie word toegelaat.

Logstate moet voorgelê word teen 13 Mei en kan gestuur word aan ZS3 Sprint, Posbus 1049, Kathu, 8446 of per e-pos aan zs3nc@qsl.net.
AWA Buis-QSO-partytjie
Op Saterdag 12 Mei en Sondag 13 Mei sal die AWA buis-QSO-partytjie gehou word. Saterdag is die AM-been en Sondag die ESB-been. Die tye loop van 15:00 tot 19:00 SAT in die 40 m band op 7060 tot 7100 kHz en in die 80 m band van 3600 tot 3650 kHz. Wat uitgeruil word, is RS waardes, volgnommers wat by 001 begin en die tipe toerusting wat gebruik is.
Puntetelling (u radio). Alle buisradio’s 3 punte per kontak; hibriede stelle 2 punte per kontak en halfgeleierstelle 1 punt per kontak.
Sertifikate sal toegeken word vir die drie hoogste puntetellings in elke kategorie. Die sluitingsdatum vir die voorlegging van logs is 28 Mei 2012.
Logs kan gestuur word aan andyzs6ady@vodamail.co.za of gepos word aan AWA Of Southern Africa; Posbus 12320; Benoryn, 1504.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Daar is tans heelwat sonvlekgroepe sigbaar maar almal is redelik rustig en kalm.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 67.

Al die DX bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer met 10 m net 'n kortkop agter.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Sondag 6 Mei - ZS3 naelloop van 14:00 to 15:00 UTC.
12 Mei - SA AMSAT ruimtesimposium; besoek www.amsatsa.org.za vir besonderhede en registrasie.
Saterdag 12 Mei en Sondag 13 Mei - AWA buis-QSO-partytjie.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7082, 7205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Fritz, ZS6SF.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003