Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS Sondag 27 MEI 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG

MOONTLIKE HULPVERLENING AAN HAMNET NOORD-KAAP

SKA EN MEERKAT AAN SA TOEGEKEN

WORKED ALL CONTINENTS-TOEKENNING

ONS NEEM AMATEURRADIO NA DIE PUBLIEK

DIE ONGELOOFLIKE HAMVENTION

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

HULPVERLENING AAN HAMNET NOORD-KAAP

Die reddingspan wat nog soek na oorlewendes en ook die onaangename taak het om die lyke van diegene wat toegeval het uit die diamantmyn naby Kleinzee uit te haal, benodig kommunikasie tussen hulle en die naaste groot dorp, Springbok. Carel Oberholzer, ZS3OBE, laat weet dat HAMNET Noord-Kaap dalk hulp nodig het met die daarstel van radioverbindings onder moeilike omstandighede.

Carel laat weet dat die situasie nog baie vloeibaar is maar hulle is besig om voorbereidings te tref. Hulle het operateurs nodig om radioverbinding tussen die myn en Springbok oor ‘n afstand van ongeveer 80 kilometer te verskaf. Die operasie kan twee tot drie weke duur waartydens hulle beplan om spanne van twee op ‘n rotasiegrondslag om ‘n herleistasie in die berg of hoë grond iewers tussen die myn en Springbok te ontplooi.

Om te help, het u ‘n 4x4 voertuig of bakkie met goeie grondvryhoogte en BHF-radios nodig en sal u selfonderhoudend wat betref kos, water, beskutting, kragvoorsiening en warm klere moet wees.

Paul, ZS1PVS, het te kenne gegee dat Hamnet Wes-Kaap sal kan help met veldmaste, radios en verbindings.

Skakel gerus met Carel op 082 805 0181 of Paul by 083 302 3366 as u kan help.

SA KRY DIE LEEUE-AANDEEL VAN DIE SKA MAAR ONS MOES EINTLIK ALLES GEKRY HET

Na nege jaar van swoeg en trane deur die Suid-Afrikaanse en Australiese SKA-terreinbodspanne, het die onafhanklike SKA se Terrein-aanbevelingskomitee, saamgestel uit węreldbekende kundiges, na 'n objektiewe, tegniese en wetenskaplike assesering van die terreine in Suid-Afrika en Australië gedoen is, onlangs eenparig Afrika identifiseer as die voorkeurterrein, maar hulle aanbeveling is na klagtes deur die Australiërs, omgekeer deur die SKA-organisasie, "Ons het gehoop dat die ondubbelsinnige aanbeveling van die SSAC aanvaar sou word as die mees stabiele wetenskaplike uitkoms” het die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor op 'n mediakonferensie op Vrydag 26 Mei 2012, gesę.

Dit blyk die SKA-organisasie het gesukkel om tot 'n finale besluit te kom en volgens een van die lede van die komitee was die atmosfeer by die vergadering soms gespanne en moes die groep eers verdaag. Die uiteindelike resultaat was dat ter wille van inklusiwiteit, hulle besluit het om die projek te deel. Een van die drie SKA ontvangerkomponente sal in Australië en twee sal in Afrika opgerig word.

Die minister het gesę dat 'n belangrike aspek van die terreinbesluit is die erkenning van die MeerKAT-teleskoop, wat ontwerp en gebou is deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en ingenieurs in die Noord-Kaap Karoo. Sy beskryf dit as 'n kritiese stap in die rigting van die implementering van die SKA. Die MeerKAT sal die sensitiewe Square Kilometre Array- Fase 1 aanvul;dit sal die grootste versamelpunt vir die mees sensitiewe radioteleskoop in die węreld wees. Hierdie erkenning is 'n substantiewe bewys van die groot vordering wat gemaak is deur die plaaslike radio-astronomiegemeenskap sedert Suid-Afrika te kenne gegee dat dit belangstel in die SKA.

Naledi Pandor het gesę dat die verdeling van die SKA tussen Suid-Afrika en Australië ses weke gelede vir haar nie 'n opsie was nie, maar op die vraag of sy teleurgesteld is, sę sy "Nee, ek is bly vir die land en ek is bly vir Afrika. Natuurlik wil mens eerder alles hę, maar ek dink om 3/4 te kry,is eintlik goed. Ek is verheugsaam met ons wetenskaplikes. Ons het bewys dat Afrika dit kan doen!"

Luister na meer inligting op Amateurradio VANDAG later vanoggend.

RA-EKSAMEN

Raadslede het sommige van die sentra waar die eksamen Donderdagaand 24 Mei geskryf is, besoek. Ons wens almal sukses toe met die uitslae.

WORKED ALL CONTINENTS-TOEKENNING

Baie radioamateurs vind hulle DX-voete met die Worked All Continents-toekenning. Hierdie toekenning erken kontakte met al ses vastelandgebiede van die węreld en word deur die Internasionale Amateurradiounie (IARU) uitgereik. Die SARL is onlangs gemagtig om hierdie sertifikate namens die IARU aan lede uit te reik. U kan nou hier in Suid-Afrika vir die sertifikaat aansoek doen.

Die basiese toekenning kan vir 'n enkelmodus onderskryf word, of vir voldoening aan die vereistes op elkeen van vyf of ses bande.

Die aansoekfooi is R60 en die sertifikaat word in 'n stewige kartonbuis gepos.

Reëls en aansoekvorms is tans op die Pretoria Amateurrradioklub se webwerf (www.parc.org.za) beskikbaar.

ONS NEEM AMATEURRADIO NA DIE PUBLIEK

16 Junie is Nasionale Amateurradiodag. Die SARL nooi jonk en oud om die dag te vier en amateurradio na die algemene publiek te neem. Praat oor die lug, nooi mense na jou radiokamer of wees avontuurlustig en stel u stasie op in die plaaslike parkie of ‘n winkelsentrum. Vertel almal dat amateurradio pret asook die opwindendste wetenskaplike stokperdjie is.

16 Junie is ook Jeugdag en ons reël die jaarlikse Jeugnaelloop op die dag. As jy 25 of jonger is, neem gerus deel aan die kompetisie waarin daar vele pryse te wen is. U moet op die lug wees tussen 10 en 12 ons tyd. As u ouer as 25 is, wys vir die jong klomp hoe dit gedoen moet word. Volle besonderhede is reeds op die webblad by www.sarl.org.za . Dit is ook in die Mei uitgawe van die SARL e-pos uitgestuur.

RTA DATUMS AANGEKONDIG

Die finale Radio in Aksie Tegnologie simposium se datums is aangekondig. Die eerste byeenkoms sal wees in Durban op 22 Julie in die nuwe ouditorium wat onlangs op die Howard-kampus voltooi is. Die Kaapstad RTA sal gehou word by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Belville op 11 Augustus; in die Oos-Kaap is dit op 1 September by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en in Gauteng op 29 September by die Sentech-ouditorium by Radiokop.

Die program bied 'n mengsel van praatjies, demonstrasies en praktiese aktiwiteite. Hannes Coetzee verken hoe die ionosfeer werk en wys afgevaardigdes hoe om hul eie voorspellings te doen. Elke bywoner sal 'n CD ontvang met die nodige prorammatuur vir voortplantingvoorspelling. Tydens die aanbieding sal Hannes die prorammatuur laai op 'n rekenaar en die installering daarvan stap vir stap toelig.

Nog 'n interessante aktiwiteit sal die bou van 'n sagteware-gedefinieerde radio-koppelvlak wees. Die prorammatuur sal op die RTA CD wees. 'n SDR ontvangermonteerstel sal vir onder R100 te koop aangebied word. Frik Wolff, ZS6FZ, sal die stel bou en jou wys hoe dit werk en seine op die 40 meter band ontvang. Daar is meer verrassings.

Luister na SARLNUUS vir meer besonderhede oor die volgende klompie weke. 'n Volledige program en vooraf besprekingsvorm sal binnekort op die webblad beskikbaar wees.

Hou die dag wanneer die RTA in jou omgewing is oop, dit is iets wat jy nie wil mis nie.

HAMVENTION WAS 'N ONGELOOFLIKE GEBEURTENIS

Die jaarlikse VSA Dayton Hamvention was weereens 'n besonderse geleentheid met baie nuwe produkloodsings deur die groot amateurradio verskaffers.
Toe Hara Arena sy deure op Vrydag, 18 Mei, oopgemaak het, het dit gewemel van amateurs wat gretig uitgesien het na die nuutste en beste wat amateurradio kan bied. En hulle is nie teleurgestel nie! Met die bekendstelling van drie nuwe sendontvangers; sowel as honderde verkopers - nuwe en ou vriende in die reuse-Hara-kompleks – was daar 'n definitiewe gonsing in die lug, veral binne die ARRL EXPO.

Die ARRL EXPO - geleë in die Ballarena Saal van die groot Hara Arena –het meer as 20 stalletjies beman deur verteenwoordigers van die ARRL program, ingesluit. Onder die nuwe stalletjies vir 2012 was 'n uitstalling om die nuwe digitale uitgawe van QST, die ARRL se ledejoernaal bekend te stel.

Die gewilde monteerstelstalletjie was terug vir 'n vierde agtereenvolgende jaar by die ARRL EXPO. Gelei deur die ARRL Laboratorium Toetsingenieur, Bob Allison, WB1GCM, die ARRL Laboratoriumingenieur Mike Gruber, W1MG, en toegewyde vrywilligers, het die verbeterde stalletjie amateurs en ander die geleentheid gebied om te leer hoe om te soldeer, handgereedskap te gebruik, instruksies te volg en klaar geboude toerusting huistoe te neem.

Die Deutscher Amateur Radio Club (DARC), die Japan Amateur Radioliga (Jarl), Qatar Amateur Radio Society (QARS) en die Radiovereniging van Groot-Brittanje was byderhand. Die tema van die 2012 Hamvention was “Internationally Connected" het Inderbitzen verduidelik. "Watter beter manier om nuwe verbindings te sluit as by so ‘n vergadering met radioamateurs van regoor die węreld?" Daarbenewens was die verteenwoordigers van die Internasionale Amateurradiounie - insluitend IARU-Voorsitter Tim Ellam, VE6SH, die IARU-President Emeritus Larry Price, W4RA, IARU vise-president Garpestad, LA2RR, en IARU-Sekretaris Rod Stafford, W6ROD - teenwoordig om besoekers in die ARRL EXPO te groet.

Een van vele redes waarom amateurs elke Mei na Dayton Hamvention stroom, is om te kyk na die nuwe toerusting wat deur baie vervaardigers bekend gestel word. Die getalle handelaars kan amper verbysterend wees, veral op jou eerste besoek. Die nuus is altyd die nuwe groot HF-sendontvangers. Bykomstig hiertoe was die vele laekrag radios, BHF/UHF eenhede, antennas en toebehore van alle soorte - bo en behalwe is dit ook die węreld se grootste radiosnuffelmark.

In Amateurradio Vandag, sal die SARL koppel met die Nuuslyn vir uitgebreide verslae en oorsigte van die nuwe toerusting wat op die skou was.

KOMPETISIENUUS

Die tweede SARL Digitale kompetisie word vanmiddag van 13:00 tot 16:00 UTC gehou met PSK31- en RTD-werking op 20, 40 en 80 meter. Die kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suider-Afrika lande.

Die volgende frekwensies moet gebruik word vir die kompetisie op 80 meter: 3 580 tot 3 600 kHz;
op 40 meter: 7 040 tot 7 060 kHz en op 20 meter: 14 070 tot 14 099 kHz. Neem kennis dat daar ESB QSO’s kan wees tussen 7 053 en 7 060 kHz. 'n Stasie mag twee keer per band gekontak word, een keer op RTD en een keer op PSK31. 'n Seinrapport en 'n agtereenvolgende reeksnommer wat by 001 begin, word uit geruil

Kontakte met stasies in Suider-Afrika tel 3 punte en kontakte buite hierdie area tel 1 punt. Die eerste kontak met elk van die ZS roepareas (6), elke Suider-Afrka land (area 7) en die res van die wereld (area 8) word gebruik as bandvermenigvulderers.

Logstate moet binne 7 dae na die kompetsie versend word en kan per pos gestuur word aan Wesrand Amateurradioklub, Posbus 5344, Weltevredenpark, 1725 of per e-pos aan contest@sarl.org.za.

SARL 80 m KLUBKAMPIOENSKAP

Die derde SARL 80 m Klubkampioenskap sal Woensdagaand 30 Mei op die lug wees. Hierdie kort kompetisie behels RTD- en PSK31-werking tussen 3 580 – 3 620 kHz en dit begin om 17:30 en eindig om 18:30 UTC.

'n RST-verslag en 'n agtereenvolgende reeksnommer wat by 001 begin, word uitgeruil. Dieselfde stasie mag een keer op RTD en een keer op PSK gewerk word.

Een punt word per kontak verdien.

Logstate moet teen 23:59:59 SAT op Woensdag 6 Junie per e-pos versend word aan zs4bfn@netactive.co.za.

Die volledige reels is in die 2012 SARL se Kompetisiehandboek.

Die ZS3 Naelloop van 6 Mei was goed ondersteun. 112 RadiaAmateurs het in een uur 788 kontakte gemaak en 27 logstate is ontvang. Hiervan was drie klublogstate wat as kontrolestate gebruik is.

Die uitslae vir die uur op die lug is soos volg:
1ste: ZS3R, Christo van Rensburg maak 52 kontakte wat aan hom 107 punte besorg het.
2de: ZS6XT, Pieter Jacobs verdien 63 punte met 'n totaal van 45 kontakte.
3de: ZS6EE, Quartus de Witt met 'n totaal van 48 kontakte het 53 punte behaal.
4de: ZS6APT, Pam Momberg met 'n totaal van 36 kontakte wat aan haar 49 punte besorg het.

Die Noord-Kaap Amateurradioklub bedank almal wat deelgeneem het en die moeite gedoen het om 'n logstaat in te stuur.

Die volledige uitstlae sal op die Forum van die SARL publiseer word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Daar is 'n paar kleinerige sonvlekke sigbaar en die kanse vir enige fakkels is skraal.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 57.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan minder gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Mei - Logstate vir die AWA Buis QSO-party moet in wees na andyzs6ady@vodamail.co.za of stuur dit na AWA of Southern Africa, Posbus 12320, Benoryn, 1504.
3 Junie - Die Digitale kompetisie se logstate moet ingelwer word. Stuur dit na Wes-Rand Amateurradioklub, Posbus 5344, Weltevredenpark, 1725 of per e-pos na contest@sarl.org.za.
4 Junie - Logstate vir die ZS4-naelloop moet in wees na Die Sasolburg ARK, ZS4ARK, Posbus 28194, Sonlandpark 1944 of per e-pos aan riaanzs4pr@gmail.com met 'n afskrif aan fwolff@global.co.za.
6 Junie - Logstate moet per e-pos versend word aan zs4bfn@netactive.co.za.
16 Junie - Nasionale Amateurradiodag 09:00 tot 16:00 en Jeugdagnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7082, 7205 en 17 570 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoekwww.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Johann Marais, ZU1JM, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003