Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 10 JUNIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike amateurradiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio, gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan afgelaai word by www.sarl.org.za en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vandag is Flip, ZS6BSO, op 145,750 MHz FM vanuit Pretoria, met herleidings op 7 066 en 3 695 kHz ESB.

STIL SLEUTEL

Eugene "Gene" Marais, ZS6TA, se sleutel het op 30 Mei stil geraak. Hy was vir baie jare lid van die Liga sowel as die Hoëveld Amateurradioklub. Hy word oorleef deur ‘n seun en twee dogters, ‘n neef Chris de Beer, ZS6RI, en ‘n kleinseun, Craig Marais, ZR6CM.

Laat nuus: Dennis Hill, ZS6AWM, se weduwee, Ann, het ons laat weet dat Dennis al op 18 Februarie 2012 oorlede is.

Ons meegevoel gaan aan die oorledenes se familie en vriende.

(POUSE)

HOOFTREKKE VAN VANDAG SE NUUS

• AMA-KONFERENSIE IN CAMBRIDGE

• SKA-LID BY INTEGNET

• JEUGDAGGEBEURTENIS


U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

INTERNASIONALE AMA-KONFERENSIE IN CAMBRIDGE GEHOU

Die 15de Internasionale Aard-Maan-Aard (AMA)-konferensie sal tussen 15 en 19 Augustus by die Churchill College in Cambridge gehou word. Die “UK Microwave Group” is die gasheer.

Dit is die eerste keer dat die konferensie in die Verenigde Koninkryk (VK) gehou word, en dit bied die geleentheid om meer te leer van hierdie mees tegnies-uitdagende aspek van hierdie wetenskaplik gebaseerde stokperdjie van ons.
Behalwe die AMA-gerigte lesings, sal daar ook aanbiedings wees oor radio-astronomie en verre ruimte-kommunikasie, aangesien dit hand aan hand gaan met AMA.

Twee Nobelbekroonde wetenskaplikes uit die radio-astronomieveld, sal ook teenwoordig wees. Joe Taylor, K1JT, ‘n AMA-geesdriftige, sal ‘n aanbieding lewer oor MAP65, terwyl sy medebekroonde Professor Antony Hewish FRS, Saterdagaand die 18de, die spreker by die gala-ete sal wees.

Met meer as 150 afgevaardigdes en 60 deelnemers van 5 kontinente alreeds geregistreer, beloof dit om ‘n groot gebeurtenis te wees. Almal wat graag die konferensie wil bywoon, moet voor 1 Augustus daarvoor registreer. Dagkaartjies en ‘n aantal akkommodasie-pakkette van een tot vier nagte is beskikbaar. Kyk by www.eme2012.com vir meer besonderhede.

SKA-LID AS GAS BY DIE VOLGENDE INTEGNET

Prof Justin Jonas van die SKA-span, sal ‘n gas wees by die volgende Interaktiewe Tegniese Net” (INTEGNET) op Sondag 17 Junie. Die net begin om 19:30. Prof Jonas gaan praat oor dié deel van die SKA wat na Suid-Afrika gaan kom en sal die kundigheid daaraan verbonde beklemtoon. Hy sal ook deelneem aan die interaktiewe sessie en amateurs oral in die land se vrae beantwoord.

Klubs wat hulle herhalers aan net wil koppel, word genooi om hulle besonderhede en landlynnommer nie later nie as Woensdag te stuur aan artoday@sarl.org.za.

HERHALERWERKGROEP VERGADER OP 23 JUNIE

Die SARL-herhalerbestuurder, Frik Wolff, ZS6FZ, berig dat verskeie klubs en herhalergroepe van afdeling 6, die uitnodiging aangeneem het om verteenwoordigers na die herhalerwerkgroep se vergadering te stuur. Dit word op Saterdag 23 Junie om 09:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum (NARS) gehou.

Die spyseniers, wat kos gaan voorberei, vra dat persone wat die vergadering gaan bywoon, hulle inligting sal aanstuur na vubandplanning@sarl.org.za.

RTA-DATUMS VERANDER WEER

Net om almal verder deurmekaar te maak, is die datums waarop die SARL se “Radio Technology in Action” simposiums gehou gaan word, weer verander omdat dit met ander aktiwiteite bots. Durban bly op 21 Julie en die byeenkoms vind plaas by ‘n splinternuwe plek, die Howard College Campus van die Universiteit van KwaZula Natal.

Johannesburg verskuif na 18 Augustus en Kaapstad is nou op 29 September. Port Elizabeth bly op 1 September. Die besonderhede is ook beskikbaar by www.sarl.org.za.

JEUGDAGGEBEURTENIS

Het u enigiets gereël vir die Nasionale Amateurradio- en Jeugdaggebeurtenis op 16 Junie? Indien jy wel nog iets beplan, stuur die inligting dan dadelik na artoday@sarl.org.za.

Die Sasolburg Amateurradioklub sowel as die Boland Amateurradioklub het verskeie aktiwiteite gereël. Daar is geen besonderhede oor ander klubs beskikbaar nie. Die beskikbare programme vir die 16de sal Maandag 11 Junie opgedateer en op die webblad geplaas word.

As u verlede week die berig misgrloop het, herhaal ons dit. Die SARL het ‘n ooreenkoms met OKOSA, dat ongelisensieerde persone die amateurradiostasie onder toesig van ‘n gelisensieerde amateur mag bedien, sonder dat die stasie as ‘n opvoedkundige stasie geregistreer is vir die 16de. Hierdie is ‘n verdere aansporing om ‘n stasie op te rig, die jeug te betrek op die dag, en aan die man in die straat te toon waartoe amateurradio in staat is.

‘n Pragtige nuwe speldembleem is ook beskikbaar en kan uitgedeel word aan jong mense wat die geleentheidstasie besoek en bedien het. Besoek www.sarl.co.za en plaas jou bestelling. Dit sal dan Dinsdag met groot spoed versend word.

Peter Davis, ZS6IQ, se naspoorinligting op die Vaaldam, het verander na www.aprs.fi en kan opgesoek word met ZS6IQ-10 (en nie -9 nie). Die opspoorder is tans in werking. Probeer dit gerus. Die boot is nou eers op land vir geringe herstelwerk. Inligting vir die dag kan by qrz.com verkry word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Daar is 'n moontlikheid vir M-klas fakkels vanaf Sonvlek 1494.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 86.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan minder gereeld voorkom en dan meestal op Oos-Wes paaie.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Junie – Amateurradiodag en jeugdaggeleentheid.
17 Junie – Integnet om 19:30 met Prof Justin Jonas as spreker.
23 Junie – Herhalerwerkgroep se vergadering om 09:00 by die NARS.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies, waarin radioamateurs en kortgolfluisteraars sal belangstel, in te stuur na www.sarl.org.za/newsinbox.asp Stuur dit - indien moontlik - in Engels sowel as Afrikaans, nie later as die Donderdag voor die uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Today", wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending deur Dick ZS6RO. Besoek www.sarl.org.za vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS. Klik op 'Amateur Radio Today', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings wat nie op amateurfrekwensies uitgesaai word.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Flip Britz, ZS6BSO, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003