Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 15 JULIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike amateurradiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio, gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan afgelaai word by www.sarl.org.za en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vandag is (Naam en roepsein), op 145,725 MHz FM vanuit Pretoria, met herleidings op (7 066 en 3 695 kHz ESB). (Ander nuuslesers verander soos nodig).

IN DIE NUUS VANDAG:

BESPREEK NOU VIR DIE RTA IN DURBAN OP 21 JULIE

FORUM-MODERATORS AANGESTEL

PROBLEME MET LASBEHEERSTELSEL IN DIE WESTELIKE PROVINSIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BESPREEK NOU VIR DIE RTA IN DURBAN OP 21 Julie

Besprekings is stadig besig om in te kom en dit lyk of dit volgende Saterdag ’n buitengewone Radio-Tegnologie-in-Aksie-simposium gaan wees. Luister na Amateur Radio Today later vanoggend vir ’n voorskou deur Tony Voorveld se aanbieding van “Tuning into nature”. Volle besonderhede van die simposium wat aangebied gaan word in Durban op 21 Julie is verkrygbaar aanlyn by www.sarl.org.za.

U kan vooraf bespreek en deelneem aan ’n bygevoegde prystrekking vir die ARRL se boek “Basic Antennas”. As U ’n program van die verrigtinge verlang stuur e-pos met U versoek aan rta@sarl.org.za, skryf RTA Durban in die onderwerplyn en U sal ’n PDF-kopie per e-pos ontvang.

Voorafbesprekings sluit op Donderdag 19 Julie. U kan ook vanaf 08:00 by die vergaderplek registreer. Alleenlik tjeks of kontant sal aanvaar word. Die simposium begin om 09:00. Die vergaderplek is die Universiteit van KwaZulu-Natal se kamer van Ingenieurswese, gebruik hek 8 in Rick Turner-laan (voorheen Francoisstraat). Die GPS-koördinate kan gevind word by www.sarl.org.za, kies RTA. Neem kennis dat hierdie ’n nuwe vergaderplek is.

FORUM-MODERATORS AANGESTEL

Die Raad van die SARL het goedkeuring verleen vir die aanstel van drie moderators om die SARL-Raad verantwoordelik vir die SARL-Forumportefeulje nl. Pierre van Deventer, by te staan. Hulle is:
Brad Philips, ZS5Z
Vincent Harrison, ZS6BTY
Roger Conroy, ZR3RC

Gee hulle asseblief U volle samewerking.

PROBLEME MET LASBEHEERSTELSEL IN DIE WESTELIKE PROVINSIE

Probleme word ondervind en alle amateurs in die Paarl en Stellenbosch Munisipale areas waar die lasbeheerstelsel (dit is ‘n stelsel wat die owerhede by jou huis installeer sodat hulle die waterverwarmer tydens spitstye kan afskakel) tans geďnstalleer word, neem kennis. Hierdie eenheid veroorsaak steurings regdeur die hele HF-spektrum : OKOSA het intussen die klagte ondersoek en is tans besig met gesprekvoering met die Munisipale amptenary asook SABS ens.

Vanoggend het hulle gewonder of ander amateurs ook steurings ervaar en hulle sal graag van u wil hoor. Die ondersoekbeampte is Brennan Marais by tel 021 431 9811 Selno: 082 569 8774, e-posadres: bmarais@icasa.org.za.

Intussen word u aangeraai om die installasie van so n eenheid op u perseel te weier.
Indien u wil weet hoe dit klink kan u Theo, ZS1BO, skakel by 082 855 5623.

PRETKOMPITISIE OP SONDAG 22 JULIE

Die Boland Amateurradioklub sal ’n 40 meter foonnaelloopkompetisie aanbied op 22 Julie vanaf 15:00 tot 18:00 SAT. Hierdie is ’n pretaktiwiteit om kontakte op die 40 meter band tussen alle radioamateurs in Suidelike Afrikastate te bevorder. Dit is ook ’n ideale geleentheid vir Mobiele stasies, veldstasies en RaDARstasies om deel te neem.

Gedurende die kompetisie mag alleenlik gebruik gemaak word van mobiele of draadantennas en ’n maksimum uitsetkrag van 100 W. Die frekwensies wat gebruik mag word, is 7 060 tot 7 100 en 7 135 tot 7 200 kHz. Alleenlik drie (3) kontakte is toelaatbaar op dieselfde frekwensie, daarna moet frekwensie verander word. U mag egter terugkeer na die vorige frekwensie nadat vyf (5) kontakte gemaak is.

Slegs Excel-logstate sal aanvaar word en kan gestuur na zs1bak@bark.org.za of per pos aan die BARK, Posbus 273, Strand, 7139.

Volle besonderhede kan verkry word op bladsy 43 en 59 van die 2012 kompetisiehandleiding by www.sarl.org.za.
Vir ’n gedrukte weergawe gaan na: www.sarl.org.za/public/contests/SARL_2012_Contest_Manual_issue_10.pdf).

IARU-HF-WINTERKAMPIONSKAP

Die SARL gaan deelneem aan die IARU-Winterkampioenskappe met die roepsein ZS9HQ. Dit is die heel eerste keer dat hierdie roepsein gebruik sal word en daarom is dit ’n gulde geleentheid om hierdie roepsein in u logboek te kry. Die radiokamer by die NARS sal gebruik word deur die foonoperateurs. Die radios sal bedien word deur die volgende amateurs:
GG-operateurs:
ZS1EL – Vidi La Grange
ZS1AAX - Allan Smith
ZS6C - Joop Hesp
ZS6A - Pierre van Deventer

Foon operateurs:
ZR6NGB - Nigel Burgess
ZS6RLM - Roy McKay
ZR6DX - Noel Hammond
ZS6GRL - Geoff Levey
ZS6RIC - Rikus Joubert

Ons dank aan die operateurs wat besluit het om deel te neem.

SARL WINTER-QRP-KOMPETISIE

Die SARL se Winter-QRP-kompetisie is 'n prettige aktiwiteit om QRP-werking tussen radioamateurs in Suider-Afrika te bevorder. Die gebruik van selfgeboude toerusting of werking as 'n draagbare/veldstasie en die gebruik van tydelike antennas word aangemoedig, maar is nie 'n vereiste nie.

Die Winter-QRP-Wedstryd sal op die lug wees vanaf 12:00 tot 15:00 UTC op Saterdag 21 Julie met GG- en foonaktiwiteit op 40 meter. 'n RS (T) verslag en 'n 6 karakter ruitverwysing word uitgeruil. Elke ESB-kontak tel 1 punt en elke GG-kontak tel 2 punte. Elke voorvoegsel gewerk tel as 'n nuwe voorvoegselvermenigvuldiger.

Logstate moet ingedien word binne 7 dae na die kompetisie en kan per e-pos na contest@sarl.org.za of per pos gestuur word aan die Wesrand Amateurradioklub, Posbus 5344, Weltevredenpark, 1725.

AANBIEDING VAN OKTOBER-RAE-KURSUS DEUR OOSRAND-RADIOKLUB

Die Oos-Rand radioklub sal weereens die kursus vir die radioamateurseksamen aanbied gedurende Oktober 2012.

Die eerste klas sal begin op die 17de Julie 2012 om 18:00, registrasie vir die kursus sal terselfdertyd plaasvind. Daarna sal klasse aangebied word elke Dinsdagaand by die Klubhuis te Plantationstraat in Springs, dit is geleë agter die Burgersentrum.

Vir verdere inligting skakel asseblief vir Judy, ZS6JDY, op 079 730 2030 of e-pos na zs6jdy@vodamail.co.za.

KOMPETISIENUUS

SARL TOPBAND QSO GESELIGHEID UITSLAE

7 logstate is ontvang. Daar was ongeveer 56 stasies op die lug gedurende die 4 dae van die kompetisie. Meer statistiek sal gepubliseer word in die volgende uitgawe van HF Happenings.

Uitslae is as volg:
1ste - Lukas Holtzhausen - ZS6LH - 232 punte
2de - Phillip van Tonder - ZS6PVT - 155 punte
3de - Johan van Zijl - ZS4DZ - 153 punte

Veels geluk aan Lukas en ook die naaswenners.

Baie dankie aan almal wat logstate ingestuur het.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Reuse Sonvlek AR1520 het 'n X-klas uitbarsting ondervind en stoor nog genoeg energie vir 'n soortgelyke fakkel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 119.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die hoër sonaktiwiteit gaan 10 m-openinge meer gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Julie – IARU winterkampioenskap sluit vandag om 12:00 UTC.
21 Julie – Bespreek tot 19 Julie vir die Radio-Tegnologie-in-Aksie-simposium volgende Saterdag in Durban. Versoek program van rta@sarl.org.za.
21 Julie – SARL-QRP-winterkompitisie op die lug wees vanaf 12:00 tot 15:00 UTC.
22 Julie – Die Boland Amateurklub 40 meter naelloop, 15:00 - 18:00 SAT.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies, waarin radioamateurs en kortgolfluisteraars sal belangstel, in te stuur na www.sarl.org.za/newsinbox.asp Stuur dit - indien moontlik - in Engels sowel as Afrikaans, nie later as die Donderdag voor die uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Today", wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending deur Dick ZS6RO. Besoek www.sarl.org.za vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS. Klik op 'Amateur Radio Today', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings wat nie op amateurfrekwensies uitgesaai word.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Johan ZS4SS, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003