Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 26 Augustus 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutels van twee radioamateurs op 21 Augustus opgehou het met werk. Hulle is:

Die van Chris Willigenburg, ZS6VB, na 'n kort stryd met leukemia. Chris was baie betrokke by Hamnet en was 'n aantal jare gelede Provinsiale Direkteur vir Gauteng-Suid. Hy laat sy eggenote Linda en 2 dogters na.

Die van Rodney James, ZR6NTN, op 'n ouderdom van 58 jaar na 'n kort siekbed. Rodney is in 2009 gelisensieer en was 'n lid van die Sandton ARK. Hy laat sy eggenote Delilah en aangenome seun Ryan na.

Ons innige meegevoel en vertroosting aan hulle familie en vriende.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE OP 1 SEPTEMBER IN PE

MTN BORG AMATEURTOEKENNINGS – NOMINASIES WORD INGEWAG

KLT-OORLOG: EU VS RSGB OOR KLT-STANDAARD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE OP 1 SEPTEMBER IN PE

Registreer nou vir die SARL se Radiotegnologie-in-Aksie Simposium wat op 1 September in die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth gehou gaan word. Die aktiwiteit sluit 'n interessante rede deur Jason Manly van SKA Suid-Afrika in.

Hy sal praat oor die pad na die wêreld se grootste wetenskaplike instrument, die vierkant kilometer opstelling. Hy sal spesifiek fokus op Suid-Afrika se aandeel in die projek, uit beide die oogpunte van die ontwikkeling van tegniese en menslike kapitaal. Suid -Afrika se eie KAT-7 en 64-skottel MeerKAT-opstellings wat tans in die Karoo ontwikkel word, sal in besonderhede beskryf word tesame met hoe hulle in die SKA sal inpas. Die SKA self sal bestaan uit drie verskillende tipes opstellings wat in twee fases in meer kontinente opgerig sal word. Wat beteken die reg om hierdie gesofistikeerde instrument te huisves in die algemeen vir Suid-Afrika?

Jason het aan SARLNUUS gesê: “Met my agtergrond in seinprossesering, sal daar moontlik 'n bietjie na SDR oorgeleun word, maar ek sal dit interessant hou en alles van antennaverbindings en weerkaarserontwerp tot seinoordraging en dataprosessering dek, met 'n aantal skyfies aangaande die wetenskaplike einddoel vir inligting.”

Ons het belowe dat die RTA in Port Elizabeth 'n spesiale karakter sal hê. Ons gaan daardie belofte nakom met 'n baie spesiale uur.

Die res van die program sal die programme wat in Durban en Gauteng aangebied is herhaal, met baie handdeelname.

Voorafbespreking word aanbeveel sodat verseker kan word dat genoeg SDR-boustelle en en CD's beskikbaar sal wees. Dit sal ook help met spyseniering. 'n registrasievorm en volledige program kan verkry word by www.sarl.org.za. Voorafbespreking sluit Donderdagaand. Moet dus nie langer uitstel nie. Alle persone wat vooraf bespreek sal deelneem aan 'n afsonderlike trekking vir 'n ARRL basiese antennaboek.

Daar kan ook by die vergaderplek geregistreer word maar voorafbespreking word verkies.

MTN BORG AMATEURTOEKENNINGS – NOMINASIES WORD INGEWAG

MTN is die nuwe borg vir die toekennings van die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust. Hierdie is 'n uitnodiging vir nominasies van persone vir die drie kategorieë waarin toekennings gemaak word:

GARTH MILNE TEGNIESE INNOVASIETOEKENNING
Hierdie toekenning word gemaak vir die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegnologiese innovasie in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger sal 'n persoon wees wat die gebruik van tegnologie in amateurradio op klubvlak, nasionaal, in skole of 'n tersiêre opvoedingsinstansie bevorder het.

MTN RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNING
Hierdie toekenning word gemaak vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika, nie vir individuele prestasies soos DXCC en ander bedryfstoekennings of kompetisies nie. Die ontvanger sal 'n persoon wees wat sy of haar kundigheid en tyd gewy het aan die bevordering van amateurradio in Suid-Afrika.

MTN AMATEURRADIO GEMEENSKAPSDIENSTOEKENNING
Die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust erken jaarliks 'n radioamateur of 'n groep radioamateurs vir diens aan die gemeenskap.

Gemeenskapsdiens kan wees hulp aan 'n gestremde radioamateur, kommunikasiediens tydens 'n sportbyeenkoms, of 'n rampsituasie soos 'n padongeluk, of 'n natuurramp soos 'n vloed, veldbrande of 'n aardbewing. Nominasies word ingewag van 'n individu, 'n groep persone, soos 'n radioklub, of 'n vereniging.

Nominasievorms kan verkry word van www.amateurradio.org.za of aangevra word van saardt@intekom.co.za. Die sluitingsdatum vir die indien van nominasies is is 30 September.

KLT-OORLOG: EU VS RSGB OOR KLT-STANDAARD

Daar blyk 'n oorlog aan die kom te wees tussen die Radiovereniging van Groot-Brittanje en die voorsitter van die Komitee van die Europese Unie. Dit het gebeur nadat laasgenoemde die RSGB se oproep in die stryd teen steurings wat ontstaan a.g.v. breëbandseine op kraglyne, volgens 'n berig op Newsline.

Die voorsitter van die Europese Unie se komitee oor Kraglynnetwerking het reageer oor die Radio Society of Great Britain se oproep tot die stryd waarin hy sê elke minuut van obstruksievoering meer besoedeling van die spektrum tot gevolg het.

Volgens die VK-koerant die “Register”, sê die Radio Society of Great Britain dat die nuwe standaard vir breëband transmissie oor kraglyne die huidige vereistes sal verwater wat sal lei tot meer spektrumbesoedeling. Die RSGB het dus hulle lede gevra om hulle plaaslike verteenwoordigers in te lig.

Maar, Ronald Storrs, voorsitter van die komitee wat die standaarde definieer, verwerp dit. Hy stel dit dat dit die RSGB is wat risiko’s op die lug veroorsaak met, en ons haal aan, “hulle sinlose protesteerdery en onbuigbare houding”.

Die probleem is dat die stuur van dataseine oor onafgeskermde kraglyne, soos wyeband oor kraglyne doen, radiosteurings veroorsaak. En, soos vervaardigers druk om spoed te vermeerder spoel daardie frekwensies oor in ander frekwensies wat deur ander radiodienste gebruik word. Dit, sê die RSGB, is onaanvaarbaar.

Maar, vervaardigers van KLT-toerusting het 'n heel ander sienswyse. Hulle sê dat die toerusting nie noemenswaardige steurings opwek nie, dit is eerder die kragbedrading self wat die sondebok is. Hulle beweer dat in baie huise die bedrading voldoende afgeskerm is sodat geen steuring opgewek word nie. Hulle sal dus voortgaan om hulle toerusting te verkoop.

Intussen het die telekommunikasiebeheerder van die VK, Ofcom, 'n agtersitplek oor hierdie kwessie ingeneem. Ofcom sê dat hulle niks kan doen nie aangesien die toestelle self nie radiosenders is nie en dus buite hulle magsbereik val. Ofcom sê hulle wag vir die nuwe standaard om in werking te tree en hulle 'n mate van mag sal gee oor die beheer van breëband oor kraglyne.

Dit blyk dus of die spreekwoordelike lyn in die sand getrek is tussen die VK se amateurgemeenskap, verteenwoordig deur die RSGB, en diegene wat toerusting vir transmissie oor kraglyne wil verkoop. En terwyl Storr van die Europese Unie toegee dat KLT onaanvaarbare steurings veroorsaak, sê hy dat elke dag wat daar nie 'n toepaslike standaard in werking is nie, meer ongeskikte toerusting op die mark kom. Hy voeg by dat die onversetlikheid van die VK se amateurradiogemeenskap nie help om die toestand te verbeter nie.

CPUT CUBESAT EINDE NOVEMBER GELANSEER TE WORD

Die Cubesat wat deur studente van die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie in Bellville ontwerp en gebou is, staan teen die einde van November gelanseer te word. Steeds onder sy ingenieursnaam ZACube-1 bekend, sal die satelliet gedurende die eerskomende weke na Holland gestuur word waar dit met twee ander Cubesats in die lanseringsdraer geïntegreer sal word voordat dit verder gestuur sal word vir integrering met die vuurpyl. ZACube-1 dra 'n HF-sender wat op 14 099 kHz uitsaai, 'n klein kamera en telemetriesender. Luister vanoggend na Amateurradio Vandag vir 'n onderhoud met Francois Visser van CPUT wat die projekleier is.

NUWE ITEMS OP DIE SARL SE WEBWERF

Hierdie week sal twee nuwe items op die tuisblad van die SARL se webwerf verskyn. Dennis Green, ZS4BS, sal weekliks HF- en DX-inligting aanpas/aanvul/bywerk terwyl Geoff Levey, ZS6GRL, almal met kompetisieuus op hoogte sal hou.

Besoek www.sarl.org.za, nog 'n diens vir lede van die SARL.

JAARLIKSE LEDEGELDE

Ledegelde was op 1 Junie betaalbaar. Indien u nog nie betaal het nie, doen dit asb. so gou moontlik. Indien u rekening weggeraak het, skakel Mariska reeds Maandag by 011 675 2393 om u inligting te verkry.

KOMPETISIENUUS

Die SARL HF Gelykgolfkompetisie is vanmiddag op die lug vanaf 13:00 tot 16:00 UTC met aktiwiteit op 20, 40 en 80 meter. 'n RST-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer word uitgeruil. Vind die reëls in die 2012-kompetisiehandboek.

Kompetisie-uitslae.
SARL JD-Naelloop. Die kompetisiekomitee het sewe logs en twee kontrolelogs ontvang vir die SARL se JD-naelloop gehou op Donderdag 9 Augustus.

Judy Pretorius, ZS6JDY, is eerste met haar 142 punte, gevolg deur Pam Momberg, ZS6APT, met 137 punte. Die derde plek gaan aan Celeste Searle, ZS6CNS, met 132 punte en Jenni Warren, ZS4J, op 131 punte 'n waardige uitdager.

Die wenner van die gelukkige trekking vir 'n ruiker blomme is Celeste Searle, ZS6CNS.

SARL HF-Foonkompetisie. Die kompetisiekomitee het ses-en-twintig enkeloperateur logs, een multi-operateurlog en twee kontrolelogs ontvang wat op Sondag 5 Augustus gehou is.

Hans Kappetijn, ZS6KR, het met die louere weggestap in die enkeloperateurklas met 175 punte, gevolg deur Theunis Potgieter, ZS2EC, in die tweede plek met 163 punte. Die derde posisie word gedeel deur Brendan Muller, ZS4BM, en Pierre van Deventer, ZS6A, met 151 punte elk. Pierre behaal ook die hoogste punte op 'n enkele band met sy 151 punte op 40 meter.

Hendrik Rudman, ZS6RHL, en Ivan Pleho, ZS6IVP, het met Francois Reyneke, ZS6FDX, saamgespan om as ZS6FDX in die multioperateurklas deel te neem en hulle het 148 punte behaal.

In die klubkompetisie, het die Oos-Rand Tak die Wes-Rand ARK uitgedaag! Die Oos-Randtak neem die eerste plek met 551 punte, gevolg deur die Wes-Rand ARK met 246 punte en die Pretoria ARK in die derde plek met 223 punte.

Baie geluk aan Hans, Pierre en die Oos-Rand Tak. Die volledige uitslae van beide kompetisies is gepubliseer in HF Happenings 519.

ZS6PTA LENTE-SNUFFELMARK EN KATTEBAKVERKOPING IN PRETORIA

Die Pretoria Amateurradioklub hou hul lentesnuffelmark op Saterdag 1 September. Die snuffelmark sal by die Pretoria Motorklub in Silverton, in Keuningstraat, gehou word en die aanvangstyd is 08:00.

Almal is welkom. Kom besoek gerus die Mega-vlooimark in Pretoria. Skakel Almero, ZS6LDP, op 083 938 8955, indien u 'n tafel wil bespreek of meer besonderhede benodig.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak laag is. Daar is tans net 'n paar sonvlekke sigbaar maar gelukkig is nuwe sonvlekke in die proses om gevorm te word.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 41.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die laer sonaktiwiteit gaan 10 m openinge minder gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
26 Augustus – Vanmiddag, SARL HF GG-kompetisie vanaf 13:00 tot 16:00 UTC op 20, 40 en 80 m alleenlik.
27 Augustus - Laaste dag vir insending van logstate vir die SARL HF digitale kompetisie na zs4bfn@netactive.co.za of Bloemfontein RAK, 33211, Fichardt Park, 9317.
1 September – RTA in Port Elizabeth by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, voorafbespreking begin môre, besoek www.sarl.org.za.
1 September – Pretoria Amateurradioklub se lentesnuffelmark beginnende om 08:00.
30 September – Nominasies vir die MTN-geborgde SAARDT-toekennings moet in wees na saardt@intekom.co.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Vandag wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003