Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 21 Oktober 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL PRAAT MET STAD KAAPSTAD OOR SONERINGSREGULASIES

CQ STEL 40 CQ SONES OP 160 PLAAK IN

MEER KLUBS AFFILIEER MET DIE SARL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL PRAAT MET STAD KAAPSTAD OOR SONERINGSREGULASIES

SARL president, Rassie Erasmus, ZS1YT, en die SARL regsadviseur, Johan Marais, ZS1JM, het met 'n span van die Kaapstad Metro vergader om 'n SARL-lid te ondersteun in verband met 'n kennisgewing dat sy antenna, wat minder as 15 meter hoog is, goedkeuring in verband met die wet op die Omgewing en die Stad Kaapstad se soneringsregulasies nodig het. Dit het geblyk dat hulle 'n klagte van 'n buurman ontvang het, wat waarskynlik met RF te doen gehad het, maar besluit het dat hulle stappe gaan doen dat hy sy toring moet verwyder of aansoek doen vir die nodige goedkeuring.

Die SARL-span het daarop gewys dat radioamateurantennas van minder as 15 meter vrygestel is van die vereistes van die Nasionale Omgewings-Bestuurswet, No 107 van 1998. Dit was ooreengekom dat die saak opgeskort sal word, totdat die stadsraad hulle regsadviseurs geraadpleeg het. Die SARL sal verdere geleenthede gebied word om daaroor te onderhandel sodra die stadsraad terugvoer van hul regsafdeling ontvang het.

SARL-lede wat soortgelyke probleme gehad het word genooi om besonderhede aan admin@sarl.org.za te stuur sodat die Raad die besonderhede en meriete daarvan kan ondersoek.

CQ STEL 40 CQ SONES OP 160 PLAAK IN

CQ kondig aan dat 'n besondere plaak vir diegene wat alle 40 CQ sones op 160 meter gewerk het, beskikbaar gestel is. Dit is een van die moeilikste amateurradiotoekennings om te verdien en daarom word die “Worked All Zones 160 Metres Plaque” beskou dat die ontvanger daarvan as een van die elite Top Band Dxers erken word. As jy glo jy kwalifiseer, maak asseblief kontak met W-A-Z bestuurder Floyd Gerald, N5FG, deur e-pos vir meer besonderhede aan n5fg@cq-amateur-radio.com te stuur.

MEER KLUBS AFFILIEER MET DIE SARL

Gedurende die afgelope week het die volgende klubs met die SARL geaffilieer:

Antique Wireless Association of Southern Africa-ZS0AWA
Centurion Radio Amateur Club- ZS6CEN
Hibiscus Coast Amateur Radio Club-ZS5HAC
Noordwes Amateurradioklub ZS6RWT
Oos-Transvaal-Laeveld Radioklub-ZS6OTL
Oakdale Amateurradioklub -ZS1OAK
Overberg Amateurradioklub -ZS1OAR
Sandton Amateur Radio Club-ZS6STN
Welkom Radioklub ZS4WRC
Winelands Amateur Radio Club- ZS1WRC and
Vrystaat Amateurradioklub-ZS4B
Sasolburg Radioklub-ZS4SRK

Die SARL verwelkom die klubs in die SARL-familie. Indien u klub nie reeds by die SARL geaffilieer is nie, besoek www.sarl.org.za , gaan na Club Talk” vir besonderhede en 'n affiliasievorm.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom hartlik die volgende radioamateurs as lede van die Liga:
ZS1AW – Baxter, wat ons al van die UK af welkom geheet het, hy het nou sy SA roepsein gekry!
ZS1CU - Claude Steenkamp
ZSL1038 - Edric Russel
ZSL1047 - Keith Ferry
G2HIX - David Craig

LUISTER NOG UIT VIR JOTA-STASIES

Op Saterdag 20 Oktober het CQ Hou Koers plaasgevind met baie amateurs wat jongmense amateurradio laat ondervind het. JOTA strek oor twee dae en is vandag nog aan die gang. OKOSA het magtiging verleen dat, vir hierdie twee aktiwiteite, ongelisensieerde jongmense amateurstasies onder die toesig van gelisensieerde amateurs mag bedryf.

Bied aan 'n jong persoon 'n lewensondervinding en moedig hom aan om CQ te roep en met ander amateurstasies te praat en jy mag 'n nuwe persoon gewerf het om by die wêreld van amateurradio aan te sluit.

KOMPETISIENUUS

Die volgende RaDAR-kompetisie vind plaas op Saterdag 3 November 2012, en dit begin om 12:00 UTC en eindig om 18:00 UTC (14:00 SAT tot 20:00 SAT), dit gee 6 uur van aktiwiteit - ongeveer 4 gedurende die dag en 2 in die nag. Aktiwiteit vind plaas op alle amateurbande en modusse, insluitend kruisband kontak via amateursatelliete. QSO’s via aardse herhalers sal NIE toegelaat word nie.

U roepsein, u naam, 'n RS(T)-verslag, u QTH en ruitverwysing word uitgeruil. Die telling is een punt per QSO en een QSO per modus, per band/satelliet, per roepsein. Daar is 'n kategorie- en 'n kragvermenigvuldiger. Draagbare en RaDAR-stasies kan ook bonuspunte verdien.

Om as 'n ware RaDARstasie beskou te word moet die hele stasie se toerusting, radios, batterye, mas, antennas en verversings maklik draagbaar wees en vandaar die vereiste om die toerusting vir ten minste 1 km te dra voor die oprigting van die stasie.

Logstate moet gestuur word aan die Lichtenberg Amateurradioklub (LARK), Posbus 410, Lichtenburg, 2740 of per e-pos aan zs6lrk@nwinternet.za.org. Die sluitingsdatum vir logs is 18 November 2012 en 'n foto van die stasie (JPG-formaat) moet elke loginskrywing vergesel.

Die tweede been van die SARL se Nasionale Velddag sal plaasvind tussen 10:00 UTC op Saterdag 17 November en 10:00 UTC op Sondag 18 November 2012 met foon, gelykgolf en digitale aktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter.

Daar is vyf klasse van deelname, naamlik Klas A - Veldstasie, Multi-operateur, Klas B - Veldstasie, Multi-operateur, QRP, Klas C - Veldstasie, Enkeloperateur, Klas D - Veldstasie, Enkeloperateur, QRP en Klas E - Algemene stasies. Die aantal senders, velddag deelnameklas en die provinsie word uitgeruil.

Toerusting vir gebruik by die veldstasies mag slegs in die 24 uur voor die begintyd van die wedstryd opgestel word. Hierdie beperking is van toepassing op antennas, maste, torings en die radios, maar sluit akkommodasie soos 'n karavaan, tent, ens., uit. Sodra 'n veldstasie op 'n perseel gestig is, en die wedstryd begin het, mag dit nie na 'n alternatiewe perseel verskuif word nie.

Kry al die reëls in die 2012 SARL Kompetisiehandboek.

VRYWILLIGERS VIR DIE NUUSSPAN

Die nuusspan is dankbaar vir die vrywilligers wat reeds aangebied het om by die nuusspan aan te sluit, maar meer vrywilligers sal steeds waardeer word. Die hooftaak van vrywilligers sal wees om nuusitems na Afrikaans te vertaal. Hierdie nuusitem is 'n versoek vir lede om hulle dienste aan te bied ten einde die bulletindiens aan die gang te hou. Die nuusitems sal aan die vertalers gestuur word wat dan die vertaalde items aan die redakteur sal stuur.

Vertalers moet SARL-lede wees, tweetalig, met basiese vaardighede in rekenaargebruik en redigering en moet oor 'n e-posadres beskik. Indien daar byv. ses vertalers is, sal elkeen slegs vir twee maande in die jaar vertalings hoef te doen.

Indien u gewillig is om die taak aan te pak, stuur asb. u naam en kontakbesonderhede aan Fritz, ZS6FS, met e-posadres secretary@sarl.org.za, nog gedurende hierdie week.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Tans is alle sigbare sonvlekke stabiel en sommiges is besig om te verval. 'n Moontlik aktiewe sonvlek is besig om sy verskyning aan die oostekant te maak. Ons hou duim vas!

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 84.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die hoër sonaktiwiteit gaan 10 m openinge meer gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 November - RaDAR-kompetisie van 12:00 tot 18:00 UTC.
18 November – Logstate vir die RaDAR-kompetisie moet in wees na die Lichtenberg Amateurradioklub (LARK), Posbus 410, Lichtenburg, 2740 of per e-pos na zs6lrk@nwinternet.za.org.
17 November - SARL se Nasionale Velddag begin om 10:00 UTC en duur tot 10:00 UTC op Sondag 18 November.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolf-luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Richard Peer, ZS6UK, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003