Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 28 Oktober 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL-LEDE KRY 10% AFSLAG OP BOEKE

SARL BIED AMATEURRADIO SE BEHOEFTES AAN IN DIE UHF- EN MIKROGOLFBANDE BY OKOSA-VERHOOR VOLGENDE WEEK

NUWE TOEKENNING

DARC SAL DIE NUWE VOORGESTELDE EUROPESE KLT-STANDARD TEENSTAAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL-LEDE KRY 10% AFSLAG OP BOEKE

Vanaf 1 November sal SARL-lede 'n 10% afslag op boeke wat van die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust bestel word, geniet. 'n Lys van beskikbare boeke kan op www.amateurradio.co.za gevind word. Die jongste toename tot boeke beskikbaar in Suid-Afrika beskikbaar is ARRL se lae drywing kommunikasie - die kuns en wetenskap van QRP en kort antennas vir 160 meter radio. Die boek waag om die moontlikheid van kleiner antennas vir hierdie interessante band te bespreek. Bestem vir amateurs met 'n gevorderde vaardigheid in antennamodellering, neem Grant Bingeman, KM5KG, jou deur die teorie agter innoverende ontwerpe vir relatief kompakte antennas. Jy sal leer hoe om bandwydte te verbeter, verlies te verminder, en ander tegnieke om 160 meter te geniet met 'n beperkte erfgrootte beskikbaar.

SARL BIED AMATEURRADIO SE BEHOEFTES AAN IN DIE UHF- EN MIKROGOLFBANDE BY OKOSA-VERHOOR VOLGENDE WEEK

Die Suid Afrikaanse Radioliga sal amateurradio se behoeftes vir die toekenning in die 2,3, 3,5 en 5 GHz-bande oor die konsep frekwensiemigrasieregulering en frekwensiemigrasieplanne bespreek by OKOSA se verhoor wat op 1 en 2 November 2012 gehou sal word. Die SARL het 'n paar weke gelede sy vereistes vir toekennings in hierdie bande in lyn met die IARU Streek 1 spektrumvereistes vir amateurradio dokument voorgelê.

DARC SAL DIE NUWE VOORGESTELDE EUROPESE KLT-STANDAARD TEENSTAAN

Duitsland se nasionale amateurradiovereniging, die Deutscher Amateur Radio Club,of DARC, sal die Duitse Kommissie vir Elektriese, Elektroniese en Informasietegnologieë vra om 'n nuwe pan-Europese konsep vir Kraglyntransmissiestandaard te opponeer. Tydens sy vergadering op 22 Oktober het die DARC se Raad die voor- en nadele van die voorgestelde konsepstandaard bespreek. Hoewel hulle gesê het dat hulle erken dat die nuwe konsep voorsiening maak vir 'n paar nie-bindende verpligtinge vir die uitkerf van sekere frekwensies in die amateurbande, is dit ook opgemerk dat hulle bevrees is vir die toekomsambisies van die vervaardigers van ander KLT-produkte in die rigting van hoër limiete vir die uitstraling van skadelike elektromagnetiese of EMK-steuring. Dit kan lei tot 'n verswakking van die vorige grense in ander Europese EMK-standaarde.

Hierdie nuwe standaard raak die toestelle wat mense in hul huise installeer om data oor hul huisbedrading te versprei. Dit het niks te doen met KLT of BPL wat oor die kragmaatskappy se netwerke gedra word nie.

OKTOBER RADIO ZS OP DIE WEB EN IN DIE POS

Die Oktoberuitgawe van Radio ZS is nou vir lede op die web beskikbaar. Die gedrukte weergawe is ook gepos. In hierdie uitgawe skryf Hannes Coetzee, ZS6BZP, oor 'n innoverende tegnologie vir die opwekking van 'n wyeband, kwadratuur, LO-sein, soos vereis deur Amateur SDR en die faseringtipe SSB-toepassings. Hierdie tegniek vereis slegs 'n LO insetfrekwensie van twee keer die operasionele frekwensie en nie vier keer soos dié wat deur die huidige ontwerpe gebruik word nie. Die halvering van die benodigde insetfrekwensie vereenvoudig aansienlik die ontwerp van die SDR-oplossings wat meer as een amateurband of selfs die hele HF-band dek.

Lees deel I van draadlose telegrafie tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 - 1902 deur Duncan Baker. Bou 'n endgevoerde 40 meter halfgolfantenna, lees oor ‘spinnekopantennas’ en kom op hoogte met RaDAR en die ZS4U Supapix sendontvanger.

As u nog nie 'n lid is nie, kyk in die Oktoberuitgawe van Radio ZS en jy sal sien wat jy mis. Om 'n gratis eksemplaar van hierdie uitgawe van Radio ZS te kry, stuur 'n e-pos na artoday@sarl.org.za met Oktober Radio ZS in die onderwerplyn.

NIEU-SEELAND AMATEURS MAG 6 m BINNEKORT KRY

Amateurs in Nieu-Seeland sal 'n bietjie langer moet wag om volle toegang tot die 6 meter band te kry. Soos voorheen gerapporteer, sal 50 tot 51 MHz ‘daar onder’ aan amateurradio teruggegee moet word sodra alle Kanaal 1 televisie ophou om van hierdie spektrumgedeelte gebruik te maak en die huidige bestuursreg vir hierdie band verval.

Wat vir sommige amateurs nie bekend is nie, is dat die laaste Nieu-Seeland kanaal 1 televisiesender nie voor November 2013 sal sluit nie. Daarna verval die bestuursreg waaronder hy bedryf, nie voor Augustus 2015 nie.

As gevolg hiervan, werk die Nieu-Seelandse nasionale amateurradiovereniging, NZART, in saam met die nasionale Radiospektrumbestuur aan reëlings vir die tydperk tussen wanneer al die Kanaal 1 senders afgeskakel is en die bestuursreg verval. In die tussentyd mag 'n Nieu-Seelandse amateur in 'n gebied waar TV-kanaal 1 nie meer in bedryf is nie, aansoek doen vir 'n permit om in die band te werk.

NUWE LID

Die SARL verwelkom Roelie Kriel, ZSL1049 as ‘n nuwe lid. Baie welkom Roelie.

WAT IS U LIDMAATSKAPSTATUS
Sou u enige twyfel hê of u ledegeldbetaling ontvang is of oor enige ander aspek van u lidmaatskapstatus, kan u dit maklik self kontroleer deur te gaan kyk by die webadres wat een die einde van die berig gegee word. Sou daar enige probleem met u lidmaatskap wees, kontak die adminkantoor admin@sarl.org.za of die sekretaris secretary@sarl.org.za.

Die webadres waar u die besonderhede kan kontroleer is http://www.sarl.org.za/public/Membercheck.asp.

NUWE TOEKENNING

Die SARL het ‘n aansienlike donasie van SAATI (die SA Amateur Telekommunikasie-instituut) ontvang. Die opbrengs op die belegging van hierdie donasie, sal gebruik word om ‘n nuwe jaarlikse toekenning, die SAATI Tegnologietoekenning, te befonds.

Die doel met die toekenning is om aktiwiteit en ontwikkeling op die amateurbande te stimuleer en om amateurs te beloon wat hiertoe bygedra het, veral tot aktiwiteit op die digitale en minder bekende modusse.

Om klubs in staat te stel om amateurs hiervoor te nomineer, sal die besonderhede en die kwalifiseringsvereistes lank voor die 2013 AJV op die web gepubliseer word,.

SAATI is gestig in Oktober 1975 met 10 lede. Die ledetal het sterk gegroei en SAATI het ‘n enorme bydrae gelewer tot amateur digitale kommunikasie. Van die oorspronklike stigterslede is sleg Ams, ZS6YV, en Marten, ZS6ZY, nog aktiewe lede.

HAMNET GAUTENG-SUID 2012 UITDAGING SE WENNERS AANGEKONDIG

Op 7 Oktober het die Hamnet Gauteng-Suid Uitdaging plaasgevind. Dit het daaruit bestaan dat lede hulle vaardigheid in die bedryf van veldstasies met gebruik van verskillende modusse op verskeie bande moes demonstreer.

Die wenners is:
Glynn Chamberlain, ZS6GLN
Pieter Searle, ZS6PHS
Celeste Searle, ZS6CNS

Hierdie amateurs het twee draagbare radio’s en 'n stel DSP-oorfone ontvang. Baie dankie aand hulle borge, Leon ZS6LMG, Marc, ZS6MDH, en Bato, ZS6BAT. Marc, ZS6MDH, het ook die 2012 HAMNET GS-skild geborg. Baie dankie Marc.

Tydens die laaste Hamnet Gauteng-Suid gemeenskapsdiensbyeenkoms op 25 Oktober, is sertifikate aan die volgende lede toegeken:
Leon Lessing, ZS6LMG
Johan Meyer, ZS6DMX
Martin Nortman, ZS6TMN
Mina Nortman, ZS6MNT
Koos van der Merwe, ZS6JPY
Willem van der Merwe, ZS6WIM
Bato Jakovljevic, ZS6BAT
Ivan Pleho, ZS6IVP
Hennie Rudman, ZS6RHL
Silas Lesejane, ZS6YFH
Mpho Mzangwe, ZS6NEO

Veels geluk aan hulle almal.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Tans is alle sigbare sonvlekke stabiel en die eens aktiewe Sonvlek 1 598 is besig om te vergaan.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 77.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die hoër sonaktiwiteit gaan 10 m openinge meer gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 November - RaDAR-kompetisie van 12:00 tot 18:00 UTC.
18 November – Logstate vir die RaDAR-kompetisie moet in wees na die Lichtenberg Amateurradioklub (LARK), Posbus 410, Lichtenburg, 2740 of per e-pos na zs6lrk@nwinternet.za.org.
17 November - SARL se Nasionale Velddag begin om 10:00 UTC en duur tot 10:00 UTC op Sondag 18 November.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolf-luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 UTC op 4 895 kHz plaas (Let op, 'n nuwe tyd en frekwensie!). Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebied van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Richard Peer, ZS6UK, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003