Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 11 November 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL


Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutels van drie radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Die van Joachim Göldner, ZS6AHJ, op 1 November in die ouderdom van 84 jaar. Hy was an lewenslange erelid van die die Centurion Amateurradioklub.

Die van Oppie Opperman, ZS1OP, op Sondag 4 November, in die ouderdom van 83 jaar. Oppie was sedert 1993 lid van die SARL en Boland Amateurradioklub. Oppie laat sy LV Frieda na.

Die derde is die van Pieter Botha, ZS4PB (oukêrel Push Button) op 7 November. Pieter het 'n tyd gelede plaastoe getrek om tussen sy ‘rooibeeste’ te wees, maar gedurende die afgelope aantal maande het sy gesondheid baie agteruitgegaan.

Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die oorledenes.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

VANDAG IS HERDENKINGSONDAG

IARU ADMINISTRATIEWE RAAD VERGADER IN VIETNAM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

VANDAG IS HERDENKINGSONDAG

Teen ongeveer 05:00 op Maandag 11 November 1918, presies 94 jaar gelede, is die wapenstilstand onderteken in 'n spoorwegwa van Maarskalk Foch se spesiale trein in die Rethondewoud aan die westelike front in Frankryk. Teen 11:00 op Maandag 11 November 1918, het die kanongebulder opgehou en het stilte en vrede op die westelike front neergedaal en het die Eerste Wêreldoorlog ge-eindig. Dit word geraam dat byna 9,5 miljoen soldate, matrose en vlieëniers aan beide in die groot oorlog omgekom het.

Elke tweede Sondag in November gedenk die SARL almal wat hulle lewens opgeoffer het ter verdediging van hulle land, met 'n spesiale kerkdiens wat vandag tydens die tweede helfte van die program ‘Amateur Radio Today’ uitgesaai word.

Dominee Jan Kramer, ZS6JRK, sal die herdenking in Engels en Afrikaans hou en sal die eerste keer om 10:40 uitgesaai word. Dankie, aan Marten, ZS6ZY, wat die reëlings getref het. Alle radiostasies word versoek om as ‘n teken van respek stilswye gedurende die diens te handhaaf.

Klubs wat die diens op hulle eie herhalers, of op HF, uit te saai, kan die klanklêer van www.sarl.org.za aflaai. Kies ‘Amateur Radio Today’ in die linkerhandse spyskaart en volg die aanwysings.

IARU ADMINISTRATIEWE RAAD VERGADER IN VIETNAM

Die Algemene Vergadering van die Administratiewe Raad van die Internasionale Amateurradio-unie is van 2 tot 4 November in Ho Chi Minh Stad in Viëtnam gehou. Die A.R. bestaan uit die 3 Internasionale amptenare en 2 verteenwoordigers van elk van die 3 IARU-streeksorganisasies en is verantwoordelik is vir uitvoering van die beleid en bestuur van die IARU.

Volgens die Sekretaris, Rod Stafford, W6ROD, was die vergadering ‘n sombere geleentheid weens die afsterwe van streek 3 se voorsitter, Michael J. Owen VK3KI. Michael was ‘n lid van die Administratiewe Raad vir ‘n groot deel van die bestaan van Raad. Hy het gereeld bygedra tot die pogings van die IARU om amateurradio te bevorder asook die behoud van die stokperdjie.

Die A.R. het besluite oor die volgende items geneem:

Hersien die sukses behaal tydens die 2012 Wêreld Radiokommunikasiekonferensie, insluitend die nuwe sekondêre toekenning van die 472 tot 479 kHz aan die amateurbande, die vermyding van frekwensiegebruik met HF-liggingbepalende dienste, asook voorbereiding van ‘n agenda-item vir WRC-15 in verband met die toekenning aan amateurs in die 5 MHz-band.
Agenda-items vir WRC-15 is hersien en aanvanklike IARU-standpunte is geformuleer oor die agenda-items aangaande amateur en amateursatellietdienste.
Die huidige werksdokument wat die spektrumvereistes van die amateur en amateursatellietdienste beskryf, is hersien en bygewerk.
Die A.R. ontvang die finale verslag van die IARU 2025-komitee. As gevolg van die huidige ekonomiese klimaat was dit nie moontlik om ‘n aanvaarbare finansiële struktuur te ontwikkel vir die inwerkstelling van die voorgestelde organisatoriese struktuur vir die IARU nie. Die komitee het volledige voorgestelde riglyne vir die verkiesing van die President en die Vise-President hersien, die voorstelle is deur die A.R. aanvaar
Die ITU-vergaderings waar IARU-verteenwoordiging vir die komende jaar nodig is, is geïdentifiseer en planne vir verteenwoordiging is hersien.
Die Michael J Owen, VK3KI, toekenning is ingestel om erkenning te verleen aan die indiwidu of indiwidue wat die beste voorbeeld stel van toegewyde en harde werk deur IARU-vrywilligers.
Die Raad hersien die werk van die komitee verantwoordelik vir die opstel van ‘n hersiene handleiding vir kundiges en verteenwoordigers wat vergaderings namens die IARU bywoon. Die handleiding sal teen die lente van 2013 gereed wees en sal na voltooiing aan IARU-vrywilligers oorhandig word.
Die tema “Ingang tot die eeu van noodkommunikasie“ is aanvaar vir die volgende Wêreldamateurradiodag, 18 April 2013.
Die nuwe webtuiste van die IARU is ingestel. Personeel van die Internasionale Sekretariaat tesame met Digitale Inhoudsko-ordineerder Magdalena Owczarska, W1MGZ, is bedank vir hul aandeel in hersiening van die nuwe webtuiste.
Dale E. Hughes, VK1DSH, en Colin J. Thomas, G3PSM, word gekies deur die A.R. as IARU Tegniese Verteenwoordigers om die IARU by die ITU en Internasionale vergaderings te verteenwoordig.
Die begroting vir 2013-2015 soos voorgelê deur die Internasionale Sekretariaat was onder oë geneem en aanvaar. Die begroting is gebaseer op verwagte donasies van die IARU Streke 1, 2 en 3 om die onkostes te dek in ooreenstemming met vorige aanvaarde beleid.
Die verslag van die komitee vir die moniteringstelsel is onder oë geneem en aanvaar. As gevolg van die die stigting van die komitee vir die moniteringstelsel sal die pos van internasionale koördineerder vir moniteringstelsel nie meer nodig wees nie. Die ARRL se Chuck Skolaut, K0BOG, wat die vorige 4 jaar in hierdie pos gedien het, is bedank vir sy diens.
Verslae van die IARU Internasionale Komitee en Adviseurs is ontvang. Hulle is: Internasionale Bakenprojekko-ordineerder Peter Jennings, AB6WM/VE3SUN; Satellietadviseur Hans van de Groenendaal ZS6AKV; EMK-adviseur Christian Verholt, OZ8CY; Internasionale Ko-ordineerder vir Noodkommunikasie, Hans Zimmerman, F5VKP/HB9AQS, en die Ko-ordineerder vir Internasionale Moniterinstelsel, Chuck Skolaut K0BOG.
Die volgende geskeduleerde in persoon vergadering van die Administratiewe Raad sal in September 2013 in die omgewing van Cancun in Meksiko, tesame met die Streek 2 IARU-konferensie gehou word.

KLUBAFFILIASIE

Hierdie week het nog 2 klubs by die SARL geaffilieer. Ons verwelkom Magalies Radioamateurklub en Noord Natal Amateurradioklub. Dit bring die totaal van geaffilieerde klubs op 30 te staan. Vir 'n volledige lys van geaffilieerde klubs, gaan na die SARL-webblad en klik op Club Talk.

KOMPETISIENUUS

Die Sasolburg radioklub SE kompetisiekomitee het die volgende uitslae vir die afgelope Erfenisdagkompetisie bekend gemaak:
1ste ZS4DZ 378 punte
2de ZS6OY 198 punte
3de ZS6MHH 192 punte

15 Stasies het ingeskryf. Indien die wind nie die Durbanklub afgewaai het nie, sou hulle in die eerste plek gewees het! Die wind was op Erfenisdag baie sterk op die Bluff, wat normaalweg vir hierdie tyd van die jaar heerlike staanplek sou wees.

ZS6OY het van die lugvaartmuseum by die Randse Lughawe ook merkwaardige kontakte gemaak. Hulle het intussen 'n prag QSL-kaart aan al hulle kontakte gestuur, en ons vra dat u dit sal antwoord met u eie kaart. Dit is beslis die mooiste en beste erkenning wat amateurs aan mekaar kan gee!

Die SandStone Estate naby Ficksburg in die Oos-Vrystaat het geskiedenis gemaak met die stasie deur Johan van Zijl, ZS4DZ. Met die vriendelike toestemming van Wilfred Mole, eienaar van die landgoed, is dit die eerste keer ooit dat 'n amateurradiostasie vanaf die plaas werk. Sandstone Estate is bekend vir al die werkende stoomlokomotiewe wat daar aktief bedryf word. Baie geluk aan Johan omdat hy die tyd geneem het om 'n stasie daar op te stel en dan ook die kompetisie te wen!

Die kompetisiekomitee van die Sasolburg Radioklub bedank al die deelnemers. Hulle is tans besig om sertifikate vir al die inskrywings voor te berei. Dit sluit ook die sertifikate vir die ZS4 Naelloop in. Verwag die sertifikate teen einde November.

Durban Amateurradioklub se 80 m QSO-party.

Die uitslae van die tweede been van die 80 m QSO-party is as volg:
1ste, Pieter Jacobs, ZS6XT 385 punte
2de, Warren Reilly, ZS4W 315 punte
3de, Andre Le Roux, ZS1JEN 265 punte

Gesamentlike uitslae vir die eerste en tweede bene vie 2012:
1ste, Pieter Jacobs ZS6XT 815
2de, Warren Reilly ZS4W 315.
3de, Nic Dreyer ZS6NCK 310.

Congratulations to Pieter Jacobs, ZS6XT.

Die Senior Padvinder Sederbergavontuur vind vanaf 10 tot 22 Desember 2012 plaas. Die SARL borg die radiobasis vanaf Matjiesrivier. Kontak Riaan, ZS4PR, indien jy ook deel van die personeel by hierdie basis wil wees. Stuur 'n e-pos aan zs4pr@qsl.net vir meer besonderhede.

KLUBNUUS

Die nuwe komitee van die Sasolburg Radioklub is:
Voorsitter: Riaan Greeff, ZS4PR
O/Voorsitter: Erich Jannasch, ZS4VW
Sekretaris/Tesourier: Amanda Greeff, ZS6AGS
QRX, SA-QSL & Kompetisies: Jaco Le Roux, ZS6PX
Tegnies: Ockerd Taljaard, ZS4LZ

Baie geluk aan die lede met julle verkiesing as komiteelede van die klub tydens die AJV gehou op 2012-10-13.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonfakkel droogte van die afgelope paar weke gebreek is toe 'n nuwe sonvlek 'n M1.7-klas uitbarsting gehad het. Daar is 'n goeie kans vir verdere M-klas fakkels gedurende die week.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 53.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 November – PEARS HF DX-kompetisie.
17 November - SARL se Nasionale Velddag begin om 10:00 UTC en duur tot 10:00 UTC op Sondag 18 November.
18 November – Logstate vir die RaDAR-kompetisie moet in wees na die Lichtenberg Amateurradioklub (LARK), Posbus 410, Lichtenburg, 2740 of per e-pos na zs6lrk@nwinternet.za.org.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolf-luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 UTC op 4 895 kHz plaas (Let op, 'n nuwe tyd en frekwensie!). Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebied van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Luis de Bruin, ZS5LP, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003