Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 20 Januarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

HERAANSOEK VIR 'n AMATEURLISENSIE

RADIOEKSAMENBESONDERHEDE AANGEKONDIG

BEURSE VIR KLAS A RAE-STUDENTE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

HERAANSOEK VIR 'n AMATEURLISENSIE

In SARLNUUS van 25 November, het die Raad van die SARL radioamateur gewaarsku dat hulle elke 5 jaar moet heraansoek om n lisensie moet doen. Hier is 'n uittreksel van die aankondiging: "Van alle radioamateurs sal vereis word om weer aansoek te doen vir 'n lisensie vir die tydperk van 1 April 2013 tot 31 Maart 2018. Betaling van die jaarlikse lisensiegeld kan jaarliks, of vir die volle 5 jaar tydperk gemaak word, in welke geval 'n korting van toepassing is. Bly ingeskakel op SARLNUUS,of besoek www.sarl.org.za gereeld. Nuwe inligting sal gepubliseer word so gou as dit beskikbaar kom."

Verlede week het OKOSA die vereistes in die Staatskoerant gepubliseer. Van elke radioamateur word vereis om vir sy of haar lisensie voor 25 Januarie 2013 aansoek te doen. Die SARL het 'n vereenvoudigde vorm wat deur OKOSA goedgekeur is beskikbaar gestel. Dit is verkrygbaar van www.sarl.org.za.

Geen fooie en geen nuwe eksamens word vereis nie. Vul die vorm in, skadeer dit en stuur dit per e-pos of per gewone pos aan OKOSA. Die SARL se webtuiste het volle besonderhede van die e-pos- en gewone posadres. Daar is ook 'n riglyn oor hoe om die vorm te voltooi.

Gister is SARL-brief nommer 2 vir Januarie 2013 aan alle lede met e-posadresse gestuur. Die brief sal ook die inligting en 'n PDF-kopie van die vorm insluit.

Klubkomitees let asb daarop dat herhaler- en ander lisensies ook geherlisensieer moet word.

RADIOEKSAMENBESONDERHEDE AANGEKONDIG

Die SARL se RAE-bestuurder, Gideon Jannasch, ZS4GJA, het die besonderhede van die 2013 RAE aangekondig. Die Mei-eksamen sal op 16 Mei 2013 en die Oktobereksamen sal op 17 Oktober 2013 gehou word.

Kry volle besonderhede by www.sarl.org.za en kies lisensiëring uit die linkerkantse spyskaart en volg die skakels.

Opsieners en HF-assessors moet so gou moontlik registreer. Volledige besonderhede en al die vorms is beskikbaar op die SARL se webtuiste onder lisensiëring. Kies die RAE Administrasieskakel.

'n Nuwe regulasiestudiegids is ook beskikbaar wat 'n opsomming van al die regulasies met betrekking tot amateurradio bevat. Studente moet hierdie gids vir die RAE bestudeer.

Enige vraag oor die RAE moet aan Gideon met e-posadres rae@sarl.org.za gerig word.

BEURSE VIR KLAS A RAE-STUDENTE

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust het vier beurse beskikbaar uit die Tony Reumerman ZS6AOG Beursfonds beskikbaar gestel, twee vir die Mei-eksamen en twee vir die Oktobereksamen. Elke beurs se waarde is R1 000. Met slaging van die RAE ontvang die student ook 'n ARRL Basiese Antennaboek ter waarde van R350. Volledige besonderhede en 'n beursaansoekvorm is beskikbaar op www.amateurradio.org.za. Die sluitingsdatum vir beursaansoeke vir die Mei-eksamen is 31 Januarie 2013.

ADF DEURBREEK DIE R30 000 MERK

Verlede week is die SARL Antennaverdedigingsfonds op R30 050 nader aan die R50 000-teiken. Dankie aan almal wat bygedra het. Om 'n lys van donateurs te sien en om uit te vind hoe om jou naam en skenking by te voeg besoek www.sarl.org.za en kies Antenna Defence Fund van die spyskaart aan die linkerkant. Die afgelope week het die Pretoria Amateurradioklub 'n aansienlike skenking gemaak. Die SARL waardeer u ondersteuning.

PAK JOU AMATEURTOERUSTING EN VERSKUIF NA MARS

Jy mag dalk hierdie die uiteindelike een-weg Dxpedisie noem. Hoewel dit nie spesifiek aan die amateurradio gemeenskap gerig is nie, het die Nederlandsgebaseerde nie-winsgewende organisasie Mars Een, die basiese ruimtevaardervereistes bekend gemaak vir die skepping van 'n gebeeldsende globale keuringsproses wat later vanjaar sal begin.

Mars Een hoop om teen 2023 die eerste setlaars op die rooi planeet te sit. Die organisasie is nie op soek na wetenskaplikes of voormalige ruimtevaarders as koloniste nie. Eerder iemand wat jonger as 18 jaar is, kan aansoek doen om 'n Mars pionier te word.

Amptenare by Mars Een sê dat die belangrikste kriteria is intelligensie, 'n goeie geestelike en fisiese gesondheid, en toewyding aan die projek. Diegene wat gekies wprd as sy ruimtevaarders sal agt jaar van opleiding voor lansering ondergaan.

Norbert Kraft is Mars Een se hoof mediese direkteur en 'n voormalige NASA-navorser. Hy is aangehaal dat hy gesê het dat die dae verby is dat dapperheid en die aantal ure op 'n supersoniese straler die top kriteria was. Kraft sê dat beplanners van ruimtenavorsing deesdae meer bekommerd is oor hoe goed elke ruimtevaarder werk en met ander oor die weg kom in die lang reis vanaf die aarde na Mars en vir 'n leeftyd van uitdagings wat voorlê.

Newsline rapporteer dat Mars Een beplan om 'n reeks van robot vragsendings tussen 2016 en 2021 van stapel te stuur. Hulle sal gebruik word om 'n bewoonbare buitepos te bou voor die aankoms van die eerste vier koloniste in 2023. Meer setlaars sal dan elke twee jaar daarna gaan. En voor ons vergeet om te noem, sal dit 'n eenrigting reis wees, want daar is geen planne om die pioniers na die aarde terug te bring nie.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom 7 radioamateurs wat as lede by ons organisasie aangesluit het. Ons vertrou dat hulle n lang en gelukkige verbintenis met dei SARL sal geniet. Hulle is:

Johan Latsky, ZSL1055
John Gallie, ZSL1056
A F Barnard, ZR1TAS
Michael Corke, ZS1RJQ
Carl Kies, ZS1ZK
Daniel du Toit, ZS6DZ
David Kirkham, G4SNS

KOMPETISIENUUS

Die SARL Somer QRP-kompetisie is volgende Saterdagmiddag op die lug; dit is 26 Januarie van 12:00 tot 15:00 UTC. Die reëls vir die kompetisie het verander so raadpleeg die 2013 Kompetisiehandleiding.

Die AWA se GG-aktiwiteitsdag vind plaas vanaf 10:00 UTC op Saterdag 2 Februarie tot 10:00 UTC op Sondag 3 Februarie. Dit is GG-aktiwiteit op 20, 40 en 80 meter met QRP of 100 watt uitsetkrag. 'n RST-verslag, die operateurs se naam en ruitverwysing word uitgeruil.

Die SARL se Nasionale Velddag vind plaas vanaf 10:00 UTC op Saterdag 9 Februarie tot 10:00 UTC op Sondag 10 Februarie. Dit is 'n ideale naweek vir 'n radioklubuitstappie en om die lede te kry om uit te kamp. Die kompetisie behels ESB, GG en digitale werking op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. Daar is ses kategorieë van inskrywing om uit te kies om jou klub te pas.

Die aantal senders, die Velddagdeelnemingsklas en en die Provinsiale afkorting word uit geruil. Toerusting vir die veldstasie mag slegs in die 24 uur voor die begintyd van die wedstryd opgestel word. Hierdie beperking is van toepassing op antennas, maste, torings en die radiostelle en toebehore, maar sluit akkommodasie soos 'n karavaan, tent, ens, uit.

Die reëls vir die velddagkompetisie is verander. Raadpleeg die 2013 SARL-Kompetisiehandleiding vir die volledige reëls van al die kompetisies.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot matig gaan wees. Groot Sonvlek AR1654 huisves genoeg energie vir X-klas fakkels maar het tot op hede nognie 'n hoë energie fakkel opgelewer nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 72.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld smiddae oor daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
20 Januarie – Laaste dag van PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie.
26 Januarie - SARL Somer QRP-kompetisie 12:00 tot 15:00 UTC.
31 Januarie – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
31 Januarie - Laaste dag vir indiening van 'n verkorte resume van 'n beoogde aanbieding vir SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM op 18 Mei 2013 na saamsat@sarl.org.za.
31 Januarie – Laaste dag vir indiening van aansoeke vir n SAARDT-beurs vir RAE-studente, besonderhede by www.amateurradio.org.za.
2-3 Februarie - AWA se GG-aktiwiteitsdae.
9-10 Februarie - SARL se Nasionale Velddae.
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale gebeurtenis beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Richard Peer, ZS6UK, en George Honiball, ZS6NE, wat ook die bulletin saamgestel en geredigeer het.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003