Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 17 Februarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutel van Ton van Dijk, ZS6ANA, op Vrydag 8 Februarie stil geraak het.

Ons innige meegevoel aan Ton se familie en vriende.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL ANTENNA VERDEDIGINGSFONDS RAAK AAN R40 000 KERF

SARL RAAD VERGADER

MAAK GEREED VIR DIE JEUGWEDLOOP OP 23 FEBRUARIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL ANTENNA VERDEDIGINGSFONDS RAAK AAN R40 000 KERF

Die SARL Antenna Verdedigingsfonds het hierdie week so byna die R40 000 kerf bereik met die totaal wat tans op R39 900 staan. Hierdie fonds is in die lewe geroep om regs- en bouregulasie kenners se dienste te finansier sodat ‘n appel vir die vrystelling van amateurradiotorings laer as 15 m en antennastrukture onder die huidige bou- en soneringsregulasies ontwikkel en geloods kan word.

Regs-, omgewings- en strukturele kenners is tans betrokke by die voorbereiding van ‘n voorlegging. Vordering is tans relatief stadig, maar sodra dit geskik is sal inligting aan SARL-lede en luisteraars deur middel van SARL nuus en die webwerf beskikbaar gestel word.

Vir meer inligting oor hoe hierdie inisiatief ondersteun kan word asook watter individue, klubs en besighede bygedra het kan u die Liga se webwerf by www.sarl.org.za besoek en dan die “Antenna Defence Fund” skakel op die keuselys aan die linkerkant volg.

SARL-RAAD VERGADER

Die SARL se Raad sal eerskomende Vrydag en Saterdag by die Nasionale Amaterurradiosentrum in Gauteng bymekaarkom vir die jaarlikse strategie-indaba.

Raadslede sal Saterdagoggend tussen 10:00 en 11:00 tyd afknyp om deel te neem aan die Jeugnaelloop wat tussen 10:00 en 12:00 SAT plaasvind.

Die Raad sal debatteer oor ‘n verskeidenheid strategiese en regulatoriese sake wat onder meer die Antenna Verdedigingsinisiatief, Regulatoriese Raamwerk en vordering ten opsigte van die Onafhanklike Uitsaaiowerheid sal insluit.

‘n Omvattende aksieplan vir die volgende jaar sal ontwikkel, bespreek en by die Algemene Jaarvergadering in April ter tafel gelê word. Hoogtepunte van hierdie vergadering sal aanstaande week in die SARL se Nuusbulletin ingesluit word.

RADIO ZS BESKIKBAAR

Die Januarie/Februarie-uitgawe van Radio ZS is gepos en ook aan lede op die Liga se webwerf beskikbaar. Dit is weereens ‘n interessante uitgawe. Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, beskou die tweede eeu van amateurradio met verwysing na rampkommunikasie. Hierdie artikel sluit ‘n uitknipsel uit die Cape Argus van 6 Maart 1926 in.

As jy ‘n DXer is sal die artikel “DXpeditions to Swains Island” jou waarskynlik interesseer. Ian Roberts bespreek Trans Ekwatoriale Voortplanting in Suid-Afrika. Henry Chamberlain ry die SGR-golf en Duncan Baker se laaste aflewering oor Radiotelegrafie tydens die Boere-oorlog verskaf interessante leesstof.

Ons drink ook in hierdie uitgawe saam met Laurie Devereux koffie en Eddie Leighton gesels RaDAR.

MAAK GEREED VIR DIE JEUGWEDLOOP OP 23 FEBRUARIE

Die SARL se Jeugwedloop vind op 23 Februarie, en nie meer soos gebruiklik op Jeugdag 16 Junie nie, plaas. Die rede hiervoor is die velerlei aktiwiteite op Jeugdag wat dit vir skole en die jeug moeilik maak om dit by hulle programme in te sluit. Die naelloop vind vanaf 10:00 tot 12:00 SAT plaas. Meer inligting hieroor, asook pryse wat op die spel is, kan op die Liga se webwerf www.sarl.org.za gevind word.

AMATEURRDIO PROMINENT IN “LAST MAN STANDING”

Die ABC-komedie, “Last Man Standing” met Tim Allen as Mike Baxter, KA0XTT, sal tonele waar spelers amateurradio gebruik prominent vertoon. Volgens “Last Man Standing” se vervaardiger John Amodeo, NN6JA, sal verskeie gereelde spelers in die episode “The Flight” oor die radios praat. Alhoewel hy nie oor die inhoud wou uitwei nie het hy gesê dat hierdie episode die mees prominente gebruik van amateurradio in ‘n TV komedie bevat.

Bo en behalwe die oorspronklike KA0XTT-stasie in Mike Baxter se kantoor sal kykers ook Mike se hok in die kelder van sy huis te sien kry.

Amodeo sê verder dat ‘n speler tydens ‘n staptog in die Amasone ook met ‘n draagbare HF-stel sal inroep.

Die ARRL het verskeie van die toekennings, insluitend “5 Band DXCC”, “5 Band Woked All States”, “5 Band Worked All Continents” en “VUCC”, wat teen Mike Baxter se tuishokmuur pryk, voorsien.

Richard Karn sal ook in hierdie episode, wat op 12 Februarie verfilm is, te sien wees. “Last Man Standing” word op MNet, kanaal 101, op Vrydagaande vertoon. Multichoice is genader om die presiese datum van hierdie episode te bekom, maar hulle het teen druktyd nognie reageer nie. Dit sal teen die middel van Maart in die VSA vertoon word. SARLNUUS sal u op die hoogte hou van nuwe inligting.

NUWE SARL-LEDE

'n Hartlike welkom aan:
Richard Beavan Gwilt, ZS2RL en
Johannes Wiid, ZSL1058, wat as lede by die SARL aangesluit het, mag julle verbintenis met die SARL lank en genotvol wees.
Deur julle aansluiting staan die SARL se ledetal tans op 1 688.

VERSOEK DEUR SKOLIER VIR HULP MET VOORTPLANTINGSTUDIE

Die volgende is 'n versoek om hulp ontvang van Dané de Witt, ZU6DD:
“Ek is tans 'n graad 10 leerder en is besig met 'n wetenskaplike skooltaak. Die vereiste vir die taak is om 'n vraag te vra oor 'n onderwerp en dan metings te doen of data te versamel om die vraag te beantwoord. Ek het besluit om iets oor amateurradio te doen. Ek wil meer leer oor voortplanting op die 40 meter band. Hiervoor het ek 'n gelykgolfbaken gebou. Die baken is geaktiveer op 7 048 kHz en stuur 'n gelykgolfboodskap uit teen ongeveer 12 woorde per minuut en 100 milliwatt. Ek sal graag soveel as moontlik rapporte aangaande die bakensein wil ontvang om my navorsing sinvol te maak en daarvoor het ek die hulp van mederadioamateurs nodig. Luister gerus en as u die sein hoor, stuur vir my 'n seinrapport.”

“Lees meer oor die projek op WWW.QRZ.COM en soek dan my vir roepsein: ZU6DD. Daar is 'n beskrywing en foto's van die bakenprojek. Seinrapporte moet die datum, tyd en ruitverwysing insluit. My e-posadres is zu6dd@kripton.co.za of sms dit na 082 771 3976. Baie dankie vir U hulp.”

SARLNUUS versoek vriendelik dat U aan die versoek van hierdie entoesiastiese jong amateur voldoen.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak nog steeds laag tot baie laag gaan wees. Al die sonvlekke wat besig is om na die aarde toe te roteer, sowel as die sigbare sonvlekke, is tans stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 46.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale aanbieding beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE, met vertalings deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003