Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 24 Februarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutel van Ronnie Grobler, ZS6RLG, van die Oos-Rand Amateurradioklub en digitale entoesias op 13 Februarie 2013 stil geraak het na 'n stryd van 3 weke met kanker.

Ons innige meegevoel aan Ronnie se familie en vriende.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

ANTENNA-VERDEDIGINGSFONDS 'N LANGTERMYN PROJEK

SA AMSAT MAAK GOEIE VORDERING MET KLETSkous

DIE SA AMATEURRADIO-ONTWIKKELINGSTRUST KEN DRIE BEURSE TOE

SARL NASIONALE KONVENSIE SE PROGRAM BINNEKORT BEKEND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

ANTENNA-VERDEDIGINGSFONDS 'N LANGTERMYN PROJEK

Die SARL-Raad het tydens sy jaarlikse indaba op Vrydag en Saterdag oor die vordering met die antennaprojek besin. Volgens die SARL se regskundige Johann Marais, ZS1JM, is baie vordering gemaak met die inwin en identifisering van regulasies wat ‘n impak het op die oprigting van antennas en torings. Die raad het voorts die toepaslike volgende stappe oorweeg en op ‘n aksieplan besluit. Daar moet egter op gelet word dat hierdie projek nie slegs ‘n korttermyn aksie is nie en dat daar nog omvattende werk nodig is voordat die aksieplan gefinaliseer kan word. Die Raad het ook aan die finansiële ondersteuning van baie amateurs tot die projek erkenning gegee. Die volgende vorderingsverslag sal tydens die Algemene Jaarvergadering, wat aan die einde van April by Wes-Rand plaasvind, voorgelê word.

Vir meer inligting asook watter individue, klubs en besighede bygedra het kan u die Liga se webwerf by www.sarl.org.za besoek en dan die “Antenna Defence Fund” skakel volg.

SA AMSAT MAAK GOEIE VORDERING MET KLETSkous

SA AMSAT het, na ‘n telekonferensie verlede week, goeie vordering met die KLETSkous-projek aangekondig. Die ontwerp en uitleg van die gedrukte stroombaanborde is voltooi. Die volgende stappe is nou die vervaardiging van die stroombaanborde, plasing van die komponente en die daaropvolgende toets van elke sub-eenheid.

Die projekbestuurder, Hannes Coetzee, ZS6BZP, sê dat die groep verwag dat hulle die transpondeerder tydens die AMSAT-konferensie wat op 23 Mei by die Innovation Centre, Pretoria, plaasvind sal kan demonstreer. KLETSkous sal oor ‘n transpondeerder met stuurskakel op 79 cm en ‘n ontvangskakel op 2 meter toegerus wees.

Vordering is ook gemaak met die ontwikkeling van die ruimteraamwerk. Die regte ruimteverharde aluminium is aangekoop en word nou afgewerk om die tweede prototipe te bou.

SA-AMSAT het ook nou ‘n daadwerklike fondsinsamelingsprojek geloods. Inligting oor hoe u kan help om van hierdie projek ‘n sukses te maak kan op die webwerf www.amsatsa.org.za verkry word. Luister gerus later vanoggend na “Amateur Radio Today” waar die span sal uitwei oor wat reeds bereik is.

DIE SA AMATEURRADIO-ONTWIKKELINGSTRUST KEN DRIE BEURSE TOE

Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust het drie beurse aan jongmense toegeken om vir die RAE, wat in Mei geskryf word, te voorberei. Die beurse ter waarde van R1 000 elk is toegeken aan die susters Michelle Taylor, graad 9, en Nicole Taylor, graad 11. Hulle sal die kursus wat Karl Canitz in Bellville aanbied, bywoon. Die derde beurs is toegeken aan Karel Bezuidenhout, ZU6KB. Hy het met ‘n slaagsyfer van 98% die beste in die Klas B eksamen gedurende 2011 presteer. Karel het ‘n voorliefde vir kompetisies en het verlede jaar die SARL Jeugnaelloop gewen. Hy het ook 22ste in die GG WW ESB 10 meter ondersteunde Klas 3 kompetisie in Afrika gekom.

Die beursfonds het ‘n groot hupstoot gekry toe die familie van Tony Reumerman, ZS6AOG, ‘n mooi bydrae gemaak het.

Drie beurse sal ook vir die Oktobereksamen beskikbaar gestel word. Besoe kwww.amateurradio.org.za vir meer inligting.

SARL NASIONALE KONVENSIE SE PROGRAM BINNEKORT BEKEND

Die Wes-Rand Amateurradioklub sal as gasheer van die SARL se Nasionale Konvensie op 26 en 27 April optree. Die Konvensie begin met ‘n verwelkomingsgeleentheid by Wes-Rand se Klubhuis. Op Saterdagmiddag word die Nasioanle Ruimteagentskap te Hartbeeshoek besoek. Die jaarlikse toekenningsdinee vind die Saterdagaand plaas en sal verskeie verrassings insluit. Dit sluit die geleentheid om ‘n ICV82 tweemeter, draagbare stel, wat deur Sam Ford geskenk is te ,wen in.

Die volledige program en besprekingsbesonderhede sal teen volgende naweek beskikbaar wees.

RADIO ZS IN DIE POS MAAR DIE AFLEWERING WORD VERTRAAG

Radio ZS is verlede week gepos maar aflewering word deur ‘n staking by die poswese vertraag.'n Elektroniese weergawe kan egter vanaf www.sarl.org.za afgelaai word. Besoek die lede-alleen afdeling van die webwerf deur die skakel regs-bo op die tuisblad te volg en dan u PIN te verskaf.

HET ASTEROïDE 2012 DA14 IONISASIE VEROORSAAK TOE DIT VERBY DIE AARDE GEGAAN HET?

Op Vrydagnag 15 Februarie toe die asteroïde tussen die aarde en die maan beweeg het, het Ken Victor, ZS2OC, in Port Elizabeth toe hy na ZS1SIX op 50,080 MHz, geluister het, was die baken se sein om 21:30 SAT ongeveer S2. Om 21:35 SAT het die baken se sein skielik in sterkte toegeneem en met 'n waterige geluid. Ken het besluit om sy roepsein 'n aantal kere op dieselfde frekwensie uit te stuur, hopende dat iemand anders wat dalk ook na die bakensein mag luister, hom altemit mag hoor. Teen hierdie tyd was sy gerigte antenna ongeveer 30 grade noord van Kaapstad gerig. Teen 21:39 SAT word die bakensein sterker en na 'n volgende uitsending skakel hy oor na ontvangs en hoor hy sy roepsein vermeng met die bakensein. Die bakensein was die sterkste om 21:40 en het hy weer 'n eggo van sy roepsein gehoor met 'n tydvertraging van meer as 'n sekonde.

Wat Ken graag sal wil weet is of iemand dalk sy roepsein gehoor en hom toe geroep het, of kon dit 'n vertraagde weerkaatsing vanaf 'n vêraf gebied soos die spoor van 'n snel bewegende en baie warm asteroïd wees, of dalk multi-hop sporadiese E oor die Atlantiese oseaan? Kan enigiemand dalk hierdie misterieuse sein verklaar? Enigiemand met inligting kan dit aan Mike Bosch stuur, sy e-posadres is mcbosch@webafrica.org.za.

KOMPETISIENUUS

Die doel van die SARL Digitale kompetisie is om soveel moontlik kontakte tussen radioamateurs in Suider-Afrika te maak met PSK31 en RTD. Die kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suider-Afrika. Die kompetisie is op die lug van 13:00 UTC tot 16:00 UTC op Sondag 24 Februarie. Aktiwiteit vind plaas op 80 meter (3 580 tot 3 600 kHz); 40 meter (7 040 tot 7 060 kHz) en 20 meter (14 070 tot 14 099 kHz) en 'n stasie kan twee keer gekontak word op elke band, een keer op RTD en een keer op PSK31. 'n RST-verslag plus 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin word uitgeruil. Kontakte met stasies gelys in Algemene Reël 1.b tel 3 punte. Kontakte met stasies wat nie in Algemene Reël 1.b gelys is nie tel 1 punt. Lees die kompetisiereëls vir die bandvermenigvuldigers en telling. Logs moet ingedien word binne 7 dae na die kompetisie aan contest@sarl.org.za.

Die SARL Hamnet 40 m gesimuleerde noodkompetise is oop vir alle radioamateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marioneiland en Suid-Afrikaanse Antarktika. Slegs kontakte met hierdie gebiede sal tel. Die kompetisie sal op die lug wees van 12:00 tot 14:00 UTC op Sondag 3 Maart met foonaktiwiteit in die bandgedeeltes 7 063 tot 7 100 kHz en 7 130 tot 7 200 kHz. Deelname kan wees as 'n enkeloperateur stilstaande mobiel, 'n enkeloperateur draagbare, 'n multi-operateur draagbare of 'n enkeloperateur basisstasie. 'n Seinverslag gevolg deur 'n driesyfer getal bepaal deur die klas van deelname word uitgeruil. Lees die wedstrydreëls vir besonderhede oor antennas, krag, die uitruiling en telling. Logs moet ingedien word teen 11 Maart aan Hamnet Oos-Kaap, Al Akers, ZS2U, Clarencestraat 53, Westering, Port Elizabeth, 6025 of per e-pos aan contest@peham.co.za.

NUWE KLUBKOMITEE

Die volgende lede is verkies tot die komitee van die Suid-Kaap Amateurradio klub tydens die AJV wat op 16 Februarie 2013 in Glentana gehou is: .
Voorsitter: Hans Potgieter ZS1ALJ
Visevoorsitter: Sharon Malcolm ZS1SLM
Sekretaris/tesourier Abe Zwiegelaar ZS1ZS
Lid: Eddie Pieterse ZR1DEP

Dank aan die uittredende komiteelede en sterkte aan die nuwes.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak nog steeds laag tot baie laag gaan wees. Sonvlek 1 678 is besig om uit die aarde se gesigsveld te roteer maar daar is steeds 'n kans vir fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 46.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
24 Februarie – Dit is vandag, SARL Digitale kompetisie 13:00 UTC tot 16:00 UTC.
03 Maart – SARL Hamnet 40 m gesimuleerde noodkompetisie 12:00 tot 14:00 UTC.
03 Maart – Logstate vir SARL Digitale kompetisie moet in wees na contest@sarl.org.za.
11 Maart - Logstate vir SARL Hamnet 40 m gesimuleerde noodkompetisie moet in wees na Hamnet Oos-Kaap, Al Akers, ZS2U, Clarencestraat 53, Westering, Port Elizabeth, 6025 of per e-pos aan contest@peham.co.za.


SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE, met vertalings deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003