Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 14 April 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

OKOSA-RAAD KEUR TWEE 5 MHZ FREKWENSIES VIR SARL GOED

DIT IS NIE TE LAAT OM VIR DIE SARL NASIONALE KONVENSIE TE BESPREEK NIE

UITSLAE VAN JEUGNAELLOOP

REGISTRASIE VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM IS NOU OOP
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

OKOSA-RAAD KEUR TWEE 5 MHZ FREKWENSIES VIR SARL GOED

Die OKOSA-Raad het verlede week twee 5 MHz frekwensies vir die Suid-Afrikaanse Radioliga om voortplantingnavorsing uit te voer, goedgekeur. Dit is in reaksie op die SARL se aansoek om in twee kanale inligting oor die landwye voortplantingstoestande naby 5 MHz in te samel. Die SARL verwag dat die lisensies hierdie week uitgereik word.

Die SARL het vir toegang tot 5 MHz in 2010, 2011 en weer in 2012 aansoek gedoen. Die lisensies word vir 'n 8-maande-tydperk uitgereik teen 'n lisensiefooi van R2 900. Aan die einde van die tydperk kan die SARL vir 'n verlenging aansoek doen.

In die aansoek het die SARL OKOSA meegedeel dat terwyl die voortplanting van seine vir hoëkraguitsending redelik goed bekend is, daar nog steeds baie is wat deur radioamateurs, veral op ‘binnelandse’ werk, weg van die kus af, geleer kan word.

n Aantal jare gelede het die destydse SOEKOR waargeneem dat op die Kaapse Suidkus, seewaarts van Mosselbaai, in die laatmiddag en vroeg saans 5 MHz E-laag voortplanting vir ongeveer 'n uur of twee voorkom. Dit het ook ‘op en af’ oor die die Outeniquakus voorgekom. Voortplantingmodellering het getoon dat die E-laag by daardie tye tussen 110 en 80 km bo die aarde was, veel laer as die F-laag. Aangesien die seinpad baie korter was, kon baie sterk seine met 'n relatief lae ERP (effektiewe uitgestraalde krag) verkry word. Dit sal interessant wees om te sien hoe ver en wyd hierdie voortplantingmodus werklik in Suid-Afrika voorkom.

Die SARL is in die proses om 'n spesiale webblad vir die projek te skep. Daar word beplan om uitsendings op een kanaal uit verskillende dele van Suid-Afrika op verskillende tye te skeduleer en radioamateurs sal versoek word om ontvangsrapporte te verskaf. Die SARL is op soek na vrywilligers in alle dele van Suid-Afrika Amateur Radio Today op verskillende tye uit te saai. Indien jy ‘n sendstasie wil wees, stuur asseblief jou besonderhede aan artoday@sarl.org.za.

Die tweede kanaal sal beskikbaar wees vir individuele QSO’s. Om die 5 MHz-band te gebruik, sal dit nodig wees om met die SARL te registreer. Besonderhede sal teen volgende naweek op die web beskikbaar wees.

Daar is 'n item op die WRC15-agenda wat 'n permanente sekondêre toekenning vir amateurradio in die 5 MHz-band versoek. Die SARL hoop om deur sy voortplantingnavorsingsprojek by te dra tot die hoeveelheid kennis en steun te werf vir die ondersteuning deur die afvaardigings van Suid-Afrika, SAOG en die Afrika-Unie-lande en dieversoek vir die nuwe toekenning te ondersteun.

DIT IS NIE TE LAAT OM VIR DIE SARL NASIONALE KONVENSIE TE BESPREEK NIE

Die sluitingsdatum vir bespreking vir die SARL Nasionale Konvensie is 21 April. Geen fooi vir laat bespreking sal gehef word nie. Die SARL se regsadviseur sal by die AJV verslag doen oor die status van die Antenne Verdedigingsprojek en sal daar 'n bespreking wees oor die voorstel om diuitsending van SARLNEWS te verander na 'n weeksaand. Die SARL sal ook 'n nuwe standaard QSL-kaart vir lede beskikbaar stel en ook die van die tema vir die komende jaar bekendstel.

Daar is nog 'n paar plekke beskikbaar vir die besoek aan SANSA Hartbeeshoek. Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust se boekwinkel sal oopmaak tydens registrasie en die verversingspouse.

Die jaarlikse dinee met sy toekenningaanbiedings en gasspreker, Anthony Turton, sowel as die gelukkige nommer trekking vir 'n aantal pryse, waaronder 'n ICOM handstel, geskenk deur Radio Accessories en Data Modems, is iets wat nie misgeloop moet word nie. Om jou in die gemoedstemming vir 'n naweek van amateurradio te kry, vind die verwelkoming plaas aan die Wes-Rand Amateurradioklub se klubhuis op Vrydagaand. Moenie die SARL se Nasionale Konvensie misloop nie! Bespreek vandag!

Verkry al die besonderhede van www.sarl.org.za en van die tuisblad volg die skakels, of skakel Geoff Levey, ZS6GRL, by 082.546 5546

UITSLAE VAN JEUGNAELLOOP

Die uitslae van die Jeugnaelloop is as volg. Dit was 'n besige gespook vir baie van die deelnemers. Die wenner van die byeenkoms is die 23-jarige Dirk van Vuuren, ZS6DVV, met 103 punte. Behalwe die sertifikaat wen hy ook 'n 2012 ARRL-handboek. Vyftien jaar oue Mitchell Mynhardt, ZS6Y, het die tweede plek met 101 punte. Hy wen 'n 40 meter ontvangerboustel en in die derde plek is Hendrik Veldman, ZU6LD. Hy is 16 jaar oud en het 95 punte aangeteken.

Die wenners van die gelukkige trekking is Eduan Leighton wat ZS6BNE bedryf het en 'n ARRL Antennaboek sal ontvang en Renier de Jager, ZU1K, wat 'n SARL Studentelidmaatskap sowel as 'n RTA SDR-boustel en CD sal ontvang.

Die wedstrydorganiseerder, Geoff Levey, ZS6GRL, het gesê dat dit 'n groot gebeurtenis was en hy bedank alle amateurs wat dit vir die jong mense moontlik gemaak het om deel te neem. Vir 2014 word groter dinge in die vooruitsig gestel wanneer die SARL 'n jeugweek rondom middel-Februarie sal aanbied. Bly ingeskakel vir meer inligting binnekort.

REGISTRASIE VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM IS NOU OOP

Hier is nog 'n groot amateurradio gebeurtenis. SA AMSAT sal sy jaarlikse ruimte simposium in Pretoria op Saterdag 18 Mei 2012 by die Innovation Hub hou. Die hoofspreker sal wees deur McLean Sibanda, die hoof uitvoerende beampte van die Innovation Hub met die onderwerp "Innovasie is almal se besigheid". Die agenda is 'n pak met interessante aanbiedings en demonstrasies. Die simposium word geborg deur Telkom.
Maak jou bespreking nou om voordeel te trek uit die vroeë registrasie pakket. Volledige besonderhede en die registrasievorm is beskikbaar op www.amsatsa.org.za.
SARL en SA AMSAT lede geniet voorkeur tariewe. Die registrasiefooi sluit in 'n CD van al die vraestelle sowel as verversings en 'n ligte middagete.

KOMPETISIENUUS

Die SARL Herfs QRP-kompetisie vind op Saterdag 20 April vanaf 12:00 tot 15:00 UTC plaas. Die QRP-kompetisies is bedoel om prettige aktiwiteite te wees en om QRP-werking tussen radioamateurs te bevorder. Selfgeboude toerusting of werking as 'n draagbare of veldstasie en die gebruik van tydelike antennas word aangemoedig, maar is nie 'n vereiste nie.

U kan SSB en GG gebruik met 5 watt (PEP) of minder uitset en 'n stasie kan een keer per band per modus gewerk word; daar is geen antennabeperkings nie. Die eerste uur is slegs tot die 40 m-band beperk, vir die oorblywende twee uur is deelnemers vry om enige HF-(nie-WARC) bande te gebruik soos hulleverkies. Voldoen aan die kompetisievoorkeurgedeeltes soos uiteengesit in die algemene reëls. Dit sal voordelig wees om die standaard QRP roepfrekwensies te gebruik as die beginpunt.

Die uitruiling is 'n RS.- of RST-verslag en Ruitverwysing. Oorweeg asseblief om realistiese RS.- of RST-verslae uit te ruil. Gebruik asseblief die volle 6-karakter ruitverwysing, bv., KG10xw. As die stasie se ruitverwysing onbekend is, gebruik dan 'n ander wyse wat die stasie kan identifiseer, byv., die naam van die naaste dorp of stad bv. Bedford, of 25 km NW van Maseru. Met DX-kontakte kan die ruitverwysing uitgelaat word, en sal die RS(T)-verslag voldoen as die minimum vereiste uitruiling soos per die algemene reëls.

Lees die volledige reëls op bladsy 33 van die 2013-SARL Kompetisiehandboek.

Die ARRL “Rookie Roundup”. As jy jou lisensie in die afgelope drie jaar gekry het, is die ARRL Rookie Roundup net vir jou en 21 April is die ESB-weergawe. Gryp 'n mikrofoon en probeer dit! Danksy Bruce, WA7BNM, sal die uitslae saamgestel word en outomaties gepubliseer word op 'n aanlyn webblad onmiddellik na die logstaat indieningsdatum. As jy nie 'n Rookie is nie - vind iemand wat wel is en wys hom of haar hoe om HF-werking te doen. Kry al die besonderhede by www.arrl.org/rookie-roundup

Die Dag van die Jong Dames. Vir die derde keer in die wêreld, sal "The Day of the YLs" op 18 en 19 Mei 2013 gehou word. Hierdie naweek is bedoel om 'n op-die-lug-byeenkoms van amateurradiovroue regoor die wêreld te wees, en natuurlik word alle mans genooi om deel te neem. 'n Wêreldwye aktiwiteit wat jy nie kan misloop nie, neem dus asseblief deel! Vir meer inligting besoek asseblief www.eurao.org/en/node/472

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sterkste onlangse sonuitbarsting op die 11de April in die omgewing van Sonvlek 1 719 plaasgevind het. Geomagnetiese storms kan verwag word sowel as verdere M- of X-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 81.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan gereeld oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
Van vandag – Besprekings oop vir SA AMSAT se jaarlikse ruimtesimposium in Pretoria op Saterdag 18 Mei 2012 by die Innovation Hub, besoek www.amsatsa.org.za.
18 April – Wêreldamateurradiodag en ZS9DCC op die lug; operateurs benodig, e-pos Geoff na contest@sarl.org.za of skakel hom by 082 546 5546.
20 April – SARL Herfs QRP-kompetisie vanaf 12:00 tot 15:00 UTC.
21 April - ARRL Rookie Roundup.
20 April-20 Mei – Herdenkingstasie PB33BQ op die lug, besoek pa7da.jouwweb.nl/pb33q vir meer inligting.
26-27 April – SARL Nasionale Konvensie, registreer nou, besonderhede verkrygbaar van on www.sarl.org.za.
15/16 Junie – Eerste naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke, registreer jou museumsatasie by www.ukradioamateur.co.uk/imw.
22/23 Junie – Tweede naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 025 en 17 570 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings deur Martin Schwella, ZS4MS en saamgestel, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003