Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS Sondag 05 Mei 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee radioamateurs stil geraak het. Hulle is:

Des Classen, ZS5CJ,op 28th January na 'n lang siekbed. Des laat sy eggenote Corinne, seun en dogter Gavin en Sandy en vyf kleinkinders.

Des Woods, ZR4DRW, op Sondag 28 April.

Ons innige medelye aan die familie en vriende van die afgestorwenes.

IN DIE NUUS VANDAG:

SLUIT BY DIE SARL AAN EN GENIET Mei EN Junie GRATIS LIDMAATSKAP

SARL-RAAD

JEUGWEEK 2014

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SLUIT BY DIE SARL AAN EN GENIET Mei EN Junie GRATIS LIDMAATSKAP

Sluit nog hierdie week by die SARL aan, betaal die ledegeld vir 2013/2014 en geniet gratis lidmaatskap vir Mei en Junie.die tarief vir volle lidmaatskap is R430 en R240 vir seniors, d.w.s. persone ouer as 65 jaar. Om aan te sluit, gaan na www.sarl.org.za of skakel die kantoor Maandagoggend by 011 675 2393. Volle en senior lidmaatskap sluit in toegang tot alle SARL-dienste soos Radio ZS, die QSL-buro, lede-alleen webtoegang en toegang tot die twee frekwensies in die 5 MHz band en 472 kHz wat toegewyde kanale is vir SARL-lede wat aan voortplantingstudies wil deelneem.

SARL-RAAD

In verlede week se SARLNUUS is van die Raadslede se name weggelaat. Die volle Raad vir 2012/2013 is: President: Rassie Erasmus, ZS1YT, Visepresident: Geoff Levey, ZS6GRL, Sekretaris: Fritz Sutherland, ZS6SF, Tesourier: Riaan Greeff, ZS4PR, Raadslede: Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, Dennis Green, ZS4BS, Laurie Devereux, ZS5DL, Fred Scheepers, ZS1FCS, Frik Wolff, ZS6FZ, Johann Marais, ZS1JM, Gideon Jannasch, ZS4GJA, Gerhard Coetzee, ZS3TG, en Jaco Le Roux, ZS6PX. Besonderhede van die portfolios en aangesteldes sal op die webwerf gepubliseer word asook in die volgende SARL-brief hierdie week.

JEUGWEEK 2014

Die SARL beplan om middel Februarie 2014 'n jeugweek aan te bied om saam te val met die ARRL se “School Club Round-up” van 11 tot 15 Februarie 2014. Gerhard Coetzee, ZS3TG, die Raadslid wat nuut vir jeugsake aangestel is, is op die uitkyk na insette en voorstelle oor die tipe aktiwiteit wat jong amateurs in Suid-Afrika graag ingesluit sal wil hê. Stuur u voorstelle voor die einde van Mei aan youth@sarl.org.za. U voorstel mag moontlik in 'n gelukstrekking 'n amateurradioboek aan u besorg.

60 METER WORD ALREEDS GEBRUIK

Die registrasie vir toegang tot 5 MHz en 472 kHz het op 1 Mei geopen. 'n Groot aantal SARL-lede het alreeds geregistreer vir toegang tot die 5 MHz band. Die gebruiksfrekwensie is 5 260 kHz HSB en QSO’s vind alreeds landwyd plaas. Volle besonderhede oor hoe om aan te sluit kan gevind word op www.amateurradio.org.za/propresearch.htm. Verslae oor ontvangs of QSO’s wat gehoor is, sal verwelkom word. Stuur u verslae aan propresearch@sarl.org.za.

Alle stasies wat op 5 260 kHz bedrywig is word versoek om hulle ruitverwysing te verskaf sodat hierdie besonderhede in die logstate sal verskyn. Indien u 'n SWL-verslag instuur, sluit asb. die roepseine, ruitverwysing en seinrapporte t.o.v. beide stasies in.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Die vroeë voëltjie registrasietydperk vir SA AMSAT se Ruimtesimposium, wat op Saterdag 18 Mei in die Innovation Hub in Pretoria gehou gaan word, loop hierdie week ten einde. Registreer nou en geniet die laer tarief. Volle besonderhede kan verkry word by www.amsatsa.org.za.

Het u geweet dat OSCAR 7 die oudste amateursatelliet is wat steeds in bedryf is? Eddie Leighton, ZS6BNE, sal afgevaardigdes op 'n historiese reis met sy aanbieding "living the dreams of our space pioneers.” Deon Coetzee, ZR1DE, sal sy ondervinding met die ontwikkeling van 'n 14 MHz ontvanger vir die seine van die ZACube satelliet, wat binnekort gelanseer staan te word, met u deel. Die program is volgepak met interessante aanbiedings om in die smaak te val van alle vlakke van belangstelling en ondervindings. Almal wat bywoon sal 'n CD ontvang met al die aanbiedings en ander interessante artikels daarop. Wil u antennas beheer? Frik Wolff, ZS6FZ, sal u alles daaroor meedeel. Registreer nou by www.amasatsa.org.za.

SEATTLE SAL GASHEER WEES VIR DIE 32STE DIGITALE KOMMUNIKASIE-KONFERENSIE

Digitale kommunikasie-entoesiaste sal in September hulle skrede wend na die noord-weste van die VSA vir die 32ste jaarlikse ARRL/TAPR digitale kommunikasiekonferensie (DKK) op 20-22 September in Cedarbrook Lodge naby Seattle, Washington, gehou staan te word. Die ARRL/TAPR DKK is 'n internasionale forum vir radioamateurs om te ontmoet, hulle werk te publiseer en nuwe idees en tegnieke bekend te stel. Aaanbieders en bywoners sal die geleentheid hê om idees uit te ruil en te leer oor nuwe 1. apparatuur vir die rekenaar/2. hardeware as alternatief vir hardeware en programmatuurontwikkelings, eksperimentele resultate en praktiese toepassings.

Die DKK is vir alle vlakke van tegniese ondervinding, nie net die kundige nie. Inleidende sessies is deurgaans in die konferensie geskeduleer om nuwe tegniese onderwerpe aan beide beginners en kundiges bekend te stel. Verkry meer besonderhede van www.arrl.org.za. Indien u 'n reis na die VSA beplan, hierdie is die tyd om dit te onderneem.

2013/2014 LEDEGELD

Tydens die 2013 AJV het die SARL-lede die nuwe begroting en ook die nuwe jaar se ledegelde goedgekeur. Nuwe lede word uitgenooi om nou aan te sluit en so vir Mei en Junie gratis lidmaatskap te ontvang in aanloop tot die nuwe jaar. Die Tesourier, Riaan Greeff, ZS4PR, het ook aangekondig dat lede wat nie die volle bedrag op een slag kan betaal nie, wel in 2 tot 4 paaiemente mag betaal. Dit kan slegs gedoen word deur dit vooraf te reël met 'n e-pos aan admin@sarl.org.za en te sorg dat die volle bedrag teen einde November ontvang is. Sodoende kan die lede steeds stemreg hê tydens 2014 se AJV. Die Tesourier daag die bestaande lede uit om nuwe lede te motiveer om aan te sluit, en hy sal dan poog om die ledegelde vir 2014 dieselfde te hou, of selfs te verlaag indien ons ledetal genoeg verhoog het om dit toe te laat. Die finansiële stand van die SARL is stabiel, en deur meer lede te werf kan dieselfde beplande uitgawes gedek word met groter lidmaatskapgetalle.

LIDMAATSKAPAANSOEK

Die SARL het die aansoek vir lidmaatskap ontvang van .
Ken Gurr, ZS6KN.

KOMPETISIENUUS

ZS3 Naelloop.
Die ZS3 Naelloop is vanmiddag vanaf 14:00 tot 15:00 UTC of 16:00 tot 17:00 SAT op die lug. Dit is 'n foon- en GG-kompetisie op die 40 meter band. 'n RS- of RST-verslag en provinsiale- of landsafkorting word uitgeruil.

ZS3-stasies kry 1 punt vir kontakte met stasies in ZS3 en 2 punte vir kontakte met stasies in ander ZS-roepgebiede of Suider-Afrikaanse lande. Alle ander stasies kry 2 punte vir 'n kontak met 'n stasie in ZS3 en 1 punt vir 'n kontak met 'n stasie in hul eie of ander ZS-roepgebiede (uitgesluit ZS3) of Suider-Afrikaanse lande. Kontakte met die Noord-Kaap ARK, ZS3NC, Namakwaland Aero Sportvereniging, ZS3FLY, die Sutherland ARK, ZS3OBS, en die Kalahari Karoo ARK, ZS3ARK, tel 5 punte elk. Slegs een kontak per stasie word toegelaat.

Logstate moet teen 13 Mei ingedien word en per e-pos aan zs3nc@qsl.net gestuur word. 'n Sertifikaat sal toegeken word aan die 1ste, 2de en 3de plekke in die kompetisie.


Die Antieke Draadloosvereniging van Suid-Afrika AM/ESB Buis-QSO-Geselligheid.
Hierdie geselligheid is ‘n foonkompetisie wat oor twee sessies, nl. Saterdag die elfde Mei en Sondag die twaalfde Mei 2013 gehou word.
Op Saterdagnamiddag van die elfde Mei tussen 15:00 en 19:00 SAST sal die amplitudeafdeling op beide die 40 m en 80 m bande plaasvind.

Op Sondagmiddag van die twaalfde Mei tussen 15:00 en 19:00 SAST sal die Enkelsybandafdeling op beide die 40 m en 80 m bande geskied.
Frekwensies op die 40 meterband is 7,053-7,100 MHz en op die 80 meterband is 3,603-3,650 MHz.

Kontakbevestiging is: roepsein, RS en opeenvolgende nommers beginnende by 001, plus die naam van die radio gebruik (byv. HT37 Tx).

Puntetelling is: buisradio 3 punt/kontak; Hibriede (buis/soliede staat); 2 punte/kontak; soliede staat 1 punt/kontak.
Versterker: buisradio 3 punte/kontak; Hibriede (buis/soliede staat) 2 punte/kontak; Soliede staat 1 punt/kontak.

Toepaslike sertifikate word toegeken aan die verwerwers van die eerste drie plekke in elke afsonderlike kategorie AM & ESB). ‘n 10jr. Gedenk QSL-kaart word ook uitgereik aan almal wat ‘n QSL met ‘n SASE na die AWA gestuur het.

Alle logstate moet gestuur word na: S.A. Antieke Draadloosvereniging, Posbus 12320. Benoryn 1504, of per e-pos aan andy.cairns@xsinet.co.za.

Sluitingsdatum vir insendings is 31 Mei 2013.
Raadpleeg die SARL se kompetisiehandboek vir enige navrae.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak aan die toeneem is. Daar is tans heelwat groterige sonvlekke en AR 1 731 het 'n onstabiele, deltaklas magneetveld wat genoeg energie huisves vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 102.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Goeie 10 m openinge gaan oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
5 Mei – Vanmiddag, ZS3 Naelloop 14:00 tot 15:00 UTC.
Van vandag – Besprekings oop vir SA AMSAT se jaarlikse ruimtesimposium in Pretoria op Saterdag 18 Mei 2012 by die Innovation Hub, besoek www.amsatsa.org.za.
20 April-20 Mei – Herdenkingstasie PB33BQ op die lug, besoek pa7da.jouwweb.nl/pb33q vir meer inligting.
13 Mei – Logstate vir ZS3 naellop moet in wees na zs3nc@qsl.net.
18 Mei - SA AMSAT Ruimtesimposium in die Innovation Hub, Pretoria.
15/16 Junie – Eerste naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke, registreer jou museumsatasie by www.ukradioamateur.co.uk/imw.
22/23 Junie – Tweede naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 025 en 17 570 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies word gedoen op senders wat deur Sentech beskikbaar gestel word.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George Honiball, ZS6NE, saamgestel en geredigeer is.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003