Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS, SONDAG 23 JUNIE 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:
MAANBONS VAN ANTARTIKA NA ENGELAND,
FCC-LISENSIE-EKSAMEN en
SAL ONS OORLEEF AS 'N SUPER CME DIE AARDE TREF?

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

MEER NUUS VAN OKOSA OOR 5-JAARLISENSIES

OKOSA het die SARL meegedeel dat hulle alle betalings vir lisensies ontleed het. Twee honderd en nege Radio Amateurs het R501 in 2012 betaal, maar het nie OKOSA in kennis stel dat hulle aansoek doen vir 'n 5-jaarlisensie nie. Hierdie jaar, 2013, was daar 34. OKOSA sal volgende week 5-jaarlisensie wat tot 2017 en 2018 onderskeidelik geld pos. Laat asseblief tyd toe vir die pos stelsel.

Die ondersoek het ook getoon dat daar hierdie jaar 823 radio amateurs nie hul lisensies hernu het nie. Hierdie lisensies sal gekanselleer word en OKOSA sal reëlings tref vir die dringende verseëling of konfiskering van toerusting, indien betaling nie onmiddellik gedoen word nie.

Radioamateurs word aangemoedig om hul eie betalingsrekords na te gaan. Dit is die lisensiehouer se verantwoordelikheid om die jaarlikse lisensiegeld, of 'n faktuur ontvang is of nie, te betaal. As jy nog nie jou 2013/2014 lisensie betaal het, doen dit nou sonder versuim. 'n Een-jaarlisensie kos R120 terwyl 'n 5-jaarlisensie R501 kos. Dui asseblief aan of jy vir 'n een of 5-jaarlisensie betaal. Jou lisensienommer en jou roepsein moet met jou betaling aangedui word.

MAANBONS VAN ANTARTIKA NA ENGELAND

Die wedervaringe van Craig Hayhow, VK0JJJ, oor weerkaatste radioseine van die maan tussen Antarktika en Engeland is in die Australiese Antarktiese Afdeling wetenskap nuusbrief beskryf.

VK0JJJ het 'n 742,000 kilometer verbinding gemaak toe hy 'n EME kontak met Peter Taylor G8BCG by Cornwall in Engeland, op 4 Mei bewerkstellig het. Twee nagte later het hy Bo Nilsson, SM7FJE, in Swede deur 'n ander EME spring gekontak.

Die nuusbrief beskou dit as 'n eerste van 'n Australiese Antarktiese stasie. Dit dui ook aan dat die toerusting en sagteware nou bewys is en dat meer EME kontakte gemaak sal word.

LANDGEBASEERDE TELEGRAAF IN INDIË EINDIG OP 15 JULIE

Newsline berig dat dit die einde van 'n era vir 'n ou, maar betroubare, vorm van kommunikasie in Indië is. Die Hindu koerant het berig dat die Telegraph diens op 15 Julie tot 'n einde sal kom.

Die eerste Indië se telegraafboodskap is lewendig tussen Calcutta en Diamond Harbour op 5 November 1850 gestuur. Dit was oor 'n afstand van sowat 50 kilometer. Die diens is in Februarie 1855 vir gebruik deur die algemene publiek met 'n radio-telegram stelsel tussen die Verenigde Koninkryk en Indië in 1927 gestig. Dit wil voorkom asof meer moderne tegnologie soos Onmiddelike Boodskapstelsels en sosiale media webwerwe die tol van nog 'n ouer kommunikasietegnologie ge-eis het.

FCC-LISENSIE-EKSAMEN

Die FCC, die agentskap wat die radiospektrum in die VSA reguleer, reik amateurradiolisensies aan inwoners en nie-inwoners uit. 'n Amerikaanse lisensie is nuttig vir gastelisensies in baie lande wat nie 'n ooreenkoms met Suid-Afrika het nie.

Die C82DX-operasie in Oktober bied 'n geleentheid om 'n lisensie-eksamen te hou, aangesien daar genoeg vrywillige eksaminators in die groep operateurs is. As daar genoeg belangstelling is, sal daar in middel-Oktober 'n eksamensessie in Pretoria gehou word.

Daar is drie lisensieklasse: Tegnikus, Algemeen en Ekstra. 'n Kandidaat kan al drie eksamens in een sessie skryf. Elke eksamen bestaan uit tegniese- en regulasievrae van toepassing op die betrokke lisensieklas. Een, twee of al drie eksamens is nodig, afhangend van die lisensie wat benodig word. 'n Paar bronne, insluitend die ARRL, verskaf geskikte studiemateriaal. 'n Suid-Afrikaanse lisensiehouer behoort nie te sukkel om die studiemateriaal baas te raak nie.

As jy belangstel, kontak asseblief Tjerk Lammers ZS6P of Chris Burger ZS6EZ. Deelnemers sal betyds van die datum en plek verwittig word.

SAL ONS OORLEEF AS 'N SUPER CME DIE AARDE TREF?

Ons Son is 'n geel ster wat uit 'n reuse-bal van verhitte plasma bestaan, sy magnetiese veld ossilleer en tree op as 'n dinamo wat die sonvlekke, sonvlamme en sterk magnetiese storms in die sonnestelsel skep. Wanneer 'n koronale massa-uitstraling (Coronal Mass Ejection, CME) uit die korona van die son ontstaan en na die Aarde toe straal word dit deur die Aarde se magneetveld gedeflekteer en veroorsaak dit ovale auroras bo die magnetiese pole van die aarde.

Wetenskaplikes beweer dat indien 'n super CME ons sou tref dit die aarde se magneetveld sal binnedring en verwoesting sal saai. Eerstens sal satelliete vernietig word en al die satelliet telekommunikasie en DSTV sou ophou funksioneer. Dan sou dit 'n baie hoë spanning in die kraglyne genereer en die transformators in die substasies uitwis en so volledige kragonderbrekings in stede en dorpe veroorsaak. Omdat waterpompe in stede nie nie sal werk nie sal stede oornag sonder water wees.

'n Sonstorm het die Aarde op 13 Maart 1989 getref en het kragonderbrekings in die hele provinsie van Quebec, Kanada veroorsaak. Wetenskaplikes hou tans met 'n toegewyde satelliet 'n wakende oog op die Son, terwyl hulle 'n skerm wat transformators tydens so 'n geleentheid kan beskerm probeer ontwikkel.

HAMNET WINTERUITDAGING

Die Hamnet Winteruitdaging is vanjaar 'n nasionale gebeurtenis. Dit sal vanaf 12:00 op Saterdag 3 Augustus tot 12:00 op Sondag 4 Augustus plaasvind. Een van die frekwensie wat sal gebruik word is 5260 kHz. Neem kennis dat slegs Hamnet spanne kan deelneem. Ander wat die frekwense moniteer word aangemoedig om al die aktiwiteite aan te meld en die logstate aan propresearch@sarl.org.za te stuur as insette tot die voortplantingnavorsingsprojek.

Hamnet groepe wat wil deelneem moet die volgende inligting aan die oefeningkoördineerder, Pierre Tromp, ZS1HF, by zs1hf@hamcity.co.za teen nie later nie as sluitingstyd Vrydag 19 Julie 2013 stuur:

. Beplande plek (naam en koördinate of 6-letter ruitverwysing)
. Naam van span en roepseine van die deelnemers (voorlopige lys vir deelname, veranderings moet voor die oefening aan die oefeningkoördineerder gestuur word)
. Aanduiding van watter spanlede NIE Hamnet lede is, indien enige
. Watter van die oefeningkanale jy beplan om te gebruik

Die oefeningkoördineerder kan jou inskrywing veto as jou gekose plek te naby aan 'n ander span of een van die erkende Emcomm sentrums is. Diegene wat vroeër aansoek het 'n beter kans om hul keuse van plek te bekom. Aangesien daar omvattende voorbereiding nodig is wanneer die lys van die spanne bekend is, kan geen laat inskrywings aanvaar word nie. Finale instruksies, insluitend die boodskappe wat oorgedra moet word, die plekke van die ander spanne en die kanale wat hulle gaan gebruik, sal aan al die spanne die gedurende die week voor die oefening gestuur word.

LIGANUUS

QSL KAARTE VIR LEDE
Die SARL het 'n generiese QSL-kaart wat jy verpersoonlik kan deur jou eie roepsein in te skryf beskikbaar gestel. Die kaartjies is beskikbaar in pakke van 100 teen R50, posgeld ingesluit. Betaal die bedrag vir die vereiste aantal QSL kaarte in die SARL rekening om te bestel. Volledige besonderhede en 'n illustrasie van die kaart kan ons op die lede-alleen gedeelte van die webwerf gesien word.

IARU HF KAMPIOENSKAPPE
Die SARL sal aan die HF-kampioenskap op 16 en 17 Julie by die Nasionale Amateurradiosentrum deelneem. OKOSA het die spesiale roepsein ZS9HQ vir die twee-dag gebeurtenis goedgekeur. Operateurs word benodig. Skakel Geoff op 082 546 5546 of stuur vir hom 'n e-pos aan contest@sarl.org.za om jou deelname aan te bied.
KLUBNUUS

SANDTON RAE KURSUS
Die Sandton Amateurradioklub sal sy RAE kursus vir die tweede semester van hierdie jaar aanbied. Die kursus sal hierdie Donderdag, 27 Junie om 19:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum begin met 'n inleiding tot amateurradio aangebied deur Colin, ZS6COL. RAE klasse sal op die volgende Donderdag, 4 Julie, om 19:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum begin. Vir meer inligting of om vir die kursus te registreer, kontak Greg Maynard, ZS6NY, Voorsitter van Sandton Amateurradioklub op 079 111 2850 of e-pos sandtonclubrae@mweb.co.za.

WESRAND SNUFFELMARK
Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 29 Junie 2013 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835, of Geoff, ZS6GRL by 082 546 5546.


KOMPETISIENUUS

DIE IARU HF-KAMPIOENSKAP
Die IARU HF-kampioenskap vind plaas op die tweede vol naweek van Julie en begin om 12:00 UTC Saterdag 13 Julie en eindig 12:00 UTC Sondag 14 Julie 2013. Beide enkel-en multi-operateur stasies mag die hele 24 uur tydperk werk. Die doel is om kontak met soveel ander amateurs, veral IARU ledevereniging HK-stasies, regoor die wêreld te maak deur middel van foon en GG op die 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter bande.

Die uitruiling vir IARU ledevereniging HK-stasies is 'n RS of RST verslag en amptelike IARU ledevereniging afkorting. IARU Internasionale Sekretariaat klubstasie, NU1AW, tel as 'n HK stasie. Lede van die IARU Administratiewe Raad en die drie IARU Streek-Uitvoerende komitees stuur 'n RS of RST verslag en "AC", "R1," "R2," en "R3", soos toepaslik. Al die ander stuur ‘n seinverslag en ITU sone en 'n volledige uitruiling moet aangeteken word vir elke geldige QSO.

Die volledige stel reëls kan gevind word by www.arrl.org/iaru-hf-championship

UITSLAE VAN DIE SARL DIGITALE KOMPETISIE
Sewe logstate, insluitende 1 kontrolestaat, is ontvang vir die SARL Digitale Kompetsie gehou op 26 Mei, en hier is die uitslae:-

1st - Jaco ZS6PX - 183 punte
2nd - Lukas ZS6LH - 141 punte
3rd - Shaun ZR2SAP - 120 punte
4th - Eddie ZS6BNE - 108 punte
5th - Theunis ZS2EC - 51 punte
6th - Francois ZS6FDX - 12 punte

Kontrolelogstaat: Geoff ZS6GRL

Dankie aan almal wat logstate ingestuur het en geluk aan Jaco.

UITSLAE VAN DIE ARRL 10 METERKOMPETISIE
Sestien Suider-Afrikaanse stasies verskyn in die uitslae van die 2012 ARRL 10 Meter Kompetisie. Sommige van hulle het baie goed gevaar in hul klasse van deelname.

Andrew Thompson, V51YJ, is die kontinentale leier - Afrika: GG alleen lae krag en 'n tweede plek in die Top Tien - DX: GG alleen lae krag Karel Bezuidenhout, ZS6WN, is die kontinentale leier - Afrika: Gemengde modus lae krag en 'n tweede plek in die Top Tien - DX: Gemengde modus lae krag Barry Nugent, ZS2NF, bereik 9de plek in die Top Tien - DX: Gemengde modus lae krag Vidi la Grange, ZS1EL, is die kontinentale leier - Afrika: Gemengde modus hoë krag en behaal 'n 5de plek in die Top Tien - DX: Gemengde modus hoë krag Gary Potgieter, ZS5NK, is die kontinentale leier - Afrika: Foon alleen hoë krag Noel Hammond, ZR6DX, is die kontinentale leier - Afrika: Multi-operateur lae krag

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is 'n moontlikheid van C-klas fakkels en 'n geringe kans vir 'n M-klas gebeurtenis.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 72.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die
15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

20 – 24 Junie – QSO-geselligheid begin om 00:00 UTC op Donderdag 20 Junie 2013 en eindig om 00:00 UTC op Maandag 24 Junie 2013.
22/23 Junie - Tweede naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke.
1 Julie - QSO-geselligheid logstate moet ingedien wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vetalings deur Richard Peer,
ZS6UK, saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003