Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 21 JULIE 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

STIL SLEUTELS

Ben de Waal, ZS6ET, is Dinsdag 16 Julie 2013 oorlede na 'n beroerte waarvan hy nie kon herstel nie. Hy was 'n jarelange vriend vir vele amateurs in die Vaaldriehoek en vir jare die aktiewe nuusleser vir die Sasolburg Radioklub. Sy vlytige sę-goed het gesorg dat almal deelgeneem het aan vele tegniese praatjies.

Met leedwese word ook die afsterwe van Ams Amenga, ZS6YV, op 17 Julie 2013 na 'n lang stryd teen kanker aangekondig. Ons sal Ams onthou as 'n ywerige amateur en iemand wat altyd gewillig was om hulp te verleen. Hy laat sy LV Maxie, ZS6BJT en twee seuns, Eltjo en Johan agter.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL STAL BY ESKOM EXPO VIR JONG WETENSKAPLIKES UIT
HIER KOM DIE SON ... EN DAAR GAAN DIE SON
DIE TRANSATLANTIESE 144MHZ UITDAGING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL STAL BY ESKOM EXPO VIR JONG WETENSKAPLIKES UIT

Die Suid-Afrikaanse Radioliga sal van 25 tot 28 September 2013 by die ESKOM Expo vir Jong Wetenskaplikes in Boksburg ‘n uitstalling hou. Die uitstalling sal beide ‘n BHF en HF stasie insluit.

Die SARL doen ‘n beroep op jong radioamateurs om die uitstalling en stasies te beman en so aan hulle gelykes die opwindende wereld van amateurradio bekend te stel. Amateurs jonger as 25 word gevra om by die Expo met ander jongmense hul ervarings te kom deel. Om jou deelname vir hierdie opwindende jeugprojek aan te bied moet jy asseblief jou kontakbesonderhede stuur aan youth@sarl.org.za.

Die ESKOM Expo vir Jong Wetenskaplikes vind al vir meer as 30 jaar plaas en word beskou as die beste plek vir die Suid-Afrikaanse jeug om hulle vindingrykheid op die veld van wetenskap en tegnologie te demonstreer.

Die Expo is in 1980 deur wyle Dr Derek Gray begin en het sedertdien vir leerders tot graad 12 met ‘n belangstelling in die Wetenskap, Tegnologie, Ingeneurswese en Wiskunde die geleentheid gebied om hulle projekte uit te stal en beoordeel te word op grond van hulle vaardigheid en entoesiasme. Die Expo is verbind tot die ontwikkeling van ‘n sterk basis van vaardige Suid-Afrikaners op hierdie gebied.

Meer as 60 000 leerders uit 26 streke landswyd neem met hulle wetenskapsprojekte, navorsing, ontwerp en vindingrykheid aan die streeks-Expos deel met meer as ‘n duisend wat by die finale Expo betrokke is. Leerders het die geleentheid om hul werk met professionele weteskaplikes, beoordelaars, onderwysers, ander leerders, ouers en belangstellendes te bespreek. Nie alleen word leerders se bewustheid oor die wonders van die wetenskap bevorder nie, maar die Expo sal ook hul kennis en wetenskaplike horison verbreed.

Die SARL sal ook hierdie jaar by die Expo ‘n spesiale toekenning vir die beste inskrywing op die gebied van elektronika maak.

RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE VOLGENDE SATERDAG IN PORT ELIZABETH

Daar is slegs ‘n paar dae oor om vir die Radiotegnologie in Aksie Simposium wat op 27 Julie by die Nelson Mandela Metropolitan University in Port Elizabeth gehou word te bespreek. Die program en besprekingsbesonderhede kan op www.sarl.org.za gevind word of per e-pos bekom word deur e-pos te stuur aan rta@sarl.org.za met RTA PE as die onderwerp.

Die program bevat interessante aanbiedings en praktiese demonstrasies soos die bou van ‘n instemmer vir programmatuur-gedefinieerde radio asook die afstandsbeheer van ‘n stasie. Riaan Green, ZS4PR, sal vanaf die RTA kontakte deur die stasie by die Nasionale Amateurradiosentrum maak.

Besprekings word verkies aangesien dit die spyseniering sal vergemaklik en sal verseker dat die CD, boustel en multimeter beskikbaar sal wees. Besprekings sluit teen middag op 25 Julie. Instapregistrasie sal op die Saterdagoggend plaasvind.

Padverbouings vind tans op University Way plaas. Dit beteken dat die NMMU Suid-Kampus se ingang gesluit is en toegang slegs deur die Noord-Kampus of die Suid-Kampus se Marineweg ingang naby Cape Recife / SAMREC moontlik is.

‘n Kaart en aanwysings na die lokaal is beskikbaar deur die PE RTA bladsy se skakel op www.sarl.org.za.

HIER KOM DIE SON - EN DAAR GAAN DIE SON

Huidiglik is die die son by sy verwagte hoogtepunt van die 11 jaar siklus – ons “dag-stęr” was redelik lusteloos met sonvlekke en hul effek op die radiogolwe hier op aarde. Radio Amateur vir “News-line”, Norm Seelym, KI7UP, verduidelik: “Navorsers voorspel dat vanjaar se sonmaksimum uitstraling die swakste vertoning in nagenoeg 100 jaar is en dat dit die volgende eeu dalk nog swakker kan wees.” Dit is volgens wetenskaplikes wat die sonsiklusse en hul effek op ons planeet Aarde, bestudeer.

Een van die wetenskaplikes is David Hathaway van NASA se “Marshall Space Flight Centre” in Huntsville, Alabama. Tydens ‘n telefoonkonferensie vroeg in Julie, het hy aan verslaggewers gesę dat ons tans kleiner sonmaksimums belewe in die Ruimte Eeu. Hulle voorspel ook dat die volgende son maksimum, siklus 25, selfs nog stiller kan wees.

Die son het nagenoeg elke 11 jaar ‘n vasgestelde siklus van vermeerderende en verminderende sonvlekke. Die huidige siklus bekend as “Solar Cycle 24”, is reeds sedert 2011 aktief. Die hoogtepunt was voorspel vir 2013, maar sedertdien is swakker sonvlekke waargeneem in vergelyking met die maksimums van die afgelope paar siklusse.

Sonvlekke is die tydelike, donker gedeeltes op die oppervlak van ons eie stęr wat blykbaar veroorsaak word deur interaksie tussen die son se plasma en sy eie magnetiese veld. Hulle is ook die bron van die sonfakkels en Koronamassa uitbarstings, wat op hul beurt ge-aktiveerde deeltjies die ruimte instuur. Die sonfakkels wat die Aarde tref, het die potensiaal om ernstige skade aan sateliete en aan te rig en kan ook elektrisiteitsnetwerke affekteer wat kragvoorsiening kan be-invloed.

Sonfakkels kan ook radio-uitsendings affekteer want dit veroorsaak korttermyn onderbrekings in hoë frekwensie netwerke en veroorsaak ook verruklike Aurora’s op die horison van die planeet se pole, wat radioamateurs en ander instansies lank reeds gebruik in voortplantingseksperimente.

DIE TRANSATLANTIESE 144MHZ UITDAGING

Daar is tans drie 144 MHz bakens wat oor die Atlantiese Oseaan seine uitstuur om vroegtydig waarskuwing van “Tropo Ducting Propagation” oor duisende kilometres te verskaf. Hierdie bakens is: WA1ZMS op 144,428MHz, GB3WGI op 144,487MHz en CS4BFA op 144,408MHz. Spore van GG seine is van die Amerikaanse baken gehoor en dit is daarom wenslik om die “William Hepburn Ducting Forecasts” dop te hou.

Daar is twee pragtige Brendon Trofee in Dublin wat deur die “Irish Transmitters Society” aan die eerste twee amateurs wat op 144MHz ‘n kontak oor die Atlantiese Oseaan bewerkstellig oorhandig sal word. Wie sal die eerste ZR/ZS stasie wees wat ‘n Transatlantiese kontak op enige modus bewerkstellig?

Jare gelede het Pieter Jacobs, ZR1AEE (nou V51PJ) uit Kaapstad ‘n reeks toetse met PY2ANE onderneem. Slegs stukkies en brokkies is vanaf Brasilie gedekodeer met die gebruik van die ouer weergawe WSJT digitale modus.


HABEX WEER IN DIE LUG

Die High Altitude Balloon Experiment, of te wel HABEX, gaan binnekort weer hoog vlieg.

Ons beoog om ons huidige rekord van 34 000 meter te verbeter. Indien u 'n loonvrag op die ballon wil plaas of deelneem aan die projek kontak ons by zs6cog@gmail.com. Alternatiewelik besoek die HABEX webblad by www.habex.za.net vir meer inligting oor HABEX.

Die volgende HABEX vergadering sal binnekort op hierdie nasionale bulletin aangekondig word.
LIGANUUS

AANSOEK OM LIDMAATSKAP
Aansoek om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
Gert Connoway, Luisteraarslid

Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

Tot op datum het meer as 900 lede hulle lidmaatskap hernu.

KLUBAFFILIASIE BY DIE SARL
Die SARL is nou in 'n nuwe boekjaar en ledegeld vir die nuwe boekjaar was betaalbaar op 30 Junie.
Alle klubaffiliasies het ook verval aan die einde van die boekjaar en moet hernu word. Affiliasie vir klubs is gratis. Om die affiliasie te hernu, is dit slegs nodig om die vorm wat op die web beskikbaar is in te vul en te stuur aan admin@sarl.org.za. Dit word gedoen om te verseker dat die SARL se inligting oor die klubs op datum bly.

Daar is baie voordele verbonde aan affiliasie, moet nie versuim om die vorm in te stuur nie.


KLUBNUUS

BORDER RADIO CLUB VERKIES NUWE KOMITEE
Die Border Radio Club in Oos Londen het onlangs sy AJV gehou en ‘n nuwe komitee verkies. Die komitee is soos volg:

Voorsitter - Anthony Forteath, ZS2BQ
Sekretaris/Ondervoorsitter - Ivan Newman, ZS2ILN
Tesourier - Aloma Basson, ZR2AW
Komiteelid - Andrew Middleton, ZS2EL
Komiteelid - Hennie Coetzee, ZS2HC

CENTURION RADIO AMATEUR CLUB SE NUWE KOMITEE
Tydens die AJV wat op 13 Julie 2013 gehou is, is die volgende lede eenparig tot die komitee verkies:

Voorsitter - Pam Momberg, ZS6APT
Ondervoorsitter - Gawie Basson, ZS6GJJ
Sekretaris - Billy Strumpher, ZS6WPS
Tesourier - Pam Momberg, ZS6APT
Tegnies - Johan Keulder, ZS6CAQ

KOMPETISIENUUS

160M KOMPETISIE
Uitslag van die 160m kompetisie wat van 20 tot 24 Junie 2013 gehou is. Twe-en-sestig stasies het deelgeneem en vyf logstate is ontvang. Alhoewel die meerderheid kontakte op ESB was, was daar ook ‘n paar op GG. Johann van Zijl, ZS4DZ, het selfs daarin geslaag om met ZS8Z kontak te maak.

Die uitslae is soos volg:
1ste Lukas, ZS6LH - 208 punte
2de Johann, ZS4DZ - 169 punte
3de Christo, ZS3R - 159 punte
4de Allan, ZS1LS - 59 punte

Een kontrolelogstaat is ingedien. Dankie aan almal wat hulle logstate ingedien het.

IARU HF KAMPIOENSKAP – ZS9HQ
Ons dank aan Joop ZS6C, Theunis ZS2EC en Geoff ZS6GRL vir hulle tyd en moeite om ZS9HQ op die lug te kry. ‘n Totaal van 212 kontakte, waarvan 100 GG, is gemaak.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Sonvlek AR1793 het 'n beta-gamma magnetiese veld en huisves genoeg energie vir M-klas sonfakkels. Al die ander sigbare sonvlekke is egter stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 63.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Julie – RTA in Port Elizabeth
3 - 4 Augustus - Hamnet Winteruitdaging
30 Augustus – Oos Rand Radion Tak AJV 14:00

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003