Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 11 AUGUSTUS 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat Boland Amateurradioklub die afsterwe van Pieter Jacobs, ZS1UH, op Woensdagmiddag 7 Augustus moet aankondig.

Aan sy LV Johanna en kinders ons innige meegevoel.

(POUSE)


IN DIE NUUS VANDAG:

SON MAGNETIESE POLE GEREED OM TE KEER

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE SIMPOSIUM - GAUTENG VOLGENDE

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE IN GAUTENG

AMATEUR TV OP PAD NA DIE ISS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SON MAGNETIESE POLE GEREED OM TE KEER

Volgens metings van NASA=gesteunde sterrewagte, is die son se groot magnetiese veld gereed vir omswaai. Die Son se magnetiese veld verander ongeveer elke 11 jaarin polariteit. Dit gebeur op die hoogtepunt van elke sonsiklus, wanneer ons tuisster se interne magnetiese veld se kragopwekker vanself die middelpunt van 'n sonkragsiklus aandui.

Todd Hoeksema is die direkteur van Stanford se Wilcox Solar Observatory wat een van die min is wat die son se polêre magnetiese velde monitor. Hy sê dat ons nie meer as 3 tot 4 maande weg van 'n volledige veldomkeer is nie en dat hierdie verandering ‘n rimpeleffek regdeur die sonnestelsel sal hê. Dit is as gevolg van die son se magnetiese invloed, ook bekend as die Heliosfeer, wat strek tot miljarde kilometer buite die klein planeet Pluto en amper tot die interstellêre ruimte.

Wanneer sonkragfisici praat oor sonkragveldomswaai verwys hulle ook na iets wat bekend staan as die “Son se huidige blad”. Dit is 'n uitgestrekte oppervlakte wat na buite uitstrek van die ewenaar af waar die magneetveld stadig roteer en 'n elektriese stroom veroorsaak. Tydens die veld se omswaai, verskyn daar golwe op die blad. Wanneer die aarde om die son wentel, volg dit die in en uit dalings van die huidige blad. Oorgange van die een kant na die ander kan stormagtige ruimteweer opwek in die ruimte rondom ons planeet, wat nou op sy beurt radiovoortplanting tot 'n mate kan beïnvloed.

Wanneer die veldommekeer nader kom, toon die data van die Wilcox Solar Observatory dat die son se twee hemisfere uit sinkronisasie is. Volgens sonfisikus Phil Scherrer het die son se noordpool reeds verander, terwyl die suidpool jaag om in te haal. Binnekort sal beide pole omgekeer wees, en dan sal die tweede helfte, of afdraande van die sonsiklus aan die gang wees. Vir amateurradio beteken dit waarskynlik dat goeie DX-openinge, veral op die hoër bande minder kan word met lang tye tussenin.

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE SIMPOSIUM - GAUTENG VOLGENDE

Die RTA in Gauteng sal op 31 Augustus 2013 by die Innovation Hub, Pretoria plaasvind. Dit is baie moderne vergaderplek, maklik bereikbaar vanaf die N1 hoofweg. Neem die WNNR-afrit en vind die toegangspad oorkant die WNNR-ingang. Besprekings vir hierdie gebeurtenis is nou oop. Kry al die besonderhede by www.sarl.org.za, kies die Radio Tegnologie in Aksie skakel op die linkerkant van die tuisblad.

Die eerste byeenkoms is verlede naweek in Port Elizabeth gehou en was 'n groot sukses. Teken 14 September vir die RTA in Durban aan. Besprekings vir die Durbanse RTA sal volgende week open. Die simposium in Kaapstad sal vroeg in Oktober gehou word.

NEEM DEEL AAN DIE SARL SE HF-KOMPETISIE

Die SARL Digitale wedstryd sal plaasvind op 18 Augustus en die GG HF kompetisie op 25 Augustus. Die wedstryde duur van 13:00 tot 16:30 UTC (15:00 18:30 SAT). Die bande wat gebruik kan word, is 80, 40 en 20 meter. Hierdie wedstryde is nie net gemik op die individue nie, maar klubs kan ook deelneem. Dit is 'n ideale geleentheid om jou klublede te betrek, maak dit ‘n klubgebeurtenis.

Daar is verskeie trofeë wat op die algemene jaarvergadering uitgedeel word aan die wenners van die individuele wedstryde in die onderskeie kategorieë.

Dit is nog nie al nie, daar sal ook 'n gelukkige trekking wees vir elk van die drie kompetisies. Die wenners sal getrek word uit die logstate wat ingedien is, dus al het u selfs min kontakte gemaak, stuur nogtans u logstate in. Dit is al wat nodig is om 'n 2013 ARRL Antennahandboek as prys te wen.

Indien u 'n elektroniese logstaat hou, wat u in hierdie dag en eeu behoort te doen, is dit maklik om dit in Cabrillo of ander formaat in te dien. 'n Excel sigblad is ook geskik vir diegene wat nie oor 'n logprogram beskik nie. Logs moet teen 12 Augustus ingedien word en gestuur word aan zs4bfn@netactive.co.za.

Indien u sertifikate jaag, sal hierdie kompetisies help om u WAZS-sertifikate te verkry. Dus, haal u toerusting uit, stof dit af en neem deel aan die pret wat kompetisies bied.

AMATEUR TV OP PAD NA DIE ISS

'N Japanese HTV-4 vragskip met amateur TV-apparaat aan boord is suksesvol op Saterdag, 3 Augustus na die Internasionale Ruimtestasie gelanseer.

Na inwerkingstelling daarvan is die primêre doel van die amateur TV om kontakte tussen die ruimtevaarders op die ISS en studente op skool te bewerkstellig deur die toevoeging van intyd video tot die huidige spraak-QSO’s in die Arissprogram.

Die Europese Ruimteagentskap se Columbusmodule van die ISS sal die gasheer wees met 2,4 GHz videouitsending bykomend tot die bestaande 2 meter FM amateurradiostasie. Die nuwe toerusting kan beelde uitsaai van die ISS tydens die skoolkontake, of ander aardwaardse uitsendings van vorige videoopnames tot 24 uur per dag.

Die IARU se Frekwensiekoördineringspaneel vir Amateursatelliete het frekwensies van 2 422,0 MHz en 2 437,0 MHz vir gebruik deur die amateut TV-projek aangekondig. Dit word tans beplan om die uitsendings met behulp van die DVB S seinformaat en met 10 watt krag te doen. Meer inligting kom later oor hierdie projek.

KLUBS EN LEDE

Tot op datum het 1 238 individuele lede hulle lidmaatskap van die SARL hernu.

Klubaffiliasie by die SARL is gratis en tot dusvêr het die volgende klubs hulle affiliasie vir die 2013 - 2014 jaar hernu:
. Bloemfontein Amateurradio-klub (ZS4BFN),
. Border Radio Club (ZS2BRC),
. Centurion Amateur Radio Club (ZS6CEN),
. Durban Amateur Radio Club (ZS5D),
. Magalies Radioamateurklub (ZS6MRK),
. Pretoria Amateurradio-klub (ZS6PTA),
. Southern Suburbs Amateur Radio Club (ZS6SSC),
. Soutpansberg Amateurradio-klub (ZS6PB),
. Vaal Triangle Amateur Radio Club (ZS6VTB),
. Vrystaat Amateurradio-klub (ZS4B),
. Kempton Park Amateur Radio Tegniese Vereniging (ZS6KTS).

Klubs wat in die vorige boekjaar geaffilieer was, en wat nie beduidende veranderings aan hulle konstitusie gemaak het nie, hoef slegs die klubaffiliasievorm in te vul en voor te lê.

VLIEGTUIGKAATSING OP 50 EN 144 MHz

Mike Bosch, ZS2FM, rapporteer dat daar onlangs baie besprekings plaasgevind het en belangstelling getoon is in vliegtuigkaatsing op die SARL se BHF-forum. Daar was ook baie verslae oor radioseine wat gehoor is en kontakte wat via vliegtuigkaatsings gemaak is. Die vêrste tweerigtingkonjtake van 430 – 470 km, was op 144 MHz bereik deur "Van" v.d. Watt, ZS6LW, in Germiston met John Fielding, ZS5JF, en Ben Smit, ZS5QM, in Natal.

Die baken, ZS6JON, op 50,050 MHz was dikwels op die WSJT-waterval gesien en in Port Elizabeth gehoor wanneer die PE/Jhb.-vliegtuig die Oranjerivier oorsteek. Hierdie vliegtuigweerkaatste seine duur vir 'n minuut of langer en kon maklik vir ESB-kontakte gebruik gewes het. Dit is hoog tyd dat ons in Suid-Afrika begin probeer om langafstandkontakte d.m.v. vliegtuigweerkaatste seine te bewerkstellig soos in ander lande soos Australië reeds gedoen word. lees meer oor vliegtuigkaatsing op die SARL se BHF-forum.

KLUBNUUS

VUURTORINGNAWEEK 17 TOT 18 AUGUSTUS

Die Boland Amateurradioklub gaan volgende naweek, soos jaarliks die gebruik is, die mees Suidelike vuurtoring in Afrika op die lug plaas met die roepsein ZS1BAK. Die stasie beoog om vanaf Vrydagaand tot Sondagoggend vanaf L'Agulhas uit te saai. Luister uit vir die mees Suidelike stasie in Afrika.

Die Overberg Amateurradioklub gaan ook stasies oprig, een by Danger Point met roepsein ZS1OAR/L en Sam, ZS1OR, as operateur en die ander een by Kaap Infanta met roepsein ZS1AZ/L en Andre,ZS1AZ, as operateur. Besoekers is welkom by Danger Point maar by Kaap Infanta is daar nie toegeng vir die publiek nie.

Aktiwiteite sal op 80, 40 en 20 m wees.

Die Wes-Rand Amateurradioklub gaan hulle Lente Snuffelmark hou op die 7de September. Spaar nou al julle geldjies en kom kyk vir 'n winskoop of twee. Ontmoet ook ou vriende en kom maak nuwe vriende. Boereworsrolletjies en 'n verskeidenheid drinkgoed sal beskikbaar wees.

Maak skoon die motorhuis en bring al die ou goed en nuwes om te verkoop.

Tyd: 12:00
Plek: WRARK, Krotonstraat, Weltevredenpark.

Vir verdere inligting kontak die sekretaris, Noel Hammond, op zr6dx@iafrica.com of enige komiteelid op zs6wr.club@gmail.com.

Sien julle almal daar.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Al die sigbare sonvlekgroepe is stabiel met bykans geen kans vir sonfakkels nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 49.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Kort 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Augustus – Vandag, die Hamnet Winteruitdaging steeds aan die gang.
12 Augustus – Logstate vir die SARL HF-foonkompetisie moet in wees na zs4bfn@netactive.co.za.
17 Augustus – Logstate vir die SARL JD-naelloop moet in wees na zs4bfn@netactive.co.za.
17-18 Augustus – Internasionale vuurtoringnaweek,
30 Augustus – Oos-Rand Radiotak AJV om 14:00.
31 Augustus - RTA vir Gauteng in die Innovation Hub, Pretoria.
07 September – Wes-Rand lente snuffelmark om 12:00 by klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003