Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 1 DESEMBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

TSHEPISOSAT - JY KAN HELP MET DIE VERSAMELING VAN TELEMETRIEDATA
MEER AS 300 AMATEURS HET REEDS AANSOEK GEDOEN OM HERNUWING VAN HUL 2014 LISENSIES
NUWE DATUM VIR SARL@HOME WAT FOKUS OP OPPERVLAKMONTERING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

TSHEPISOSAT - JY KAN HELP MET DIE VERSAMELING VAN TELEMETRIEDATA

Die F'SATI Satellietspan aan die Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie benodig jou ondersteuning met die versameling van telematriedata. "We encourage radio amateurs to listen for the UHF beacon. It will be a great help if they can log the raw data from the TNC and send it to Leon at ldutsteenkamp@gmail.com", het Francois Visser gesê. "The team will be going through a commissioning process for the next two weeks to make sure everything works fine. Then we'll turn on the ADCS to command the satellite into a spin, where after the HF antenna will be rolled out. Only then we'll turn on the beacon. So far we have tested the downlink and uplink, checked system status, uploaded command scripts and all looks nominal. Battery voltage varies between 7.6 and 8.2 V, and on-board temperature between 12 and about 26 degrees C. The telemetry also shows that the ISIS antennas deployed on the first try".

Hier is die benaderde oorgangstye vir vandag, Sondag 1 Desember 2013, soos deur SA AMSAT se President, Dave Long, ZS5FR, verskaf is. Die voorspelling is vir Durban. Op ander plekke in die land moet daar ‘n paar minuter vroeer geluister word. Sondag: 08:32 - 08:40, 10:05 - 10:18, 22:01 - 22:14, en 23:38 - 23:50 plaaslike tyd.

TYD RAAK MIN VIR DIE VIDEOKOMPETISIE

Die Suid Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust nooi videograwe om deel te neem aan ‘n kompetisie waar aantreklike pryse op die spel is. Wees skeppend met jou kamera, of selfs slimfoon, en skiet ‘n kort video van ‘n opwindende Amateurradio aktiwiteit. Jy kan die wenner wees van ‘n 5 watt GG MFJ 40 radio ter waarde van R1300 of een van vele ander pryse.

Die videoformaat kan AVI, WMV of MPEG met ‘n minimum resolusie van 320 X 240 wees. Die lengte van die video moet tussen 3 en 5 minute wees. Die onderwerp kan enige iets wees wat die vreugde en opwinding van amateurradio weergee.

Inskrywings moet per KS of DVS gedoen word en nie per e-pos nie. Stuur jou video aan: Amateurradio Videokompetisie, Posbus 90438, Garsfontein, 0042. Die sluitingsdatum is 31 Desember 2013 en die wenners sal vroeg in 2014 aangekondig word. Meer inligting is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

MEER AS 300 AMATEURS HET REEDS AANSOEK GEDOEN OM HERNUWING VAN HUL 2014 LISENSIES

ICASA het die SARL ingelig dat amateurs wat die houers van eenjaarlisensies is voor 31 Desember vir hernuwing aansoek moet doen. Tot op hede het meer as 300 amateurs reeds hulle aansoeke ingedien. Regulasie 9 stipuleer dat radioamateurs jaarliks vir hernuwing aansoek moet doen tensy hulle houers van ‘n multijaarlisensie is, in welke geval daar teen dioe vervaldatum aansoek gedoen moet word.

ICASA sal hernuwingsfakture gedurende Januarie uitreik. Indien jy ‘n eenjaarlisensiehouer is moet jy die nuwe vorm B wat op die Liga se webwerf beskikbaar is voltooi en dit voor 31 Desember 2013 per e-pos stuur aan dkuhrau@icasa.org.za.

NEEM N KLEIN 50 OF 144 MHZ STEL SAAM OP VAKANSIE VIR SPORADIESE-E TOETSE

Die somervakansie breek aanstons aan en baie amateurs sal met vakansie gaan en kamp. Ons is tans in die Sporadiese-E seisoen van die Suidelike halfrond. Oorweeg om ‘n klein 50 MHz of 144 MHz stel asook ‘n dipool of vertikale antenna met jou saam te neem aangesien polarisering nie krities is nie.

‘n ZL stasie het gewys dat dit moontlik is om 2017 km met slegs 25 watt en ‘n vertikale antenna te werk. Dit beteken dat dit moontlik is om baie beter te doen op 50 en 70 MHz Es met laekrag stelle.

Wees ook bedag op die DX bakens soos Q9ID op 50,021 MHz te Kinshasa, V51YJ op 50,028 MHz te Windhoek en Z21SIX op 50,0016 te Harare sowel as die reeks FM stembakens op 50,450 MHz.


LIGANUUS

NUWE DATUM VIR SARL@HOME WAT FOKUS OP OPPERVLAKMONTERING

Die SARL@Home byeenkoms wat gister sou plaasvind is herskeduleer tot 18 Januarie 2014 om konflik met die loods van Habex en die Wesrand Amateurradioklub se snuffelmark te voorkom.

Bespreek nou vir die volgende SARL@Home en oorwin jou projekvrees met oppervlakmonteringstegnologie. Die projek sal deur Frik Wolff, ZS6FZ by die SARL Nasionale Amateurradiosentrum op 18 Januarie 2014 vanaf 09:00 - 13:00 aangebied word.

Bespreking is noodsaaklik aangesien slegs 20 deelnemers gehuisves kan word. Jy sal jou eie soldeerstasie met dun punt, handgereedskap en vergrootglas moet voorsien. Die SARL het ook 'n spesiale aanbieding op vergrootglase indien jy een sou wou aankoop. Volledige besonderhede is op die registrasievorm op die SARL webwerf beskikbaar en jy kan ook die status van jou berspreking daar bevestig.


OPROEP OM VOORLEGGINGS VIR 2014 RTA

Die SARL het met die beplanning van 2014 se RTA’s wat in al die hoofsentra vanaf Julie gehou sal word begin. Hierdie is dan ‘n versoek vir die aanbied van voorleggings om tydens die RTA’s aan te bied en ook op die Simposium KS ingesluit te word. Indien u ‘n onderwerp het om by al die RTA’s of slegs u plaaslike een aan te bied word u versoek om ‘n samevatting daarvan teen 15 Desember aan ons te stuur na rta@sarl.org.za Sluit asseblief u kontakbesonderhede in.

Die datums vir die 2014 RTA is nou op die SARL webwerf beskikbaar. Die Liga het skrywes aan klubs in die Vrystaat gestuur met die oog op die byvoeg van Bloemfontein by die sentra vir RTA’s. Na ontvangs van die terugvoering sal ‘n finale besluit hieroor geneem word.

RADIO ZS IN DIE POS

Die November/Desember uitgawe van Radio ZS sal jou binnekort per pos bereik. Dit is reeds op die SARL webwerf by die lede-alleen bladsye beskikbaar.

Hierdie uitgawe sluit ‘n artikel deur Peter Hers ZS6PHD, "Care and Feeding of Deep Cycle Batteries" in. Mike Bosch is terug met "The World of VHF, UHF and Microwaves", en Hans van de Groenendaal vra: "Has amateur radio turned 360°? Ander artikels sluit "A Simple HF-Portable Antenna", en “Rapid Deployment Amateur Radio, Why RaDAR?” in.

SARL KANTOOR SLUIT VIR SOMERVAKANSIE

Die SARL kantoor sal vanaf 12 Desember tot 13 Januarie 2014 gesluit wees. Gedurende hierdie tyd kan dringende sake per e-pos gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

KLUBNUUS

HIBISCUSKUS AMATEURRADIOKLUB AKTIVEER HERHALERS

Die Hibiscuskus Amateurradioklub was doenig aan die Suidkus van KZN en het nou twee herhalers geskakel om sodoende dekking vanaf Durban tot Port Edward te bied.

Die frekwensies is 145,712.5 met ‘n 88.5 toon wat Durban tot Hibberdene bedien en 145,737.5 met ‘n 88.5 toon wat vanaf Hibberdene tot Port Edward dek. Daar is ook ‘n 70cm herhaler op 438,900 met ‘n 1,76MHz frekwensiegaping.

KOMPETISIENUUS

DIE SARL DIGITALE KOMPETISIE

Die doel is om soveel moontlik kontakte tussen radio amateurs in Suider-Afrika te maak met PSK31 / RTD. Die kompetisie is oop vir alle radio amateurs in Suider-Afrika soos per Algemene Reël 1.b. Die kompetisie is vanmiddag, 1 Desember 2013 vanaf 13:00 - 16:00 UTC op die lug met werking op 80 meter (3 580 - 3 600 kHz), 40 meter (7 040 - 7 060 kHz) en 20 meter (14 070 - 14 099 kHz). PSK31 is verkies aan die onderpunt van die gespesifiseerde frekwensies, terwyl RTD verkies word aan die bopunt van die gespesifiseerde frekwensies.

Neem asseblief kennis dat HSB ten alle tye gebruik moet word. Verwys na Algemene Reel 16. 'n Stasie mag twee keer op elke band gekontak word, een keer op RTD en een keer op PSK31. 'n RST verslag plus 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin word uitgeruil.


HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteits vlak besig is om nog verder te daal. Nie een van die sonvlek groepe wat van die aarde af sigbaar is produseer enige ernstige sonfakkels nie alhoewel twee van die sonvlekke besig is om stadig te groei.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 70.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die nuwe webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

14 – 15 Desember - ARRL 10 meterkompetisie
31 Desember - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo.
18 Januarie 2014 – SARL@Home
28 Februarie 2014 - Sluitingsdatum vir Leerling Opstelkompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings, saamstelling en redigering deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003