Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 15 DESEMBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

STIL SLEUTEL

Uit die Noord-Wes Amateurradioklub word berig dat Flip Fourie, ZS6FF, van Orkney op Woensdag 11 Des 2013 oorlede is. Ons dra ons meegevoel aan sy eggenote, familie en vriende oor.

(Stilte)

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

MADIBA ONS HULDIG JOU
KORTROETE SOMERSONSTILSTAND VOORTPLANTING
IONOGRAMSTUDIES BEVESTIG DIE 5 MHZ BAND SE BOTOON

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

MADIBA ONS HULDIG JOU

Vandag is inderdaad ‘n hartseer dag met die te rusting legging van oudpresident Nelson Mandela.

Die Suid Afrikaanse Radioliga, sy Raad en lede deel in die afsterwe van Suid-Afrika se grootste staatsmanne, Nelson Rolihlahla Mandela. Laat ons onthou en aangemoedig word deur die baie positiewe dinge waarvoor hy bekend is. Terwyl ons oor sy dood treur vier ons sy lewe en die lesse wat hy ons en die wereld geleer het.

Die SARL sal spesiale geleentheidstasies van regoor Suid-Afrika bedryf met die roepsein ZS9MADIBA. SARL lede kan aansoek doen om tydgleuwe om ZS9MADIBA van hul eie stasies te gebruik. QSL sal deur die buro geskied of stuur jou QSL aan SARL, Posbus 1721, Strubensvallei 1735, Suid-Afrika. Jy kan ook Logbook of the World gebruik. Om die spesiale QSL kaart te ontvang sluit ‘n selfgeadreseerde goevert en $1 vir posgeld in. Vir meer inligting, ‘n operateursskedule en om ‘n tydgleuf te bespreek, besoek www.sarl.org.za

Spesiale geleentheidstasies sal wanneer toepaslik die volgende uitlees: "ZS9MADIBA is the South African Radio League Special Event Station commemorating the life and recent passing of Nelson Rolihlahla Mandela, elder statesman and first democratically-elected President of the Republic of South Africa. Affectionately referred to as "Madiba", he became one of the most recognised leaders in the world and was instrumental in the peaceful transition of South Africa from minority rule to a constitutional democracy. South Africans join the people of the world in mourning his passing and celebrating his legacy."

Vaarwel Madiba, mag ons jou altyd onthou.

(Minuut van stilte)

U is ingeskakel op SARL nuus

112 JAAR GELEDE

Op 12 Desember 1901 het Guglielmo Marconi die eerste Transatlantiese radiosein (die letter “S”) in Morsekode te Signal Hill in St John's, Newfoundland, ontvang.

KORTROETE SOMERSONSTILSTAND VOORTPLANTING (SHORT-PATH SUMMER SOLSTICE PROPAGATION (SSSP)

In June 1999, rondom die dag-en-nagewening van die Noordelike halfrond het ‘n Japanese radioamateur Han Higasa, JE1BMJ, ‘n Europese TV stasie op 48,250 MHz gehoor. Hy het onmiddelik CQ op 50,110 MHz geroep en tot sy verbasing het Toivo, OH7PI, daarop reageer en so het hulle die eerste QSO op hierdie modus op 50 MHz gedoen. Sedertdien word daar elke jaar ongeveer hierdie tyd QSO’s tussen Japan en Europa gemaak. Dit het mettertyd na Noord Amerika uitgebrei.

Han, JE1BMJ, het voorgestel dat amateurs in die Suidelike halfrond ook daarvoor op die luister moet wees gedurende hulle somer sonstilstand in Desember. Sedert 2009 het Australiese en Nieu Zeelandse amateurs baie Suid Amerikaanse stasies op 50 MHz aangeteken. Hierdie opening in die Suidelike halfrond het tussen 8 Desember en 12 Januarie voorgekom, weliswaar nie elke dag nie.

Om die moontlikheid van hierdie voortplanting tussen Australie en Suid-Afrika te ondersoek het ZS2FM GG toetse gedurende Desember met amateurs in Perth, Wes-Australie, gedoen. Hulle het ongelukkig geen sein ontvang nie, maar Frank, VK7DX, in Hobart, Tasmanie, het rapporteer dat hy op die korrekte frekwensie asook tyd en vanuit Suid-Afrika se rigting seinspore waargeneem het. Hy kon egter nie die roepsein bevestig nie. Geesdriftige amateurs aan die Ooskus kan dalk hierdie tyd in die oggend seine op 50,110 MHz in hierdie rigting stuur en kyk wat gebeur.


IONOGRAMSTUDIES BEVESTIG DIE 5 MHZ BAND SE BOTOON

Die ionramme wat deur die Suid-Afrikaanse iosondenetwerk saamgestel is toon duidelik die effektiwiteit van die 5 MHz band vir kortafstandkommunikasie onder sekere toestande. Dit is veral waar gedurende die oggend en laat middag wanneer die 7 MHz band nie gunstig is nie en die 3.5 en 1.8 Mhz bande hoë geraasvlakke het.

Gedurende die middle van die dag is die 7 MHz (en 10 MHz gedurende hoë sonaktiwiteit) die mees effektiewe medium vir kortafstandkommunikasie.

Permanente toegang tot die 5 MHz sal verseker dat amateurradiokommunikasie effektief gedurende noodtoestande in bergagtige terrein, wat kortafstandkommumikasie groter as lyn-van-sig verg, bystand kan verleen.

Die Suid-Afrikaanse netwerk is uniek in Afrika en plaas Suid-Afrikaanse amateurs in die gelukkige posisie om heersende kortafstand voortplantingstoestande te monitor en so hulle vaardighede te verbeter.

‘n Artikel deur Hannes Coetzee, ge-illustreer met ionogramme, is op die 5 MHz navorsingsbladsy van die SARL webwerf beskikbaar.

WEER ‘N HERINNERING AAN DIE VIDEOKOMPETISIE

Die Suid Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust nooi videograwe om deel te neem aan ‘n kompetisie waar aantreklike pryse op die spel is. Wees skeppend met jou kamera, of selfs slimfoon, en skiet ‘n kort video van ‘n opwindende Amateurradio aktiwiteit. Jy kan die wenner wees van ‘n 5 watt GG MFJ 40 radio ter waarde van R1300 of een van vele ander pryse.

Die videoformaat kan AVI, WMV of MPEG met ‘n minimum resolusie van 320 X 240 wees. Die lengte van die video moet tussen 3 en 5 minute wees. Die onderwerp kan enige iets wees wat die vreugde en opwinding van amateurradio weergee.

Inskrywings moet per KS of DVS gedoen word en nie per e-pos nie. Stuur jou video aan: Amateurradio Videokompetisie, Posbus 90438, Garsfontein, 0042. Die sluitingsdatum is 31 Desember 2013 en die wenners sal vroeg in 2014 aangekondig word. Meer inligting is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

LIGANUUS

OPROEP OM VOORLEGGINGS VIR 2014 RTA

Die SARL het met die beplanning van 2014 se RTA’s wat in al die hoofsentra vanaf Julie gehou sal word begin. Hierdie is dan ‘n versoek vir die aanbied van voorleggings om tydens die RTA’s aan te bied en ook op die Simposium KS ingesluit te word. Indien u ‘n onderwerp het om by al die RTA’s of slegs u plaaslike een aan te bied word u versoek om ‘n samevatting daarvan teen 15 Desember aan ons te stuur na rta@sarl.org.za Sluit asseblief u kontakbesonderhede in. Die datums vir die 2014 RTA is nou op die SARL webwerf beskikbaar.

NOMINASIE VAN RAADSLEDE

Lede en Klubs word daaraan hehinner dat nominasies vir SARL Raadslede nou ingewag word. Lede kan deur individue of klubs benoem word. Die voorwaardes en grondwet is op die Liga se webwerf beskikbaar. Die sluitingsdatum vir nominasies is 31 Januarie 2014.

Om nominasies te vergemaklik kan ‘n vorm van die sekretaris by secretary@sarl.org.za aangevra word. Die vorm is slegs vir gerief en nie verpligtend nie.

KLUBNUUS

Luister gerus om 11:15 vandag na ZS6MRK die amptelike nuusbulletin asook kersbulletin van Magalies radio-amateurklub.

Frekwensies wat gebruik sal word is 2 meter 145,750 mHz
20 meter 14,250 mHz asook 40 meter 7,062 mHz.

Inligting tov van die SARL konvensie wat op 11 & 12 April 2014 plaasvind sal aan u meegedeel word.
Reëlings sal gereeld tot en met die konvensie aan u deurgegee word hier op die SRL nuusbulletin.

Begin sommer so gou as moontlik om jou planne agtermekaar te kry vir die konvensie.
MRK sien uit om jou in 2014 gedurende die konvensie by die Furrowlane Hotel in Equestria Pretoria te verwelkom.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Sonvlek AR1918 het 'n "beta-gamma" magneetveld wat genoeg energie huisves vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 105.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar vroëe aand 6 m openinge te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Desember - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo.
18 Januarie 2014 – SARL@Home
28 Februarie 2014 - Sluitingsdatum vir Leerling Opstelkompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings, saamstelling en redigering deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003