Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 12 JANUARIE 2014

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.


U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

INTECNET ONDERSOEK DIE EFFEK VAN RUIMTWEER OP RADIOKOMMUNIKASIE
JEUGWEEKDEBAT VIR DIE ONDER 20’S
OPERVLAKMONTERINGSTEGNOLOGIEWERKSWINKEL OP 18 JANUARIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

INTECNET ONDERSOEK DIE EFFEK VAN RUIMTWEER OP RADIOKOMMUNIKASIE

Sluit op Dinsdag 21 Januarie 2014 om 19:30 by Dr Pierre Cilliers vir die eerste INTECNET van 2014 aan. Pierre is navorsingsfisikus by die Ruimtewetenskapdirektoraat van die Suid Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (SANSA). ‘n Stel PowerPoint skuifies sal vir aflaai op die web ‘n paar dae voor die aanbieding beskikbaar wees. Let op die nuwe dag van die week waarop Intecnet plaasvind, dit skuif van ‘n Sondag na ‘n Dinsdagaand.

Klubs wat die net op hulle plaaslike herhalers wil dra moet die inligting van hulle landlynbesonderhede en dekkingsgebied teen 16 Januarie na artoday@sarl.org.za stuur om ingesluit te word by die telekonferensiebrug. Die net sal ook op echolink en 80 m gedra word. Na die aanbieding sal ‘n vraag-en-antwoordsessie volg.

JEUGWEEKDEBAT VIR DIE ONDER 20’S

Indien u 'n jong radioamateur onder 20 jaar oud is, word u uitgenooi om deel te neem aan die debat gedurende jeugweek wat van 10 tot 15 Februarie 2014 plaasvind. Die debat sal op Dinsdagaand 11 Februarie gehou word, beginnende om 19:30. Die onderwerp van bespreking sal wees: "Wat bied amateurradio aan jongmense?" Om as 'n paneelspreker in die debat oorweeg te word, stuur u gedagtes oor die onderwerp en kontakbesonderhede, insluitende u telefoonnommer, voor 21 Januarie 2014 aan youthweek2014@sarl.org.za. 'n Telefoniese voorligtingsessie sal 'n paar dae voor die gebeurtenis gehou word. Hier is 'n groot geleentheid om jou debatteervermoë te ontwikkel en om jou idees oor waarheen amateurradio op pad moet wees bekend te maak. Vir meer inligting aangaande Jeugweek 2014, besoek www.hamradio.org.za.

OPERVLAKMONTERINGSTEGNOLOGIEWERKSWINKEL OP 18 JANUARIE

Bespreek nou vir die volgende SARL@home en oorwin jou projekvrees met oppervlakmonteringstegnologie by die volgende SARL@Home. Die projek sal deur Frik Wolff, ZS6FZ by die SARL Nasionale Amateurradiosentrum op 18 Januarie vanaf 09:00 - 13:00 aangebied word.

Koste beloop R150 en sluit die onderdele wat benodig word vir die bou van 'n baie lae krag FM-sender in. Dit kan gebruik word om jou amateurradioklank of van 'n iPod na draagbare FM ontvangers in die huis te herlei. Die koste sluit ook 'n laserskyf met studiemateriaal, stroombane ens. in. Nie-Lede betaal R250.

Bespreking is noodsaaklik aangesien slegs 20 deelnemers gehuisves kan word. Jy sal jou eie soldeerstasie met dun punt, handgereedskap en vergrootglas moet voorsien. Die SARL het ook 'n spesiale aanbieding op vergrootglase indien jy een sou wou aankoop. Volledige besonderhede is op die registrasievorm op die SARL webwerf www.sarl.org.za beskikbaar en jy kan ook die status van jou bespreking daar bevestig. Besprekings sluit op Maandag 13 Januarie 2014.

120 ste HERDENKING VAN ST MAXIMILIAN KOLBE, SP3RN

Die 8 ste Januarie was die 120 ste herdenking van die verjaarsdag van St Maximilian Kolbe, SP3RN, die Katolieke Kerk se beskermheilige van Amateurradio-operateurs. Mark Abramowicz, NT3V het aan ons die volgende van hierdie merkwaardige man vertel:

Vader Maximilian Kolbe het gedurende die 1920 en 1930’s in die massamedia belang begin stel. Hy het drukkerye in Poland en Japan vir sy Orde van Franciskus publikasies opgerig en tienduisende daarvan aan gelowiges versprei. Op ‘n sending na Japan, China en Indie het hy met beide die uitsaaiwese en amateurradio kennis gemaak en met sy terugkeer na Poland in die 1930’s aansoek om ‘n uitsaailisensie gedoen. In daardie tyd is die radio as strategiese medium gesien en is slegs die Poolse radio en militere radiostasies toegelaat om uit te saai.

Maar in 1938 is aan Vader Kolbe toestemming gegee om toetsuitsendings naby die 40 m amateurradioband te doen en het hy die roepsein SP3RN vir sy eksperimente gekies.

Op 14 August 1941 is Vader Kolbe in die Duitse Nazi Auschwitz konsentrasiekamp vermoor nadat hy vrywillig die plek van ‘n medegevangene geneem in ‘n groep wat deur kampwagte gekies is om van uithongering te sterf as gevolg van die ontsnapping van ‘n ander gevangene.

Benewens om deur amateurradio vereer te word, word St Maximillian Kolbe ook erken as die beskermer van joernaliste en politieke gevangenes. Sy feesdag word op 14 Augustus deur die Katolieke Kerk herdenk.

IARU PRESIDENT OP QUEENS COUNSEL AANGESTEL

Die ARRL berig dat die International Amateur Radio Union (IARU) President Tim Ellam, VE6SH, onder die aanstellings op die Queen's Counsel in die Kanadese Provinsie, Alberta was.

Prokureur-Generaal Jonathan Denis, het die name van 114 wetsgeleerdes wat tot Queen's Counsel vir "outstanding contributions to legal and public life" toegelaat is aangekondig. Hierdie lys sluit openbare en privaat regsgeleerdes uit gemeenskappe vanoor die provinsie in.

"The Queen's Counsel designation recognizes the exceptional capabilities and talents of this year's impressive group," het Jonathan Denis, Alberta se Minister van Justisie gesê en vervolg: "These lawyers are a credit to their profession and to their province."

Die Queen's Counsel dateer terug tot die 16 de eeu. Die gebruik om die Queen's Counsel aan te stel is in Kanada voortgesit en gaan die Konfederasie voor. Die eerste Queen's Counsel aanstellings is gedurende 1841 in Bo-Kanada gemaak.

Lees die volledige storie by:
www.arrl.org/news/iaru-president-appointed-queen-s-counsel-in-alberta

LIGANUUS

Lede en Klubs word uitgenooi om nominasies vir die volgende toekennings aan die SARL Raad voor te lê. Nominasies moet die SARL Sekretaris voor 14 Februarie 2014 bereik.

Ere Lewenslidmaatskap
Die SARL se hoogste erkenning

Willie Wilson Gold Badge
Toegeken deur die Raad aan die amateur vir buitengewonde en toegewyde diens aan die Liga.

Jack Twine Toekenning
Om erkenning te gee aan Amateurs wat volgens die raad en mede-amateurs die eienskappe soos onselfsugtigheid en ware belangstelling in Amateurradio en Amateurradiosake vertoon. Dit is diegene wat die eienskappe wat by ‘n Amateur wenslik is by uitnemendheid uitleef.

Arthur Hemsley 2 meter Trofee
Toegeken deur die Raad aan die Amateur vir sy/haar suksesse met uitsendings op die 2-meterband. Dit gaan vir buitengewone prestasie op modus soos troposferiese voortplanting. Dit gaan nie slegs om die verste afstand gewerk nie maar vir deursetting om iets buitengewoon op die 2-meterband te bereik.

Barney Joel Trofee
Toegeken deur die Raad vir die beste prestasie die jaar met HF Mobiel gewerk. Dit kan aan ‘n individu toegeken word vir prestasie tydens ‘n tydren of ander openbare gebeurtenis. communication etc.

Icom Voortreflikheidstoekenning
Hierdie toekenning word jaarliks deur die Raad aan ‘n Amateur gegee in erkenning van sy/haar aktiwiteit in Amateurdiens wat Internasionale erkenning aan Suid-Afrika gegee het deur ‘n BHF/UHF afstandsrekord wat deur die IARU erken word, of vir diens aan SA of die SARL vir wetenskaplike navorsing in die amateurspektrum of vir die promosie van die amateurdiens internasionaal.

Joseph White Plaak
Toegeken deur die Raad aan ‘n SARL lid vir buitengewone prestasie op die 432 MHz band die afgelope jaar. Dit word nie slegs vir die verste afstand gewerk toegeken nie, maar vir veelvuldige prestasies.

Bert Buckley Sesmeter Trofee
Toegeken deur die Raad aan ‘n SARL lid vir buitengewone prestasie op die 6 meterband die afgelope jaar. Dit word nie slegs vir die verste afstand gewerk toegeken nie, maar vir veelvuldige prestasies.

Tinus Lange Tegniese Voortreflikheidstoekenning & Tinus Lange Junior Tegniese Voortreflikheidstoekenning

Die toekennings gaan jaarliks aan die persone wat ‘n teniese projek in enige van die volgende kategoriee aanbied:

Ontwerp en/of konstruksie van projekte soos voorversterker, SWR-brug, antennas, maste, draagbare toerusting, kragbronne ens.

Enige programmatuur vir gebruik met Amateurradio.

Voorleggings moet die volgende insluit:
Die spesifieke items (indien massa en grootte dit toelaat) of fotos (spesifiek in die geval van antennes en maste).
‘n Volledige beskrywing in artikelformaat met illustrasies/fotos, gereed vir publikasie in Radio ZS.

Die Toekennings:
Junior Tegniese Voortreflikheidstoekenning (onder 25 jaar oud)
Geraamde sertifikaat en kontanttoekenning van R350

Tegniese Voortreflikheidstoekenning
Geraamde sertifikaat en kontanttoekenning van R350

Alle inskrywings, waar prakties moontlik (anders fotos) , moet by die AJV ten toon gestel word en toekennings word by die dinee gedoen.

Inskrywings sluit jaarliks op 31 Januarie.


SAATI Toekenning
Deur die Raad aan ‘n SA Amateur gemaak wat ‘n besondere bydrae op die terrein van digitale kommunikasie deur die ontwikkeling van of toerusting of programatuur gemaak het. Die toekenning gee erkenning aan ontwikkelingswerk, nie operasionele prestasies nie, en is nie beperk tot lede van die SARL nie.

KOMPETISIENUUS

DIE PEARS NASIONALE BHF/UHF KOMPETISIE

Skakel volgende naweek jou BHF of UHF-toerusting om 18:00 SAT op Vrydag 17 Januarie 2014 aan, en luister vir vergelee stasies en probeer kontak maak met hulle. Dit is die eerste sessie wat tot 16:00 SAT op Saterdag aanhou, waarna die tweede sessie begin en eindig om 14:00 SAT op Sondag 19 Januarie.

Snags mag daar 'n hele klomp Tropo aktiwiteit wees, veral op 144 MHz , terwyl Tropo Strooi kontakte op 50 MHz gemaak is selfs rondom middernag tussen ZS1NAZ en ZS5QM - nou is Tropo tyd!

Die eerste uur of twee na sonop kan uitstekende landwye kontakte bied op beide 50 MHz en 144 MHz via Tropo 'Ducting'. Sporadiese-E kan in die oggende en/of middae op 50, 70 en 144 MHz verskyn, so kyk vir hierdie onverwagse Es openinge.

Daar kan aktiwiteit op al die ander bande regdeur die twee dae wees. Kyk spesial uit vir die wat as Rovers aktief is, hulle kan spring van een hoë plek en ruitblok na 'n ander en gee vir almal ekstra vermenigvuldigers .

Die reëls is beskikbaar op die SARL BHF Forum sowel as in die 2014 SARL-kompetisiehandboek. Sterkte, dis pret en geniet die BHF/UHF-kompetisie!

SARL SOMER QRP KOMPETSIE

Die eerste QRP Kompetisie vir 2014 vind plaas vanaf 12:00 tot 15:00 UTC op Saterdag 25 Januarie. Die eerste uur is beperk tot die 40 m-band, vir die oorblywende twee ure kan deelnemers enige HF (nie-WARC) bande gebruik soos hulle wil. ESB en GG is die modusse om te gebruik en 'n RS(T) verslag asook 'n seskarakter ruitverwysing word uitgeruil.

Die naweek van 8 en 9 Februarie gaan besig wees met die SARL Nasionale Velddag sowel as die SARL BHF/UHF-kompetisie. Ja, daar is besluit om hierdie twee kompetsies saam aan te bied, sodat jy en jou klub of aan die Velddag of die BHF/UHF kompetisie kan deelneem, of waarom nie beide probeer nie?

Al die reëls is in die 2014 SARL-kompetisiehandboek.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteits besig is om te daal na die week se opwindende X-klas son fakkel. Reuse Sonvlek AR1944 het 'n onstabiele "beta-gamma-delta" magnetiese veld wat genoeg energie vir X-klas fakkels huisves. Die opwinding is dalk nognie verby nie...

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 110.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar vroëe aand 6 m openinge te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

12 Januarie - Hunting Lions in the Air
17 tot 19 Januarie - PEARS Nasionale BHF/UHF Kompetisie
18 Januarie - SARL@Home
21 Januarie - Laaste dag vir voornemende paneelsprekers om hul kontakbesonderhede te stuur aan youthweek2014@sarl.org.za
25 Januarie - SARL Sommer QRP Kompetisie
31 Januarie - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo.
31 Januarie - sluitingsdatum vir nominsasies vir SARL Raadslede en mosies vir die AJV
28 Februarie - Sluitingsdatum vir Jeug Opstelkompetisie
15 Maart - Laaste dag vir instuur van voorstelle vir voorleggings vir die 2014 SA AMSAT Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure is op www.sarl.org.za. beskikbaar vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings, saamstelling en redigering deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003