Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 16 FEBRUARIE 2014

Goeie môre, U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

IN VANDAG SE SARL-NUUS:
AMATEURRADIO HERHALERS MOET OOK VOLDOEN AAN DIE 12,5 KHZ SPASIEERING
INTEGNET LEWER INTERESSANTE BESPREKING OOR DIE JEUG IN AMATEURRADIO OP
OPSTELKOMPETISIE SLUITINGSDATUM TO 15 MAART UITGESTEL

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

AMATEURRADIO HERHALERS MOET OOK VOLDOEN AAN DIE 12,5 KHZ SPASIEERING

Tydens die kwartallikse SARL-ICASA skakelvergadering het ICASA bevestig dt amateurradioherhalers ook aan die 12,5 kHz spasiering moet voldoen. ‘n Kennisgewing tot hierdie effek is deur die Posmeestergeneraal, die regulerende instansie voor SATRA en ICASA, uitgevaardig.

Hierdie kennisgewing stipuleer: "As from January 1991 all radio apparatus for new radio communication systems as well as expansion or replacement of existing systems in the 136 - 174 MHz part of the radio spectrum must be equipped to work with 12,5 kHz channel spacing . The changeover of all existing radio communication systems in this part of the radio spectrum must be completed by the end of 1994”.

Terwyl die meeste herhalers op die 2 m band vandag hieraan voldoen is daar tog nog ‘n paar wat op die 25 kHz spasiering funksioneer.

Die SARL en ICASA sal gedurende Maart tydens ‘n werkswinkel die koordinasie van herhalerfrekwensies en ander operasionele sake bespreek.

Tydens die vergadering is die publikasie van die hersiening van die regulasies ook bespreek. Die SARL afvaardiging het ICASA dringend versoek om die table van amateurfrekwensietoewysings te hersien en dit as afsonderlike dokument in die Staatskoerant te publiseer. Tans is dit ‘n bylae tot die regulasies.

Die volledige veranderinge tot die regulasies is onderworpe aan ‘n tydperk vir kommentaar en sal waarskynlik eers met ICASA se nuwe finansiele jaar op 1 April 2014 begin.

ICASA het op die vergadering bevestig dat die SARL 5 MHz lisensie op ‘n maand-tot-maand grondslag hernu sal word tot die voorstel vir ‘n langdurige eksperimentele periode, wat waaarskynlik met WRC15 sal verval deur die ICASA Raad goedgekeur word.

Die SARL was by die vergadering verteenwoordig deur ZS6AKV, ZS6SF, ZS6FZ, ZS6COL en ZS6PX. Die volgende skakelvergadering vind plaas op Donderdag 10 April.


INTEGNET LEWER INTERESSANTE BESPREKING OOR DIE JEUG IN AMATEURRADIO OP

Verlede Dinsdag se Integnet bespreking oor wat nodig is om meer jongmense by amateurradio betrokke te kry en daar te hou het interessante bespreking en voorstelle uitgelok. Wanneer die SARL Raad hierdie naweek vir hulle jaarlikse Indaba byeenkom sal verskeie van hierdie voorstelle bespreek word. Meer inligting sal op SARL Nuus gedra en op die webwerf beskikbaar wees. Die volgende Integnet sal op Disndag 18 Maart plaasvind en om 19:30 begin.

VK MONITERINGSTASIE TRYS 40 METER STEURINGS TOT FRANKRYK

‘n Verenigde Koninkryk moniteringstasie het ‘n lokalisering op ‘n moontlike Franse militêre stasie wat steurings op 7,166 MHz in die 40 meter band. Die IARU Moniteringssisteem nuusbrief rapporteer dat ‘n Franse stasie lang GG uitsendings van 5 letter groepe op 7,166 MHz maak. Die VK se telekommunikasiereguleerder Ofcom het sy rigtingpeilergeriewe by Baldock gebruik om ‘n peiling te maak en daar word nou geglo dat dit in die Franse Loire Vallei gesetel is.

OPSTELKOMPETISIE SLUITINGSDATUM TO 15 MAART UITGESTEL

Jongmense onder 20 jaar word uitgenooi om na te vors hoe amateurradio die ontwikkeling van radiowetenskap bevoder het en as deurgang tot ‘n beroep in die ingenieurswese en elektroniese wetenskappe kan dien.

Doen navorsing op die Internet, gesels met radioamateurs en mense in die industrie wat deur amateurradio toegetree het.

Daar word in twee afdelings meegeding en die wenner van elke ouderdomsgroep ontvang ‘n skootrekenaar en bykomstighede.

Groep 1 onder 15 jaar oud en groep twee 15 tot 20 jaar oud.
Lengte van opstel: Tussen 800 en 1200 woorde.
Taal: enigeamptelike Suid-Afrikaanse taal.


Die sluitingsdatum is verleng met twee weke na 15 Maart2014. Inskrywings moet in woordformaat wees en per e-pos na youthweek2014@sarl.org.za gestuur word. Die wenner in elke kategorie sal sy/haar toekenning ontvang tydens die jaarlikse Konvensie wat sal plaasvind te Pretoria op 12 April 2014.

Die algehele wenner sal ‘n Raspberry PI B, en 19" LCD NEC skerm, sleutelbord en muis wat deur RS Components geborg word ontvang. Daar sal verder tien naaswenners in elke kategorie wees en elkeen wat inskryf sal ‘n sertifikaat ontvang. Meer inligting en skakels na bronmateriaal is beskikbaar by www.hamradio.org.za.

Deel hierdie inligting met jongmense en skole in jou omgewing.

LIGANUUS

LAAI DIE JONGSTE RADIO ZS AF

SARL lede kan nou die Januarie/Februarie uitgawe van Radio ZS in die ledeafdeling op die liga se webblad aflaai. Klik op die lede-alleen skakel regs bo op die tuisbladsy en verskaf jou PIN. Vorige uitgawes van Radio ZS is ook hier beskikbaar.

In die jongste uitgawe kan jy lees omtrent: ZS6OB die eerste om op die Afrika vasteland die 144MHz EME DXCC toekenning te verwerf, twee artikels oor die ZS9MADIBA spesiale geleentheid stasies, ‘n eerste studie oor die voortplanting op 5MHz (60m met die gebruik van die iosonde netwerk), Mike Bosch, ZS2FM vra die vraag: "What is the amateur service", Henry Chamberlain verken verder SDR, leer meer oor voortplanting met "Beginner's guide to HF radio propagation" deur Richard Corbeil, VE2XIP, en ‘n artikel wat jou laat dink getitteld “'n Mens sou dink...”

Nog nie ‘n lid nie, dan het jy pas ‘n geleentheid laat verbyglip. Nuwe lede kan aansluit teen die pro rata ses-maande tarried tot aan die einde van Junie. Dit is nie van toepassing op lede wat agterstallig is met ledegeld nie.

SARL LAPELWAPENS

SARL lapelwapens met die nuwe embleem is tans beskikbaar. Hierdie lapelwapens word te koop aangebied aan lede teen R25-00 stuk plus posgeld en verpakking. Nuwe lede ontvang steeds 'n gratis lapelwapen wanneer hy die eerste keer by die SARL aansluit.
Die versending per pos kan slegs per geregistreerde pos gedoen word. Die totale koste van verpakking en posgeld wissel van tyd tot tyd en kan telefonies of per e-pos by die SARL kantoor verkry word - bel of e-pos Mariska hiervoor. Die posgeld en verpakking is goedkoper per eenheid wanneer meer as een lapelwapen bestel word.

SARL LIDMAATSKAP

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is ontvang van die volgende persone:

Gysbert Du Plessis, ZSL1084
Martin Swanepoel, ZSL1085
Annemarie Van Den Berg, ZSL1086
Beat Streckeisen, ZS1HB.

Enige besware teen die aanvaarding van hierdie lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

Die ledetal staan tans op 1688

KLUBNUUS

OVERBERG AMATEURRADIOKLUB AJV

Op Saterdag, 8 Februarie het die Overberg Amateurradioklub hulle AJV gehou. Die volgende lede is tot die kommitee verkies:

Voorsitter - Andre Meintjes - ZS1AZ
Ondervoorsitter - Sam McLeary - ZS1OR
Tesourier - John Martin - ZSDI
Sekretaris - Judy Gardner - ZS1JEG

KOMPETISIENUUS

UITSLAE VAN DIE QRP KOMPETISIE

Die uitslae van die QRP kompetisie gehou op 25 Januarie is soos volg:

1ste - Wesrand ARK, ZS6WR
2de - Francois Reyneke, ZS6FDX
3de - Andre Botes, ZS2ACP

Dankie aan diegene wat hul logstate ingestuur het. Die volledige uitslae kan gevind word in HF Happenings 594.

SARL DIGITALE KOMPETISIE

Die doel van die SARL Digitale kompetisie is om soveel kontakte as moontlik tussen radio amateurs in Suider-Afrika te maak met behulp van PSK31 en RTD. Die kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suider-Afrika (Algemene Reëls 1.b).

Die kompetisie vind plaas van 13:00 tot 16:00 UTC op Saterdag 23 Februarie met PSK31 en RTD op 80 meter (3 580 - 3 600 kHz); 40 meter (7 040 - 7 060 kHz) en 20 meter (14 070 tot 14 099 kHz). PSK31 word verkies by die onderpunt van die gespesifiseerde frekwensie en RTD word verkies aan die bopunt van die gespesifiseerde frekwensies. Neem asseblief kennis dat USB ten alle tye gebruik moet word. Verwys na Algemene Reël 16.

'n Stasie mag twee keer per band gekontak word, eenkeer op RTD en eenkeer op PSK31. 'n RST verslag plus 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin word uitgeruil. Logs moet teen 2 Maart 2014 by contest@sarl.org.za ingedien word.

SARL HAMNET 40 M GESIMULEERDE NOOD KOMPETISIE

Hierdie SSB wedstryd is oop vir alle radioamateurs in Suid- Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marion-eiland en Suid-Afrikaanse Antarktika. Slegs kontakte met hierdie gebiede sal tel.

Die wedstryd is van 12:00 tot 14:00 UTC op Sondag 2 Maart 2014 op die lug en dit is 'n foon kompetisie in die band segmente 7 063 - 7 100 kHz en 7 130 - 7 200 kHz. Deelname kan wees as 'n enkel operateur stilstaande mobiele; 'n enkel operateur draagbare, 'n Multi-operateur draagbare of 'n enkele operateur basis stasie.

Antennas is beperk tot antennas met minder as eenheids gewin relatief tot 'n dipool. Stilstaande mobile stasies sal antennas gebruik wat uitsluitlik staatmaak op hul voertuie vir die ondersteuning en sal nie 'n hoogte van 5 meter bo die grond wees nie. Draagbare stasie antennas mag nie voor die dag van die kompetisie opgerig en geïnstalleer word en geen permanente mensgemaakte struktuur mag gebruik word om toerusting te huisves of antennas te ondersteun. Stilstaande mobile en draagbare stasies moet vanaf dieselfde perseel vir die duur van die kompetisie werk en alle krag gebruik moet voldoen aan die vereistes vir veldstasies in die algemene reëls.

'n Seinverslag gevolg deur 'n drie-syfer getal soos bepaal deur die kategorie van deelname word uitgeruil. Logs moet teen 10 Maart gestuur word aan Hamnet Oos-Kaap, Al Akers, ZS2U, Clarencestraat 53, Westering, Port Elizabeth, 6025 of per e- pos aan contest@peham.co.za

Kry die volledige reëls vir beide kompetisies in die 2014 SARL Kompetisiehandboek .

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak aktief gaan wees. Sonvlek AR1974 het 'n "beta-delta-gamma" magneetveld en was die bron van die afgelope week se sonfakkels. Al die ander sigbare sonvlekke is stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 105.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar 6 m openinge vroeg aand te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

21 Februarie - Laaste dag vir registrasie van radioamateur eksamensentrums.
22 Februarie - logstate vir die jeugnaelloop moet in wees na youthsprint@sarl.org.za.
28 Februarie - Sluitingsdatum vir Jeug Opstelkompetisie
15 Maart - Laaste dag vir instuur van voorstelle vir voorleggings vir die 2014 SA AMSAT Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure is op www.sarl.org.za. beskikbaar vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003