Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 23 MAART 2014

Goeie môre, U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

BELANGRIKE INLIGTING I.V.M. DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE EN AJV

SLUITINGSDATUM VIR DIE RAE IS 10 APRIL

REGISTREER NOU VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BELANGRIKE INLIGTING I.V.M. DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE EN AJV

Het u reeds geregistreer vir die SARL se konvensie, die algemene jaarvergadering en die prystoekenningsdinee? Besonderhede is beskikbaar op die SARL se webblad nl. www.sarl.org.za.

Indien u slegs die SARL se AJV op Saterdag gaan bywoon, is dit nogtans nodig om te registreer ten einde gratis toegang tot die terrein te verkry. Indien u nie registreer nie, sal u R25 toegangsgeld moet betaal. Registrasie vir SARL-lede is gratis. Dit is eenvoudig om te registreer. Voltooi die vorm wat op die webwerf beskikbaar is. Indien u slegs die AJV wil bywoon kan SARL-lede 'n e-pos stuur aan admin@sarl.org.za met u naam, roepsein en telefoonnommer. Sit AJV-registrasie in die onderwerplyn. U mag ook vir Mariska gedurende kantoorure skakel by 011 675 2393 en u naam, roepsein, telefoonnommer en e-posadres verskaf.

Registrasie per e-pos en telefoon sluit op Donderdag 10 April ten einde toe te laat vir verwerking van die inligting.

Indien u egter nie die AJV gaan bywoon nie, voltooi dan asb. die volmagvorm, wat op die webwerf beskikbaar is, sodra moontlik. Indien u onseker is wie om as gevolmagtigde aan te stel, kies dan die President, sekretaris of een van die raadslede om u belange te verteenwoordig. Indien u onseker is aangaande die prosedure, skakel Mariska by 011 675 2393 om u by te staan.

Die konvensie bied 'n opwindende program met baie ander aktiwiteite, uitstallings en aktiwiteit vir die dames. Dit sal 'n groot jammerte wees indien u dit misloop.

Het u na Voetspore op TV2 gekyk en ooit gewonder hoe hulle tydens hulle reis deur Afrika met mekaar gekommunikeer het? Johan Badenhorst sal al die moeilikhede en opwinding van die verskeie reise wat die Voetsporespan onderneem het bekend maak. Daar is ander interessante aanbiedings soos ‘Tweerigtingradio vir Domkoppe’ en ‘Kragvoorsiening vir jou in die veld of mobiele kommunikasie’. Kom bekyk die nuutste beskikbare amateurradiotoerustingof koop daardie nuwe sendontvanger van een van die baie radiohandelaars wat die nuutste toerusting ten toon stel, vind uit hoe KLETSkou, SA AMSAT se satelliet, sal werk.

Moenie Vrydagaand se braai of Saterdagaand se dinee misloop nie. Die SARL se nasionale konvensie vind van 11 tot 13 April in die Furrow Lane hotel, Furrowweg 272 in Equestria, Pretoria plaas. Maak dit 'n wegnaweek en bly oor in die Furrow Lane, dit is 'n groot boetiekhotel waar u en u gade getrakteer kan word.

SLUITINGSDATUM VIR DIE RAE IS 10 APRIL

Die SARL het 'n nuwe aanlyn registrasiestelsel vir die amateurradio eksamen inwerking gestel. Kandidate wat vir die eksamen in Mei wil registreer, moet die SARL se webtuiste besoek vir besonderhede oor hoe om te werk te gaan.die sluitingsdatum vir registrasie is 10 April 2014. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

Na 6 April tree frekwensieveranderings vir Amateur Radio Today inwerking. Op Maandae om 18:30 SAT vervang 3 230 vir 4 895 kHz en op Sondae om 10:00 SAT vervang 17 760 vir 17 660 kHz. Ontvangsrapporte sal waardeer word, stuur dit aan artoday@sarl.org.za.

REGISTREER NOU VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

Registrasies vir SA AMSAT se RUIMTESIMPOSIUM kan nou gedoen word. Die simposium word op Saterdag 24 Mei in die Innovation Hub in Pretoria gehou. Afslag geld vir vroeë besprekings en vir lede van die SARL, of SA AMSAT. Verkry besonderhede by www.amsatsa.org.za.

LIDMAATSKAPAANSOEK

'n Aansoek om lidmaatskap van die SARL is ontvang van:
Lys Llewellyn Sweetnam ZSL1095.

Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoek moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

KOMPETISIENUUS

Uitslae van die 2014 SARL Hamnet 40 m Kompetisie.

Bandtoestande was nie goed vir hierdie kompetisie nie, dit was dus 'n aangename verrassing om 17 logstate te ontvang.

Die kategoriewenners is:

Stilstaande Mobiele: Geen inskrywings;
Enkeloperateur Veldstasie: Willem Taljaard, ZS6WBT;
Multi-operateur Veldstasie: Bloemfontein ARK , ZS4BFN;
Basisstasie: Johan van Zijl, ZS4DZ.

Die volledige uitslae kan in HF Happenings 599 en op die SARL se forum gevind word.

SARL 80 m QSO Geselligheid.

Die eerste been van hierdie gewilde kompetisie sal vanaf 17:00 tot 20:00 UTC gehou word op Donderdagaand 3 April met foonaktiwiteit tussen 3 603 tot 3 650 en 3 700 tot 3 800 kHz. Die roepseine, RS.-verslag en die operateur se naam word uitgeruil. Die telling is 10 punte vir elke kontak met 'n Suid-Afrikaanse stasie en 15 punte vir elke kontak met 'n stasie buite Suid-Afrika. Logs moet teen 12 April aan zs5lp@vodamail.co.za ingedien word.

RaDAR Kompetisie.

Die kompetisie vind plaas op Saterdag 5 April en begin om 14:00 UTC en eindig om 18:00 UTC - ongeveer twee uur gedurende die dag en twee uur in die nag in die Suid -Afrikaanse tydsone. Die kompetisie sal ook op die lug wees vanaf die Verenigde Koninkryk en die VSA.

Alle amateurbands, behalwe die WARC-bande, word toegelaat insluitende kruisbandkontakte via amateurradio satelliete. GG, ESB, AM, FM of enige digitale modus mag gebruik word. QSO’s via aardse herhalers sal nie toegelaat word nie. Die uitruiling is roepsein, naam, RS(T) verslag, QTH en ruitverwysing. Raadpleeg asseblief die 2014 SARL-kompetisiehandboek vir die kategorieë, vermenigvuldigers en puntetoekennings. Die sluitingsdatum vir logstate is 19 April 2014 en moet aan edleighton@gmail.com gestuur word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Sonvlek AR2010 is die bron van lae intensiteit C-klas fakkels terwyl al die ander sigbare sonvlekke stabiel is.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 100.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar 6 m openinge vroegaand te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Maart – Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die Skole Satellietprojek aan SA AMSAT. Besoek www.amsatsa.org.za.
3 April – Eerste skof van die SARL 80 m QSO Geselligheid 17:00 tot 20:00 UTC.
5 April - RaDAR Kompetisie 14:00 UTC tot18:00 UTC.
10 April – Sluitingsdatum vir registrasie vir die RAE IN Mei.
11-13 April – Nasionale Konvensie van die SARL.
12 April – Laaste dag vir die instuur van logstate vir die SARL 80 m QSO Geselligheid aan zs5lp@vodamail.co.za.
19 April - Laaste dag vir die instuur van logstate vir die RaDAR Kompetisie.
24 Mei - SA AMSAT se RUIMTESIMPOSIUM.

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure sal in die komende week op www.sarl.org.za. beskikbaar wees vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX

======================= Boodskap Eindig =======================

Om u e-pos-inskrywing in hierdie poslys te verwyder of te redigeer gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003