Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 30 MAART 2014

Goeie môre, U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SKA SAL MET DIE VOLGENDE INTEGNET BESPREEK WORD

REGISTREER HIERDIE NAWEEK VIR DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE

SLUITINGSDATUM VIR DIE RAE IS 10 APRIL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SKA SAL MET DIE VOLGENDE INTEGNET BESPREEK WORD

Die eerste skottel van die MeerKatkonstellasie op die SKA-terrein in die Karoo is verlede week in gebruik geneem. Op Dinsdag 15 April sal Prof. Justin Jones tydens die Integnet praat oor die vordering wat gemaak is en vrae oor die SKA en die betekenis van MeerKat beantwoord.

Tydens die indiensneming van die eerste skottel het die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Derrick Hanekom, gesê dat die bydrae wat MeerKat beloof om tot ons begrip van die heelal te maak, baie groot is. Die Minister het gesê: “Terwyl vir baie van ons leke dit vir ons moeilik is om die fyner punte te verstaan, het ek 'n diep waardering ontwikkel vir die belangrikheid van hierdie strewes. Materieel is dit 'n feit dat wetenskaplike ontdekkings neig om onverwagte byvoordele op te lewer. Die relatiewe jong wetenskap van radioastronomie het, om slegs een voorbeeld te noem, 'n groot en direkte bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Wi-Fi-tegnologie wat alledaagse deel van ons bestaan uitmaak.”

“Intellektueel, wat kan meer belangrik wees as 'n beter begrip van ons kosmiese oorsprong, die verstaan van hoe die heelal gevorm is, hoe sterre en sterrestelsels gevorm is, hoe die son en aarde gebore en lewe ontstaan het?”

Die Integnet sal op Dinsdag 15 April 2014, beginnende om 19:30, gehou word. Klubs wat hulle herhaler aan die netwerk wil koppel, moet 'n e-pos stuur aan artoday@sarl.org.za. Sluit by ons aan by hierdie op-die-lug gebeurtenis van die SARL.

REGISTREER HIERDIE NAWEEK VIR DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE

Het u geregistreer vir die SARL se konvensie, Algemene Jaarvergadering en die toekenningsdinee? Besonderhede is beskikbaar op die SARL se webtuiste nl. www.sarl.org.za. Die registrasievorm is eenvoudig en u kan d.m.v. internetbankoordrag betaal. Die uitstalling is die grootste van amateurradio verwante gebeurtenisse in onlangse tye en is die hele Saterdag op 12 April oop.

SA AMSAT het verlede week hulle plan om die eerste prototipe van die KLETSkous transponeerder te demonstreer. Die ruimteraamwerk is van plaaslike ontwerp en sal ook uitgestal word. Dit is maar een van die talle aktiwiteite. Indien u in historiese toerusting belangstel, sal die stalletjie van die Antieke Radiovereniging 'n besoek werd wees.

Indien u slegs die SARL se AJV op Saterdag 12 April wil bywoon, moet u steeds registreer ten einde gratis toegang tot die terrein te verkry, andersins moet u R25 toegangsgeld betaal. Registrasie vir die AJV is gratis vir SARL-lede. Vir bywoning van die AJV kan SARL-lede 'n e-pos stuur aan admin@sarl.org.za met vermelding van u naam, roepsein en telefoonnommer. Plaas AJV registrasie in die onderwerplyn. Lede kan ook gedurende kantoorure vir Mariska skakel by 011 675 2393 skakel en hulle naam, roepsein, telefoonnommer en e-posadres voorsien. Registrasie per e-pos en telefoon sluit op Donderdag 10 April 2014 ten einde toe te laat vir verwerking van die inligting.

Indien u egter nie die AJV gaan bywoon nie, voltooi dan asb. so gou moontlik die volmagvorm wat ook op die webwerf beskikbaar is. Indien u onseker is om aan wie die volmag te verleen, kies die President, Sekretaris of een van die Raadslede om u belange te behartig. Indien u onseker is aangaande die proses, skakel Mariska by 011 675 2393 om u te help.

Moenie die Vrydagaand se braai en Saterdagaand se toekenningsdinee misloop nie. Die SARL se Nasionale Konvensie vind van 11 tot 13 April in die Furrow Lane Hotel, Furrowweg 272, Equestria, Pretoria plaas. Maak daarvan 'n uitnaweek en bly in die Furrow Lane oor, dit is 'n groot boetiekhotel om u en u gade te bederf.

SLUITINGSDATUM VIR DIE RAE IS 10 APRIL

Die SARL het 'n nuwe aanlynregistrasiestelsel in werking gestel vir die amateurradioeksamen. Kandidate wat wens om die eksamen in Mei af te lê moet die SARL se webtuiste besoek vir besonderhede oor hoe om vir die eksamen te registreer. Die sluitingsdatum vir registrasie is 10 April 2014. Geen laatinskrywings sal aanvaar word nie. Deel asb. hierdie inligting mee aan voornemende kandidate vir die RAE.

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

Na 6 April tree frekwensieveranderings vir Amateur Radio Today inwerking. Op Maandae om 18:30 SAT vervang 3 230 vir 4 895 kHz en op Sondae om 10:00 SAT vervang 17 760 vir 17 660 kHz. Ontvangsrapporte sal waardeer word, stuur dit aan artoday@sarl.org.za.

REGISTREER NOU VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

Registrasies vir SA AMSAT se RUIMTESIMPOSIUM kan nou gedoen word. Die simposium word op Saterdag 24 Mei in die Innovation Hub in Pretoria gehou. Afslag geld vir vroeë besprekings en vir lede van die SARL, of SA AMSAT. Verkry besonderhede by www.amsatsa.org.za.

AANSOEKE VIR SARL-LIDMAATSKAP

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
Jaco la Grange, ZS1JLG;
Friedrich Nebe, ZR1ABJ;
Dave du Toit, ZS6DDU.

Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.
Die SARL ledetal is tans 1 705

HOE HET ROSS A. HULL TROPOVOORTPLANTING ONTDEK?

Ross A. Hull, VK3JU, ex-redakteur van Wireless Weekly, het van Australië na die VSA ge-emigreer waar hy by die personeel van die ARRL aangesluit en assistentredakteur van QST geword het. As 'n buitelander was hy nie deur VS-wetgewing toegelaat om vir 'n amateurradiolisensie aansoek te doen nie, maar as lid van die ARRL se hoofkantoorpersoneel, kon hy onder hulle roepsein werk. Hy het nuwe toerusting vir die ARRL ontwikkel en baie artikels oor konstruksie vir die vroeë ARRL-radiohandboeke geskryf en 'n besondere belangstelling in die ‘Ultra Hoëfrekwensie’ (UHF) 5 meter (56-60 MHZ0 band getoon.

In daardie tyd het al die kundiges geglo dat die “UHF”-spektrum bokant 30 MHz sleges geskik is vir kortdistansie f siglynkommunikasie, maar in 1934 het Hull hulle verkeerd bewys. Hy was woonagtig in Wes0Hartford, Connecticut en het besluit om toetse op 160 MHz met amateurs in Boston, Massachusetts, ongeveer 60 km vêr, te doen. Aan die begin het die Bostonse amateurs niks gehoor nie totdat hy sy vertikale antenna vervang het met 'n rigantenna bestaande uit vier kwartgolf uitstralers met weerkaarsers, in fase gevoer. Seine het van oggend tot aand of dag tot dag van swak tot baie sterk gewissel. Ross het gou besef dat hierdie verskynsel van die weer afhanklik was en deur temperatuuromkerings veroorsaak was; hy6 het dus refraksie van BHF-radogolwe in die troposfeer ontdek! Ander amateurs het gou daarna begin om rigstralers op 5 meter te gebruik en die reikafstand tot 500 km gerek.

Ongelukkig het Ross tot 'n skielike en treurige einde gekom toe hy na 'n skakelaar onder sy lessenaar gereik het en aan die 6 000 V terminaal van die transformator, wat krag aan sy katodestraal TV-buis geraak het; hy het oombliklik gesterf.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig gaan wees. Sonvlekke AR2010 en 2014 huisves genoeg energie vir M-klas fakkels maar is tans stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 100.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar 6 m openinge vroeg aand te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Maart – Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die Skole Satellietprojek aan SA AMSAT. Besoek www.amsatsa.org.za.
3 April – Eerste skof van die SARL 80 m QSO Geselligheid 17:00 tot 20:00 UTC.
5 April - RaDAR Kompetisie 14:00 UTC tot18:00 UTC.
10 April – Sluitingsdatum vir registrasie vir die RAE IN Mei.
11-13 April – Nasionale Konvensie van die SARL.
12 April – Laaste dag vir die instuur van logstate vir die SARL 80 m QSO Geselligheid aan zs5lp@vodamail.co.za.
15 April – Integnet oor SKA om 19:30.
19 April - Laaste dag vir die instuur van logstate vir die RaDAR Kompetisie.
24 Mei - SA AMSAT se RUIMTESIMPOSIUM.

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure sal in die komende week op www.sarl.org.za. beskikbaar wees vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX

======================= Boodskap Eindig =======================

Om u e-pos-inskrywing in hierdie poslys te verwyder of te redigeer gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003