Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


Suid-Afrikaanse Radioliga Nuus 18 Mei 2014

Goeie môre en welkom, Hierdie bulletin word gelees deur ............ (naam, roepsein en QTH waar toepaslik)en jy luister na ZS6SRL, die amptelike stem van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 plaaslike tyd in Engels uit op HF en verskeie BHF en UHF herhalers landswyd. Echolink luisteraars kan koppel aan ZS0JPL vir 'n audiostroom.

Besoek die Suid-Afrikaanse Radioliga webblad om 'n oudio weergawe van hierdie bulletin te bekom. Terwyl jy daar is kan u ook 'n teksweergawe aflaai en ook inteken om bulletins per e-pos te ontvang.

Neem ook kennis dat vanaf vandag sal al die relevante epos en webadresse slegs aan die einde van die gedrukte weergawe van hierdie bulletin verskyn.

== Ons begin vanmore se nuus met tyding van ‘n stil sleutel

== Dit is met leedwese dat ons kennis neem van die afsterwe van Martin Holland ZS1SM, ook bekend as die “Stasie Meester”

Ons koester net mooi herinneringe van die Stasie Meester se staaltjies rakende ekspedisies, die ou Suid Afrikaanse Spoorweë asook die vele onderhoude. Ons innige simpatie aan sy vrou Erna en sy kinders

‘n +/- 4 sekonde stilte asb.

Nuus Hooftrekke


Terugvoer vanaf die SARL en OKOSA kwartaal vergadering



Indringers op 10 meter verwyder


en SA AMSAT ruimtesimposium volgende week

== Tydens die kwartaallikse skakel vergadering tussen OKOSA en die SARL is dit bevestig dat OKOSA hard aan die werk is om op datum te kom met die agterstallige amateur lisensies. Na wat berig word behoort die uitstaande lisensies binnekort gepos te word.

Tydens die vergadering is die datum vir die volgende werkgroep byeenkoms ook vasgelê. Op die agenda vir hierdie byeenkoms is onder andere ‘n gesprek oor uitsetkrag vlakke, die uitbreiding van die 160 meter band en verskeie administratiewe sake.

Die liga is tans besig om die regulatoriese voorstelle, wat reeds in Desember 2012 voorgelê is aan te pas vir voorlegging tydens hierdie werkwinkel. As jy graag ‘n bydrae tot hierdie dokument wil lewer kan jy, voor Dinsdag 20 Mei, vir die span ‘n e pos stuur. Die adres is beskikbaar in die gedrukte weergawe.

== Die tyd raak nou min vir diegene wat graag die SA ASAT ruimte simposium eerskomende Saterdag 24 Mei wil bywoon. Die sluitingsdatum vir registrasies is reeds eerskomende Vrydag 23 Mei. Die geleentheid vind plaas by die Innovation Hub in Pretoria en beloof om hope interessante inligting aan bywoners te bied. Die volledige program kan van die SA AMSAT webtuiste verkry word waar jy ook kan inteken om by te woon.

== In die Jongste uitgawe van die IARU streek 1 monitering nuusbrief word berig dat die Verenigde Koninkryk se Telekommunikasie reguleerder OFCOM se Baldock monitorstasie ‘n indringer op die 10 meter band betrap en ook laat verwyder het. Volgens die berig het Peter Jost HB9CET die onwettige gebruik van die band, deur vissers op 10,123 MHz ontdek en aan die Britse Radio Vereniging, die RAGB, gerapporteer.

Die RSGB indringer waak koördineerder Chris Cummings G4BOH het Baldock monitor stasie toe versoek om ondersoek in te stel. Op hulle beurt het Baldock die Britse vloot gekontak wat weer die vissers opgespoor het en beveel het om die gebruik van die frekwensie te staak. Dit het die gewenste uitwerking gehad en die frekwensie is nou weer oop vir gebruik deur amateurradio.

== Jy is ingeskakel op ‘n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio liga en hierdie bulletin word gelees deur …………………………….(Naam en roepsein) en ons gaan nou voort met nuus vanaf die radio liga.

== Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
Riaan Viviers, ZSL1100;
Willem Erasmus ZSL1101;
Hannes Swanepoel ZSL1102;
Pete Bruno Ehmke ZSL1103;.
Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.
Ledetal van die SARL is tans 1728

== Die sluitingsdatum vir aansoeke as SARL kantoor administrateur stuit eerskomende Vrydag 23 Mei met onderhoude wat dan tydens die daaropvolgende week gevoer sal word. Indien jy belangstel in die betrekking kan jy jou CV per epos aan die sekretaris stuur. Let wel die indien van ‘n CV sal nie noodwendig ‘n uitnodiging vir onderhoud tot gevolg he nie.

== Die volgende SARL@Home fokus op oppervlak gemonteerde komponente. Die Simposium word op 7 Junie aangebied by die Nasionale Amateurradio Sentrum I en Frik Wolf ZS6FZ sal hierdie interessante onderwerp aanroer. ‘n Praktiese demonstrasie sal ook gehou word. Voorafbespreking is noodsaaklik om die reëlings te vergemaklik. Bespreek deur die skakel op die liga se webtuiste.

== Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 31 Mei 2014 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel, Geoff ZS6C 082 546 5546.

== Die High Altitude Ballon Experiment of te wel HABEX span, beplan ‘n vergadering vir die 21ste Mei 2014 om 19:00 te Arrowepark Benoni HABEX. Belangstellendes word genooi om by die groep aan te sluit

Die HABEX span snoer hul kragte saam met Houes4Hack span wat beplan om ‘n beheerde sweeftuig vlug vanaf ‘n baie hoë hoogtevlug te lanseer. Sover bekend is hierdie ‘n eerste vir Suid Afrika en beloof dit om ‘n baie opwindende poging te wees.

Om meer uit te vind kontak asseblief vir Chris ZS6COG

== Die Kempton Park Amateur Radio Tegniese Vereniging en die Antieke Radio Vereniging gekombineerde snuffel mark en ope dag vind plaas eerskomende Saterdag 24 Mei 2014.

Dit word aangebied by die Impala Voortrekkers Sentrum in, Rooibos Laan, Allen Grove, Kempton Park vanaf 08H00. Vir navrae of om 'n tafel te bespreek, kontak gerus vir Selwyn ZS6SEL by 082 804 2782 of Nico ZS6QL by 083 269 9939.

Meer inligting asook ‘n roetekaart is te vinde op die KARTS webblad Voorwaar 'n interessante en aangename geleentheid om na uit te sien. Sien jou daar!

== Vir diegene wat belangstel in seinvoortplanting navorsing op die 60 meter band is hier nog so stukkie goeie nuus. Indien jy ‘n lid van die SARL is en ingeteken het om deel te neem aan hierdie navorsing dan kan jy nog vanmiddag, Sondag 18 Mei, tussen 13:00 en 20:00 deel neem aan hierdie projek. Die naweek aktiwiteit is oop vir lede wat ingeteken het en ook vir persone wat permanent buite die grense van Suid Afrika woon. Dit beloof heelwat opwinding en jy kan meer te wete kom hieroor deur die SARL webtuiste te besoek.


== Aan die kompetisie front kan jy deelneem aan die Internasionale dag van die Jong Dames wat eerskomende Saterdag 24 Mei gehou word. Die kompetisie vind plaas op die HF en BHF bande. Log state moet reeds teen 26 Mei ingedien wees en jy kan meer uitvind deur die skakels op die gedrukte weergawe vand ie SARL nuus te volg.

== Die ZS3 naelloop, wat op 4 Mei plaasgevind het, het goeie ondersteuning geniet. 18 Logstate is ontvang waarvan 4 as kontrole state gebruik is.
Hier is die uitslae vir die 1 uur geleentheid:
1ste: ZS3SVD, Sian van Deventer, 119 punte.
2de: ZS3JAN, Jan Jordaan, 90 punte.
3de: ZS4W, Warren Reilly, 78 punte.
4de: ZS3Y, Volker Otto, 72 punte.
Die Noord Kaap Amateurradio klub bedank almal wat bygedra het tot die sukses van hierdie geleentheid.

== Op die HF front berig Hannes Coetzee, ZS6BZP, dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Sonvlekke AR2056, AR2060 en AR2063 het almal "beta-gamma" magneetvelde wat genoeg energie huisves vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 94.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die SANSA webtuiste vir meer inligting.

== Dagboek van gebeure

21 Mei HABEX vergadering te Arrowe Park in Benoni meer inligting kan vanaf Chris ZS6COG verkry word

Eerskomende Saterdag 24 Mei is besonder bedrywig met die AMSAT Sa simposium aan die voorpunt by die Inovation hub in Pretoria, die Internasionale Jong dame dag wedstryd asook die KARTS en AWA snuffelmark by die Impala Voortrekker sentrum, Rooibos laan, Allen Grove, Kempton Park

25 Mei vind die SARL digitale kompetisie plaas tussen 15:00 en 18:00 plaaslike tyd, raadpleeg die kompetisie handleiding vir meer inligting

31 Mei is dit tyd vir die Wesrand Amateurradio klub se snuffelmark om 12:00 die middag by hul klubhuis in Kroton str Weltevredenpark Roodepoort

07 Junie SARL@Home by die NARS

08 Junie die ZS4 Naeloop

== Ter afsluiting weer ‘n terugblik op ons hoofnuus. Die kwartaallikse SARL en OKOSA vergadering is die afgelope Vrydag gehou. Terugvoer is dat indien jy nog nie jou lisensie ontvang het nie moet jy net geduld aan die dag le aangesien OKOSA werk aan die agterstand ten opsigte van die uitreik van amateurradio lisensies .

Dit bring ons dan aan die einde van hierdie Suid-Afrikaanse Radioliga nuusbulletin, vind meer uit oor hierdie en ander nuus deur die SARL se webtuiste te besoek.

Suid-Afrikaanse Radioliga-nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaansop die webtuiste onder die newsinbox skakel nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga nooi jou om elke Sondagoggend om 10:00 Plaaslike te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz 'n potgooi deur Dick, ZS6RO en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor die land

'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Jy het geluister na 'n bulletin van die Suid Afrikaanse Radio Liga saamgestel en geredigeer deur Dawie Conradie ZR6DHC

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens u 'n mooi week toe. Totsiens

Webskakels genoem in hierdie bulletin

KARTS webblad www.zs6kts.co.za
Chris ZS6COG zs6cog@gmail.com
Die Sekretaris secretary@sarl.org.za
SA AMSAT www.amsatsa.org.za.
SANSA webblad spaceweather.sansa.org.za
Kompetisie Handleiding http://www.sarl.org.za/public/contests/contestrules.asp



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003