Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL NUUS SONDAG 13 JULIE 2014
Goeiemore en welkom, jy kan nou luister na die weeklikse nuus uitsending van die Suid Afrikaanse Radio Liga gelees deur ________________________ (naam, roepsein en QTH waar toepaslik). Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 plaaslike tyd in Engels uit op HF en verskeie BHF en UHF herhalers landswyd. Vir Echolink luisteraars is daar ‘n herleiding deur ZS0JPL

Hierdie oudio bulletin kan afgelaai word vanaf die SARL se webblad by www.sarl.org.za ‘n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook van hierdie webblad afgelaai word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e pos te ontvang.


IN VANDAG SE NUUS

TONY VOORVELD DIE HOOFSPREKER BY DIE RTA SIMPOSIA IN GAUTENG

UITNODIGING NA IARU STREEK EEN KONFERENSIE AFGEVAARDIGDES INLIGTINGSESSIE

DIE ANTIEKE DRAADLOOS VERENIGING SPOG MET NUWE WEBTUISTE

SARL@HOME 26 JULIE BY NARS

BHF TRANSATLANTIESE KOMMUNIKASIE WORD N WERKLIKHEID

Bky ingeskakel vir hierdie en ander nuusitems

** Tony Voorveld ZS6CCD sal optree as hoofspreker tydens die twee RTA geleenthede wat binnekort in Gauteng plaasvind. Tony keer terug na die RTA verhoog hierdie jaar tydens ‘’n geleentheid wat beloof om weereens baie genotvol te wees. Besprekings vir beide hierdie RTA geleenthede kan reeds aanlyn op die SARL webblad gedoen word.Die Johannesburg geleentheid word by die Nasionale Amateurradio sentrum aangebied op 23 Augustus maar kan ongelukkig net 30 persone huisves. Die Pretoria geleentheid vind op 13 September plaas by die Innovation hub waar 200 persone gehuisves kan word. Bespreek nou op die SARL webblad vir hierdie opwindende geleenthede.

** Kom geniet die volgende SARL@HOME geleentheid saam met die SARL president Geoff Levey ZS6C waar hy sal gesels oor kompetisies en ook kompetisie bedryf sagtware. Geoff sal nie net hieroor gesels nie maar ook die programmatuur demonstreer. Bring ‘’n geheue stokkie saam en neem sommer ‘’n kopie van die programmatuur saam huis toe. Die fooi vir hierdie geleentheid beloop R 100,00 vir nie lede terwyl lede van die liga gratis toegang geniet. Bespreek asseblief vroegtydig om teleurstelling te voorkom. terloops die konferensie geriewe beskik oor warm en koue lugversorging en verversings sal ook aangebied word.

** Na verlede week se berig oor die aanslag op die BHF transatlantiese kommunikasie gaping het ons hierdie week nuus ontvang dat die brug ten minste al in een rigting oorgesteek is.

Terry Gabriel, M0VRL, in Delabole, Cornwall, Engeland, het omstreeks 11:53 UTC laas Saterdag 5 Julie swak JT65 seine gehoor op 145,155mHz. Hierdie seine blyk afkomstig te wees vanaf die transatlantiese toetse wat deur die VC1T kanadese span uitgevoer word.

Terry besit ’n kragtige stasie wat onder andere ook die 144mHz enkel syband IARU streek 1 tropo afstand oor 4106km deel met D44TD op die Kaap Verdiese eilande. Die afstand tussen Terry en die VC1T stasie in Pouch Cove, New Foundland is ‘n allemintige 3457 km. Tans gebruik die VC1T span die WSJT 9.7 sagteware met 800 watt wat in ’n 43 element Yagi gevoer word.

Maar het is dit nog die einde niet want op 6 Julie om 13:41 UTC ontvang John Regnault, G4SWX die BHF bestuurder van die RSGB ‘n CQ via meteoor strooi deur middel van FSK41 vanaf die VC1T groep. Dit is later bevestig dat dit wel die formaat is wat die groep op daardie tydstip gebruik het
Hulle het wel die 4 ure gleuf begin met geen verdere kommunikasie via epos of egesels nie. Gedurende hierdie tydgleuf het G4SWX daarin geslaag om nog 3 keer die CQ boodskappe te dekodeer waar die VC1T roepsein wel sigbaar was. Hierdie opwindende nuus word gestaaf deur skermgrepe asook kaarte van die tropo omstandighede oor die Noord Atlantiese oseaan. Die Hepburn voorspellings het tot op hede baie swak toestande oor die Noord Atlantiese streek voorspel maar daar is egter beter vooruitsigte vir 11 en 12 Julie 2014 wanneer die toetse amptelik ten ‘n einde sal kom.

Tot op hede kon daar nog nie in geslaag word om ‘n aard tot aard QSO op 144mHz te voer tussen die twee vastelande nie. Dit is dus baie meer uitdagend as om ‘n EME kontak oor 800 000km op die band te maak.


Jy is ingeskakel op ‘n nuusbulletin van die Suid Afrikaanse Radio Liga gelees deur ________________ (Naam en roepsein) en ons gaan nou voort met liga nuus

** Aansoeke om lidmaatskap is ontvang vanaf die volgende twee persone:
Theo Wessels: ZSL1111
P C Strydom: ZSL1112

Terloops, ‘n ZSL roepsein word uitgereik aan luisteraars en kan nie gebruik word vir uitsaai doeleindes nie

Indien daar enige beswaar is ten opsigte van hierdie hierdie aansoeke moet dit die sekretaris voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin bereik

SARL Lidmaatskap staan tans op 1821 lede met 589 wat reeds hernu het

** Die volgende Integnet word Dinsdagaand 22 Julie om 19:30 aangebied en het dit ten doel om instruksies aan die IARU Streek een vergadering afgevaardigdes oor te dra. Skakels na die verskeie agenda items kan gevind word op die SARL webblad gevind word en dit sal raadsaam wees om die betrokke voorstelle deur te lees voor die integnet Dinsdagaand. Die drie afgevaardigdes wat die vergadering namens die SARL gaan bywoon is, Geoff Levy ZS6C, Rassie Erasmus, ZS1YT en Riaan Greeff, ZS4PR . Hulle sal die verskeie voorstelle oor HF, BHF en UHF asook finansiële sake aanroer. Klubs wat graag hul herhalers wil inskakel by die netwerk moet asseblief voor 15 Julie hul inligting aan artoday@sarl.org.za stuur om koppeling te reel.

** Die Antieke Draadloos vereniging, die AWA het sopas ‘n nuwe webblad ryker geword. Dit is wel die moeite werd om ‘n draadjie te maak by www.awasa.org.za. Die vereniging se gereelde weeklikse nette vind plaas op Saterdae om 06:00 op 3615kHz vir AM gebruikers en om 08:30 op 7140kHz vir SSB gebruikers, terwyl daar herleiding is op 14140kHz.. Barry ZS6AJY is die net kontroleur vir die gelykgolf net om 14:00 en John ZS1WJ is kontroleur vir die 7080kHz net Saterdae om 07:00 vanaf die Wes Kaap. Elke Woensdagaand om 19:00 is daar ook ‘n AM net op 3615kHz waar die musikale frekwensies ook ‘n beurt kry

** Die SARL jeugnet was goed ondersteun en sal voortaan elke maand aangebied word. Die volgende net is geskeduleer vir 3 Augustus op 7070kHz om 15:00. Klubs word aangemoedig om hul fasiliteite beskikbaar te stel vir die jongmense om aan die net deel te neem.

Die doel van die net is om jongmense aan te spoor en aan mekaar voor te stel. Vir ons ouer gebruikers is daar ‘n vriendelike versoek, gee die jonges asseblief so kansie dat hulle ook kan saam kuier, moet hulle nie onnodig steur nie, jy is altyd welkom om saam te luister.

Die wenners van die huidige foto kompetisie sal volgende week aangekondig word aangesien die spertyd uitgestel is tot middernag vannag, Sondag 13 Julie 2014. Die prys in hierdie kompetisie is ‘n Velleman Edukit ter waarde van R 395,00 geborg deur Electronics FG in Fearie Glen Pretoria.



Kompetisie nuus

Drie van die SARL se groot kompetisies word elke jaar gedurende Augustus aangebied. Die SARL HF enkelsyband kompetisie word aangebied op 3 Augustus waarna die SARL digitale kompetisie volg op 17 Augustus en die groot finalé is die HF gelykgolf geleentheid op 31 Augustus. Tydens elk van hierdie drie geleenthede is daar ook ‘n ARRL Antenne boek ter waarde van R 900,00 op die spel. Kry dus daardie HF lugdrade vir 20; 40 en 80 meter nou gereed en kom deel in die pret. Meer inligting hieroor is beskikbaar op die wedstydblaaie van die SARL se webblad .

Kom leer ook hoe om beter te presteer in kompetisies by Geoff Levey ZS6C tydens die SARL@HOME geleentheid


** Die winter QRP kompetisie is ook weer op hande. Die QRP kompetisies is bedoel as pret geleenthede om QRP werking tussen radio amateurs te bevorder met die gebruik van self geboude toerusting of as 'n draagbare of veld stasie en die gebruik van tydelike antennas nie, maar dit is nie 'n vereiste nie. Die Winter QRP Kompetisie sal vanaf 12:00 tot 15:00 UTC op Saterdag 19 Julie gehou word. Dit is 'n foon en GG kompetisie met 'n krag uitset van 5 watt (PEP) of minder en 'n stasie kan een keer per band per modus gewerk word. Daar is geen antenna beperkings nie.

Die eerste uur is beperk tot die 40 m-band, die oorblywende twee ure is deelnemers vry om enige HF (nie-WARC) band te gebruik soos hulle wil. Let asseblief op na die kompetisie segmente, soos uiteengesit in die Algemene reëls. Dit sal voordelig wees om die standaard QRP roep frekwensies om te gebruik as die beginpunt.

'n RS of RST verslag en jou ruitblok word uitgeruil. Oorweeg dit asseblief om ''n realistiese RS(T) sein verslag te doen. Gebruik asseblief die volle 6 karakter ruitblok, bv. KG10xu. As die stasie se ruitblok onbekend is, gebruik dan 'n ander manier om die stasie se plek te identifiseer. Logs moet ingedien word teen 26 Julie 2014 by contest@sarl.org.za. 'n foto van die stasie in .jpg formaat moet elke log inskrywing vergesel.

Lees asseblief die volledige reels in die 2014 SARL Kompetisie handboek

HF Voortplanting voorspelling

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Groot sonvlekke AR2108 en AR2109 het "delta" magneetvelde wat genoeg energie huisves vir X-klas sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 100.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Opwindende vroëe aand 6 m openinge is ook 'n moontlikheid.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Dagboek van gebeure

19 Julie is dit tyd vir die winter QRP kompetisie, op 26 en 27 Julie vind die RSGB se eilande op die lug geleentheid plaas terwyl die HF foon kompetisie die die 3rde Augustus op die lug is. 9 Augustus is dit weer tyd vir die SARL Jong Dames Naelloop en die naweek van 16 en 17 Augustus is dit die Internasionale Vuurtoring en ligskip naweek.

Meer inligting oor hierdie en ander komende aktiwiteite kan verkry word deur ‘n afskrif van die SARL dagboek van die SARL webblad af te laai.

So kom ons aan die einde van vandag se bulletin. Ter afsluiting neem ons ‘n terugblik na die hoofitem in vandag se nuus: Tony Voorveld ZS6CCD sal optree as hoofspreker tydens die twee RTA geleenthede wat op 23 Augustus en 13 September by die Nasionale Amateurradio sentrum en die Inovation Hubb in Pretoria onderskeidelik sal plaasvind

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Plaaslike tyd na die amateurradio tydskrif program "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz 'n potgooi deur Dick, ZS6RO en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor die land
'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 3 230 kHz plaas.
Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.
Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op die webtuiste onder die newsinbox skakel nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

En daarmee kom ons aan die einde van hierdie nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio Liga saamgestel en geredigeer deur Dawie Conradie ZR6DHC

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou 'n mooi week toe. Totsiens

/EX




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003