Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 28 DESEMBER 2014

Goeiemore en welkom! Jy kan nou luister na die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga gelees deur .............................................. (naam, roepsein en QTH waar toepaslik).

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 sentraal Afrika tyd 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 sentraal Afrika tyd in Engels uit op HF en verskeie BHF en UHF herhalers landswyd. Vir Echolink luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS0JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Radioliga webblad.

Hierdie oudio bulletin kan van die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word. 'n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG

ZS90SARL SKOP AF VANUIT PORT ELIZABETH

HERNUWING VAN AMATEURRADIO LISENSIES EN DIE GEBRUIK VAN VORM B

JOU INSETTE BENODIG VIR DIE NUWE REEKS RTA

En

WEES BEDAG OP SPORADIESE E LAAG VOORTPLANTING VANAF Z21SIX OP 50,540 MHZ

Bly ingeskakel vir meer hieroor asook ander berigte.

** Neem asseblief kennis dat die Suid-Afrikaanse Radioliga kantoor tans gesluit is vir die feesseisoen. Vonnie sal weer vanaf 5 Januarie 2014 die kantoor beman. Sake wat dringende aandag vereis mag verwys word na secretary@sarl.org.za

** Theunis Potgieter ZS2EC van die Port Elizabeth Amateurradiovereniging sal die eerste stasie wees wat gebruik maak van die ZS90SARL roepsein wat die SARL se 90-jarige bestaan vier. Dit is ook gepas aangesien Port Elizabeth die plek was waar die eerste radio uitsendings in Suid Afrika gedoen was.

Die South African Radio Relay League soos dit toe bekend gestaan het is gedurende Mei 1925 gestig, kort na die totstandkoming van die Internasionale Amateurradio unie in Parys.

Edward Alfred Jennings, ‘n telefoon tegnikus wat in PE gestasioneer was het gedurende 1896 verbeteringe aan ‘n telefoon mondstuk getoets toe hy ontdek het dat hierdie einste mondstuk die vermoë het om radio seine te ontvang. Dit het hy ontdek toe hy die statiese geknetter van die elektriese trem daarmee ontvang het.
Later dieselfde jaar het hy daarin geslaag om radio seine oor ongeveer 1 kilometer tussen sy huis in Sherlock straat en n’ primitiewe ontvangsstasie by Copper’s Kloof te stuur. Sodra die seine ontvang was by die kloof moes ‘n vlag gehys word, en dit het inderdaad ook so gebeur.

Hierdie eksperimente het egter nie wel afgegaan nie en is selfs met minagting van die destydse premier van die Kaap John X Merrimen begroet. Hy het onder andere gereken dat draadlose kommunikasie die lewe net te ingewikkeld sou maak, meer nog as die toe reeds bekende telegraaf kommunikasie. Dit het egter nie Jennings se moed gebreek nie.

Op 8 Mei 1899 lewer Jennings ‘n demonstrasie in die Port Elizabeth stadsaal waar ene MM Loubser, ‘n bekende in besigheid kringe van daardie tyd, ook teenwoordig was. Mnr Loubser het tydens hierdie geleentheid opgemerk dat Jennings oor die loop van ‘n jaar eksperimente en ontdekkings gedoen het wat net so belangrik was as die van Prof Marconi met die verskil dat hy dit in sy eie tyd gedoen het, wat dit soveel meer merkwaardig gemaak het. Hieruit kan ons dus aflei dat Edward Alfred Jennings, die eerste ware radio amateur in Suid Afrika was.

Maak gerus kontak met ZS90SARL en vier saam met ons 90 jaar van die Suid-Afrikaanse Radioliga en die eerste radio uitsendings vanaf Port Elizabeth. Theuns, ZS2EC sal die besondere roepsein tussen 1 en 11 Januarie 2015 aktiveer. Klubs en individue wat graag van die roepsein gebruik wil maak kan gerus hul versoeke rig aan sarl90@sarl.org.za Sluit ook moontlike datums en tye vir die gebruik van die roepsein in.

** Gedurende die afgelope week het ‘n bespreking op die Suid-Afrikaanse Radioliga forum die gebruik van “Vorm B” vir die hernuwing van amateurradio lisensies onder die loep geneem. Dit is vir die Suid-Afrikaanse Radioliga nuusspan aangenaam om aan te kondig dat hierdie vereiste nie meer van toepassing is nie.

Amateurradio lisensies is betaalbaar vanaf 1 April 2015 en lisensies wat nie teen die einde van April betaal is nie sal verval. OKOSA sal binnekort begin om hernuwingkenisgewings uit te stuur maar die onus berus steeds by amateurradio gebruikers om hul lisensies te betaal, af jy nou ‘n aanmaning ontvang al dan nie. Sou jy besluit om vir 5 jaar te betaal maak dan gerus so deur R 500-00 te betaal en volg dié op met ‘n elelktroniese pos boodskap aan dkhurau@icasa.org.za met bewoording tot daardie effek. Deur die 5 jaar opsie te neem bespaar jy nie net tyd en moeite nie maar ook ‘n verdere R 100-00 en jy word gevrywaar teen fluktuerende pryse wat deur inflasie beinvloed word. OKOSA het aangedui dat amateurradio lisensie gelde vanaf 2016 aan inflasie gekoppel sal word.

Jy luister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga

** Daar is nou ‘n nog makliker manier om herhaler inligting te besigtig. Peter Hers ZS6PHD het dit goedgedink om die herhaler databasis aan :Google Earth” te koppel. Soedoende kan jy nou herhaler posisies op ‘n google earth kaart besigtig. Jy sal natuurlik die google earth toepassing op jou rekenaar gelaai moet he om van hierdie fasiliteit gebruik te maak. Gaan na die SARL webblad en kies die “Services” kortpad daarna gaan jy na “Unmanned devices” en laastens na “Repeater Map*Requires Google Earth"

Hierdie is net nog ‘n diens vanaf die Suid-Afrikaanse Radioliga, is jy dalk nog nie lid van die Suid-Afrikaanse Radioliga nie? Dink jy dan nie dat dit juis nou die ideale geleentheid is om deel te word van die liga nie. As jy nou aansluit betaal jy net ‘n 6 maande intekenfooi. Vir meer inligting skakel vir Vonnie by 011 675 2393 na 5 Januarie2015.

** Athol Masdoll, Z21LV, in Harare het laat weet dat hy die Z21SIX baken frekwensie verander het na 50,450 MHz hoër syband. Die baken stuur tussen 09:00 en 15:00 plaaslike tyd daagliks ‘n stemboodskap uit. Die baken is gekoppel aan ‘n direksionele halo antenne en lewer ‘n maksimum drywing van 30 watt.

Hierdie DX baken is baie goed geleë vir die aanduiding van sporadiese e openinge tussen Zimbabwe en Zambie wat gereeld rondom die middag uur plaasvind hierdie tyd van die jaar. Daar is ook nog ‘n paar FM band 3 analoog TV stasies rondom Gweru geleë wat hul video op 199,25 MHz uitstuur en audio kan gehoor word op 205,25 MHz. Sporadiese e openinge maksimum bruikbare frekwensie is al tot op 220 MHz al waargeneem

BHF stasies noord van die Republiek moet uit luister vir die mees Suidelike bakens soos ZS1SIX in Kaapstad en ZS2X op 50,080 en 50,007 MHz onderskeidelik.

** Die huidige Radio ZS bevat inligting oor nie minder nie as 17-verskillende modusse vir BHF, UHF en SHF frekwensies wat gedurende die jaar op die verskillende bande gebruik kan word. Hierdie sluit ook 8 modusse in wat vir DX gebruik kan word gedurende die jaar. Die inligting behoort interessante leesstof te wees vir hardebaarde en ook vir beginners. Daar is ook ‘n lys van BHF/UHF afstandrekords wat die verskillende modusse beter toelig. Ons beveel ook aan dat jy bietjie dieper kyk na die voortplantingkaart wat verskyn op die September/Oktober 2013 uitgawe van Radio ZS se buiteblad.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga tob steeds oor die naam van die Radio Tegnologie in Aksie simposia. Dit beteken egter nie dat daar nie voorleggings vir hierdie gewilde reeks programme ingewag word nie. Indien jy belangstel om insette by een of dalk al die geleenthede te lewer stuur dan vir ons ‘n voorlegging om ons te bereik teen 31 Desember 2014. Een van die voorgestelde name vir die RTA in 2015 is Amateurradio in Aksie, wat dink jy daarvan? Stuur vir ons jou voorlegging en of kommentaar aan rta@sarl.org.za vir 31 Desember 2014.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 85.

Amateurs gaan die 20 tot 10 m DX bande geniet. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Ons bulletin staan einde se kant toe maar kom ons loer gou na die dagboek

Jy kan nog tot 31 Desember deelneem aan die Jeug op die Lug met ZS9YOTA geleentheid
31 Desember – is die sperdatum vir die indien van voorstelle vir referate by die RTA 2015 aan rta@sarl.org.za
1 Januarie 2015 - ZS90SARL skop af vanuit Port Elizabeth met ZS2EC
15 Januarie 2015 – sperdatum vir kommentaar op die gewysigde radio regulasies
16 tot 18 Januarie 2015 - PEARS Nasionale BHF/UHF kompetisie

En so kom ons aan die einde van hierdie bulletin, in ons terugblik op die hoofberig:

ZS90SARL sal vanaf 1 tot 11 Januarie 2015 op die lug wees vanuit Port Elizabeth. Neem deel aan hierdie geskiedkundige gebeurtenis deur kontak te maak met Theuns, ZS2EC en die span. ZS90SARL gedenk die 90-jarige bestaan van die Suid-Afrikaanse Radioliga

** Dit bring ons dan aan die einde van hierdie Suid-Afrikaanse Radioliga nuusbulletin, vind meer uit oor hierdie en ander nuus deur die SARL se webtuiste te besoek.

** Luister elke Sondagoggend om 10:00 Plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz 'n potgooi deur Dick, ZS6RO en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor die land. 'n potgooi deur Dick, ZS6RO en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies word regoor Suid-Afrika uitgesaai.
'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 895 kHz plaas. Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik ,- in beide Engels en Afrikaans op die SARL webtuiste onder die newsinbox skakel te plaas nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dawie Conradie ZR6DHC, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS/2 en gelees deur . . .

Die Afrikaanse nuusspan maak van hierdie geleentheid gebruik om elkeen ‘n baie voorspoedige 2015 toe te wens. Mag die jaar wat voorlê besaai wees mat baie rare DX en vele genotvolle ure in jou radio hok

Groete tot ‘n volgende keer . . . .

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003