Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID AFRIKAANSE RADIO LIGA NUUS SONDAG 18 JANUARIE 2015

Goeiemore en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (naam, roepsein en QTH waar toepaslik). Die SARL saai elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd 'n nuusbulletin landswyd uit in Afrikaans en om 08:30 plaaslike tyd in Engels, op HF sowel as verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar ‘n herleiding deur ZS0JPL. ‘n Potgooi is ook beskikbaar op die SARL se webblad.

Hierdie oudiobulletin kan van die SARL se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word. ‘n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e pos te ontvang.

Ons begin vanmore se bulletin met nuus van ‘n stil sleutel:

Dit is met leedwese dat ons verneem van die afsterwe van Peter Wren ZS5PJW op 15 Januarie 2015.

Peter was geliefd en gerespekteerd deur mede amateurs.

Ons innige simpatie aan sy vrou , Colleen, familie en vriende.


POUSE



HAMNET WYS WEEREENS SY STAAL

DIE ARRL AANLYN BIBLIOTEEK BESKIKBAAR

VK BALLON BEREIK DIE SUID AFRIKAANSE WESKUS

EN ‘N INTERESSANTE PRAATJIE OOR DOPLER

Bly ingeskakel vir meer hieroor en ook ander interessante stories

HAMNET het weereens sy staal gewys tydens ‘n reddingsoperasie wat op 13 Januarie teen die hange van Tafelberg by Platteklip gorge afgespeel het. ‘n 60 Jarige man het weens ‘n gebreekte enkel in die moeilikheid geraak, sowat 10 minute se stap van die bopunt van ‘n 2 uur staproete. Weens gure weer kon daar nie van helikopters gebruik gemaak word nie. Verskeie vrywilligers het tyd afgeneem by die werk om met die redding te help. Eerste op die toneel was Hendre ZU1HV, wat dadelik per radio die nodige inligting m.b.t die ligging en toestand van die pasiënt aan die nooddienste deurgegee het. Adriaan ZS1AVN en Phil ZS1VCC het die basis beman vanwaar kommunikasie en logistieke gekoördineer is. Aanvanklik het twee groepe, waaronder Paul ZS1V, deelgeneem aan die operasie. Na die pasiënt gestabiliseer is, het die geselskap die draagbaar langs die nou klipperige paadjie van die berg begin afdra.

Intussen het verskeie ander spanne ook by die groep aangesluit. Matt, ZS1MTF, en Johann, ZS1JHW, was onder die helpers, wat teen hierdie tyd reeds uit ses spanne van altesaam 20 persone bestaan het. Hierdie groep het die draagbaar oor die meer begaanbare dele gedra terwyl hulle die pasient oor die onbegaanbare terrein met behulp van ‘n menseketting aangegee het.

Teen ongeveer 18:00 was die reddingspoging iets van die verlede en het ‘n 4 uur lange spanpoging ten einde geloop. Die pasient is verder per helikopter afgevoer na ‘n mediese fasiliteit.

** Daar is nog tot vanmiddag 14:00 geleentheid vir amateurs om deel te neem aan die BHF/UHF kompetiesie wat deur die Port Elizabeth Amateur Radiovereniging aangebied word. Hierdie geleentheid loop om 14:00 plaaslike tyd ten einde. Verskeie amateurs, vanaf ten minste 5 afdelings, het laat weet dat hulle aktief sal wees tydens hierdie geleentheid.

Wees ook op die uitkyk vir langafstand voortplanting in die? sporadiese Tropogeut tussen 12:00 en 14:00, wat kommunikasie tussen ZS, Namibiê en Zimbabwe moontlik kan maak. Ons is juis nou in die piek tropogeut seisoen.

Twee klubs en twee individue het aangedui dat hulle pryse sal borg vir streekswenners in die 144 MHz kategorie. Hierdie aanloklike pryse word uitgeloof om meer deelname deur nuwe amateur op BHF te bevorder.

Die borge is Boland Amateurradioklub vir afdeling 1, Highway Amateurradioklub vir afdeling 5, Rory Morton ZS2BL vir afdeling 2 en Willem Badenhorst ZS6WAB vir afdeling 6. Die PEARS span wag in spanning vir die logstate van hierdie kompetiesie.


International News INTERNASIONALE NUUS

** Die AMATEUR RADIO RELAY LEAGUE (ARRL) het aangekondig dat 'n gratis bron van opvoedkundige aanbiedings en oudio geskiedenis beskikbaar is. Dit is daarop gemik om die geskiedenis van Amateurradio te bewaar en klubs en individue op te voed.

Die ARRL se Media- en Openbare Betrekkingebestuurder, Sean Kutzko, KX9X sê dat hierdie lang-termyn projek uiteindelik hopelik ‘n tuiste sal wees van die grootste bron van Amateurradio-verwante artikels en aanbiedings, geskep deur en vir die Amateurradiogemeenskap. Hier is ‘n geleentheid om materiaal in te dien vir die verbetering en opleiding van alle radioamateurs.

Kutzko sê die Biblioteek sal aanvanklik bestaan uit drie groot afdelings. Daar sal “Power Point” -aanbiedings wees, wat op klubvergaderings gebruik mag word, uitreik pogings na die publiek of ander openbare aanbiedings; PDF’s van algemene opvoedkundige materiaal oor Amateurradio en mondelinge geskiedenis van radioamateurs wat hul persoonlike ervarings in die stokperdjie beskryf. Besoek die gratis ARRL se Aanlynbiblioteek by www.arrl.org/library


** Nadat Andy, VK3YT, ‘n pico ballon (PS 30) op 27 Desember vanaf Melbourne, Australië gelanseer het, het hierdie klein ballon in 'n Oostelike rigting gesweef na die Suidpunt van Nieu-Seeland. Daarna is dit oor die Stille Oseaan en Suid-Amerika, die Suidelike Atlantiese Oseaan tot by Namibië aan die Weskus van Afrika. Die klein sonkragaangedrewe sterkfoelie partytjietipe ballon het volgens Andy, nadat dit gelanseer is, lank langs die kus gedwaal voordat dit oor die land begin beweeg het.

Daar was 'n groot internasionale poging om die ballon op te spoor nadat PS-30 sedert 22:50 UTC op 7 Januarie nie gehoor is. Na twee dae het dit begin lyk of PS-30 verlore is, maar Ken Gurr, ZS6KN, van Pretoria, het op 10 Januarie om 06:10 UTC, telemetrie van die ballon ingestuur, wat aangedui het dat dit langs die kus tussen Suid-Afrika en Namibië was."

'n Aantal Suid-Afrikaanse stasies het verslae oor die posisie deurgegee. Die laaste berig dui daarop dat dit op 'n hoogte van 9 734 meter was en teen 'n spoed van 43 km/h gevlieg het. Die NOAA-voorspelling het gedui op 'n vlugroete oor die Weskus van Suider-Afrika.

PS-30 is die nuutste pika-ballon, wat deur Andy, wat al beskryf is as die "meester van miniaturisasie”, van stapel gestuur is. Die loonvrag van 13 gram sluit ‘n 25 Mw WSPR en JT9 sender in, wat liggings en ander data uitstuur. Van sy vroeëre ballonvlugte het slegs 'n paar uur tot 'n paar dae geduur. Sommige het Tasmania, VK7, Queensland, VK4, Nieu-Seeland en Brasilië in Suid-Amerika bereik. Hierdie is die langste vlug tot dusver.

Oorspronklik is BHF APRS gebruik vir die volg van die ballon, maar met die HF-datasender nou in die loonvrag, is langafstandvolging moontlik, afhangende van die voortplanting,. Andy, het veral die nuwe volgstasies bedank, wat dit as 'n ware internasionale poging aangewend ? het. Meer verslae word benodig en dit is 'n eenvoudige proses. Vir meer inligting, besoek www.amateurradio.com.au/news/new-vk-pico-balloon-be-launched

Jy luister na ‘n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radioliga en ons gaan maak nou ‘n draai by die Liga se kantoor en bekyk ook sommer bietjie klubnuus



** Fritz Sutherland ZS6SF, sekretaris van die SARL, berig dat ‘n aansoek om lidmaatskap by die SARL van Andrew David Geldenhuys, ZSL1131, ontvang is. Enige beswaar teen die aanvaarding van hierdie aansoek, moet Fritz bereik voor of op eerskomende Dinsdag deur epos te stuur aan secretary@sarl.org.za

Die ledetal is tans 1604 met 35 geaffilieerde klubs.



** Die volgende SARL@HOME-geleentheid vind plaas op 7 Februarie. Twee aanbiedings sal gedoen word. Frik Wolf ZS6FZ se aanbieding behels hoe om oppervlaktekomponente te soldeer. Om jou nuutverwerfde kennis te toets, word `n klein projek gebou. Koste vir die werkswinkel is R150 vir SARL lede en R300 vir nie-lede. `n Etskring , komponente en `n laserskyf met aanwysings en ander inligting word ingesluit. Die werkswinkel begin om 8:30 en volledige inligting is op die SARL webblad beskikbaar.

Die tweede aanbieding begin om 14:00. Dit behels `n bespreking van WSPR (Volledige benaming asb) Kom leer meer oor die SARL se interessante 5 MHz voortplanting navorsingsprojek. Dit word aangebied deur Stuart Moss ZS6SGM en Hans van de Groenendal ZS6AKV.

Bespreek nou om teleurstelling te voorkom. ‘n Minimum van 7 persone word benodig om hierdie geleenthede aan te bied.

** Klubs en individue word steeds genooi om van die spesiale geleentheidsroepsein ZS90SARL, gebruik te maak ter herdenking aan die SARL se 90-jarige bestaan. Om ‘n weeklange tydgleuf te bespreek, stuur ‘n epos aan sarl90@sarl.org.za

‘n Rooster met beskikbare datums kan op die Liga se webblad gevind word

** Die Oosrand Radioklub bied hul volgende snuffelmark aan op Saterdag 31 Januarie tussen 12:00 en 16:00 by hul klubhuis te Ebenezerweg, Benoni. Skakel vir Judy by 079 730 2030 of via e-pos by zs6erb@gmail.com vir tafelbesprekings teen R20 per tafel

** Alle HAMNET-lede en ander belangstellendes word uitgenooi na ‘n DOPPLER bespreking wat aangebied word op 22 Januarie 2015 tussen, 18:00 en 21:00 by die Oosrand-tak klubhuis, Ebenezer weg, Benoni. Skakel Leon Lessing ZS6LMG by 082 440 7733 of zs6lmg@gmail.com vir meer inligting


** Die Somer QRP-kompetisie met enkelsyband en gelykgolfwerking, vind volgende Saterdagmiddag 24 Januarie vanaf 12:00 tot 15:00 UTC plaas ‘n Maksimum uitset van 5 watt of minder word gebruik. Die doel van die QRP-kompetisie is om met laekragwerking tussen radio amateurs,'n pretaktiwiteit te wees. Die gebruik van tuisgeboude toerusting, en om as `n draagbare- of veldstasie te werk, word sterk aanbeveel maar is nie 'n vereiste nié. 'n Stasie kan een keer per band en modus gewerk word en daar is geen antennabeperkings nie.

Die eerste uur is beperk tot die 40 m band. Vir die res kan enige HF band behalwe die WARC bande, gebruik word. Dit sal voordelig wees om die standaard QRP roepfrekwensies te gebruik as 'n beginpunt.

Die uitruiling is 'n RS- of RST-rapport en jou ruitverwysing word gebruik. Elke QSO tel 1 punt. Elke Suid-Afrikaanse roepgebied is 'n vermenigvuldiger en elke DXCC-land gewerk, is 'n vermenigvuldiger.

Jou log moet teen 31 Januarie aan contest@sarl.org.za gestuur word. Dui aan of die operateur 'n jongman of -dame is en 'n foto/s van jou stasie in werking moet jou loginskrywing vergesel. Vind die volledige reëls in die 2015 Blouboek.



Daar is heelwat kompetisies in Februarie:

Die AWA-gelykgolfdag vind plaas op 7 en 8 Februarie
Die Nasionalevelddag op 14 en 15 Februarie
Die Jeug-kompetisie op Saterdag 21 Februarie en
Die eerste SARL Digitale-kompetisie op Sondag 22 Februarie.

Kry die reëls in die 2015 Blouboek by www.sarl.org.za/public/contests/contestrules.asp

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Sonvlek AR2259 het 'n "beta-gamma-delta" magneetveld en huisves genoeg energie vir X-klas sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan die verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 80 vir die week gebruik word.

Amateurs kan goeie voortplanting op die 20 tot 10 m DX-bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Dagboek.

18 Januarie – ZS90SARL op die lug vanaf Kemptonpark
18 Januarie - neem deel aan die BHF/UHF-kompetiesie tot 14:00
24 Januarie - QRP -kompetiesie.
31 Januarie - Spertyd vir SARL-nominasies.
31 Januarie - ERB snuffelmark by hul klubhuis te Ebenezerweg Benoni
7 Februarie - SARL@HOME Bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom
Ons sluit hierdie bulletin af met ‘n kort terugblik op ons hoofberig:
HAMNET het weereens die afgelope week sy staal gewys tydens ‘n reddingspoging op Tefelberg.
Dit bring ons dan aan die einde van hierdie nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga-. Vind meer uit oor hierdie en ander nuus deur die SARL se webtuiste te besoek.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is ook herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz, 'n potgooi deur Dick, ZS6RO, en op verskeie op BHF- en UHF-frekwensies regoor die land. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle. Stuur 'n e-posboodskap aan artoday@sarl.org.za.

Die SARL se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte in Engels sowel as Afrikaans - indien moontlik - op die SARL-webtuiste onder die “newsinbox”- skakel, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Jy het geluister na ‘n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio Liga saamgestel en vertaal deur Dawie Conradie ZR6DHC en geredigeer deur Flip ZS4GE

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou 'n mooi week toe. Totsiens

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003