Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID AFRIKAANSE RADIO LIGA-NUUS 8 FEBRUARIE 2015

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur __________ (naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag landswyd 'n nuusbulletin uit in Afrikaans om 08:15 en in Engels om 08:30 plaaslike tyd, op HF sowel as verskeie BHF- en UHF-herhalers, Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS0JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad.

Hierdie oudiobulletin kan van die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word. 'n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins is daar verkrygbaar en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.


IN DIE NUUS VANDAG.

INTECHNET VANAAND TERUG OP DIE LUG OP .
SAAMSAT VOER SAMESPREKINGS MET SANSA
LAASTE KANS OM PEARS BHF LOGSTATE IN TE DIEN en
DIE SARL VELDDAG IS OM DIE DRAAI

Bly ingeskakel hiervoor en nog ander interessante nuus.

** Die SARL se" Interactive Technical Network" of INTECHNET is vanaand, Sondag 8 Februarie, om 19:30 terug op die lug. LET WEL, die berig in verlede week se bulletin was verkeerd. Die INTECHNET skuif terug na Sondagaande weens die gebrek aan ondersteuning op Dinsdae.

Die gasspreker, Herbert Teubner , algemene bestuurder van SINETECH, se aanbieding sal handel oor sonkrag vir radioamateurs. Hy sal verskillende sonpanele en hulle toepassings behandel, sowel as hoe om sonkrag as rugsteun vir beurtkrag te gebruik. Jy wil nie hierdie op-die-lug bespreking misloop nie.
Klubs kan met behulp van `n landlyn aan die netwerk koppel deur `n e-pos te stuur aan artoday@sarl.org.za

** Verteenwoordigers van SA AMSAT en die Kletskous-span onderhandel tans met die Nasionale Ruimte Agentskap, SANSA, vir plek op die volgende Suid Afrikaanse Sateliet, EOS-1. SA AMSAT het voorgestel dat daar ondermeer 'n transpondderder, soortgelyk aan die een wat vir die Kletskous-projek gebou is, as ‘n eksperimentele loonvrag aan boord van
EOS-1 geplaas word.

Die beplanning vir EOS-1 is reeds ver gevorder en daar word verwag dat SANSA binnekort 'n aankondiging met meer inligting sal maak.

Jy kan meer uitvind oor die KLETSKOUS-projek asook hoe om ‘n bydrae te lewer deur die webblad www.amsatsa.org.za te besoek. Raak sommer vandag nog betrokke by ruimte-aktiwiteite vir die Amateur.

** En dan terwyl ons oor die ruimte gesels, die SA AMSAT ruimtesimposium word beplan vir 23 Mei 2015 by die Inovation Hub in Pretoria. Hiermee die tweede uitnodiging aan persone wat voorleggings by hierdie simposium wil doen, om so gou moontlik voorstelle in te dien. Die sluitingsdatum is 28 Februarie en jy kan meer uitvind by die webblad www.amsatsa.org.za


Jy is ingeskakel op 'n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radioliga en ons gaan nou voort met nuus uit die Liga se kantoor.

** Die sekretaris van die Liga, Frits Sutherland, ZS6SF, het laat weet dat aansoeke vanaf die volgende radioamateurs ontvang is vir lidmaatskap by die SARL:
. Christopher John Tippett, ZS1CEV;
. Vaughn Luppnow,ZR2VL;
. Willem Cornelius Labuschagne: ZS6WCL
Enige besware teen die aanvaarding van hierdie aansoeke, moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag ná die bulletin.

Die ledetal van die SARL staan tans op 1615 en 36 klubs is geaffilieer.

** Die Nasionale Velddag van die Suid-Afrikaanse Radioliga vind plaas tussen 10:00 UTC op Saterdag 14 Februarie en 10:00 UTC op Sondag 15 Februarie met gelykgolf-, foon-, RTD- en PSK-aktiwiteit op 160 tot 10 meter. 'n RS of RST verslag, die aantal senders by jou stasie, die klas van deelname en die afkorting van jou provinsie, word uitgeruil. Gee asseblief realistiese seinrapporte .

Dit is 'n ideale naweekuitstappie geleentheid vir 'n Klub. Jy kan deelneem as 'n multi-operateur veldstasie, of 'n enkeloperateur veldstasie met 'n keuse van QRP of hoër krag. Jy kan ook die ultraligte draagbare klas probeer. Dit is 'n selfstandige liggewig stasie op QRP. Die operateur moet die hele stasie, antenna ingesluit, na die bedieningsposisie dra. As jy nie toegelaat word om die huis te verlaat nie, dan is jou klas die algemene stasie. Tellings word bereken op die totale aantal QSO-punte x die kragvermenigvuldiger x die getal provinsies gewerk x die klasvermenigvuldiger.

Logstate moet teen middernag op Sondag 22 Februarie per e-pos gestuur word na zs4bfn@gmail.com. 'n Foto(s) van die stasie in aksie (JPG-formaat) moet elke loginskrywing vergesel. Die Excel-dokument van die Velddag is beskikbaar by www.zs4bfn.co.za/Downloads.asp. Die reëls kan op bladsy 22 van die 2015 SARL Blouboek gevind word.
** Die tyd word min vir die indien van logstate vir die PEARS BHF/UHF kompetisie. Die sperdatum is 15 Februarie 2015. Hierdie is ook 'n dingende versoek aan Afdeling 5 amateurs, wat in die 144 Mhz-afdeling meegeding het, om logstate in te dien, om in aanmerking te kom vir die groot prys ter waarde van R850-00. Die prys is 'n kombinasierigstraler vir 2 meter en
70 cm en word deur die Highway Amateurradioklub geborg.


HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig gaan wees. Sonvlek AR2277 het 'n "beta-gamma" magneetveld wat genoeg energie vir M-klas sonfakkels huisves.

Die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 98 vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen.

Amateurs kan goeie openinge verwag op die 20- tot 10 meter DX-bande.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK

8 Februarie - AWA gelykgolfdag.
10 Februarie - Weskaap RAE klasse begin by die Oakdale Recreational Club.
13 Februarie - Internasionale Radiodag.
14 / 15 Februarie - Overberg veldstasie op die lug.
14 / 15 Februarie - Nasionale velddag.
14 /15 Maart - Afrika Internasionale DXCC kompetisie, alle modusse.
15 Februarie - Laaste dag vir indiening van PEARS logstate.
9 April - Laaste dag vir registrasie vir die RAE in Mei .

Om die bulletin mee af te sluit,`n terugblik op ons hoof nuusitem.

** Die SARL se" Interactive Technical Network" of INTECHNET is vanaand om 19:30 terug op die lug. Die gasspreker, Herbert Teubner , algemene bestuurder van SINETECH, se aanbieding sal handel oor sonkrag vir radioamateur. Dit is een bespreking wat jy nie sal wil misloop nie

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in sowel Engels as Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga se webtuiste onder "newsinbox", teen die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

** Die SARL nuusdiens beskik oor vakatures vir proeflesers. Om in aanmerking te kom vir hierdie posisie, moet kandidate 'n grondige kennis hê van Afrikaans en beskikbaar wees om ten minste een bulletin elke drie weke te proeflees en te redigeer. As jy die span kan bystaan in hierdie taak, kontak asseblief vir Dawie ZR6DHC by zr6dhc@zs6rtb.co.za

** Luister ook elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Dit word herlei op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal- Afrika-tyd op 4895 kHz plaas.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensie.

'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar.

Ons ontvang graag jou seinrapport, kommentaar en voorstelle. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. s.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat saamgestel is deur Johann du Plessis ZS6PSS, geredigeer deur Flip Britz, ZS4GE en gelees deur:

------------------------------------------- (Naam, roepsein en QTH van nuusleser)

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003