Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


BULLETIN LESERS NEEM ASSEBLIEF KENNIS DAT DAAR TWEE OUDIO LEERS BESKIKBAAR IS VIR DIE SA AMSAT ITEMS. SIEN DIE BERIG VIR MEER INLIGTING

SARL NUUS SONDAG 28 JUNIE 2015

Goeiemore en welkom. Hier volg die nuusbulletin van die SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA, gelees deur....................(Naam; roepsein en QTH)
Luister elke Sondag deur die hele land na 'n uitsending van SARL-NUUS in Afrikaans om 08:15 Suid-Afrikaanse Standaard Tyd (SAST) en in Engels om 08:30. 'n Teksweergawe van hierdie bulletin kan by www.sarl.org.za, die SARL se webwerf, afgelaai word. Daar is ook 'n skakel na 'n oudio weergawe van die bulletin op dieselfde blad beskikbaar en jy kan daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

STIL SLEUTEL

Ons het met groot droefheid verneem dat James Richard Dansie, ZS5AEG se sleutel, op 5 Junie 2015, stil geraak het. James, alombekend as Jimmy, was baie lank ‘n aktiewe lid van die Durban ARK. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

POUSE – VIR 5 SEKONDES


IN DIE NUUS VANDAG:

SLAAGSYFER VIR DIE MEI-RAE IS 86%;
KLETSKOUSNUUS;
AMATEURRADIO DEK ‘N BAIE WYE VELD
EN NUWE PROJEK-KOMMITEES

Bly ingeskakel vir meer hieroor en ander nuusbrokkies

86% SLAAGSYFER IN DIE MEI-RAE

** Van die 147 kandidate, wat ingeskryf het vir die Mei amateurradio-eksamen, het slegs 112 dit afgelê, 110 in Klas A en 2 in Klas B. Die slaagsyfer was 86 %. Die oudste persoon in Klas A was 64 en die jongste 13. In Klas B was ‘n kandidaat van slegs 11 jaar oud. Die hoogste punte was 98% en 88% respektiewelik. Twee kandidate het 100% behaal in die Regulasie-afdeling en ‘n ander een 98% vir die Tegniese deel. Die Radioliga wens almal wat geslaag het, baie geluk. As jy nie hierdie keer geslaag het nie, moenie moed opgee nie. Probeer weer in Oktober.

Die grootste uitdaging is om al die dokumente en die HF-evaluering by die betrokke administrateurs te kry. Die SARL en OKOSA het ooreengekom dat die regte prosedure te alle tye gevolg sal word. Persone met onvolledige dokumente sal nie eens toegelaat word om die eksamenlokaal te betree nie.

Die RAE-bestuurder, Gideon ZS4GJA bedank almal wat bygedra het tot die sukses van die
Mei-eksamen






KLETSKOUSNUUS
MOET NIE HIERDIE DEEL OP DIE LUG LEES NIE!
** ‘n Oudio-weergawe van ‘n gesprek tussen Etienne ZS6EFN en Hans ZS6AKV, oor die Kletskous-projek, is ontvang. Dit is getranskribeer en geredigeer vir die nuuslesers. Vir diegene wat graag die oudio wil aflaai vir hulle eie bulletins, gaan na www.podpage.co.za

Inleiding vir die oudio
Ons verslaggewer, Etienne Naude,ZS6EFN het tydens die onlangse SA AMSAT ruimte simposium met Hans van de Groenendal ZS6AKV en ook met Hannes Coetzee ZS6BZP gesels

Net indien die oudio nie ingespeel word nie!
** Tydens die onlangse SA AMSAT ruimte simposium het ons verslaggewer Etienne Naude ZS6EFN met Hans ZS6AKV gesels. Etienne wou by Hans weet wat hulle met die Kletskous-projek wil bereik. Hans het verduidelik dat hulle besluit het om self ‘n kommunikasiesatelliet te bou en in die ruimte te plaas. Die lanseerdatum vir die satelliet is gestel op Julie 2017. Dit sal die Suider-Afrikaanse radio-amateur, op ‘n deurlopende basis, toegang bied tot hierdie veld. Sommige satelliete het verouderd geraak en die beskikbaarheid het afgeneem. Daarmee saam het gebruikers ook afgeneem. Met hierdie plaaslik ontwikkelde satelliet word gehoop op hernude belangstelling en groter betrokkenheid in dié tipe kommunikasie.

Verder wou Etienne weet wat die planne en doelwitte van die Kletskous-simposiums is en of Hans tevrede is met die huidige belangstelling in die projek. Hans se reaksie was dat hierdie byeenkomste ‘n geleentheid skep om meer mense daarby te betrek, hulle kennis en vaardighede te bekom en te benut en om hulle dan op hoogte te hou oor die vordering daarvan. Hoewel hy meer mense, veral uit die res van die land, by die simposiums sou wou sien, is hy tevrede. ‘n Mens het begrip vir faktore soos afstande, tyd, brandstofpryse, ens. wat ‘n invloed hierop het.


AMATEURRADIO DEK ‘N BAIE WYE VELD

** Die meeste mense glo dat radioamateurs net met mekaar plaaslik of oorsee gesels en QSL-kaarte versamel. Aanvanklik was dit wel so en was dit opwindend. Deesdae is daar egter baie meer as net dit. Die amateurradiodiens strek nou verder en dek velde soos eksperimentering, ondersoek en navorsing op BHF, UHF en mikrogolwe; aard-maan aard (AMA), satelliete en ruimte kommunikasie; astronomie en die nuwe Tetrahertz-band. Dan is daar nog SDR (sagteware bepalende radio) en digitale-kommunikasie wat die jonger amateurgenerasie van vandag kan betrek.


FINALE DATUMS VIR ARIA-SIMPOSIUMS

** Die finale datums vir Amateur Radio in Aksie-simposiums vir 2015 begin op 22 Augustus by die NARC en is op 19 September in Pretoria. Op 10 Oktober is dit by die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie in Kaapstad. Besprekings open Maandag 13 Julie. ‘n Boustel vir ‘n Mikrobeheerde frekwensieteller, sal beskikbaar gestel word. Meer besonderhede later op die webwerf.

** Die 2015 IARU HF-Kampioenskappe vanaf Saterdag 11 Julie om 12-uur UTC tot Sondag 12 Julie om 12-uur UTC. Daar is gelykgolf en foonaktiwiteite op al die HF-bande. Stuur 'n e-pos aan contest@sarl.org as jy belangstel om HK-stasie tydens die kompetisie te bedien.

** Die ZS5-Naelloop sal van 14-uur tot 15-uur UTC op Sondag 5 Julie gehou word. Dit word net soos die ZS3- en ZS4-naellope gehou. Vir meer besonderhede oor die naelloop reëls raadpleeg gerus die 2015 Blouboek.

JY LUISTER NA 'N NUUSBULLETIN VAN DIE SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA.


NUWE PROJEK-KOMMITEES

** ‘n Aantal komitees is by die Skype-ondersteunde SARL-vergadering van verlede Woensdag gestig, om projekte wat sloer, vinniger op te volg. Die president, Fritz Sutherland ZS6SF sal self die ADF-komitee lei. Hulle sal ‘n veeldoelige benadering volg om ‘n oplossing te vind vir die huidige beperkings op antennas in woongebiede. Onder leiding van Johann Marais ZS1JM en regskenners asook finansiële ondersteuning van radio-amateurs, is ‘n duidelike beeld van die regsgeldige raamwerk opgebou. Hulle gaan nou poog om verskeie vlakke van die regering te betrek om ‘n oplossing te vind en veranderings in die beperkings aan te bring. Vorderings-verslae sal in die maandelikse nuusbriewe gepubliseer word.


GEEN KOMMERSIËLE ADVERTENSIES OP RUILHOEKIE

** Die Raad stem saam dat geen kommersiële advertensies op die Liga se RUILHOEKIE-webwerf gepubliseer mag word nie. Slegs lede kan hulle oortollige toerusting daar plaas. Die reëls sal spoedig op die RUILHOEKIE-bladsy aangebring word. Die fooie vir kommersiële advertensies is ook verminder om kleiner verskaffers, wat hulle ware en dienste op die SARL webblad wil adverteer, te ondersteun. Die groter advertensies se kostes bly onveranderd.


HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Die kwynende Sonvlekke AR2371 het 'n komplekse magnetiese veld en kan vir oulaas M- of X-klas sonfakkels oplewer.

Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 45 vir die week gebruik.

Amateurs kan veral laatmiddag en gedurende die aande goeie openinge op die 20 tot 15 m DX bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste www.spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.








DIE DAGBOEK VAN GEBEURE

Nou tot 29 June - Top Band QSO-partytjie op 160 meters
5 Julie - ZS5-Naelloop
6 Julie 2015 - Logstate vir Topband QSO aan contest@sarl.org.za
11 en 12 Julie – IARU HF-kampioenskappe op al die HF-bande
22 August - ARIA Simposium by die NARC
19 September- ARIA Simposium in Pretoria

Om hierdie bulletin mee af te sluit, herhaal ons die belangrikste item in vanoggend se nuus

** 112 kandidate het die Mei amateurradio-eksamen geslaag, 110 in Klas A en 2 in Klas B. Die slaagsyfer was 86%. Die oudste persoon in Klas A was 64 en die jongste 13. In Klas B was een van net 11 jaar oud. Die hoogste punte was 98% en 88% respektiewelik. Twee kandidate het 100% behaal in die Regulasie-afdeling en ‘n ander een 98% vir die Tegniese deel.


DIT BRING ONS DAN BY DIE EINDE VAN HIERDIE BULLETIN.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies, van belang vir amateurradio en kortgolfluisteraars, met hulle te deel. Plaas nuusberigte indien moontlik, in Engels sowel as Afrikaans op die SARL se webtuiste onder die “newsinbox” skakel, teen die DONDERDAGAAND wat die bulletindatum voorafgaan.

Luister elke Sondagoggend om 10-uur SAST na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op
7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM asook op verskeie BHF- en UHF-frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO is ook beskikbaar. Heruitsendings vind op Maandae om 18-uur-30 SAST op 4895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie amateur-frekwensies.

Ons ontvang graag jou seinrapport, kommentaar en voorstelle oor die bulletin. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za

As jy behulpsaam kan wees met die opstel of redigering van hierdie bulletins, tree asseblief in verbinding met Dawie ZR6DHC per e-pos by zr6dhc@zs6rtb.co.za

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA, saamgestel deur
Flip Britz ZS4GE, geredigeer deur, Etienne Naude ZS6EFN en gelees deur . . . . . . . . (naam, roepsein, QTH).

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003