Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 15 NOVEMBER 2015

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 Sentraal Afrika Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal Afrika Tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se webblad.

Hierdie oudio bulletin kan van die Liga se webblad by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teks weergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin die bulletin vanoggend met nuus van 'n stil sleutel.

Dit is met leedwese dat ons die afsterwe van 'n aktiewe lid van die Liga , Jurgens Cloete, ZS3AC, van Warrenton op Dinsdag 10 November 2015 na 'n kort siekbed moet aankondig.

Ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag.

BROS OOREENKOMS VIR 5 MHZ AMATEUR TOEKENNING VERBY DIE EERSTE HEKKIE BY WRC-15

DIE NOVEMBER/DESEMBER RADIO ZS IS BESKIKBAAR VIR AFLAAI

en

DIE LEONIEDE METEORIET BUI OP DINSDAG 17 EN WOENSDAG 18 NOVEMBER

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

** Op die Wêreld Radio kommunikasie Konferensie 2015 of WRC-15, in Genève, gaan dit voort om konsensus te vorm rondom 'n nuwe 15 kHz-wye globale sekondêre 60 meter amateur radio toekenning by 5 351,5 tot 5 366,5 kHz. Op 12 November, het die Konferensie Werkgroep 4B ingestem tot die globale sekondêre toekenning, met krag perke ontwerp om primêre dienste te beskerm teen skadelike inmenging. Sub-Werkgroep (SWG) 4B1, onder voorsitterskap van Dale Hughes, VK1DSH, het sy uitset dokument aangebied met twee opsies, die ander opsie is geen verandering - 'n posisie wat baie administrasies van ten gunste is in die konferensie. Die huidige kompromie wat die toekenning moontlik maak, moet nog twee vlakke by die konferensie verbykom. Dit sal nie gebeur tot volgende week nie en die kwessie is nog nie finaal totdat dit gebeur nie.

ARRL hoof uitvoerende beampte David Sumner, K1ZZ, wat die konferensie kortliks namens die Internasionale Amateur Radio Unie (IARU) bygewoon het, het die IARU span en die nasionale afgevaardigdes wat vir die Amateur-diens pleit, gelukgewens. "Die veronderstelling dat die brose ooreenkoms hou, sal dit die eerste heel nuwe HF toekenning sedert 1979 wees," het hy gesê. "Terwyl ons meer sou verkies, moet almal wat verstaan wat ons voorstanders teen was, waardeer wat hulle bereik het."

In ander WRC-15 ontwikkelings, is 'n moontlike agendapunt vir die volgende WRC, vir 'n amateur toekenning by 50 MHz in Streek 1 sy eerste hekkie oor (Streek 1, Suid-Afrika uitgesluit, het toegang van 50 tot 52 MHz). 'n Voorgestelde agendapunt om die toekenning van 160 meter in Streek 1 met die res van die wêreld aan te pas sal waarskynlik nie aanvaar word nie.

** OKOSA het die Suid-Afrikaanse Radioliga se lisensie vir 5 260 en 5 290 kHz, hangende 'n besluit deur die OKOSA Raad, op versoek van die Liga om die twee lisensies uit te brei vir nog drie jaar, verleng tot 13 Desember. Die Liga het die versoek 'n paar maande gelede ingedien omdat verwag word dat die WRC proses om radio amateurs 'n permanente toekenning in die 5 MHz-band te gee, ’n tyd gaan neem. Die voorstel word huidig bespreek by die WRC -15 vergadering in Genève. Die oorspronklike Suid-Afrikaanse Radioliga lisensie het verstryk op 31 Oktober 2015.

Kyk uit vir besonderhede vir nog ’n 5 MHz aktiwiteitsnaweek op 28 en 29 November.

** Die 56-bladsy November/Desember-uitgawe van Radio ZS, met die tema, antennas en voer lyne, kan afgelaai word vanaf die Liga se webwerf. Vincent, ZS6BTY, gee ons al die inligting oor NVIS antennas vir 5 MHz, terwyl Hannes, ZS6BZP, ons in Afrikaans vertel oor 'n magnetiese lusantenna. Kevin, ZS6KMD, bied meer aan oor voer lyne, 'n 20/40 m multi-dipool, 'n optiese SWR aanwyser, 'n nul tot 50 MHz frekwensie teller en die I6IBE Slim foon koppelvlak. Roger, ZS6RJ, neem ons deur die bou van 'n breëband-weergawe van 'n ses-band seskantige antenna.

Lees wat die Sasolburg ARK doen vir jong mense en leer meer oor die bou van 'n 4: 1 balun, 'n sloper vir 160 meter en 'n twee-element duo-band antenna. Mike, ZS2FM, vra die vraag, "is amateur radio net 'n stokperdjie en niks anders nie?" Al hierdie en nog meer in die November/Desember uitgawe.

** Die tema vir die Januarie 2016 uitgawe van Radio ZS is veldstasies en mobiele werking. Kry jou artikels in teen Saterdag 26 Desember 2015 en stuur dit aan radiozs@sarl.org.za. Die Februarie 2016 uitgawe kyk na BHF, VHF en hoër terwyl daar in Maart 2016 gefokus sal word op noodkommunikasie.

** Die Leoniede is 'n jaarlikse meteoriet verskynsel wat vanjaar plaasvind op 17 en 18 November met 'n maksimum visuele koers van tot 15 spore per uur van middernag tot in die vroeë oggend ure. Die Leoniede veroorsaak 'n groot hoogtepunt elke 33 jaar, waarvan die laaste aantekening gemaak is op 17 November 1998. Dit was 'n historiese gebeurtenis toe die meteoriet radio uitbarstings op VHF veroorsaak het in die vroeë oggendure en deurlopend was vir 'n paar uur. Die eerste ooit meteoriet uitbarstings kontak op 144 MHz in Suid-Afrika is gestig deur Paul, ZS6PJS, (nou ZS6NK) in Pietersburg en Mike, ZS2FM, in Port Elizabeth met S9 plus op ESB. Bert, ZS6HS en Peter, ZS6PT, het ook kontak met Port Elizabeth op 144 MHz gemaak. Twee uur later het Paul, ZS6PJS, kontak gemaak met Shawn, ZR1EV, in Kaapstad vir 'n nuwe 144 MHz MS rekord. Intussen het baie VHF amateurs baie suksesvolle dag gehad op 50 MHz ESB en talle S9 plus kontakte op meteoriet uitbarsting gemaak. Die Leoniede meteoriet stroom ontstaan uit die ouer Tempel-Tuttle komeet en tydens sy laaste groot hoogtepunt is meer as 'n duisend spore per uur aangeteken.

** Aandag alle Hamnet lede. Dit is 'n vriendelike herinnering dat ons as lede van Hamnet ons n diens lewer aan ons mede Suid-Afrikaners. Diegene van ons wat nie oor die vakansie seisoen gaan reis nie, behoort onsself voor te berei om monitering van die nood frekwensies op 40 en 80 meter te doen so dikwels as moontlik, om sodoende in staat te wees om te reageer op 'n oproep vir hulp. Onthou, ons optrede kan iemand se lewe red.

As jy op reis gaan met vakansie, neem jou HF radio en 'n draagbare antenna saam en wees sodoende die oë en ore van die vakansieoord waar jy gedurende die vakansie bly. Jy weet nooit wanneer jou hulp nodig mag wees nie.

Verder, as jy nie alreeds 'n lid van Hamnet is nie, oorweeg dit om by die nood kommunikasie vleuel van die Suid-Afrikaanse Radioliga aan te sluit, om behoorlik opgelei te word en in staat te wees om nood verkeer oor die lug te stuur en ontvang. Kontak die Liga kantoor vir die naam van die Streekdirekteur van Hamnet in jou provinsie.

** Die sesde Jongmense op die Lug somer kamp sal plaasvind vanaf 16 tot 23 Julie 2016 in Wagrain, suid van Salzburg (OE2) in Oostenryk. Die Oostenrykse vereniging, OeVSV, vier sy 90 ste bestaansjaar in 2016 en sal gasheer wees vir die YOTA kamp as deel van die vieringe. Vyf en sewentig jongmense, tussen die ouderdomme van 15 en 25, sal genooi word om 'n reis na die Oostenrykse Alpe mee te maak om 'n program te geniet met baie nuwe elemente in vergelyking met die vorige jare.

U luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

** Die Amateur Radio in Aksie frekwensie teller boustel is nou beskikbaar deur die posbestelling of self-afhaal by die Nasionale Amateurradiosentrum. Daar is twee opsies vir posbestelling, via Postnet of die Poskantoor se klein pakkie diens met ’n volgnommer.

Die frekwensie teller vertoon verskeie interessante eienskappe, soos 'n maksimum werkende frekwensie bo 40 MHz, 'n 10 Hz resolusie, lae verbruik (15 mA) en is maklik om te bou. Dit is die perfekte naweek projek. Die ontwerp is eenvoudig, deurdat meeste van die funksies reeds in die mikroverwerker wat vooraf geprogrammeer is verskaf word. Vir diegene wat die basiese eenheid bo die normale HF frekwensies wil gebruik, is daar ruimte vir 'n tel kring (prescaler) op die geïntegreerde stroombaan op die gedrukte stroombaan uitleg en in die skematiese uitleg. Die geïntegreerde stroombaan, wat nie ingesluit is in die basiese boustel nie, kan bestel word teen 'n addisionele koste. Hierdie pakket is ideaal om aan die vereistes van die amateur radio regulasies, wat vereis dat elke amateur 'n betroubare metode van meting van die uitset frekwensie, te voldoen.

Die boustel is beskikbaar vir Liga lede teen 'n aansienlike afslag. Vir besonderhede en 'n bestelvorm, besoek die ARiA bladsy by www.sarl.org.za.

** Aansoek om lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Radioliga is ontvang van Gary Edward Atrill. Enige besware teen die aanvaarding van die aansoek moet die Liga sekretaris bereik voor of op Dinsdag 17 November 2015.

Die ledetal van die Liga staan tans op 1 586 lede en 41 geaffilieerde klubs

** Baie goeie belangstelling is ontvang op die vroeër versoek aan amateurs om deel te wees van die opstel van ’n Afrikaanse amateur radio woordeboek. Die span van agt lede is Etienne Naude, ZS6EFN; Jan Pieper, PE1PMO; Pine Pienaar, ZS6GST; Cobus Rabe, ZS1DJR; Louis de Wet, ZS6SK; Ryan Gibson, ZS6GGR; Johan du Bruyn, ZS6JHB en Fritz Sutherland, ZS6SF. Jan Pieper, PE1PMO, van uit Breezand Nederland skryf, "als ik vanuit het Nederlands een bijdrage kan leveren aan het woordeboek, in Nederlands woordenboek, doet ik dat graag."

Die dokumentering van die voorgestelde werkswyse en nodige riglyne om die projek ’n sukses te maak is verlede Woensdagaand gefinaliseer. Die werksdokument sal aan die lede versprei word gedurende die komende week vir kommentaar en finalisering waarna die projek in alle êrens afskop. Die werkspan sal uit 3 groepe bestaan om so veel moontlik betrokkenheid so wyd moontlik te verseker. Groep A, ’n 4 lede komitee sal oorhoofs verantwoordelikheid wees vir die projek. Groep B sal bestaan uit die groter amateur gemeenskap wat insae sal hê oor die uitbou van die woordelys asook ander eksterne deelnemers soos bv, taalkundiges. Groep C is verantwoordelik vir die redigering in samewerking met die komitee wat ook die oorhoofse samestelling van die woordeboek sal oorsien. Kontak Etienne Naude, ZS6EFN, by etienne@afrigrid.com vir meer inligting.

** Die Overberg Amateurradioklub hou hulle jaar-eind funksie op Stanford op Saterdag 21 November. Dit sal by die QTH van John, ZS1DI en Judy, ZS1JEG, wees. Ons sal begin met 'n kort vergadering om almal te groet en op datum te bring. Na afloop van die vergadering sal ons begin met die normale bring en braai en daar sal 'n tafel met slaaie en versnaperinge wees vir almal om te geniet. Terwyl dit aan die gang is, sal die ouens jakkals jag en die AWA sal spog met hul ou boot-ankers. Bring jou surplus toerusting vir 'n kattebak verkoping, jy sal verbaas wees wie wat koop. Dit is 'n prettige naweek, so bring die familie en geniet dit saam met ons. Kontak Andre, ZS1AZ, by 072 729 1680 of Sam, ZS1OR, by 028 316 1470 vir verdere besonderhede.

** Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende vlooimark om 12:00 op Saterdag 28 November 2015 by hul klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is welkom. Vir meer inligting, kontak Johan, ZS6JVV op 082 558 5811.

** Voortplanting verslag, Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot matig gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is stabiel met bykans geen kans vir sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 51 vir die week gebruik.

Amateurs kan veral laatmiddag en gedurende die aande goeie openinge op die 20 tot 10 m DX bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

En nou vir die dagboek van gebeure

17 en 18 November - die Leoniede meteoriet buie
21 November - die Overberg ARC jaar-eind funksie
28 November - die Wesrand ARK vlooimark om 12:00
28 en 29 November - die CQ WW DX gelykgolf kompetisie en die SARL 5 MHz aktiwiteitsnaweek
26 Desember - sluitingsdatum vir artikels vir die Januarie 2016 Radio ZS

Om hierdie bulletin te beëindig, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.

Op die Wêreld Radio kommunikasie Konferensie 2015 of WRC-15, in Genève, gaan dit voort om konsensus te vorm rondom 'n nuwe 15 kHz-wye globale sekondêre 60 meter amateur radio toekenning by 5 351,5 tot 5 366,5 kHz.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die ‘news inbox’ skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

73's en dankie vir die luister

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003