Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 4 SEPTEMBER 2016

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ........................................... (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 Sentraal Afrika Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal Afrika Tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink - luisteraars is daar 'n herleiding deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se webblad.

Hierdie oudio bulletin kan van die Liga se webblad by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teks weergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag,

OKTOBER RAE SLUITINGS DATUM IS DONDERDAG 15 SEPTEMBER

SARL NASIONALE VELDDAG VOLGENDE NAWEEK

en

GROOT OPENING VAN 144 MHZ TOT REUNION-EILAND

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

** Dit is belangrik vir alle voornemende RAE studente om daarop te let dat registrasies vir die Oktober RAE sluit op Donderdag 15 September 2016. Geen laat registrasies sal aanvaar word nie. Die eksamen sal afgele word op Donderdag 20 Oktober 2016.

Okosa het die SARL ingelig dat die Mei RAE lisensies aan alle kandidate gepos is wat die eksamen geslaag het. So kyk gereeld in jou posbus. As jy nie jou lisensie teen 20 September 2016 ontvang het nie, stel asseblief die RAE bestuurder in kennis by rae@sarl.org.za of Vonnie by admin@sarl.org.za.

** Die tweede been van die SARL Nasionale Velddag sal op die lug wees vanaf 10:00 UTC op Saterdag 10 September tot 10:00 UTC op Sondag 11 September 2016. Deelnemers mag foon, gelykgolf en digitale modusse gebruik op die HF amateurbande, met die uitsondering van 60, 30, 17 en 12 meter. Foon, gelykgolf en digitale modusse op 'n band word beskou as apparte bande en 'n stasie mag slegs een maal gewerk per band onder hierdie reël.

Jy en/of jou klub kan deelneem as 'n Klas A veld stasie, multi-operateur; Klas B veld stasie, multi-operateur, QRP; Klas C veld stasie, enkele operateur; Klas D veld stasie, enkele operateur, QRP; Klas E ultra ligte draagbare of Klas F 'n algemene stasie. Daar is 'n ses-uur afdeling beskikbaar, van toepassing op Klas A, B, C, D, E en F as jy nie hele tydperk kan deelneem nie. Slegs een roepsein per stasie word toegelaat.

Die uitruiling is die aantal senders, Velddag klas en jou provinsiale afkorting, die RS(T) verslag is opsioneel. Tellings word gebaseer op die totale aantal QSO’s maal die krag vermenigvuldiger , maal die aantal provinsies gewerk maal die klas vermenigvuldiger. Logstate in ADIF, Cabrillo of MS Excel-formaat en gemerk "my roepsein NFD," moet per e-pos gestuur word aan zs4bfn@mweb.co.za teen Sondag 18 September 2016. Kry die volledige stel reëls in die 2016 Blouboek of die September 2016-uitgawe van Radio ZS.

** Daar word beoog om gratis en onbureaukratiese kort termyn oorgrens (crossborder) amateurradio werking in te stel om na meer lande buite Europa uitgebrei te word: Nie CEPT lande kan nou aansluit by die raamwerk van die CEPT lisensie en die CEPT Beginnerslisensie in 'n veel-vereenvoudig proses te danke aan 'n inisiatief van IARU Streek 1 om die betrokke aanbevelings te verander. Op dieselfde tyd, is die leerplan van die Geharmoniseerde Amateurradio Eksamen Sertifikaat (HAREC in Engels) gewysig om vrae oor die Radioamateur gedragskode en bedryfspraktyke in te sluit. Die veranderinge is goedgekeur deur die Werkgroep Frekensiebestuur (WGFM) van CEPT en is nou van krag.

** John, ZS2AH, in Oos-Londen het die FR5DN baken in die laatmiddag op 29 Augustus op 144,418 MHz JT65b eerste periode gehoor. Later daardie aand om 19:00 SAT, het Hugo, ZS5HV, vir Phil, FR5DN, op JT65b, ESB en FM gewerk. Nie sleg vir iemand wat net 'n jaar gelede op die lug gekom het! Lee, ZS5LEE, het by hom aangesluit op digitale modus en ’n seinsterkte van tot -17 dB aangeteken. Hulle het die baken sein reg deur die nag gehoor wat 'n hoogtepunt bereik het om 03:00 SAT.

Op 05:40 SAT, het Andre, ZS2ACP, in Port Elizabeth kontak met Phil, FR5DN, op JT65b gemaak en tien minute later het beide Hugo en Lee weer vir Phil op ESB met 5/7 verslae gewerk. John, ZS2AH, het gesê dat hy die baken om 09:00 SAT nog kon hoor maar hy, Peter, ZS2ABF, en Hennie, ZS2HC, al drie van Oos-Londen, tot Dinsdagaand moes wag voor hulle Phil op ESB kon werk. Peter kon Phil S9 + hoor en het hom ook op FM gewerk, terwyl John se 25 Watt slegs S5 in Reunion-eiland kon regegistreer. Dit was Hennie ZS2HC se eerste-ooit DX kontak op VHF . Baie geluk aan julle.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga

** Die sluitingsdatum vir jou SARL HF gelykgolf kompetisie logstate is middernag vanaand en moet gestuur word aan zs4bfn@mweb.co.za.

** Die TEP seisoen open in September en sal voortduur tot November. Die Trans-Ekwatoriale Voortplanting seisoen begin in September en duur tot November 2016. TEP produseer baie sterk DX seine op 50 MHz (6 meter) ESB uit Afdelings 3, 4, 5 en 6 na Europa tot 'n afstand van 9 800 km.

DX kontakte is ook moontlik op 70 MHz (4 meter) en 144 MHz (2 meter), terwyl die een en enigste kontak op 432 MHz (70 cm) deur Gerhardt Schlorf, ZS3B, in Luderitz met I4EAT oor 'n afstand van 7 784 km in 1979 aangeteken is. Vir meer inligting oor voortplanting, laai die kleurkaart wat die BHF, UHF en SHF spektrum aandui, op die voorblad van die September/Oktober 2013 uitgawe van Radio ZS af.
** Voorlopige uitslae van die SARL HF Digitale kompetisie. Die Kompetisie Komitee het slegs ses logstate ontvang vir die SARL HF Digitale kompetisie gehou op Sondag 21 Augustus 2016. Deelnemers moet onthou dat dit twee kompetisies in een is - RTD en PSK, gaan dus jou telling na.

1ste Mitchell Mynhardt, ZS6YH, 124 punte
2de Jan Botha, ZS4JAN, 102 punte
3de Theunis Potgieter, ZS2EC, en Paul Greeff, ZS6IO, 54 punte elk
5de Pieter Jacobs, V51PJ, 34 punte
6de Dennis Green, ZS4BS, 20 punte

** Die Kompetisie Komitee het geen beswaar ontvang oor die uitslae van die SARL HF-foonkompetisie of die SARL JD Naelloop soos dit in HF Happenings 718 verskyn het nie. Hierdie uitslae word nou geag as die finale uitslae te wees.

** Die SARL BHF/UHF kompetisie sal op die lug wees vanaf 10:00 UTC op Saterdag 17 September tot 10:00 UTC op Sondag 18 September 2016 met foon, gelykgolf en digitale modusse op 50 MHz en hoër. Die All Africa All Mode DX kompetisie sal op die lug wees vanaf 12:00 UTC op Saterdag 17 September tot 12:00 UTC op Sondag 18 September 2016 met foon, gelykgolf en RTD op 160 tot 10 meter. Die reëls vir beide kompetisies kan gevind word in die 2016 Blouboek en die September 2016-uitgawe van Radio ZS.

** Die redakteur van Radio ZS ontvang tydskrifte en nuusbriewe uit Nederland per e-pos. Liga lede wat belangstel in die lees van hierdie Nederlandse nuusbriewe kan Dennis, ZS4BS, op radiozs@sarl.org.za kontak om op die poslys geplaas te word.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig gaan wees. Nuwe sonvlek AR2585 is groot maar tans stabiel met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van 30 vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20m bande verwag. Daar is ook 'n moontlikheid van 10m openinge op sonlig paaie. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou vir die dagboek van gebeure:

Vandag - die sluitingsdatum vir SARL HF elykgold logstate
10 en 11 September - SARL Nasionale Velddag
11 September - SARL Jeug Net
15 September - sluitingsdatum vir Oktober RAE registrasie
17 en 18 September - die SARL BHF/UHF en die All Africa All Mode DX kompetisies
18 September - sluitingsdatum vir Velddag logstate
24 en 15 September - die CQ WW RTD kompetisie

Om hierdie bulletin mee af te sluit, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.

Dit is belangrik vir alle voornemende RAE studente om daarop te let dat registrasies vir die Oktober RAE sluit op Donderdag 15 September 2016. Geen laat registrasies sal aanvaar word nie. Die eksamen sal geskryf word op Donderdag 20 Oktober 2016.

Die tweede been van die SARL Nasionale Velddag sal op die lug wees vanaf 10:00 UTC op Saterdag 10 September tot 10:00 UTC op Sondag 11 September 2016.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die ‘news inbox’ skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur .......................................................

73 en 88, dankie dat jy geluister het.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003