Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 21 MEI 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga gelees deur ......................................................... [jou naam, roepsein en QTH]

Jy kan Sondag oggende na die Suid-Afrikaanse Radioliga nuusbulletin luister om 08:15 Sentraal-Afrikaanse Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal-Afrikaanse Tyd in Engels, op HF asook op baie VHF- en UHF-herhalers regoor die land. Echolink luisteraars kan met ZS0JPL verbind word vir 'n herleiding. 'n Potgooi is beskikbaar op die Liga se webwerf.

Hierdie oudio bulletin kan afgelaai word vanaf die Liga-webwerf by www.sarl.org.za waar jy hierdie sowel as vorige bulletins in teks formaat onder die nuus skakel aan die linkerkant van die webblad sal vind. Terwyl jy daar is, kan jy inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

ZS3 NAELLOOP VANMIDDAG

EERSTE VERSLAG VAN DIE SARL INFORMASIE TEGNOLOGIE WERKGROEP IS NOU BESKIKBAAR

en

ZS4A ERVAAR WEERLIGVERSTROOIING VOORTPLANTING OP 144 MHZ

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

** Die ZS3 Naelloop, 'n prettige aktiwiteit om kontakte tussen radio amateurs in die Noord-Kaap en radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder, sal vanmiddag vanaf 14:00 tot 15:00 UTC op die lug wees. Dit is 'n foon en gelykgolf kompetisie op die 40 meter band met gelykgolf tussen 7 000 en 7 040 kHz en ESB tussen 7 063 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz. Die uitruiling is RS- of RST-verslag en jou provinsiale of lands afkorting.

Kontakte met stasies in ZS3 is 2 punte werd en kontakte met stasies in jou eie of ander ZS roepgebied (uitgesluit ZS3) of Suider-Afrikaanse lande is 1 punt werd. ZS3-stasies kry 1 punt vir kontakte met stasies in ZS3 en 2 punte vir kontakte met stasies in ander ZS roepgebied of Suider-Afrikaanse lande. Kontakte met die Noord-Kaapse ARK, ZS3NC, die Namaqualand Aero Sportvereniging, ZS3FLY, die Kalahari Karoo ARK, ZS3ARK, die Bo-Karoo Radioklub, ZS3VDK, of die Sutherland ARK, ZS3OBS, is 5 punte elk. Slegs een kontak per stasie is toegelaat.

Logstate, in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat en gemerk "jou roepsein ZS3 Naelloop" moet ingedien word teen 22 Mei 2017 per e-pos aan zs3nc@qsl.net. 'n Sertifikaat word toegeken aan die eerste, tweede en derde plek in die kompetisie.

** Die SARL IT Werkgroep is vroeër hierdie jaar gestig om die Liga se IT stelsels en webtuistes te ondersoek en om ‘n strategie te ontwikkel vir die toekoms. Hul eerste verslag is nou voltooi en is beskikbaar vir aflaai op die Liga se webtuiste. Kyk uit vir “IT & Web Planning” in die webtuiste indeks, of gaan na www.sarl.org.za/Admin/ITPlanning/ITPlanning.asp om die verslag te lees. Ons sal graag enige kommentaar en kritiek wil ontvang by webmaster@sarl.org.za.

** Die AMSATSA Ruimte Simposium op 27 Mei sal jou ‘n vlugtige blik gee op wat kommunikasie sal aandryf op Suid Afrika se eerste waarneming satelliet, EO-SAT1. Leer hoe om te kommunikeer met ‘n Raspberry Pi en hoe om ‘n eenvoudige grondstasie te bou vir die geostasionêre satelliet wat binnekort gelanseer word. Hierdie satelliet sal ‘n amateur vrag dra met 24 uur toegang van Suid Afrika Na Europa en die Midde Ooste. Daar sal ook vele ander interessante aanbiedings en demonstrasies op die program wees. Besprekings om die simposium by te woon sluit om middernag op Donderdag 25 Mei.

Kry al die besonderhede op www.amsatsa.org.za of gaan na die skakel op die Liga se tuisblad. Die simposium word by die Innovation Hub oorkant die WNNR in Pretoria gehou. Toegang is maklik vanaf die snelweg.

** Nou vir Baken nuus. Die Liga wil al die amateurs bedank wat tans bydra tot die 5 MHz-navorsingsprojek vir OKOSA deur WSPR-bakens op 5,290 MHz te bedryf. Die uitslae kom in, maar ons vra of 'n paar stasies by die ‘Beaconeers’ kan aansluit, veral in die 5 tot 15 Watt kraguitset om voortplantingsinligting by die spesifieke kragvlakke in te samel. Kontak asseblief vir Leon Uys, ZR6LU, vir meer inligting.

** Die 2017 IARU Streek 1 Algemene Konferensie sal in September vanjaar in Landshut, Duitsland, gehou word. Die Konferensie Dokumente is beskikbaar vir aflaai vanaf www.iaru-r1.org/index.php/general-conference/landshut-2017. Kyk onder die opskrif "Conference Papers." C3 is die algemene administratiewe en organisatoriese komitee, C4 is die permanente HF-komitee, C5 is die permanente BHF/UHF- en Mikrogolwe-komitee en C7 is die permanente EMC-komitee.

C4 kyk na die bandplan vir die 60 meter-toekenning. C5 sal kyk na kompetisies en bandplanne vir 6 meter en hoër. C7 sal kyk na geraasvloermaatreëls en ander EMC-aangeleenthede.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

** Rickus De Lange, ZS4A, het ‘n interessante ondervinding gehad op Saterdagoggend 13 Mei toe hy sy 2 meter stasie in ‘n koue Bethlehem aangeskakel het en gewag het vir die ouens in Gauteng om wakker te word. Hy het na die band geluister op HSB terwyl hy op die internet besig was en het statiese ontlading op 144,300 MHz gehoor. Na ‘n rukkie het hy gewoond geraak hieraan. Toe Carl, ZS6CBQ, op die lug kom en sy rigstraler na Welkom draai, kon Rickus hom glad nie hoor nie. Gewoonlik hoor hy Carl baie swak wanneer hy na Welkom mik. Skielik hoor hy "ba - ba" klanke op die frekwensie en later kon hy oudio ook hoor, maar dit was baie vinnig. Rickus was baie verras aangesien dit die eerste keer is dat hy so iets ervaar. Later kon hy volledige woorde van Carl hoor en selfs sy stem herken.

Hierdie verskynsel is weerligverstrooiing voortplanting waar ‘n weerligstraal lug ioniseer en kort radio uitsendings op 144 MHz weerkaats. Dit is soortgelyk aan meteoriet sterte wat ook kort radio uitsendings kan veroorsaak. Beide weerligverstrooiing en meteoorverstrooiing kan baie langer radio uitsendings veroorsaak op die laer BHF frekwensies. Weerligverstrooiing is etlike jare gelede waargeneem tydens ‘n verafgeleë donderstorm wat tussen Oos Londen Durban gewoed het. Elke keer wanneer ‘n verafgeleë weerligblits voorgekom het, kon die Durban FM uitsaai stasie duidelik gehoor word vir bykans tien sekondes. Hierdie ongewone verskynsel het aangehou totdat die donderstorm weg beweeg het.

Hou gerus jou oog op oop spasies op die FM band tydens donderstorms of tydens groot meteoorverstrooiings of selfs Sporadiese-E openings wat sterk FM seine vir ‘n halfuur of langer kan veroorsaak. Probeer ‘n QSO reël op 50 MHz weerligverstrooiing, maar jy moet vinnig wees en slegs roep wanneer jy die weerligstraal sien of die statiese ontlading hoor.

** Die doel van die Suid-Afrikaanse Radioliga Digitale kompetisie is om soveel moontlik kontakte tussen radio amateurs in Suider-Afrika te vestig deur die PSK31 en RTD-modusse te gebruik. Die kompetisie is oop vir alle radio amateurs in Suider-Afrika en loop Sondag 28 Mei 2017 vanaf 13:00 UTC tot 16:00 UTC. Aktiwiteit vind plaas op 80 meter tussen 3 580 tot 3 600 kHz, 40 meter tussen 7 040 en 7 060 kHz en 20 meter tussen 14 070 en 14 099 kHz. PSK31 word verkies aan die onderkant van die gespesifiseerde frekwensies en RTD word verkies by die boonste punt van die gespesifiseerde frekwensies. HSB moet te alle tye gebruik word.

'n Stasie kan twee keer op elke band gekontak word, een keer op RTDY, een keer op PSK31. Die uitruiling is 'n RST-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat begin by 001. Kontakte met stasies wat in Algemene Reël 1.b gelys is, is 3 punte werd. Kontakte met stasies wat nie in Algemene Reël 1.b gelys is nie, is 1 punt werd. Die eerste kontak met elk van die roepareas sal gebruik word as 'n bandvermenigvuldiger, daar is agt roepareas.

Logboeke, in ADIF, Cabrillo of MS Excel formaat en gemerk "Jou Roepsein Digitale Kompetisie," moet ingedien word teen 4 Junie 2017 by contest@sarl.org.za.

** Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 03 Junie 2017 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Bring jou oortollige toerusting en kom ondersteun die verkopers. Vir meer inligting skakel, Geoff ZS6C op 082 546 5546.

** Die sluitingsdatum vir jou artikels vir die Junie Radio ZS is Donderdag 25 Mei 2017. Wat doen jou klub? Stuur 'n verslag van jou klub se aktiwiteite met 'n paar foto's. Die e-pos adres is radiozs@sarl.org.za

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Die twee sigbare sonvlekke is tans stabiel. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

Vanmiddag – die ZS3 Naelloop
25 Mei – sluitingsdatum vir die Junie Radio ZS
27 Mei – die AMSATSA Ruimte Simposium en die Oos Rand Tak Snuffelmark
28 Mei – die SARL Digitale Kompetisie
3 Junie – die Wesrand Amateurradioklub Snuffelmark
11 Junie – die Hammies Naelloop
17 Junie – die Wêreld QRP Dag
21 tot 26 Junie – die SARL Top Band QSO geselligheid

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoofberig:

Die ZS3 Naelloop, 'n prettige aktiwiteit om kontakte tussen radio amateurs in die Noord-Kaap en radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder, sal vanmiddag vanaf 14:00 tot 15:00 UTC op die lug wees. Dit is 'n foon en gelykgolf kompetisie op die 40 meter band met gelykgolf tussen 7 000 en 7 040 kHz en ESB tussen 7 063 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz. Die uitruiling is RS- of RST-verslag en jou provinsiale of lands afkorting.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, geredigeer seur Dennis Green, ZS4BS, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou ‘n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003