Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 11 JUNIE 2017

Goeie môre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL EN AMSAT SA VENNOOSTKAP VIR VOLGENDE SDR WERKSWINKEL

DIE HAMMIES NAELLOOP VANMIDDAG

DIE ANTENNA IS DIE BELANGRIKSTE DEEL VAN RADIO TOERUSTING

‘N E-POS VAN DIE VK SES METER GROEP

PADVINDERS SAAMTREK OP DIE LUG

RESULTATE VAN DIE ANTIEKE DRAADLOOS VERENIGING BUIS QSO PARTYTJIE

HF VOORTPLANTING VOORSPELLING

en

DAGBOEK VAN GEBEURE


** ‘n Gesamentlike SARL/AMSAT SA werkswinkel om die SDR ervaring te verbeter word beplan vir vroeg in Augustus by die NARS en later die maand in Kaapstad. Die werkswinkel sal daarop fokus om meer pret uit ‘n BHF SDR dongel te kry. Die tweede deel van die werkswinkel sal daarop fokus om die SARL se monitering van die styging in die geraasvlak projek aan die gang te kry met die SDR waterval.

Beide ‘n HF en BHF dongel sal beskikbaar wees asook ‘n geheue stokkie met die vereiste SDR en ander pret sagteware.

Meer besonderhede sal binnekort bekend gemaak word. Indien jy sou belangstel om die werkswinkel by te woon, stuur asseblief ‘n e-pos met jou besonderhede aan admin@amsatsa.org.za en jy sal by die adreslys gevoeg word. Jy sal dan op datum gehou word met besonderhede van die werkswinkels in Gauteng en die Wes Kaap.

** Die Hammies Naelloop is 'n prettige aktiwiteit om kontakte tussen radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder, met die klem op ZU-stasies. Die Hammies Naelloop vind plaas vanaf 14:00 tot 15:00 UTC vanmiddag en is 'n foon kompetisie op die 40 meter band tussen 7 063 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz. Die uitruiling is 'n RS-verslag en jou provinsiale afkorting. Stasies buite Suid-Afrika gee 'n RS-verslag en DX.

Kontakte met stasies in dieselfde ZS-streek is 1 punt werd en kontakte met ander ZS-streke of DX-stasies is 2 punte werd. Kontakte met die Hammies ARK ZS6ZU of ZS2U en enige ander Hammies klub wat tydens die Naelloop geregistreer mag word, is 5 punte. Kontakte met enige ZU-stasie is 3 punte werd en kontak tussen ZU-stasies is 5 punte werd.

Logstate, in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel formaat en gemerk "Jou roepsein Hammies" moet ingedien word teen 18 Junie 2017 en gestuur word per e-pos aan chairman@zs6zu.org.za of zr6dx@iafrica.com. Sertifikate word toegeken aan die 1ste, 2de en 3de plek en sertifikate sal toegeken word aan die 1ste, 2de en 3de plek vir ZU-stasies.

** Radio sterrekundiges het lank gelede ontdek dat die antenna stelsel die belangrikste deel is van radio sterrekunde om die swakste radio seine te ontvang in die heelal. Hulle het begin met ‘n 76 meter paraboliese skottel by Jodrell Bank in Engeland en nou fokus hulle op die konstruksie van 3000 vyftien-meter skottels in die Karoo vir die SKA. Radio amateurs behoort hieruit te leer aangesien hulle lankal nie meer hul eie BHF radios kan bou nie, behalwe vir ‘n paar hoogs geskoolde mense, maar hulle kan steeds hoë wins Yagi of skottel antenna meesterstukke bou. Dit is reeds bewys dat horisontale polarisasie meer doeltreffend is as vertikale polarisasie vir aardse BHF, UHF en SHF kommunikasie en dit tel ook minder geraas op. So begin nou om ‘n hoë wins horisontaal gepolariseerde Yagi vir jou gunsteling BHF band of hoër te bou en die resultate sal jou verstom.

** ‘n E-pos is onlangs van die VK Ses Meter Groep ontvang deur ZS4A en ZS2FM met verwysing na die onlangse weerligverstrooiing verslag op die SARL tuisblad. Dit lui:

Hallo. Laat my aseblief toe om myself bekend te stel. Ek skryf die 'What's On Six' rubriek vir die Six News tydskrif wat deur die VK Ses Meter Groep publiseer word. Onlangs is ‘n artikel oor jul waarnemings van weerligverstrooiing op 2 meter na my aangestuur. Ek het opgelet dat die moontlike gebruik van weerligverstrooiing op 50MHz ook bespreek word. Sal julle my asseblief laat weet indien hierdie modus suksesvol gebruik is op ses meter? Indien julle dit reeds gebruik het, sal julle dit oorweeg om ‘n verslag te skryf oor jul ondervinding met hierdie modus op 50MHz? Dit sal baie belangstelling wek by ons lesers. Aangeheg is ‘n onlangse uitgawe van ons tydskrif om julle ‘n idee te gee waaroor dit gaan. Dankie. 73, Chris Patterson W3CMP.

** En nou vir baken nuus. Gedurende die afgelope week het Graham ZS6GL die vierde lid van die hoë-kilometer klub geword toe sy baken in Hawaii deur AH6GT in ruitvierkant BK29ap ontvang is. Die afstand is 19,193km met 250mW uitset op 14.097MHz. Graham sê hy het bykans ses maande hiervoor gewag, maar sy geduld het uiteindelik vrugte gewerp. Geluk Graham! Vir meer inligting oor wat die “Beaconeers” doen, kontak gerus vir Leon Uys ZR6LU per e-pos of WhatsApp op 082 573 5580.

** Soos julle reeds mag weet, is die Padvinders se Saamtrek op die Lug vinnig besig om nader te kom. Hierdie jaar vind die saamtrek gedurende die naweek van 20 tot 22 Oktober plaas.

Hierdie is ‘n groot gebeurtenis en die saamtrek vier hierdie jaar sy sestigste bestaansjaar. Hierdie saamtrek is ook die ideale geleentheid vir Amateurs en Padvinders om bymekaar te kom en kontak te maak met ander Padvinders in Suid Afrika en die res van die Wêreld. Die saamtrek is die grootste Padvinder gebeurtenis in die Wêreld met ongeveer 1.5 miljoen Padvinders van elke kontinent wat deelneem.

Wat kan Amateurradio Klubs en individue doen vir hierdie gebeurtenis? Hoekom rig jy nie ‘n klein stasie op nie of nooi ‘n klein groepie na jou stasie vir die dag of naweek. ‘n Eenvoudige velddag stasie is al wat benodig word. Wys die jeug waaroor Amateurradio gaan en kry hulle om kontakte te maak. Stasies wat met ‘n kleiner troep of ‘n distrik saamwerk, word aangemoedig aangesien dit die jongelinge meer geleentheid sal gee om met die radio te werk.

Laas jaar was daar ‘n 400% groei in Amateurradio stasies, met ‘n totaal van 18 Amateurradio staties in werking.

Indien jy kan help of meer inligting wil bekom oor hierdie fantastiese gebeurtenis, kontak gerus vir Richard Hooper op richard@sandringhamscouts.co.za en hy sal jou in direkte verbinding bring met die Distrik Kommissaris en die Padvinder in beheer van jou naaste Padvinder groep.

Die jeug is die toekoms van ons fantastiese stokperdjie en met die Padvinders werk hulle so lekker saam.

** Hier volg die uitslae van die Antieke Draadloos Vereniging se buis QSO Partytjie gehou op 13 en 14 Mei 2017.

AM:
Eerste plek: Helge ZS6HB
Tweede: Patrick ZS1PDY

ESB:
Eerste Plek: Helge ZS6HB
Tweede: Theunis ZS2EC
Derde: Patrick ZS1PDY

‘n Totaal van 2 logs is ingedien vir die AM gedeelte en 5 logs vir die ESB deel. Toestande was regtig nie goed nie, maar heelwat stasie het deelgeneem, meeste slegs om punte weg te gee.

Dit is ook duidelik dat redelik min buis radios gebruik word, maar daar is wel heelwat FT101s wat ‘n impak maak as die mees gebruikte buis radio. Dit is ‘n baster radio en kry slegs 2 punte, maar dit is een meer as die minimum. Indien jy ‘n FT101 gebruik en ‘n ander FT101 kontak, dan is dit 4 punte.

Onthou om die kompetisie reëls deeglik te lees voordat jy jou log indien. Een van die areas waar baie punte verloor word, is die deel waar die radio wat die roepende stasie gebruik ingevul moet word asook die radio wat die stasie wat geroep word gebruik.

Buis radios gee ekstra punte en waar hierdie area nie ingevul word nie, ontvang jy slegs die minimum punte.

Dankie aan almal wat deelgeneem het en susesvol was om kontakte te maak in die slegte toestande.

Jul sertifikate sal gedurende die volgende paar weke aan julle gestuur word per e-pos.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer agt vir die week gebruik.

Amateurs kan goeie openinge op die 18 tot 30m bande verwag.

Plaaslik gaan 60m band die beste kontakte oplewer.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

11 Junie – Hammies Naelloop
17 Junie – Wêreld QRP Dag
22 – 26 Junie – SARL Top Band QSO Partytjie
1 Julie – SARL Nuweling Naelloop
2 Julie – ZS5 Naelloop
8 – 9 Julie – IARU HF Kampioenskappe

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoofberig: ‘n Gesamentlike SARL/AMSAT SA werkswinkel om die SDR ervaring te verbeter word beplan vir vroeg in Augustus by die NARS en later die maand in Kaapstad. Die werkswinkel sal daarop fokus om meer pret uit ‘n BHF SDR dongel te kry. Die tweede deel van die werkswinkel sal daarop fokus om die SARL se monitering van die styging in die geraasvlak projek aan die gang te kry met die SDR waterval.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou ‘n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003