Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 17 SEPTEMBER 2017

Goeie môre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

'n Oudio opname sowel as 'n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

RAE REGISTRASIE SLUITINGSDATUM UITGESTEL

DIE TOEKOMS VAN DIE AMATEUR RADIO DIENS

en

RADIO DARC INTERNASIONALE KORTGOLF UITSENDINGS

Bly gerus ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

RAE REGISTRASIE SLUITINGSDATUM UITGESTEL

Die sluitingsdatum vir die Oktober RAE is uitgestel na Saterdag 23 September 2017. Indien u bewus is van iemand wat die opkomende RAE wil skryf, help hulle asseblief om voor die sluitingsdatum te registreer. Die registrasie bladsy kan op die volgende webblad gevind word: www.sarl.org.za/public/licences/rae.asp

Vir verdere bystand, kontak die RAE Bestuurder via e-pos by rae@sarl.org.za

DIE TOEKOMS VAN DIE AMATEUR RADIO DIENS

Tydens die IARU Streek 1 Algemene Konferensie wat vanoggend in Landshut Duitsland begin sal die toekoms van amateur radio bespreek word. Daar is kommerwekkende tekens dat belangstelling in amateur radio onder die jeug besig is om af te neem. 'n Afname in wêreldwye lidmaatskap kan met tyd sy bestaan bedreig.

Dit is die eksperimentering, navorsing en baanbrekersgees van die vroeë radio amateurs wat die professionele radio kenners uitgedaag het en bewys het dat DX werking moontlik en beter was op die kortgolwe. Dit is hoe hulle hul merk gelaat het in die geskiedenis en amateur radio bevorder het wat wêreldwyd versprei het en van krag tot krag gegroei het. In later jare is amateur radio deur baie gesien as slegs 'n stokperdjie vir pret. Radio amateurs moet herinner word aan die magtige Eastman Kodak Maatskappy saga wie se bejaarde besturende direkteur vas geglo het dat die filmbedryf vir ewig sou duur en geen vernuwing benodig het nie. Kodak het die digitale kamera uitgevind en dit toe aan van hul kompetisie verkoop.

Amateur radio moet vooruitgaan met die tyd en moet meer aantreklik gemaak word vir die toekomstige geslag en ons moet besef dat niks vir ewig duur nie. Radio Astronomie is 'n ander veld van radio wetenskap en was deur 'n radio amateur ontwikkel en daarom is dit natuurlik dat dit ook verder ondersoek moet word in amateur radio wetenskap aangesien dit deel vorm van radio tegnologie. Soos ruimteverkenning uitbrei, is kommunikasie met ander wêrelde net om die hoek. 'n Wyer veld van die amateur radio diens sal meer aantreklik wees vir die toekomstige jonger en ruimte-georiënteerde geslag.

RADIO DARC INTERNASIONALE KORTGOLF UITSENDINGS

Tydens die 24ste IARU Streek 1 konferensie in Landshut, Duitsland, sal daar 'n reeks van ses agtereenvolgende spesiale kortgolf uitsendings wees om die IARU Streek 1 amateur radio-gehoor op datum te hou met nuus- en agtergrond verslae. Die programme sal in Engelse wees.

Die RADIO DARC-programme word saamgestel deur Eva-Maria, DG9MFG, Christian, DL8MDW, Peter, HB9MQM en Rainer, DF2NU, die hoofredakteur.

Verskeie sender en kortgolfbande word gebruik om ontvangs in verskillende teikenarea van IARU Streek 1 toe te laat. Die uitsaaier is die Oostenrykse Uitsaaiers Korporasie (ORS) in Moosbrunn naby Wene. Die skedule is soos volg Sondag 17 September tot Vrydag 22 September 2017

17:30 - 18:00 UTC - 13 775 kHz met 300 kW vir Afrika
17:30 - 18:00 UTC - 9 790 kHz met 100 kW vir Oos-Europa / Rusland / Midde-Ooste
18:00 - 18:30 UTC - 6 070 kHz met 100 kW vir Sentraal-, Noord- en Suid-Europa, en 18:00 - 18:30 UTC - 9 540 kHz met 100 kW vir Wes-Europa

RADIO DARC is die weekblad van die Duitse Amateur Radio Klub vir radio amateurs en kortgolf luisteraars, met drie uitsendings op 6 070 kHz vir Europa. Die program bevat DX nuus, tegniese kenmerke en verslae van die DARC, sowel as kommentaar, voortplantings voorspellings en goeie musiek uit die jare 70 en 80's. Na die staking van Deutsche Welle en ander KG-stasies, is die weeklikse uitsendings van die DARC een van die min oorblywende kortgolf programme uit Duitsland.

SARL LIDMAATSKAP JAARLIKSE HERNUWINGS

Finale lidmaatskap hernuwings kennisgewings vir die boekjaar 2017/2018 is op 8 September per e-pos uit gestuur en lede het positief gereageer met hul inbetalings. 'n Woord van dank aan almal wat hul lidmaatskap tot op datum hernu het. Vir diegene wat 'n eenmalige betaling moeilik vind en verkies om in paaiemente te betaal, kan dit reël en bevestig deur 'n e-pos aan admin@sarl.org.za te stuur. Die afsnydatum vir hernuwings is 30 September 2017.

Jy luister na 'n nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

JOTA/JOTI 2017 NUUS

ZS6SSG sal weer soos gedurende die afgelope paar jaar 'n stasie bedien. Hierdie jaar vier JOTA hul 60ste bestaansjaar. Om hierdie mylpaal te vier, sal JOTA 'n spesiale gebeurtenis roepsein gebruik tydens die naweek van 20 tot 22 Oktober. Die roepsein is ZS60JOTA. Luister uit vir hierdie roepsein en maak kontak. Hulle sal die 20, 40 en 80 m bande gebruik tydens die naweek. Indien enige Amateurs belangstel om te help met die bediening van 'n stasie vir 'n Padvinder Groep naby hul QTH, of net wil kom kyk wat aangaan, kontak gerus vir Richard Hooper op richard@sandringhamscouts.co.za. Dit is 'n aangename gebeurtenis en is die perfekte geleentheid om die jeug se betrokkenheid in hierdie wonderlike stokperdjie te groei. Besonderhede is in die roepsein boek onder ZS6RKE.

SARL NASIONALE VELDDAG

Die uitslae van die tweede been van die SARL Nasionale Velddag en die gekombineerde resultate van die Februarie en September bene van die Velddag sal in die week van 25 September vrygestel word. Dit is omdat Dennis, ZS4BS, in Duitsland vir die IARU Streek 1 Algemene Konferensie is en eers na 24 September beskikbaar sal wees.

VANDERKLOOF HAMMIES KLUB

Die nuut gestigte Hammies klub ZS3ZU in Vanderkloof in die Bo-Karoo kondig met trots aan die suksesvolle voltooiing van hul eerste Klas B-kursus en RAE met 7 jongmense wat nou gelisensieerde radio amateurs is. Baie geluk aan al die jongmense en 'n opregte woord van dank aan Pieter, ZS3PG en Aletta Gaybba, ZR3PA, met die stigting van 'n Divisie 3 Hammies klub en die voltooiing van hul eerste Klas B RAE-kursus. Ons wens Pieter en Aletta asook die jongspan voorspoed toe vir die toekoms en sien daarna uit om binnekort 'n paar jong stemme op die lug te kan hoor.

CENTURION RADIOAMATEURKLUB ALGEMENE JAAR VERGADERING

Die AJV van die Centurion RAK was gehou op Saterdag 9 September. Die volgende lede is gekies om op die komitee te dien vir 2017/2018.

Voorsitter: Wally ZS6BCI en Ken ZS6KN
Onder Voorsitter: Brazz ZR6UV en Gert ZR6BV Sekretaris / Tesourier: Billy ZS6WPS
Tegnies: Johan ZS6CAQ
Lede: Dave ZS6AZP en Steven ZS6RCA

'n Spesiale word van dank aan ons uittredende voorsiter Pam, ZS6APT, vir haar uitstekende bestuur van die Klub vir baie jare.

HF VOORTPLANTING VOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak weereens laag gaan wees. Daar is geen kans dat Sonvlek AR 2680 ernstige sonfakkels gaan oplewer nie. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Daar is selfs 'n moontlikheid vir kort 10 m openinge. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Ten slotte, die dagboek van gebeure vir die volgende paar weke:

Eindig vandag - die SARL BHF/UHF Analoog/Digitale Kompetisie en die Alle Afrika Alle Modus Kompetisie
23 September - Sluitingsdatum Oktober RAE Registrasie
23 en 24 September - CQ RTD Kompetisie
5 Oktober - SARL 80 m QSO Partytjie
7 Oktober - Lente QRP Kompetisie
7 en 8 Oktober - AWA Buis QSO Partytjie
20 tot 22 Oktober - JOTA/JOTI
21 Oktober - CQ Hou Koers

Om die bulletin mee af te sluit, 'n opsomming van ons hoofberig:

Die sluitingsdatum vir die Oktober RAE is uitgestel na Saterdag 23 September 2017. Indien u bewus is van iemand wat die opkomende RAE wil skryf, help hulle asseblief om voor die sluitingsdatum te registreer. Die registrasie bladsy kan op die volgende webblad gevind word: www.sarl.org.za/public/licences/rae.asp

Vir verdere bystand, kontak die RAE Bestuurder via e-pos by rae@sarl.org.za

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, geredigeer deur Dennis Green, DL/ZS4BS, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou 'n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003