Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 29 OKTOBER 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

SPESIALE GELEENTHEID STASIE VANUIT DIE NOORD-KAAP

EERSTE ZS AMA-REKORD OP 10 GHz (3 sm GOLFLENGTE)

en

RaDAR UITDAGING VOLGENDE SATERDAG

Bly ingeskakel vir ʼn vol gepakte bulletin en meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

SPESIALE GELEENTHEID STASIE VANUIT DIE NOORD-KAAP

Vanaf 1 tot 30 November vier die Bo-Karoo Amateurradioklub die 40ste herdenking van die inbedryfstelling van die Vanderkloofdam met die spesiale roepsein ZS40VDK - QSL via die operateur se instruksies. As deel van hierdie vieringe, bied die klub die ZS40VDK sosiale geleentheid aan by die Sandgat-oord net buite die dorp Vanderkloof op Saterdag 18 November. Die sosiale geleentheid sluit die Klub AJV, 'n potjieskos kompetisie en 'n dans in.

Die Vanderkloofdam (oorspronklik die PK Le Rouxdam) is ongeveer 130 km stroomaf van die Gariepdam geleë en word gevoed deur die Oranjerivier, Suid-Afrika se grootste rivier. Die dam is in 1977 in bedryf gestel. Die Vanderkloofdam is die tweede grootste dam in Suid-Afrika (in volume) en het die hoogste damwal in die land op 108 meter.

EERSTE ZS AMA-REKORD OP 10 GHz (3 sm GOLFLENGTE)

Op 22 Oktober 2017 om 15:46 UTC het Alex Artieda, ZS6EME, die eerste digitale AMA QSO met HB9Q op 10 GHz aangeteken. Dit is die eerste Mikrogolf AMA QSO op so 'n hoë band uit Suid-Afrika met gebruik van die nuwe digitale modus QRA64D, terwyl slegs 50 Watt in sy 1,5 meter-skottel gevoer is. Op 23 Oktober het Alex 10 AMA QSOs op 10 GHz voltooi. Ten slotte, op 24 Oktober om 11:56 UTC, kon hy die eerste Digitale AMA QSO op 5,7 GHz (6 cm) in die RSA maak met PA3DZL en op dieselfde dag het hy 7 meer QSOs op 5,7 GHz voltooi. Hartlike geluk aan Alex vir sy fantastiese prestasies en om Suid-Afrika terug te plaas op die wêreld Mikrogolf kaart.

NUWE LOKAAL VIR KAAPSTAD SDR WERKSWINKEL

Luisteraars word daaraan herinner dat die SDR-werkswinkel wat op Saterdag 4 November in Kaapstad gehou sal word, by die Oakdale-klub plaasvind in Bloemhofweg 80A in Bellville. Koffie sal bedien word en na die werkswinkel sal die restaurant en kroeggeriewe vir middagete beskikbaar wees.

5 BAND DXCC VIR ZS2ACP

Die Port Elizabeth Amateurradiovereniging (PEARS) wil Andre Botes, ZS2ACP, gelukwens met sy 5-band DXCC. André het sy sertifikaat ontvang vir die bevestiging van tweerigting kommunikasie met 100 of meer entiteite op 80, 40, 20, 15 en 10 meter.

Wel gedaan Andre!

DANKIE AAN ZS1YT

Die President en die Raad van die Liga bedank Rassie Erasmus, ZS1YT, vir sy werk as SARL Sekretaris sedert die Jaarvergadering van 2017. Na aanleiding van 'n reëling op die AJV, het Rassie die portefeulje van die Liga Sekretaris aangeneem totdat Dennis, ZS4BS, sy ampstermyn as Streek 1 Sekretaris voltooi het. Vanaf Maandag 30 Oktober sal Dennis, ZS4BS, die SARL Sekretaris wees en kan gekontak word via secretary@sarl.org.za.

NUUS VAN HAMNET GAUTENG SUID

Hierdie naweek doen Hamnet Gauteng Suid al die inligting hantering vir die Carnival City Fietswedren, gister vir die bergfiets wedren en vandag vir die pad wedren.

As 'n openbare weldaadsorganisasie (PBO) het Hamnet Gauteng Suid 'n staanplek by die Suid-Afrikaanse Nooddienste Instituut (SAESI) skou van 1 tot 3 November by die Nasrec Expo-sentrum gekry, besoek gerus die skou en ondersteun ons. Dit is 'n 36-vierkante meter standplek wat groot genoeg is om HGS se voorste beheer eenheid te bedryf.

Hamnet Gauteng Suid sal ook op Sondag 5 November by die Tshwane Klasieke Wedren bystaan. As jy wil deelneem aan enige van hierdie geleenthede, kontak asseblief vir Glynn, ZS6GLN, by 072 119 0559 of Leon, ZS6LMG, by 082 440 7733.

DIE NOVEMBER RADIO ZS

Die November 2017-uitgawe van Radio ZS sal vanaf Dinsdag 31 Oktober beskikbaar wees. In hierdie uitgawe is daar 'n verslag oor die 2017 Jamboree-op-die-Lug en die CQ Hou Koers-gebeure. Cameron, ZS6CYE, vertel ons van die 2017 Jongmense-op-die-lug somer kamp wat in Augustus by Gilwell Park gehou word.

John, ZS6JON, berig oor die onlangse AMA DX ekspedisie na Swaziland en Christo, ZR6LJK, berig oor die BACAR 5-sending op 21 Oktober. Staatmaker Mike, ZS2FM, gaan voort met die reeks oor amateur radio geskiedenis tussen die twee wêreldoorloë en vertel ons meer oor die wêreld bo 6 meter.

2018 SARL BLOUBOEK

Die Kompetisie span versoek kompetisie borge om die datums vir hul 2018 kompetisies, sowel as die betrokke logstaat vereiste en e-posadresse vir logstaat indiening te kontroleer. Bevestig asseblief hierdie besonderhede teen middernag op Dinsdag 31 Oktober by contest@sarl.org.za.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

TRADISIONELE ASPEKTE VAN AMATEUR RADIO MAG NIE MEER AANTREKLIK WEES NIE

'N ARRL-nuusbrief het die toespraak van die IARU-president Tim Elam, VE6SH/G4HUA, by die onlangse IARU Streek 1-vergadering in Landshut, Duitsland, uit gelig waar hy die volgende verklaring gemaak het. Hy het die deelnemers verwelkom en hulle gevra om na te dink oor wat die meerderheid jongmense na amateur radio sal lok en wat ons onderlinge verwagtinge moet wees. Tim Elam het gesê sy persoonlike waarneming is dat, terwyl sommige jonger mense belangstel in die meer tradisionele aspekte van amateur radio, is baie net geïnteresseerd in amateur radio as 'n aanvulling op ander moontlike nie-verwante belange. Hy het die uitstekende werk wat in hierdie streek onderneem is deur die Jongmense-op-die-Lug (YOTA) program toegejuig.

Tim het gesê dat ons ambisieus moet wees om hierdie individue in hul aktiwiteite te omhels en te aanvaar, dat sommige van die meer tradisionele aspekte van die stokperdjie vir hulle min belangstelling sal hê en dat dit inderdaad nie meer relevant kan wees nie. Dit is nie te sê dat sommige nie geesdriftig is met wat ons almal as die kern van ons stokperdjie hou nie, soos om oor die algemeen aan kompetisies deel te neem of net om te gesels. Hy vrees egter dat ons moet kyk na wat die nuwe geslagte tot die amateur radio sal lok en seker maak dat ons amateur radio aanmoedig om aan hul behoeftes te voldoen, eerder as om die historiese siening van wat die amateur radio bied, te bevorder.

RaDAR UITDAGING VOLGENDE SATERDAG

Die laaste RaDAR-uitdaging vir 2017 vind plaas op Saterdag 4 November met gelykgolf, ESB, AM, FM of enige wettige digitale modus op alle amateur bande, insluitend kruisband kontakte via amateur radio satelliete. QSOs via terrestriële FM-herhalers moet verkieslik nie vir die uitdaging gebruik word nie. Die uitdaging loop oor vier-en-twintig uur wat gelyke geleenthede bied aan die internasionale gemeenskap van RaDAR-operateurs. RaDAR-operateurs kan hul eie bedryf skedule definieer, aangesien dit vir almal belangrik is om sy of haar maksimum enkele tydperk, vieruur-operasie te beplan.

Die RaDAR Uitdaging is 'n unieke geleentheid wat daarop gemik is om die gebruik van Vinnig Ontplooide Amateur Radio-stasies te bevorder. Kategorieë kan enige tyd verander word tydens die uitdaging. Die punte stelsel is so gestruktureer dat draagbare RaDAR-operasies veral beweegbare RaDAR-stasies aanmoedig word. RaDAR-operateurs word aangemoedig om tydens elke uitdaging selfversorgend te wees, met nie net kragtoevoer en kommunikasie toerusting nie, maar kos, water, beskermende klere en skuiling en moet nie die noodhulpkissie vergeet nie.

Lees die volledige reëls vanaf bladsy 27 in die 2017 SARL Blouboek.

SPESIALE KORTING OP BOEKE VIR SARL LEDE

Het jy www.amateurradio.org.za besoek om na die lys van die baie verskillende ARRL-boeke wat teen SARL-lede beskikbaar is teen afslagpryse, te kyk? Doen dit vandag en bederf jouself met 'n nuwe amateur radio boek.

NUWE FREKWENSIE VIR AMATEUR RADIO TODAY

Luisteraars word daaraan herinner dat die frekwensie van die Maandag 18:30 Sentraal Afrika Tyd uitsending van Amateur Radio Today van Maandag 30 Oktober 2017 na 4 895 kHz sal verander. Die uitsendings op Sondae om 10:00 sal op 7 205 en 17 760 kHz bly. Ontvangsverslae is altyd welkom en moet per e-pos aan artoday@sarl.co.za gestuur word.

HF VOORTPLANTINGS VOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Die twee sonvlekke wat tans sigbaar is, is stabiel met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van sewe vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Daar is selfs 'n moontlikheid vir 'n paar 10 m openinge. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

31 Oktober - 2018 Kompetisie inligting na contest@sarl.org.za
1 tot 3 November - Hamnet Gauteng Suid by die SAESI Skou by die Nasrec Expo Sentrum
04 November – die RaDAR Uitdaging en die Kaapstadse SDR Werkswinkel
05 November – die PEARS HF DX kompetisie en Hamnet Gauteng Suid by die Tshwane Klasieke Wedren
18 November – die Antieke Draadloos Vereniging se museum ope dag, snuffelmark en AJV en ook op 18 November die Bo Karoo ARK AJV en ZS40VDK Bash
25 November – die SARL Newbie QSO Geselligheid

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Vanaf 1 tot 30 November vier die Bo-Karoo Amateurradioklub die 40ste herdenking van die inbedryfstelling van die Vanderkloofdam met die spesiale roepsein ZS40VDK - QSL via die operateur se instruksies. As deel van hierdie vieringe, bied die klub die ZS40VDK , die sosiale geleentheid aan by die Sandgat-oord net buite die dorp Vanderkloof op Saterdag 18 November. Die sosiale geleentheid sluit die Klub AJV, 'n potjieskos kompetisie en 'n dans in.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003