Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 10 DESEMBER 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word deur ZS6JPL via Echolink herlei. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin vanoggend die bulletin met nuus van 'n stil sleutel.

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Mimi Roach, ZS5YO, op Saterdag 25 November 2017 stil geword het.

Ons betuig ons innige meegevoel aan haar dogter Molly, W0MOM (ex ZS5MM en ZS1KE), skoonseun Gordon, W0RUN (ex ZS1FE en ZS5SL), kleinkinders, familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

DIE SARL IS GASHEER VAN DIE 2018 JONGMENSE OP DIE LUG (YOTA) SOMER KAMP

DESEMBER YOTA MAAND IS ONDER WEG

en

DIE TINUS LANGE 7066 TEGNIESE UITNEMENDHEID TOEKENNING

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

SWART VRYDAG SARL LIDMAATSKAP AANBOD

Die Swart Vrydag SARL-lidmaatskap aanbod wat op Vrydag 24 November 2017 op die Liga webwerf geadverteer was, is goed ondersteun met 26 nuwe lede wat by die Liga aangesluit het. Baie dankie aan ons Lede wat die inisiatief ondersteun het om ons lidmaatskap te laat groei. Tans is ons lidmaatskap syfers op 1 645.

DIE SARL IS GASHEER VAN DIE 2018 JONGMENSE OP DIE LUG (YOTA) SOMER KAMP

Die Liga het positiewe reaksie ontvang van Lisa Leenders, PA2LS, die IARU Streek 1 Jeug WG Voorsitter, na aanleiding van die aanvaarding en goedkeuring van die SARL-voorstel om die 2018 YOTA Somer Kamp aan te bied, deur die Streek 1 Uitvoerende Komitee. Omdat dit in die suidelike halfrond gehou gaan word, sal dit die YOTA Winter Kamp wees!

Hierdie jaarlikse gebeurtenis bring jongmense uit die Streek 1 Lede Verenigings vir 'n hele week saam, nie net vir amateur radio nie, maar om 'n geleentheid te skep om oor verskillende nasionaliteite en kulture te leer, internasionale vriendskappe en welwillendheid te bevorder, asook om nuwe vaardighede aan te leer.

Werk het vroeg in November 2017 begin, toe 'n werkgroep aangestel is om 'n realistiese evaluering van ons vermoë om die geleentheid in Augustus 2018 aan te bied en 'n voorstel vir die Liga-raad se goedkeuring en daaropvolgende voorlegging aan Streek 1 saam te stel.

Die SARL en die Suid-Afrikaanse YOTA-werkgroep is verheug oor die reaksie en ons sien uit om 'n suksesvolle YOTA 2018-geleentheid aan te bied as 'n onvergeetlike Afrika-ervaring wat vir baie jare onthou sal word. Dr Gary Immelman, ZS6YI, het die rol as beskermheer vir die geleentheid aanvaar.

Die SARL-president het sy opregte waardering vir die YOTA-werkgroep met hul suksesvolle voorstel oorgedra en verklaar dat dit nou 'n goue geleentheid vir die SARL en amateur radio in Suid-Afrika is om hul merk te maak om amateur radio onder die jeug, plaaslik en in Afrika, te bevorder as die gasheer van die 2018 YOTA Winter Kamp.

DESEMBER YOTA MAAND IS AAN DIE GANG

Desember is Jongmense op die Lug-maand in IARU Streek 1 wanneer jong radio amateurs en voornemende jong amateurs op die lug is vanaf stasies dwarsdeur die Streek met YOTA as die agtervoegsel in die roepseine. Die idee is om amateur radio aan die jonger geslag te demonstreer en om jongmense aan te moedig om gelisensieer en aktief op die lug te word. Meer as 35 stasies met 'n YOTA-agtervoegsel is geregistreer en aktief op die bande. Die Desember YOTA Maand aktiwiteit is nie 'n kompetisie nie; dit gaan alles oor pret!

Die SARL het die spesiale roepsein ZS9YOTA op die Streek 1-webtuiste geregistreer as 'n opvoedkundige roepsein vir gebruik deur Suid-Afrikaanse klubs en individue gedurende Desember 2017. Om 'n gleuf te reserveer om die roepsein ZS9YOTA daagliks te gebruik of vir meer inligting, kontak Koos, ZR6KF, op e-pos koos.zr6kf@gmail.com of alternatiewelik vir Nico, ZS6QL, op zs6ql@mweb.co.za. Die aktiwiteit skedule en die reëls is beskikbaar op die SARL-landingsblad by www.sarl.org.za

DIE TINUS LANGE 7066 TEGNIESE UITNEMENDHEID TOEKENNING

Geniet jy om toerusting te bou om binne of buite die Radiokamer te gebruik? Of sagteware vir gebruik in amateur radio? Nou hoekom skryf jy nie in vir die Tinus Lange 7066 Tegniese Uitnemendheid Toekenning nie? Die toekenning word jaarliks aan die Liga lid toegeken wat 'n tegniese projek in enige van die volgende kategorieë voorlê – A. ontwerp en/of konstruksie van projekte soos 'n voorversterker, SWR brug, skakelkas, outomatiese IDer, praktiese antenna idees, mas, draagbare toerusting, kragbronne, ens., of B. enige sagteware vir gebruik in amateur radio.

Die voorlegging moet die werklike items insluit (indien grootte en massa dit toelaat) of foto's (veral in die geval van antennas, maste, ens.,) en 'n volledige artikel met illustrasies/prente, gereed vir publikasie in Radio ZS. Alle inskrywings sal vertoon moet word (waar prakties, andersins, foto's) by die SARL Nasionale Konvensie en die toekenning sal by die jaarlikse Toekenningsdinee oorhandig word. Die toekenning is 'n geraamde sertifikaat en 'n kontantprys van R1 000. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 31 Januarie 2018 en moet gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga. Het jy iemand van amateur radio vertel?

SARL NUUSSPAN

Die Nuusspan wil graag John Keulder, ZS6BXL, bedank vir sy werk as Afrikaanse bulletin opnemer die afgelope aantal jare. John het besluit om uit te tree. Baie dankie aan Anette Jacobs, ZR6D, wat gewillig was om by John oor te neem.

2018 DAGBOEK VAN GEBEURE

Die SARL Sekretaris is besig met die finalisering van die 2018 Dagboek van Gebeure en versoek nou Klubs en individue om hom te voorsien van datums van klub aktiwiteite om in die Dagboek in te sluit. Dit kan snuffelmarkte, algemene jaarvergaderings, datum van klub byeenkomste, klub funksies, SDR-werkswinkels, spesiale geleentheids roepseine, ens., wees. Stuur asseblief die inligting na secretary@sarl.org.za teen 15 Desember 2017

Baie dankie aan die Kaapstadse Amateurradiosentrum en die Wesrand Amateurradioklub vir hul vinnige reaksie.

WEERLIG VERSPREIDINGS TOETSE DEUR ZS4A

Rickus De Lange, ZS4A, in Bethlehem, het op 30 November 2017 'n paar interessante weerlig verspreidings toetse gedoen terwyl 'n donderstorm naby die grens van Swaziland, ongeveer 291 km noordoos van hom, aan die gaan was. Hy het sy 12-element Yagi daarop gerig. Hy het 'n vinnige grafiek van WSJT-X op 144,250 MHz MSK144 aangeteken, waar weerlig flitse vlekke op die grafiek geproduseer het. Hy het 'n musikale uitsending op die frekwensie gedoen en toe vir Carl, ZS6CBQ gevra om na hom te luister, maar geen sukses nie.

Rickus het toe verander na AM-uitsaaistasies en het uiteindelik na die kommersiële stasie op 702 kHz geluister toe hy die ateljee-aanbieder se stem vir ongeveer 8 sekondes duidelik hoor het en toe het dit skielik verdwyn. ZS4A voel dat hierdie eksperiment gewerk het, nou is die die 50 en 144 MHz toetse wat voorlê, dus "hou asseblief duim vas vir hulle!”

Baie jare gelede het Mike, ZS2FM, duidelike klank seine van 'n FM-uitsaaistasie in Durban ontvang, in die 87,5 - 108 MHz-FM-band, terwyl hy tydens 'n donderstorm op 'n tuis FM-ontvanger in Oos-Londen gemonitor het. Die afstand tussen Oos-Londen en Durban is meer as 400 km. Elke keer as daar 'n verligte flits plaasgevind het, is ‘n klank greep van so tien sekondes ontvang, maar die AM-blits geraas was onhoorbaar, aangesien die FM-ontvanger dit beperk het. Die gevolgtrekking wat 'n mens uit bogenoemde kan trek, is dat FM-modulasie die beste modus vir weerlig verspreidings-kommunikasie op 50 of 144 MHz sal wees en AM-blits geraas sal uitskakel. Verder kan 'n tweerigting kontak meer suksesvol wees as die donderstorm naby die BHF-roete tussen die verre operateurs is. Dit sal slegs 'n paar weerlig flitse benodig om 'n kort QSO te voltooi.

DIE SARL BHF/UHF GELUKKIGE TREKKING

Die wenner van die SARL BHF/UHF gelukkige trekking is Andre Botes, ZS2ACP. Veels geluk Andre, jou prys sal binnekort aan jou gestuur word.

UITSLAE VAN DIE SARL NEWBIE QSO GESELLIGHEID

Vier logstate en een kontrolelog is ontvang vir die tweede Newbie QSO Geselligheid wat op Saterdag 25 November 2017 gehou word. Die uitslae is:

1ste Kayla de Wet, ZU3K - 294 punte
2de Sonet de Wet, ZS3SW - 280 punte
3de Ryno Rupping, ZU3RR - 182 punte
4de Woody Collet, ZS3WL - 90 punte

Dankie aan almal wat deelgeneem het, ons hoop regtig dat die QSO Geselligheid in 2018 sal groei

NUWE KOMITEE VIR DIE SAUK AMATEURRADIOKLUB

By die Klub se AJV wat op 2 Desember 2017 gehou is, is die volgende komiteelede gekies:

Voorsitter: Pieter van Wyk, ZS6PVW
Ondervoorsitter: Yvonne van Dijk, ZR6TBL
Sekretaresse en Sosiaal: Magda van Wyk, ZS6MVW
Tesourier: Lizette Pienaar, ZS6LZT
Webmeester: Marianne van Dyk, ZS6ANA
Tegniese en herhaler: Pieter van Wyk, ZS6PVW en Mark Esilva, ZS6MAE
Tegniese assistente: Magda van Wyk, ZS6MVW en Riaan Barkhuizen, ZS6BAR

Die AJV is gevolg met 'n sosiale byeenkoms in die vorm van 'n Bring en Braai. Ons bedank die vorige komiteelede vir hul harde werk en wens die nuwe komitee baie geluk.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag gaan bly. Daar is tans geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.


Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

Tot middernag UTC vanaand - die ARRL 10 meter kompetisie
15 Desember - die NARS sluit vir die Feesseisoen; die sluitingsdatum vir kommentaar op die 2018 SARL Blouboek en insette vir die 2018 Dagboek van Gebeurtenisse
26 Desember - sluitingsdatum vir artikels vir die Januarie Radio ZS
1 Januarie - begin van die ARRL Internasionale Ruit Jag en die 2018 CQ DX Marathon
8 Januarie - NARS open vir besigheid
20 Januarie - SDR-werkswinkel by die NARS
19 tot 21 Januarie - die PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie
27 Januarie - die somer QRP kompetisie
30 Januarie - sluitingsdatum vir voorstel en opsomming vir AMSAT SA Simposium besprekingsdokumente
31 Januarie - sluitingsdatum vir nominasies vir die Raad en SARL-toekennings en vir mosies vir die algemene jaarvergadering

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Desember is Jongmense op die Lug-maand in IARU Streek 1 wanneer jong radio amateurs en voornemende jong amateurs op die lug is vanaf stasies dwarsdeur die Streek met YOTA as die agtervoegsel in die roepseine. Die idee is om amateur radio aan die jonger geslag te demonstreer en om jongmense aan te moedig om gelisensieer en aktief op die lug te word. Meer as 35 stasies met 'n YOTA-agtervoegsel is geregistreer en aktief op die bande. Die Desember YOTA Maand aktiwiteit is nie 'n kompetisie nie; dit gaan alles oor pret!

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuus diens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.
Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tydna "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tydop 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003