Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 21 JANUARIE 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ............................................................ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word deur ZS6JPL via Echolink herlei. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

ZS30SRC – VIERING VAN 30 JAAR VAN AMATEUR RADIO

DIE PRETORIA AMATEUR RADIO KLUB IS GASHEER VIR DIE 2018 SARL NASIONALE KONVENSIE

en

UITROEP VIR ALLE BHF AMATEURS IN SUB-SAHARA AFRIKA

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

ZS30SRC – VIERING VAN 30 JAAR VAN AMATEUR RADIO

Die Secunda Amateur radio klub, ZS6SRC, vier sy 30ste verjaarsdag van Saterdag 20 tot Sondag 28 Januarie met 'n week van DX op ses HF bande met die spesiale roepsein ZS30SRC. QSL via die operateur se instruksies. Toegewyde radiostasies vir elke band met hul eie rigstraler is opgestel by die Hoëveld Seilklub by Trichardsfonteindam. Radio amateurs uit Suid-Afrika en die SAOG-lande word uitgenooi om by die week aan te sluit en tyd te spandeer om elke stasie te bedien.

As deel van die vieringe, is daar 'n lotery vir 'n G5RV-antenna, geskenk deur Sam's Radios. Die Secunda ARK bedank Sam vir die skenking. Die kaartjies kos R50 elk en kan verkry word by Christo, ZR6LJK of Gert, ZS6GC. Vir meer inligting, kontak gerus een van die volgende persone met SMS-boodskappe of WhatsApp Gert Botha, ZS6GC, by 082 771 0663 of Lucas Swart, ZS6ACT, by 082 314 3265 of per e-pos aan Christo, ZR6LJK by christokriek461@gmail.com.

DIE PRETORIA AMATEUR RADIO KLUB IS GASHEER VIR DIE 2018 SARL NASIONALE KONVENSIE

Die Pretoria Amateur radio klub bied die naweek van 13 tot 15 April die 2018 SARL Nasionale Konvensie aan by die Farm Inn Country Lodge (www.farminn.co.za/) by Silver Lakes in Pretoria Oos. Die Farm Inn bied ‘n verskeidenheid luukse akkommodasie vir diegene wat graag Vrydag en/of Saterdagaand wil oorbly. Die akkommodasie tariewe vir hul ekonomie kamers is - enkelkamers teen R650 per persoon per nag en as jy wil deel is dit R550.00 per persoon per nag. Op Saterdagmiddag tussen die vlooimark en ander aktiwiteite kan jy 'n wild rit teen R150 per persoon geniet. Alle afgevaardigdes wat graag wil oorbly, moet vooraf akkommodasie bespreek. Om aanlyn te bespreek, gaan na www.farminn.co.za of kontak Farm Inn besprekings by 012 809 0266 of 0277.

Die SARL AJV begin Saterdagoggend om 09:00 met die SARL-toekennings-dinee die aand. Registrasievorms vir die Nasionale Konvensie sal binnekort op die SARL-webwerf gepubliseer word. Die Pretoria AMATEUR Radio Klub reël op Saterdag 14 April 'n mega-snuffelmark, amateur radio-uitstallings en inligting kiosks. Die vlooimark is oop vir alle radio amateurs wat hul oortollige amateur goedere wil verkoop. Ons wil ook graag alle maatskappye en besighede vra om van hierdie geleentheid gebruik te maak om hul produkte en/of dienste aan te bied en te verkoop.

Tafels vir die vlooimark en inligting kiosks sal op die dag beskikbaar gestel word, maak gebruik van die geleentheid en bespreek jou tafel vroeg om teleurstelling te voorkom. Besprekings vir tafels sal op Dinsdag 10 April 2018 sluit. Die inligting kiosk is daarop gemik om organisasies die geleentheid te bied om amateur radio aktiwiteite en -dienste te bevorder, soos SOTA, Satelliete, bakens, ens. Ons wil graag alle besighede en amateur radio organisasies soos klubs en verwante instellings aanmoedig om ‘n kiosk vir die dag te bespreek. Meer inligting oor die dag se program en die name van organisasies wat aan die dag se aktiwiteite deelneem, sal tydens die weeklikse SARL-nuusbulletins aan almal bekend gemaak word.

Vir meer inligting, kontak Almero du Pesani, ZS6LDP, by almero.dupisani@up.ac.za of skakel hom by 083 938 8955 of kontak Etienne Naude, ZS6EFN, by etienne@afrigrid.com of skakel hom by 082 553 0542

HAMMIES KLAS-B RAE KURSUS

Die Hammies ARK, ZS6ZU, sal 'n klas-B RAE kursus begin vanaf Saterdagoggend 27 Januarie by die NARC in Sentech, Radiokop. Alle belangstellende jongmense tussen die ouderdomme van 10 en 15 word uitgenooi om deel te neem aan hierdie opwindende geleentheid. Klasse word elke Saterdagoggend van 09:00 tot 12:00 SAT gehou en sal aangevul word deur elektroniese projekte en ander pret aktiwiteite. Dit is 'n goeie geleentheid om die jeug betrokke te raak by tegnologie en amateur radio. Vir verdere inligting kontak Noel Hammond, ZR6DX, by zr6dx@iafrica.com of Graham Busse, ZS6GL, by grahambusse@vodamail.co.za.

PICO-BALLON VAN ARGENTINA

AMSAT Argentinië het SARL Nuus ingelig dat hulle Vrydag 19 Januarie 'n Pico-ballon geloods het wat op pad is na Suid-Afrika. Radio amateurs word gevra om uit te luister met WSPR op 14 075.6 HSB vir LU1ESY en om die ‘spots’ na die internet op te laai. Die ballon, LU1ESY, kan ook gevolg word op http://lu7aa.org/wspr.asp.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

DOKUMENTASIE VIR DIE 2018 ALGEMENE JAARVERGADERING

Soos op Saterdag 20 Januarie is die status van dokumentasie vir die 2018 SARL AJV soos volg. Daar is vyf vakatures vir die 2018/2019 SARL Raad - twee nominasies is ontvang. Vier nominasies is ontvang vir die Jack Twine Meriete-toekenning, een nominasie vir die Barney Joel-trofee, een nominasie vir die Arthur Hemsley 2-meter-trofee en een nominasie vir die SAATI-toekenning. Een mosie vir bespreking is ontvang.

Besoek die AJV Inligtingsblad by www.sarl.org.za/members/agm/AGMMembers.asp waar jy riglyne sal vind vir die mosie(s) wat jy op die AJV wil bespreek. Daar is sjabloon dokumente vir die verskillende toekennings en die nominasieproses om op die Raad te dien, sowel as die Nominasievorm is ook beskikbaar. Beplan jou Klub om die 2019 SARL Nasionale Konvensie aan te bied? Wel, daar is 'n dokument met riglyne beskikbaar op dieselfde webblad. Stuur jou nominasies vir die Raad, SARL Toekennings en mosies na die SARL Sekretaris by secretary@sarl.org.za teen middernag op Woensdag 31 Januarie 2018.

SARL AMATEUR RADIO EREGALLERY NOMINASIES VIR 2018

Die SARL Amateur Radio Eregallery eer indiwidue wat 'n beduidende bydrae tot amateur radio in Suid-Afrika gemaak het. Hulle nagedagtenis word op 'n bladsy in die SARL-Webwerf verewig. Die bladsy is deur 'n skakel op die tuisblad bereikbaar. Van 2018 af word 'n maksimum van een lewende en een oorlede lid per jaar ingelyf.

Nominasies sal tot Woensdag 28 Februarie aanvaar word en moet gestuur word na secretary@sarl.org.za. Aanlyn stemmery sal in Maart plaasvind. Kyk asseblief na die bestaande profiele op die Eregallery-bladsy waar jy ook 'n nominasievorm sal vind en verdienstelike kandidate vir 2018 kan nomineer. Bestaande profiele dien as voorbeelde van goeie nominasies.

UITROEP VIR ALLE BHF AMATEURS IN SUB-SAHARA AFRIKA

Daar moet ten minste 'n paar HF-amateurs in die volgende Afrika-lande wees, wat dalk ook in BHF belangstel. Hierdie lande is almal binne een-hop Sporadiese-E afstand van Suid-Afrika. Hulle is: Angola (D2), Zambië (9J), Mosambiek (C9), Namibië (V5), Botswana (A2), Zimbabwe (Z2), Swaziland (3DA) en Lesotho (7P). FM-klank kanale van Band III-televisiestasies, gegroepeer rondom 53,750 MHz, is vroeër jare in Port Elizabeth gehoor van ongeveer 12:00 SAT vir 'n uur of twee gedurende die Sporadiese-E-seisoen. In seldsame gevalle is 'n Franssprekende stasie, moontlik van die Kongo, ook ontvang met die seinsterkte van S9 op FM. Aangesien beide die Kongo en Kenia op die Ewenaar is, behoort dubbel-hop Sporadiese-E kommunikasie ook by tye op BHF moontlik wees. Baie Afrika-TV-stasies het na satelliet gegaan, maar daar is nog 'n paar oor wat as bakens kan optree. Kyk dus na die frekwensies rondom 53,750 MHz op FM.

Dus, die vraag is hoeveel radio amateurs van die Afrika-state stel belang in BHF kommunikasie? Selfs as net een amateur in elke land die uitdaging sou opneem en gereeld op die lug sou wees of 'n BHF baken kan oprig, kan ons baie leer oor die sterk Sporadiese-E-voortplantings toestande wat in Midde-Afrika voorkom. Net so kan ons vir die eerste keer iets leer oor tropiese tropo-voortplanting, wat deur windskuif beïnvloed word. As jy na hierdie program van êrens in Afrika luister, stuur asseblief 'n lys van amateurs in jou omgewing met hulle e-pos adresse aan artoday@sarl.org.za. Ons wil graag sommige van hulle aanmoedig om 'n belangstelling in die opwindende wêreld van BHF en hoër te ontwikkel.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is slegs 'n enkele sonvlek sigbaar met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

En nou vir die Dagboek van Gebeure

22 Januarie - registrasie vir die Mei RAE open
20 tot 28 Januarie - ZS30SRC - verjaarsdagviering van Secunda ARK
26 Januarie - sluitingsdatum vir artikels vir die Februarie Radio ZS
27 Januarie - die begin van die Hammies ARK Klas B kursus en die Somer QRP kompetisie
30 Januarie - sluitingsdatum vir voorstel en opsomming vir AMSAT SA Simposium besprekingsdokumente
31 Januarie - sluitingsdatum vir nominasies vir die Raad en SARL-toekennings en vir mosies vir die algemene jaarvergadering
3 Februarie - die Oos-Rand snuffelmark en die sluitingsdatum vir die Somer QRP logstate
4 Februarie - die AWA Gelykgolf Aktiwiteitdag
10 en 11 Februarie - die SARL Nasionale Velddag en die CQ WPX RTD Kompetisie
28 Februarie - sluitingsdatum vir nominasies vir die 2018 SARL Eregallery

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die Secunda Amateur radio klub, ZS6SRC, vier sy 30ste verjaarsdag van Saterdag 20 tot Sondag 28 Januarie met 'n week van DX op ses HF bande met die spesiale roepsein ZS30SRC. QSL via die operateur se instruksies. Toegewyde radiostasies vir elke band met hul eie rigstraler is opgestel by die Hoëveld Seilklub by Trichardsfonteindam. Radio amateurs uit Suid-Afrika en die SAOG-lande word uitgenooi om by die week aan te sluit en tyd te spandeer om elke stasie te bedien. As deel van die vieringe, is daar 'n lotery vir 'n G5RV-antenna, geskenk deur Sam's Radios.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuus diens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.
Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuus span wens jou 'n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003