Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 15 JULIE 2018

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Die bulletin word deur ZS6JPL via Echolink herlei. ‘n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin die bulletin vanoggend met nuus van ‘n stil sleutel.

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Ronald David Clark, ZS6AQH in die ouderdom van 84, op Dinsdag 3 Julie na 'n kort siekte stil geword het.

Ons betuig ons opregte meegevoel aan sy vrou, Heather, kinders David, Peter en Jenny, familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

DIE SARL WINTER QRP KOMPETISIE OP SATERDAG

AMATEUR-ONTWERPTE TOERUSTING GEBRUIK IN THAILAND GROT REDDINGSPOGING

en

DIE ZS2 NAELLOOP OP SONDAG

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

DIE SARL WINTER QRP KOMPETISIE OP SATERDAG

Die QRP kompetisie is bedoel om 'n prettige aktiwiteit te wees om QRP werking tussen radio amateurs te bevorder. Die gebruik van tuisgeboude toerusting of as 'n draagbare/veldstasie en die gebruik van tydelike antennas word aangemoedig, maar is nie 'n vereiste nie. Die Winter QRP Kompetisie is Saterdag 21 Julie 2018 van 12:00 tot 15:00 UTC op die lug en is 'n ESB en gelykgolf kompetisie met kraguitset van 5 Watt (PEP) of minder. 'n Stasie kan een keer per band per modus gewerk word en daar is geen antenna beperkings nie. Die eerste uur is beperk tot slegs die 40 m band. Die oorblywende twee uur is die deelnemers vry om enige HF (nie-WARC) band te gebruik soos hulle dit goed vind.

Die uitruiling is 'n RS- of RST-verslag en jou ruit verwysing. Oorweeg asseblief om realistiese RS en RST sein verslae uit te ruil en gebruik asseblief die volledige 6-karakter ruit verwysing bv. KG43EU. Jy kan ook 'n SOTA en/of ZSFF-verwysingsnommer gee as jy op 'n piek is of in 'n natuurpark is. Elke QSO tel 1 punt. Die voorvoegsel/land vermenigvuldiger is elke Suid-Afrikaanse roep gebied van 0 tot 9 en elke DXCC-land. Die stasie tipe vermenigvuldiger is x 1 vir tuis stasies; x 2 vir draagbare stasies; x 3 vir ultra-lig draagbare veldstasie en x 3 vir tuis geboude-stasies (foto's is noodsaaklik).

Logstate in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat met 'n opsommingsblad en gemerk "my roepsein QRP kompetisie" moet ingedien word teen 28 Julie 2018 per e-pos aan contest@sarl.org.za. Verwys na Algemene Reëls 3.6 en 5.1 tot 5.6 vir besonderhede oor logstate en opsommingsblaaie. 'n Foto(s) van die stasie wat gebruik word (JPG-formaat) MOET elke loginskrywing vergesel.

AMATEUR-ONTWERPTE TOERUSTING GEBRUIK IN THAILAND GROT REDDINGSPOGING

Tensy jy self ‘n grotbewoner is, sal jy heelwaarskynlik bewus wees van die dertien mense - meestal kinders - wat in die Tham Luang Nang Non grot in Thailand vasgekeer was. Waarvan jy moontlik nie bewus is nie, is die amateur radio verbintenis. Die Britse Grot Reddingraad (BCRC) is om hulp gevra en Rick Stanton, John Volanthen en Rob Harper het die roep om hulp beantwoord. Hulle was toegerus met HeyPhones wat ‘n 17-jaar oue ontwerp van John Hey, G3TDZ. Ongelukk is is G3TDZ reeds ‘n stil sleutel, so hy kon nie sien hoe sy ontwerp ‘n rol in hierdie hoë-profiel reddingspoging speel nie. Hierdie toerusting was blykbaar deel van talle reddingspogings in die verlede.

Die HeyPhone word beskou as uitgedien, maar word nog deur sekere redding spanne gebruik. Die radio gebruik HSB op 87 kHz. Die lae frekwensie kan diep binne die grond indring deur induksie lus antennas soos die ouer Molephone, of meer algemeen met elektrodes wat die RF energie direk in die grond “inspuit” te gebruik. Die stelsel is ietwat verouderd, maar werk blykbaar goed en dit is al wat belangrik is.

Wat interessant is, is dat meeste mense vandag draadlose kommunikasie as vanselfsprekend aanvaar en nie besef dat selfone nie ondergronds of tydens rampspoedige gebeurtenisse werk nie. Ons glo die meeste amateurs weet hoe selfoon torings werk om meer as ‘n paar selfone te ondersteun. Vra ‘n nie-tegniese vriend indien hulle weet hoe ‘n selfoon werk en jy sal verstom wees hoe min mense dit verstaan. Amateur radio operateurs is noodsaaklik in die bou en ontplooiing van gespesialiseerde radio stelsels tydens rampe of in hierdie geval, waar mense dringend uit ‘n ongewone omgewing gered moes word.

Ons is bly om te sien dat hierdie toerusting in die algemene media genoem word, maar ons wens dat daar meer verslaggewing was oor die vrywillige duikers en hul radio toerusting.

DIE BHF/UHF EN MIKROGOLF REKORD TABEL IS OPDATEER

Die nuutste BHF/UHF- en Mikrogolf Rekordtabel soos op 13 Julie 2018 is beskikbaar by www.sarl.org.za/public/local/VHF_SA_Records.asp. Paul, ZS6NK het die DXCC- en VUCC-inligting by die rekordtabel bygevoeg. Daar is 'n gedeelte van die tabel getiteld 'Onvolledige data', miskien kan jy met inligting help.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

DIE ZS2 NAELLOOP OP SONDAG

Dit is 'n prettige aktiwiteit om kontakte tussen radio amateurs in die Oos-Kaap en radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder en is Sondag 22 Julie 2018 van 14:00 tot 15:00 UTC op die lug. Die ZS2 Naelloop is 'n foon en gelykgolf kompetisie op die 40-meter-band met gelykgolf-aktiwiteit tussen 7 000 en 7 040 kHz en foon aktiwiteit tussen 7 063 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz. Die uitruiling is RS- of RST-verslag en jou provinsiale of land afkorting.

'n QSO met 'n stasie in ZS2 is 2 punte werd, terwyl 'n QSO met 'n stasie in jou eie of ander ZS-roep areas (uitgesluit ZS2) of Suider-Afrikaanse lande 1 punt werd is. QSO's met die Port Elizabeth Amateurradiovereniging, ZS2PE, of die Border Radioklub, ZS2BRC, is 5 punte elk werd. Slegs een kontak per stasie word toegelaat. Vir ZS2-stasies is 'n QSO met stasies in ZS2 1 punt werd en QSOs met stasies in ander ZS-roep areas of in Suider-Afrikaanse lande 2 punte werd.

Logstate in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat en gemerk "my roepsein ZS2 Naelloop" moet ingedien word teen 29 Julie 2018 en per e-pos gestuur word aan zs2ec01@gmail.com. 'n Sertifikaat word toegeken aan die eerste, tweede en derde plekke in die kompetisie indien daar meer as vyf logstate ontvang word.

OKTOBER RAE REGISTRASIE

Luisteraars word daaraan herinner dat die registrasie van kandidate vir die Oktober RAE gister 14 Julie 2018 geopen het. Vertel dit asseblief aan enige moontlike kandidate wat jy van bewus is.

SARL TOP BAND QSO GESELLIGHEID UITSLAE

Elf logstate is ontvang vir die SARL Top Band QSO Geselligheid wat einde Junie gehou is. Die uitslae is soos volg:

1ste Johannes van Zijl - ZS4DZ - 167 punte
2de Lukas Holtzhausen - ZS6LH - 140 punte
3de Thanie Gibson - ZS4AZ - 128 punte

Baie geluk aan Johannes, ZS4DZ!

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Tans is daar geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 20 en 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

16 Julie – die sluitingsdatum vir Nuweling QSO Logstate
17 Julie – Provinsiale skole open
21 Julie – die Winter QRP Kompetisie en die Pretoria ARK Snuffelmark
22 Julie – die ZS2 Naelloop
28 Julie – die Algemene Jaarvergaderings van die Kaapstad ARS en die Namibiese Amateur Radioliga, die sluitingsdatum vir RaDAR en QRP kompetisie logstate
28 en 29 Julie – die RSGB Eilande op die Lug (IOTA) kompetisie
29 Julie – die sluitingsdatum vir ZS2 Naelloop logstate
5 Augustus – SARL HF Foon Kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die Winter QRP Kompetisie is Saterdag 21 Julie 2018 van 12:00 tot 15:00 UTC op die lug en is 'n ESB en gelykgolf kompetisie met kraguitset van 5 Watt (PEP) of minder. 'n Stasie kan een keer per band per modus gewerk word en daar is geen antenna beperkings nie. Die eerste uur is beperk tot slegs die 40 m band. Die oorblywende twee uur is die deelnemers vry om enige HF (nie-WARC) band te gebruik soos hulle dit goed vind.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou ‘n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003