Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 3 FEBRUARIE 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad by www.sarl.org.za afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin die bulletin met nuus van 'n stil sleutel

Dit is met leedwese dat ons bekend maak dat die sleutel van Neil Slogrove ZR5NAS op Maandag 28 Januarie 2019 stil geword het. Neil was die vise-voorsitter en 'n lewenslid van die Durban Amateurradioklub.

Ons betuig ons opregte meegevoel na sy dogter Lindsey, familie en vriende.

POUSE

In die nuus, vandag:

DIE AWA GG AKTIWITEITSDAG VANMIDDAG

MOENIE HIERDIE SATERDAG SE BHF EN HOËR WERKSWINKEL MIS NIE

en

DIE ZULULAND ARK BENODIG JOU HULP

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

DIE AWA GG AKTIWITEITSDAG VANMIDDAG

Die doel van die Gelykgolf Aktiwiteitsdag is dat deelnemers soveel amateurs as moontlik op die 20, 40 en 80 m-amateur bande kan kontak en is vanmiddag van 13:00 tot 15:00 UTC op die lug. Jy kan deelneem as 'n enkel operateur op alle bande – lae krag (maksimum 100 W) stasie; 'n enkele operateur alle bande - QRP (maksimum 5 W) stasie, 'n enkel operateur enkelband - lae krag (maksimum 100 W) stasie, 'n enkel operateur, enkelband - QRP (maksimum 5 W) stasie of 'n kortgolf luisteraar.

Die uitruiling is 'n RST-verslag, jou roepsein en jou ruitverwysing en jy kry 1 punt vir lae krag QSO en 2 punte vir QRP QSO. Dien jou logstaat teen Maandag 18 Februarie in by andyzs6ady@vodamail.co.za of per slakkepos aan die Suider-Afrikaanse Antieke Draadloos Verenging, Posbus 12320, Benoryn, 1504. (Dankie, Andy, ZS6ADY)

MOENIE HIERDIE SATERDAG SE BHF EN HOËR WERKSWINKEL MIS NIE

Een van die vele fasette van Amateur Radio is om die spektrum bo 30 MHz te verken. Hierdie frekwensie spektrum het soveel moontlikhede vir ontdekking. As jy dink 'n DX-kontak is pret, dan het jy nog nie ‘n langafstand kontak op BHF en UHF probeer maak nie. Dit sal jou met trots vul.

Woon die volgende werkswinkel op Saterdag 9 Februarie 2019 by die Nasionale Amateur Radio Sentrum by. Die werkswinkel begin om 09:00 en eindig om 14:00. Registreer nou. Vir volledige besonderhede, program en die registrasievorm, volg die skakel vanaf die SARL tuisblad of wys jou blaaier na www.amsatsa.org.za. Neem die uitdaging op en leer hoe om te voorspel wanneer openings plaasvind en langafstand op BHF kan selfs gedoen word met baie basiese antennas. Om te help met spyseniering, moet besprekings asseblief nie later as Donderdag 7 Februarie gedoen word nie. Sien jou by die werkswinkel.

DIE SARL REAGEER OP ‘N OKOSA DOKUMENT

Die SARL het sy reaksie op die Konsep Assesserings Raamwerk vir toerusting magtiging ingedien, wat daarop gemik is om goedkeuring te vergemaklik en die weg vorentoe te baan vir die ontwikkeling van die goedkeurings protokol. Die dokument kan afgelaai word by www.sarl.org.za/public/ICASA/ICASA_Update.asp.

REGISTREER NOU VIR 2019 AMSAT SA RUIMTE SIMPOSIUM

Bespreek nou vir die 2019 AMSAT SA Ruimte Simposium. Die simposium sal op Saterdag 16 Maart 2019 by die Premier Midrand Hotel gehou word. Dit is 'n nuwe plek met beter fasiliteite en omgewing. Die kostes bly R400 per persoon vir AMSAT SA en SARL lede en R600 vir nie-lede. AMSAT SA en SARL-lede sal slegs R350.00 betaal indien dit teen 28 Februarie 2019 bespreek en betaal word. Akkommodasie is ook beskikbaar by die hotel teen R1 150 per kamer. Die registrasie sluit in verversings by aankoms, oggend en middag tee en koffie met eetgoed en 'n buffet middagete. Meer besonderhede is beskikbaar op www.amsatsa.org.za. Besprekings wat teen 15 Februarie gemaak en betaal word, sal op die konferensie vir 'n ARRL Satelliet Handboek in aanmerking kom.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

DIE 2019 DAG VAN DIE RADIO AMATEUR

Die SARL Sekretaris het vyf nominasies ontvang om op die Raad te dien, waarvan twee nuwe lede sal wees en drie mosies wat tydens die AJV bespreek sal word. Nominasies vir almal behalwe een trofee is ontvang. Die Raad sal op Vrydag 8 en Saterdag 9 Februarie by die NARS vergader om die mosies en toekennings asook ander aangeleenthede te bespreek. Die AJV-boekie sal op Vrydag 1 Maart 2019 aan lede beskikbaar gestel word.

Die SARL Simposium word Vrydag 12 April by die Protea-hotel langs die Tegnopark aangebied. Die Boland ARK beplan 'n dames program vir Saterdagoggend 13 April met sjampanje en nougat, terwyl die AJV by die Datavoice-ouditorium in die Technopark gehou word. 'n Kelder toer en wynproe word beplan vir die middag. Die toekenningsdinee sal by die Stellenbosch Gholfklub langs die Tegnopark plaasvind.

Die Boland-ARK stel voor dat Lede van buite Stellenbosch area die AirBNB en ander soort gelyke webwerwe gebruik om akkommodasie in Stellenbosch vir die naweek te bespreek.

DIE ZULULAND ARK BENODIG JOU HULP

Willie, ZS5WI berig dat die Zululand ARK-herhaler by Sentech Entumeni gehuisves word met die antennas teen 40 en 60 m op die toring. Een of dalk beide antennas en die koax kabel het aandag nodig. Die klub benodig 'n gekwalifiseerde toring klimmer; Willie sê hy is amper 82 en sal nie die toring kan klim nie! Kan jy die Zululand ARK help? Kontak asseblief vir Willie, ZS5WI by zs5wi@telkomsa.net of vir Jo, ZS5PO by jodawn@telkomsa.net.

DIE SARL NASIONALE VELDDAG VOLGENDE NAWEEK

Die eerste been van die SARL Nasionale Velddag vind plaas vanaf 10:00 UTC Saterdag 9 Februarie tot 10:00 UTC op Sondag 10 Februarie met gelykgolf, foon en digitale aktiwiteit op 160 tot 10 meter. Die uitruiling is die aantal senders by jou stasie, die Velddag-bedryfsklas en jou provinsiale afkorting; die stuur van 'n RS-, RST- of RSQ-verslag is opsioneel - dit het niks met die telling te doen nie. Daar is ses bedryfsklasse vir die Velddag. Jou logstaat moet ingedien word teen Maandag 18 Februarie by contest@sarl.org.za. Kry al die besonderhede op bladsy 40 van die 2019 SARL Blouboek.

Gedurende die naweek kan jy ook deelneem aan die CQ WPX RTD kompetisie en radio amateurs in Nederland wil jou graag tydens die PACC-kompetisie werk. Op Sondag 24 Februarie kan jy deelneem aan die SARL RTD kompetisie.

2019/2020 AMATEUR RADIO LISENSIE GELDE VERHOGING

ICASA het die SARL in kennis gestel dat die lisensiegeld op 1 April 2019 met 4,7% verhoog sal word. Die nuwe fooie sal wees: 1 jaar - R 148.00; 2 jaar - R 283.00; 3 jaar - R 406.00; 4 jaar - R 517.00 en 5 jaar - R 617.00. ICASA sal vanaf 4 Februarie 2018 die faktureringproses vir die 2019/2020-tydperk begin (en hopelik sal die Poskantoor die fakture aflewer!)

Radio-amateurs word daaraan herinner dat dit hul verantwoordelikheid is om te verseker dat hul lisensie op datum is. Indien daar vir een of ander rede geen faktuur ontvang word nie, maak seker dat ICASA van enige adresverandering ingelig is. Die korrekte rekening vir jou ICASA Lisensiegeld is NEDBANK Rekeningnommer: 14 62 00 29 27 Korporatiewe Kliëntediens - Pretoria, Takkode: 146245 en in die verwysingsveld tik jou lisensienommer in.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Tans is daar geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan moontlike openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou die Dagboek van Gebeure vir die volgende paar weke:

Vanmiddag – die ADV GG Aktiwiteitsdag.
4 Februarie – die sluitingsdatum vir Somer QRP Logstate.
9 Februarie – die BHF/UHF Werkswinkel by die NARS.
9 en 10 Februarie – die Nasionale Velddag en die CQ WPX RTD en PACC kompetisies.
13 Februarie – Wêreld Radio Dag.
15 Februarie – besprekings gemaak en betaal vir die Ruimte Simposium in 'n trekking vir 'n ARRL Satelliet Handboek; die sluitingsdatum vir PEARS BHF Logstate.
16 en 17 Februarie – die ARRL DX GG Kompetisie.
18 Februarie – die sluitingsdatum vir Nasionale Velddag en ADV GG Logstate.
24 Februarie – die SARL RTD kompetisie.
27 Februarie – Internasionale Melktert Dag.
28 Februarie - einde van die vroeë besprekings vir die Ruimte Simposium en sluitingsdatum vir SARL Eregallery nominasies.

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die doel van die GG Aktiwiteitsdag is dat deelnemers soveel amateurs as moontlik op die 20, 40 en 80 m-amateur bande kan kontak en is vanmiddag van 13:00 tot 15:00 UTC op die lug. Die uitruiling is 'n RST-verslag, jou roepsein en jou ruitverwysing en jy verdien 1 punt vir 'n lae krag QSO en 2 punte vir QRP QSO.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003