Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 10 NOVEMBER 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins uit in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus, vandag:

DIE SARL 80-METER KLUB NAELLOOP OP WOENSDAG-AAND

IARU STREEK 1 - DESEMBER 2019 YOTA MAAND

en

DIE BHF/RF GERAAS WERKSWINKEL EN DIE NUWELING GESELLIGHEID OP 23 NOVEMBER

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus-items.

DIE SARL 80 M KLUB NAELLOOP OP WOENSDAGAAND 23 NOVEMBER

Die laaste been van die 2019 SARL Woensdag 80-meter Klub Naelloop vind plaas van 17:00 tot 18:00 UTC op Woensdag 20 November met gelykgolf en foon aktiwiteit. As ons na die uitslae van die vorige vier bene van hierdie Naelloop kyk, sal dit interessant wees om te sien wie die trofee gaan wen. Sal dit die Boland, die Bo-Karoo of die Wesrand Klub wees?

Die uitruiling is 'n RS- of RST-verslag en jou ruitblok (bv. KG30). Jy verdien 2 punte per QSO en 5 punte vir die eerste QSO met elke ZS roepgebied en land buite Suid-Afrika. Stuur jou logstaat per e-pos na zs4bfn@mweb.co.za teen Woensdag 27 November en onthou om die naam van jou Klub op die logstaat te skryf. Die MS Excel-logstaat kan gevind word op die kompetisie-bladsy van die Liga se webwerf.

GELUKKIGE 95STE VERJAARDAG AAN DIE DURBAN ARK

Die SARL wens die Durban ARK geluk met sy 95ste verjaardag. Die verjaarsdag funksie is op Saterdag 2 November by die Klubhuis gehou. SARL President Nico, ZS6QL, Vise-President Chris, ZS6GM en tesourier Cliff, ZS6BOX het die middagete bygewoon en vergader met die komitee, lede en gaste teenwoordig.

IARU STREEK 1 - DESEMBER 2019 YOTA MAAND

Desember maand is YOTA maand wanneer verskeie jongmense uit lidlande aktief op die lug sal wees met “YOTA” as agtervoegsel in hulle spesiale roepseine wat vir die geleentheid uitgereik word. Vanaf Sondag 1 Desember tot Dinsdag 31 Desember 2019 sal internasionale YOTA-stasies poog om vele węreldwye kontakte met mekaar te maak. Hierdie aktiwiteit is spesifiek vir jongmense en is 'n gulde geleentheid vir klubs om jongmense wat belangstel in Amateur Radio betrokke te kry by die stokperdjie.

Hoewel dié aktiwiteit nie 'n formele kompetisie is, is dit wel 'n manier om ons jong amateurs aktief op die lug te kry en met ander jong amateurs węreld-wyd te laat kontak maak. Die spesiale roepsein ZS9YOTA is deur die SARL geregistreer op die IARU Streek-1 webblad as n opvoedkundige roepsein vir gebruik deur klubs en individue gedurende Desemberh. Alle radio amateurs is welkom om 'n QSO met die jongmense te hę; wees egter bewus dat sommige van hulle nuut is in die radio stokperdjie, terwyl ander meer bedrewe is.

Om 'n gleuf op 'n daaglikse basis vir die gebruik van die ZS9YOTA roepsein te bespreek of vir meer inligting, kontak gerus vir Noel, ZR6DX via e-pos by zr6dx@iafrica.com of alternatiewelik Nico, ZS6QL, by zs6ql@mweb.co.za. Die skedule asook die reëls van toepassing, sal binnekort beskikbaar wees op die SARL webblad. Ons sien uit daarna om ons jeug aktief op die lug te hoor gedurende Desember maand!

DIE 2020 BLOUBOEK EN DAGBOEK VAN GEBEURE

Baie dankie aan die klubs en individue wat geantwoord het met inligting vir die 2020 Blouboek en Dagboek van Gebeure. Jy kan steeds die nodige inligting instuur tot middernag op Woensdag 20 November. Vir die Blouboek stuur na contest@sarl.org.za en vir die Dagboek van Gebeure na secretary@sarl.org.za.

BHF EN RF GERAAS WERKSWINKEL OP 23 NOVEMBER 2019

Bespreek nou vir die laaste werkswinkel van 2019. Die BHF en RF Geraas werkswinkel word op Saterdag 23 November 2019 by die NARS gehou. Die program en die besprekingsvorm is beskikbaar deur die skakels te volg op die SARL-webblad.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

DIE SARL VESTIG 'N IARU-WERKGROEP

Na aanleiding van Mosie 3, wat op die 2019 AJV aanvaar is, het die Raad van die SARL Deon Coetzee, ZR1DE, aangestel om n werkgroep te stig om voorstelle en referate wat voorgelę, oorweeg en beantwoord moet word vir die IARU Streek 1 Algemene Konferensie van 10 tot 16 Oktober 2020 in Novi Sad, Serwië.
'n Tussentydse verslag sal tydens die 2020 AJV ter tafel gelę word en die finale aanbevelings sal deur die SARL Raad oorweeg word sodat die Suid-Afrika afvaardiging ingelig kan word voor hulle vertrek na die konferensie.

Soos in die geval met die ITU en die Afrika Telekommunikasie-unie, word IARU Streek 1 hoofsaaklik oorheers deur lede verenigings van Europa, waar die omstandighede waaronder amateur radio funksioneer, in baie gevalle, aansienlik verskil van die toestande in Afrika. In die geval van die ATU word daar tans gepraat oor die voorstel dat die ITU 'n vierde streek skep, naamlik ITU Streek 4, wat Afrika en sommige lande in die Nabye Ooste sal dek. Alhoewel daar nie so 'n voorstel bestaan om IARU Streek 4 te vorm nie, is dit belangrik om die Afrika-stem op die Streek 1 Konferensie te laat hoor om te verseker dat Afrika-vereistes in ag geneem word. Een dwingende geval is die 10 MHz-bandplan waar geen ESB toegelaat word nie. Die SARL was instrumenteel in 'n voetnota wat lui:

“ESB mag gebruik word tydens noodgevalle wat die onmiddellike veiligheid van lewe en eiendom behels en slegs deur stasies wat betrokke is by die hantering van nood verkeer. Die band segment 10 120 kHz tot 10 140 kHz kan gebruik word vir ESB-transmissies gedurende plaaslike daglig-ure in die gebied van Afrika suid van die ewenaar. Nuusbulletins oor enige modus moet nie op die 10 MHz-band uitgesaai word nie.”

Die gevaar bestaan dat hierdie voetnota heroorweeg en geskrap kan word. Die werkgroep moet bewyse versamel en indien om te verseker dat die huidige voetnoot gehandhaaf word, of selfs uitgebrei word, en die nodige feite aan die SARL-afvaardiging verskaf om die standpunt van SARL te stel.

Daar is waarskynlik ander fokuspunte waarna die werkgroep moet kyk en referate vir die SARL moet ontwikkel vir oorweging om aan die konferensie voor te lę vir bespreking.

Die SARL IARU Werkgroep doen sy werk via e-pos en Skype-konferensies. Deon Coetzee nooi radio amateurs uit wat graag hul insette wil lewer of by die werkgroep wil aansluit om hul kontakbesonderhede te stuur na pgcoetzee@hotmail.com en 'n kopie na sarlregwg@sarl.org.za. Besonderhede moet die volgende insluit: jou Skype-naam, telefoon- of selfoonnommer en e-posadres. Die eerste Skype-vergadering word beplan vir Woensdag 20 November om 20:30 SAT.

DIE SARL NUWELING GESELLIGHEID

Die Nuweling Geselligheid is 'n prettige aktiwiteit om alle nuut-gelisensieerde radio-amateurs aan te moedig om aktief te raak en is op die lug van 08:00 tot 20:00 UTC 23 November 2019. Dit is 'n foon kompetisie op 20, 40 en 80-meter en die uitruiling is 'n RS-verslag en 'n alfa-karakter afhangend van hoe lank jy gelisensieer is. Lees bladsy 43 van die Blouboek van 2019 vir al die inligting.

UITSLAE VAN DIE SARL 80 METER QSO-GESELLIGHEID

Ongeveer 75 stasies het op 3 Oktober aan die QSO-partytjie deelgeneem, terwyl 12 logstate ingedien is, 'n opbrengs van 16%.

1ste Jan Botha, ZS4JAN - 625 punte
2de Pieter Jacobs, ZS6XT - 560 punte
3de Kobus Boshof, ZS6BOS - 515 punte

Luisteraar-afdeling:
1ste Denise van Vuuren, ZSL1210 - 455 punte

Die gesamentlike uitslae van die April- en Oktober bene:

1ste Jan Botha, ZS4JAN - 1 010 punte
2de Pieter Jacobs, ZS6XT - 845 punte
3de Kobus Boshof, ZS6BOS - 675 punte

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Daar is tans geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Radio amateurs kan veral met sonsondergang goeie DX openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Vir meer inligting besoek gerus die webtuiste: spaceweather.sansa.org.za

Nou die Dagboek van Gebeure vir die volgende paar weke:

11 November - Die sluitingsdatum vir RaDAR logstate
18 November - Die sluitingsdatum vir PEARS HF logstate
20 November - SARL Woensdag 80-meter Klub Naelloop; die sluitingsdatum vir voorleggings vir die 2020 Blouboek en Dagboek van Gebeure; en die SARL IARU Werkgroep Skype vergadering
23 November - Die SARL Nuweling Geselligheid en die BHF en RF Geraas Werkswinkel
23 en 24 - die CQ WW DX Gelykgolf-kompetisie
30 November - Die Wesrand Snuffelmark
1 Desember - Die begin van die Desember-YOTA-maand
14 en 15 Desember - Die ARRL 10-meter kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die laaste been van die 2019 SARL Woensdag 80-meter Klub Naelloop vind plaas van 17:00 tot 18:00 UTC op Woensdag 20 November met gelykgolf en foon aktiwiteit. As ons na die uitslae van die vorige vier bene van hierdie Naelloop kyk, sal dit interessant wees om te sien wie die trofee gaan wen. Sal dit die Boland, die Bo-Karoo of die Wesrand Klub wees?

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Nuusdiens van die Suid-Afrikaanse Radioliga nooi klubs en individue om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Heruitsending deur Andy, ZS6ADY vind op Maandae aande om 19:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 620 kHz plaas. Ons ontvang graag jou seinverslae, kommentaar en voorstelle; stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Herman Erasmus, ZS6CTA en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003